Biebouw-resensie: Al die lieflike dade deur Charl-Pierre Naudé

  • 0

Titel: Al die lieflike dade
Outeur: Charl-Pierre Naudé
Uitgewer: NB-Uitgewers
ISBN: 9780624069386

Koop Al die lieflike dade by Kalahari.com

Charl-Pierre Naudé is ’n digter wat met deurdagte tussenposes sy bundels publiseer. Die nomadiese oomblik het in 1995 verskyn, In die geheim van die dag in 2004 en so pas Al die lieflike dade. (Sien jy die hemelliggame van 2007 was ’n kleiner versameling van gedigte met Nederlandse vertalings waarvan sommige in verwerkte vorm in Al die lieflike dade opgeneem is.) Net soos sy voorgangers, is Al die lieflike dade ’n bundel met ’n uitsonderlike trefkrag.

Die titel hou verband met een van die twee bundel-motto’s, naamlik ’n aanhaling uit die werk van die Franse denker Montesquieu: “[Soms] beoordeel jy dade nie as goed of sleg nie maar as mooi; nie as regverdig nie maar as groots; en nie as redelik nie maar buitengewoon.” Toegepas op die bundel sou dit kon suggereer dat die gebruiklike maatstawwe nie aangelê moet word by die beoordeling van die “dade” wat die bundel vir ons voorhou nie en dat lesers hulself moet oopstel vir ’n nuwe en bevreemdende kyk op ’n werklikheid wat hulle meen dat hulle ken.

In dié bundel is dit veral die verbeeldingryke metafore wat die werklikheid vir die leser vreemd en nuut maak (soos wanneer ’n duikboot beskryf word as ’n “onderwatervrugtebak” met drie sagte pere daarin). Die metafore is egter ook die middel waardeur die vreemde, ontoeganklike en moeilik verwoordbare van die wêreld vir die leser verstaanbaar gemaak word (byvoorbeeld in die beeld van ons tydsbegrip as die “wolmussie” en “seemsleerpantoffeltjies” wat ons vir onsself uit “iets stromend ongrypbaars” fabriseer om te oorleef). Verder is die narratief, wat in wese ’n uitgebreide metafoor is, die middel waardeur Naudé bepaalde eksistensiële, sosiale of digterlike probleme verken (soos in die verhaal van die “kommin” meisie wat nie die naam Montesquieu kon spel nie, maar hom veel van die politiek en magsverhoudinge geleer het).

Die bundel ondersoek ’n magdom temas wat strek vanaf die oerknal, evolusie, demokrasie, kolonialisme en oorlog tot by herinnering, vergifnis, liefde en verganklikheid. As eerste verkenning verwys ek in dié resensie slegs na enkele van hierdie temas, naamlik die spreker se geplaastheid in (Suid-)Afrika, die deurlopende poging om bekende digotomieë op te hef en insigte oor die maak van poësie. Dit staan elke leser van die bundel vry om ander roetes deur die bundel te volg wat tot ander poëtiese avonture sal lei.

Opvallend van die sorgvuldige argitektuur van die bundel is dat dit uit sewentien afdelings bestaan wat omraam word deur ’n “Voorwoord” en ’n “Nawoord”. Alhoewel daar in die res van die bundel verwys word na ’n hele spektrum van ruimtes (waaronder Marokko, Egipte, België, Duitsland, Doha, Java), benadruk beide die “Voorwoord” en “Nawoord” dat die spreker van Afrika, meer spesifiek Suid-Afrika, is.

In die “Voorwoord”-gedig word daar byvoorbeeld geskryf oor die ontstaan van die mens en die digkuns, ook oor die manier waarop digterlike vorme soos die kwatryn, koeplet, villanelle en epos binne die Afrika-ruimte tot iets nuuts verwerk is. Teen die einde van die gedig ontdek die spreker te midde van die wildernis “strofes” in dié ruimte “’n giftige, vleisetende, / lieflike / inheemsblom” en besef hy dat dit hyself is. Hiermee sê die eerste gedig in die bundel dat die digterlike ek gewortel is in die (Suid-)Afrikaanse landskap en dat sy poësie juis daarom bepaalde inheemse eienskappe het.

Die spreker keer in die “Nawoord”-gedig terug na die vrae oor die oorsprong van die mens en meen dan dat die allermooiste van Afrika die feit is dat dit die plek is waar die “tweewieltuigie” van “dichotomie” vermis geraak het, dus die plek waar strak teenstellings en bekende filosofiese begrippe op hulle kop gekeer word. Die gedig en die bundel eindig wanneer die spreker in die voortdurende maling, bruising, werweling en beroering van die Victoria-waterval “die helder oplossing” sien, naamlik dat daar nóg kant nóg wal is, dat dinge voortdurend vervloei en verander, dat juis daarin “’n sproeiing / van moontlikhede dryf / soos stuifmeel bo die vergetelheid”.

