Die uitsig

  • 0

Die helder Moesel is ʼn sytak van die Ryn,
met ’n ander koers en loom valleie
as dié wat die slagaar van Duitsland omsoom.
Wingerde bot teen die felgroen hange
in rye oor die koppe geknoop
soos van vroue wat flaneer in Limpopo,
en dit loop van voor na agter nie links na regs nie,
soos nader aan Koblenz.
                                         Die Middeleeuse
bousels hurk hier saamgedruk,
soos dobbelaars om sente.
En vlegstok van die wingerd span oor krom steë
met hul fleurig gefestoeneerde venstertjies,
nes die kroonlourier van ou, ou gode.
Snags sluimer die geskubde straatjies
in hul keiharde harnasse van ou verhale.
Bedags dryf die platboomplesiertjies
al flapperend onder baldakyne rivier af en
bepleister die water met hul glinsterings.
Ek stap verby ʼn museum genaamd na Goethe,
’n plek wat eens ʼn herberg was.
Registers van toeka blykens,
het die geestesvader
die aand van 1 November 1792
op pad terug van Frankryk vir ʼn paar uur hier aangedoen
maar ondanks die eervernoeming
nooit oorgeslaap nie.
Op ʼn Donderdag (miskien selfs ʼn Woensdag).

Daar is ʼn spoggerige uitsig van bo op ’n heuwel
agter die dorp wat toe net gehug was
wat die burgemeester graag
aan die besoeker wou gaan wys het.
Maar die skrywer was ywerig
om Weimar sy tuiste, praalskat van die Verligting
en moederstad van groot waarhede
so gou moontlik te bereik,
en het die aanbod van verblyf van die hand gewys.
Eenkláps is hy vort per perdekar
na ʼn bark wat hom verder gevoer het.
Hy het die plaaslike vergesig
nooit aanskou nie –
van (daaronder, na links kykend):
die dorpshorlosie wat groter
en witter as maan in ’n toringkoutjie skyn;
en die selfgenoegsame pleintjie
geplavei met tyd wat lankal verby was.
Die denker se droom was
die enkel en doelgerigte wêreldstroom,
iets soos die Ryn.

En benede na regs
sien ek ʼn bos met ʼn beuk in
waarvan hy onmoontlik sou kon geweet het.
Ek stel my verkyker in
op ʼn hooinessie in dié lugbesem
met die eiertjies in,
die klein-klein dooiers-in-emalje daar:
verkleurd, met kolletjies of gevlek.
En ek benoem dié planeetjies:
vergissing, verdubbeling en Afrika;
of vergetenis, genesis en oggendmis:
Skilderagtig wieg die versteekte aardbolle.


Die gedig hierbo is nog nooit gepubliseer nie. Lees ook 'n resensie van Charl-Pierre Naudé se Al die lieflike dade

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top