Die US het probleembeleid eerder as ’n kommunikasieprobleem

  • 1

Die US verlang van Afrikaanse belangegroepe om met die universiteit te praat eerder as om op die plofbare inhoud van die gelekte Raadsverslag oor hulle taalkommunikasiekomitee te reageer (DB 19 Mei).

Let wel: Hierdie reaksie kom nadat die US die afgelope ses jaar al die insette, briewe en pogings om sinvolle gespek met hulle aan te knoop, ignoreer of probeer het om partye te koöpteer.

Die US se reaksie op hierdie petalje skep egter ’n geleentheid om die “taaldebat” aan die US beter te verstaan. Die gestelde burokratiese doel om “duidelike en sinvolle kommunikasie oor die taalbeleid te verseker” (DB 19 Mei) verdwyn naamlik soos mis voor die môreson in die Raadsverslag. Daarin kom hulle sienswyse en die strategiese doel duidelik na vore. Hulle wil naamlik “fundamentalistiese kritici” se “polariserende invloed” teenwerk en sodoende die “openbare gesprek oor taal ... domineer” (Rapport 16 Mei).

Dit is ’n gevallestudie van hoe ’n instelling burokratiese taal na buite kan gebruik om die strategiese doelwitte in sy hart te versluier, net soos in die geval van die taalbeleid. Dit ondermyn die US se geloofwaardigheid as gespreksvennoot.  

Daarby het die US die volste reg om ’n taalkommunikasiekomitee te stig. Hierdie poging weerspieël egter ’n kultuur van beleg waarin kritici wat die US as “fundamentalisties” ag, as sinistere kragte gedemoniseer en gemarginaliseer word. Die verwysings na kwaadwilligheid en geheimsinnige magte ruik na die paranoia van ’n totalitêre sisteem en verskyn in die narratiewe van hardkoppige diktators die wêreld oor.

Hierdie taal dui daarop dat die US verstrik is in die logika van konflik en dat hulle enduit wil veg eerder as om hulle heil in kompromis te soek.

Deur geldige belanghebbers in die taalbeleid, soos DAK Netwerk, StudentePlein en ander, te wil ondersoek om hulle deur hulle befondsers by te kom, steek die US egter die Rubikon van ordentlikheid oor. En indien hierdie woorde inderdaad tot aksie gelei het, is dit ’n poging om repressiewe beheer oor die vrye vloei van menings en informasie uit te oefen. Dit is wat mens van ’n stratkomstruktuur in die apartheidsera sou verwag het, nie van ’n hedendaagse universiteit nie.

Dat ’n kommunikasiekomitee hom hoegenaamd hiermee besig hou, is dus kommerwekkend, ’n ernstige oordeelsfout wat vrae in die koppe van raadslede moet opwek.

Daarby spruit die polarisering wat die US met dié komitee wil beveg, direk uit die Taalbeleid se vae en onuitgesproke doelwitte en aannames, asook uit voortgesette ontkenning van die probleme wat dit veroorsaak. Die US is vinnig op pad na ’n Engelstalige universiteit met ’n bietjie Afrikaans en minder Xhosa – iets wat die universiteit egter nie wil erken nie. Daarom word eerder met frases soos “veeltalige universiteit” en “fundamentalistiese kritici” gegoël – net soos Poetien wat vir Navalnie ’n “ekstremis” noem.

Die US het nie primêr ’n kommunikasieprobleem nie, maar veel eerder ’n probleembeleid. En vir so lank as wat hulle nie reguit hieroor wil praat nie, sal nuwe kommunikasieplanne net so min teen polarisering uitrig as die oues. Studente, dosente en selfs ouers sal aanhou om bang te wees om oor taal te praat, terwyl die pogings om ongerieflike kritici se monde te snoer tot meer teenstand en skandaal sal lei.

Nee, die kommerwekkende polarisering is die direkte gevolg van die US se eie fundamentalistiese weiering om met hulle kritici in gesprek te tree. Die uitgebreide narratief oor sinistere kwaadwilliges en donker magte dien net één doel: om hulle weiering om na ingeligte alternatiewe standpunte te luister te regverdig.

Minder “kommunikasie” en meer gesprek is nodig om ’n konstruktiewe weg uit dié konflik te vind. Die US moet homself oopmaak vir ’n ondersoekende gesprek met sy kritici, verteenwoordigers vanuit die breë Afrikaanse gemeenskap, en ander belanghebbers – op ’n gelyke speelgrond. ’n Rasionele gesprek in die ware gees van ’n universiteit, waarin die betrokkenes ’n kompromis eerder as hegemonie soek, kan die US help om ’n meer inklusiewe universiteit met meer gelukkigheid oor taal te skep. ’n Kompromis kan terselfdertyd nuwe hulpbronne en ondersteuning vir veeltaligheid aan die US losmaak.

Maar is die US se leierskap dalk te styf in die konflik vasgedraai om hierdie opsie raak te sien?  

Conrad Steenkamp
Uitvoerende hoof
Afrikaanse Taalraad

Lees meer oor die taaldebat:

  • 1

Kommentaar

  • Dit is eintlik amusant hoe maklik kritici in die algemeen aanneem dat US se Marxistiese hiërargie werklik in 'n gesprek oor Afrikaans se volwaardige akademiese voortbestaan belangstel.

    Marxiste stel immers slegs in gesprekke belang wat hul ideologie gedienstig is - hul Konflikteorie skryf dit implisiet voor. Afrikaans as 'n onderwystaal registreer nie eers op hul akademiese radar nie en word hoogstens as 'n las beskou. Een allesoorheersende en globaal verstaanbare akademiese taal, 'n soort sosialistiese Herrensprache, is 'n sine qua non om sentrale beheer te kan behou. Siedaar: verengelsing alom, selfs aan Rooi China se bevelsakademies.

    Boonop het SJW's wêreldwyd se hedendaagse aktivisme-ikoon, Marcuse, dit mos in die 1960's al duidelik gemaak dat alle menings wat buite die bestek van die Marxistiese narratief val, as sodanig "regs", d.i. fascisties is en dus geïgnoreer of strategies teen opponente gebruik moet word, nes US dit tot op datum met groot oorgawe en sluheid gedoen het. Dis nie om dowe neute dat hy die wit-Westerse kapitalisme met die Shoah vergelyk het nie.

    Praat sal dus nie help nie. 'n Ander medisyne sal gevind moet word om die kriminele regime se selfvoldane Woke-brigade te stuit en ons taal in ere te herstel en beskerm - nie net op Maties se kampus nie, maar by alle onderwysinstellings.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top