Die tydsgees in die kuns

  • 0

Daar is ’n zeitgeist, ’n tydsgees vir elke periode. Dit beteken dat ’n oorheersende gees vir ’n spesifieke periode bepaal hoe die wêreld en spesifieke groepe teenoor die huidige situasie reageer.

Daar is ’n globale tydsgees wat die rigting bepaal waarin die wêreld sal beweeg. Met ’n bietjie insig kan ’n mens ook kontinentale subtydsgeeste waarneem. As ’n mens na die nasionale tydsgeeste kyk – en spesifiek na Suid-Afrika s’n – kan ons, terugskouend die aard van ons eie zeitgeist sien.

Dis nie maklik om presies vooruit te voorspel watter rigting die tydsgees in sal beweeg nie, maar hoe die gees funksioneer, is nie so moeilik om te sien nie.

Daar is op enige spesifieke tyd ’n siklus van drie fases teenwoordig:

  1. ’n skeppende gees van vernuwing
  2. ’n gees wat die status quo probeer steun en
  3. die uitgaande gees van die establishment.

Daar is gedurig vervanging en die skeppende gees is alewig besig om die vorige periode van vernuwing uit te stoot en sodoende homself as die nuwe golf van verandering aan die bewind te bring. Die vroeëre interregnum stoot op sy beurt die huidige status quo uit en word in sy plek die nuwe bestaande toestand.

Die ouer ondersteuner van die status quo neem op sy beurt die plek van die vorige uitgaande era in, wat weer op sy beurt as die vernietiger optree en die ou uitgaande era na die geskiedenis verdoem. In die oë van die zeitgeist is geen fase beter of slegter as ’n ander nie. Alles is onpersoonlik en daar is geen moraliteit teenwoordig nie. Die siklus van die tydsgees kan as die aard van evolusie beskou word.

As tagtiger-skrywer wil ek graag meedeel hoe die tydsgees deur my gewerk het en nog steeds vorentoe boer. Dis belangrik om te onthou dat die tydsgees ook in groepgeeste is, dws alle kunsvorme manifesteer dieselfde tendense.

Net soos daar ’n tydsgees vir alle ongebore babas is sodat alles vorm op ’n spesifieke tydperk, so is daar ook ’n tydsgees vir alle kinders van geboorte tot omtrent sewe jaar. Alle mense wat iets besonders van hul lewe gemaak het, sê gewoonlik dat hulle al vanaf so ’n tyd geweet het dat hulle in ’n sekere rigting wou gaan.

Toe ek drie jaar oud is, het ek van my ouer sibbe, Ernie, se sub A-boeke onder die oë gekry. Ek het toe myself geleer skryf en sommetjies maak. My slimmer broer het dan elke middag na skool vir my kom sê hoe noem ’n mens dit wat ek geskryf het.

Ek is nie seker of sulke dinge nie met alle kinders in hierdie eerste fase gebeur nie want meeste kinders verberg hulle waarnemings. As die feit dat ek my waarnemings veruiterlik het, wel iets beteken dan meen dit dalk dat my posisie in die groep ’n bietjie van die middelpunt verskuif het.

Iets anders het tog ook plaasgevind: ek het opgelet dat die letters van die alfabet byna almal bestaan uit ’n krulletjie (O of gedeeltes daarvan) en ’n strepie wat lank, kort of ook skuins kan wees. Verder het ek ook agtergekom dat somme eintlike slegs oor nul en een gaan.

Ek meen dat dié buitengewoon vir ’n kind van drie jaar oud is en dit verskuif my posisie nog nader aan die grens van die groep. (Let wel, hier word slegs van ’n groepsgees gepraat en het geen betrekking op ras, klas, kleur of sosiale status nie.) Dit lyk ook dat hierdie vroeë verskynsel in my lewe aangedui het dat ek my nis in iets letterkundigs en voldoening in iets wiskundigs of wetenskapliks sou vind.

Ann,'n vriendin, Elizabeth, Peter en Ernest. Voor: Georgina

Die tweede groepsgees geskied tussen sewe en veertien jaar. (Hierdie deelpunte is slegs arbitrêr, want alle mense het hul eie tyd.) In hierdie fase eksternaliseer die kind van sy kennis en leer populêre konkrete dinge in die skool en tuis aan. Toe ek in Sub A in die skool in 1946 sit, was Engels die enigste voertaal. Ons het Kaaps tuis gepraat maar my ouers het briewe aan die familie in Engels geskryf want Engels was beskou as die prestige taal. Ons Kleurling-kinders het nooit ’n probleem met Engels gevind soos ons in die skiereiland met Afrikaans beleef nie. Ek dink die rede vir die verskil is dat ’n mens makliker ’n nuwe taal leer as ’n taal wat bots met sy eie taal.