Dit is ook veelseggend dat daar in dié gedig verwys word na die “taaltjie” waarin hierdie insigte beskryf word. Afrikaans word hier beskryf as “iets soos / ‘Loeweens’: half Eureka, Afri- / pees om die ander helfte”. Dié beskrywing beklemtoon die verrassend-nuwe (Eureka) en hibriede aard van Afrikaans as mengsel van Afrika en Europa (Afripees). Terselfdertyd word daar gesuggereer dat juis klein tale ’n belangrike rol te speel het in die bevraagtekening van dit wat as vaste waarhede aanvaar word.

Ook elders in die bundel word daar gespeel met die idee van die taaltjie Loeweens: die gedigte in afdeling nege, “Bacchus eskár”, word byvoorbeeld aangebied as vertalings van Loeweense gedigte geskryf deur die digter Karol Riep-Audne (’n anagram van die digter se naam). Dit is opvallend dat dié gedigte meer lighartig, speels en loops is as dié in die res van die bundel (vgl die vier seisoenale uitbeeldings van die geliefde in “Evir eisneone” wat as ’n antwoord op Van Wyk Louw se “Vier gebede by jaargetye in die Boland” en Opperman se “Grondstowwe by die siklus van seisoene” gelees kan word). Riep-Audne is dus ’n alter ego wat dit vir Naudé moontlik maak om met ’n ander digterlike stem te praat as die effe meer formele, meditatiewe en besinnende een wat ons in die res van die bundel aantref.

Gesien die inbedding van die digterlike spreker in Suid-Afrika is dit nie vreemd dat daar afdelings soos “Skeidslyne” en “Ligvoets oor die voedoe” is wat spesifiek fokus op die omgang met Suid-Afrika se geskiedenis nie. Telkens word dit duidelik gemaak dat die verlede vervloei met die hede en dat daar geen duidelike skeiding is tussen die twee nie. In “Die witste strand” word daar verwys na die feit dat die eerste “kaplyne” van apartheid op die land se strande getrek is met die aankoms van Europese setlaars en ook dat die spreker hom steeds bevind op ’n “eindelose, aaneenlopende, verblindende wit strand”, al is dit dan nou met groter begrip vir wat in die verlede gebeur het. In “Pasboekfoto onder kleefplastiek” word die tyd vasgevang in die foto onder plastiek, maar ook in die herinnering van die swart vrou in die gedig wat beskryf hoe sy geviktimiseer is in die sestigerjare: al is sy nou veertig jaar ouer, bly haar aanranders in haar herinnering dieselfde ouderdom as toe. In “Jakobsleer” vertel die spreker van ’n besoek aan die Voortrekkermonument saam met ’n Belgiese vriend en stel hy die monument se kliptaferele van die verlede teenoor die uitsig vanaf die monument se uitkykdek op die rokerige plakkerskampe wat soos die “ringe van Saturnus” rondom die stad wentel.

In ’n artikel oor vertelling as tegniek in die verhalende liriese vers wat verskyn het ná die publikasie van In die geheim van die dag het Naudé die stelling gemaak dat “bepeinsing deur die liriese ek” een van die eienskappe van hierdie soort vers is. Hy verwys daarna as die “mymerende aspek” van verhalende liriese verse en gebruik ook woorde soos “bespiegelend”, “mediterend” en “abstrak beredenerend” hiervoor. In dieselfde artikel argumenteer hy ook dat daar in die verhalende liriese vers ’n neiging is om poëtiese styl te versteek binne die klank van ’n alledaagse praattoon.

Alhoewel die verhalende inslag in hierdie bundel miskien minder prominent is as in sy vorige bundel, is beide die bespiegelende inslag en die praattoon sterk aanwesig in Al die lieflike dade. Die praattoon word egter verhewig deur ’n eiesoortige ritme, klankverdigting en die gebruik van metafore wat nie net ’n konkretisering van abstraksies teweegbring nie, maar ook die betekenismoontlikhede laat vermenigvuldig. Naudé se poësie demonstreer dat die konkrete beeld nie losgedink kan word van bespiegeling nie, ook dat bespiegeling en abstrakte beredenering dikwels teruggevoer kan word na ’n vorm van beelding en selfs afhanklik is daarvan. Die stemtoon in die gedigte is dikwels lig-ironies en afstandelik-betragtend, met emosie en sensasie geplant in woorde of frases wat skielik uitstaan tussen die ander (die woord “liefling” wat skielik opduik, die frase “hý het gehuil” in ’n buitestandersblik op ’n verhuising, die woorde “haat” en “eiegeregtigheid” by ’n terugdink aan die vroeër self, die woord “teer” in ’n beskrywing van die “opslaggruis van sterreweë en planete”).

Indien ’n mens ’n grondliggende idee in die bundel moet uitlig, is dit dat daar deurgaans ’n poging is om die algemeen geldende digotomieë of opposisies wat ons denke beheers, te ondervra. Daarmee saam gaan die behoefte om die verstarring van gevestigde denkstelsels te ontsnap, om hulle te radikaliseer. Juis om hierdie starre opposisies teen te werk, oorheers beelde van vloei, stuwing, stuiwing, werweling en beroering in die bundel.