Ons was agt kinders en, al was my pa ’n besonderse carpenter met ander verwante vermoëns, was die geld maar ongenoegsaam.

Op ouderdom elf jaar, dws in 1951, kyk ek toevallig na die Junior Times van The Cape Times. Ek leer daar dat kinders onder die ouderdom van twaalf jaar kan briefies instuur en as die teks in druk kom, kry die hoofbrief ’n halwe guinea (tien sjielings en sikspens) en al die ander briewe se skrywers ontvang twee sjielings en sikspens.

Ek sien dit toe as ’n geleentheid om sakgeld te bekom. Ek skryf toe woord-vir-woord ’n verhaal uit my gunsteling boek: Boys Own. My plagiaat was gesnoei tot omtrent drie sinne maar die belangrikste van alles was dat ek 2s 6d sou kry. Weer eens is dit geen teken dat ek ’n skrywer gaan word nie.

My begeertes was gevestig op daai groot prys. Ek kyk toe rondom my en sien hoe meisies my ouderdom en tot 21 jaar gedurig besig is met hulle hare, oë, vel, lippe, naels, klere en skoene. Ek sien dit toe as tydmorsbedrywe en opper toe my mening in ’n oorspronklike brief aan die Junior Times.

Twee weke later verskyn my brief onder groot letters: Girls waste time. Vir weke daarna het die vroue-geslag my omtrent uit- en aangevat. Hierdie episode het my geleer dat as jy oorspronklik is en aan ’n twissiekte ly, mense notisie van jou vat. Dalk was my skryftalent op hierdie tydstip gebore en was ek nog nader aan die grens van my groepsgees geskuif.

'n Jong Peter Snyders

Wat het dit alles te make met my verskyning as ’n Tagtiger? Dit is eenvoudig so dat die gees al vooraf weet wat jy gaan word en wanneer jy jou verskyning gaan maak. Alles wat vroeër gebeur, is slegs voorbereidings vir die kroontyd.

As ’n mens jouself diep binne die groep bevind, kan die groepsgees jou oorweldig. As dit gebeur, sal jy jou individualiteit prysgee. Ek onthou eendag in die sewentigerjare het ek deel geneem aan ’n march. Dit het gou vir my duidelik geword dat iets besig is om my gedagtes en gedrag oor te neem. Ek het net niks hiervan gehou nie en het so gou as moontlik vanaf die trop na die kant toe beweeg en daarna teruggeval tot agter die massa. Sodoende kon ek my perspektief behou.

Ek het ook op ander kere die groeps- en tydsgees ervaar maar daardie kere was dit iets wat ek van gehou het. Op 16 en 17 September 1976 het al die Bruinmense hier in die Kaap ge-stay-away van werk in protes teen die geweld teen skoolkinders deur die destydse regering. ’n Gees van vrede het oor die Kaapse Vlakte geheers. Ek het hierdie selfde gees van vrede en kalmte ook op 1 April 1994 ervaar.

So, daar is groepe waarin ’n mens jou tuis vind sonder dat jou wese oorgeneem word. Ek het vreugde gevind met die Sestigers en veral baie welkom gevoel met die groepsgees van die Tagtigers. Ek het ook in die sestigerjare ’n Festival of Light in Milnerton bygewoon waar ek die gees van die Lig as iets onbeskryfliks ervaar het.

Vanaf ouderdom veertien tot een-en-twintig jaar verskyn die groepsgees veral in die begeertes van die jeug. Nog steeds arm, moes ek en my twee vriende Jimmy Abrahams en Colin van der Schyff ’n plan maak om daai koek en koeldrank en lekkers en poeding wat opgedien word by ’n Social Evening in ons mae te kry. Dis hoe die kerk geld ingesamel het: lekker eet en ’n floor show oppie verhoog.

Dit was hier wat ek geleer het om sketse gou uit te dink en hulle saam met my twee vriende op te voer vir die voor- en nagereg wat volg. Somtyds het ons in ’n konsert gesit wat maar bra power opvoerings opgedis het. Dit was dan wanneer ons genader word om iets te doen om die konsert op te kikker.

Ek het tien minute gehad om ’n skets uit te dink want dit was hoe lank dit gevat het om van die lokaal huis toe te stap. Teen die tyd wat ons tuis kom, moes ons weet wat ons as kostuums gaan makeer volgens die karakters en storielyn wat ek uitgedink het. Op pad terug na die kerksaal het ek die handel en die teks – als mondelings – uitgelê. Ons het geld ontvang want by skoolkonserte was daar nie eetgoed nie.