Die titelgedig “Al die lieflike dade” bevraagteken byvoorbeeld die idee dat die mens onskuldig gebore word en daarna verderwe (soos af te lees uit die motto’s van Pous Johannes Paulus II en Jean-Jacques Rousseau). Hierteenoor redeneer die gedig: “Die bose stoel tog saam / met goedheid onder selfbewussyn / se gewelf – twee skimmige skaduwees / van één horingkop-aan-’n-muur”. Waar Van Wyk Louw indertyd dieselfde gegewe in “Ballade van die bose” verbeeld het deur die bose aan die woord te stel (“Ken jy my nou? / Het jy die spieël gesien. / En ken jy jou?”), ondersoek Naudé die vraagstuk deur middel van skerp-getekende beelde (dié van ’n lugskip en ’n piering-agtige ruimtetuig) en ’n narratief (dié van ’n opvoering in ’n hout-colosseum in Arkadië op die dag nul).

Daar is ook talle ander gedigte waarin bekende opposisies soos dié tussen wetenskap en religie of tussen siel en liggaam bevraagteken word. Dit is ’n projek wat ondersteuning vind in die digterlike vormgewing wat daarin slaag om wyd uiteenlopende en disparate dinge binne die beelding van die gedig saam te dink, om die “dink-samestellings” waarvan die gedig “Athena se harnas” praat, te prakseer. In die gedig “Wetenskap” lei die gebaar van ’n meisie wat haar oorbelle afhaal en oorbuk om haar geliefde te soen in ’n restaurant in Seepunt tot begrip van die “skepping” en die insig: “God. Wetenskap. Die liefde. / Die een behoort die ander / meer gereeld te sien.” ’n Moment in ’n restaurant waar daar ’n klomp Madonna-afdrukke teen die muur hang, gee aanleiding tot nadenke oor een van die ander digotomieë waarmee ons saamleef, naamlik dié wat die liggaam stel teenoor die siel. Die gedig sluit met ’n verwysing na Edvard Munch se beroemde skildery van ’n Madonna-figuur waarin die sinlike liggaam gelyk is aan ’n siel:

Hoe sonder skaamte is haar uitstraling,
die gebrandsteekte siel van haar skrale lyf,
en die onbevlekte ontvangenis daarvan.

Ander teenstellings wat in die bundel geopper word, is dié tussen swaarheid (vastigheid) en ligtheid (vlug en fladdering) wat aan die orde gestel word in die gedig wat vertel hoedat die spreker se vrou aan die slaap geraak het met ’n boek oor bakstene wat soos ’n “sarkofaag se deksel” op haar bors lê. In “’n Dier se heldedaad” word die hiërargie tussen mens en dier opgehef wanneer die dood van ’n troeteldier die spreker herinner aan al die verliese wat hy al in sy lewe beleef het: “Ons katjie is klein maar ’n baie sterk trekdier – / en álle smart sleep hy agter hom aan. / Die hart skeur oop, en dit reën!”, sê die spreker. In “Huis van die digter” is dit die spanning tussen teenwoordigheid en afwesigheid wat ter sprake kom wanneer die spreker vertel hoedat hy die huis van Kavafis in Alexandrië wou besoek, voor dooiemansdeur aangekom het en daar slegs afwesigheid aangetref het. Dit lei hom tot die besef dat ’n skrywer nooit aanwesig is in die plek waar hy skryf nie omdat sy gedagtes in “Bisantynse nisse” dool: “In die plek waar jy skryf, leef jou afwesigheid.”

By ’n digter wat so nadenkend skryf as Naudé, sou ’n mens verwag dat hy ook oor die aard en maak van poësie sal skryf. Een van die interessantste verse in hierdie verband is “Ars poetica lost and found”, geskryf tydens ’n skryfverblyf op die eiland Sylt aan die Duitse kus. Dit is ’n gedig wat opsigtelik speel met verskillende poëtiese style: poëties gevormde strofes waarin daar gedink word oor die aard van poësie aan die hand van ’n verhaal oor die verblyf; prosa-agtige strofes tussen hakies waarin allerhande tersydes opgeneem word. Die gedig vertel hoedat die spreker elke dag vaskyk in ’n muur terwyl hy besig is om te skryf en aflei dat poësie-skryf ’n proses van “inskou” eerder as ’n uitkyk is. Wanneer hy vertel word dat daar ’n toegeboude venster in dié betrokke muur is, maak dit hom verder bewus van die digproses as misterie:

Daar steek ek my kers aan;
daar kniel die pelgrims
en blaf die honde
vir ’n toneel
wat nooit meer deur die venster gesien word nie
of iemand wat des te nimmerder daardeur aankom.
By ’n soliede, blinde muur.
En ek hoop om sy sagte plek
eendag te vind.

Al die lieflike dade daag opnuut die Afrikaanse poësieleser uit met sy omvang, kompleksiteit, beeldkrag en unieke poëtiese segging. Dit vra om ’n toegewyde lees, maar diegene wat volhard sal in alle opsigte beloon word.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top