Dit was die eerste verskyning van my vermoë om verhoogstukke te skryf. Ons het selfs onse service aan enige instansie wat bereid was om te betaal, aangebied. Hieruit het ek baie belangrike lesse gekeer: mense lyk om te lag en die kunstenaar moet onmiddellik wees dws die gehoor moet dadelik kan verstaan. Ek het hierdie gegewens verdiep in my skrywes van Tagtig.

Ek het ook op vyftien my eerste puppy love ervaar. Dit het oor ’n Pase-vakansie gebeur. Ons familie het Paternoster toe gegaan gedeeltelik ook omdat my pa daar groot geword het. Ek ’n meisie, Joan Walters, daar ontmoet. Sy het ’n draai kom gooi by die kampeerders. Ons het gesels en ons was seker maar net op die bekendheid fase toe ons vier dae later huis toe moes kom. Sy het daai Paasmaandagoggend in ’n dinghie met ’n kêrel geklim en hulle het vir ’n joy ride die stil see ingevaar. Die outjie kon haar ouer broer gewees het maar hoe dit ook al sy, was my hart gebreek.

Joan, Peter, Connie en Rosaline op Paternoster

’n Paar dae na ons terug tuis is, kom daar ’n song uit my en dit terwyl ek het niks van musiek geweet het nie. Hier is die powere liriek van daai eerste lied:

I don't know why

I don't know why you had to leave me,
I don't why, you made me blue;
I did so deeply love you
But you were fooling and never true

I don’t know why you chose another,
I don’t know why you left me here;
Darling, you know it’s not fair
To let me love you then disappear

Chorus:

Here I am standing
I am all alone
But I am seeing
You –oo-hoo have gone

Darling, darling I don't know why, you went away,
I don't know why, you wouldn’t stay;
Come back and be again my baby
My love is driving me completely crazy

Dit was die eerste van seker 1 000 liedjies wat ek in Engels, Afrikaans, Nederlands en Kaaps geskryf het. Vanaf 1971 het ek begin sielsoekende gedigte skryf. My kennis wat ek oor die letterkunde opgedoen het, het my bemagtig om my swak lirieke op te knap. Ek het ook begin musiek leer en mettertyd het ek bewus geword van hoe progressief sommige van my wysies was. Toe ek in 1974 in Kaaps begin dig, het ek gou agter gekom dat ek lekker my tydsgees in my gedigte en liedjies kon versteek.

Joan Walters en Peter Snyders

Op sestien, in 1956, was die tydsgees besig om ’n nuwe fase die Westerse wêreld in te wy. Voorheen het my oudste broer, Harold (sewe jaar ouer as ek) met sy partners die jive gedoen wat ook ’n paar Charlston voetwerkies ingesluit het. Hieruit het rock ’n roll ontwikkel en al het ons ook gekwêla op swart musiek (en later ons eie kwêladans opgemaak) het die nuwe tydsgees ons na die buiteland vir vernuwing laat kyk. Ek meen dit was die voorbereiding vir die Sestiger-kunstenaars.

 

Een aand, by ’n paartie, drink ek wyn vir die eerste keer. Die volgende dag was ek lekker siek en het baie babelas gevoel. Toe ek weer normaal is, gebruik ek hierdie ervaring om ’n drie-duisend-woord storie rondom te skep. Ek het ook ’n goeie paar opmaaksels in die verhaal gevleg om dit ’n dramatiese impak te gee. Ek stuur toe die lang verhaal na die African Parade in Rhodesië en ’n paar weke later verskyn dit onder die opskrif: I’ll never drink again! Dit het my geleer dat dit oukei is om die waarheid so ’n bietjie te lieg.

Peter Snyders op Paternoster

In politiek het ek nie belange gehad nie. Die NP-regering van 1948 het enkele jare later vir ons Kleurlinge ge-sideline. Dit het ek en my mede-choir boys in die vroeë vyftigerjare van ons ouers afgeluister. Ons het magteloos gevoel maar van kan kinders van tien of elf jaar eintlik bydra tot die struggle? Die Council het besluit om nog huise in Silvertown te bou. Ons besluit toe om ’n paar hoeke van geboue om te stoot. En dit was my eerste poging tot verset.

Terug na sestien. In hierdie gleuf (vanaf veertien tot een-en-twintig jaar) kom emosies en begeertes na vore. Logika, redelikheid en sobere oorweging van moontlike gevolge is nie altyd aanwesig nie. Ek het gehoor dat die Council al weer die rent opgesit het. Die Council was in onse oë die goewerment wat ons soe mishandel. Ek en twee van my vriende in standerd agt het gevoel ons moes ’n statement maak.

Saterdagoggende het ons rent by ’n Council huis op die hoek van Durant en Calendulaweg gaan betaal want onse pa’s het weekliks hul lone ontvang. Ons het in kardoesies ge-aa en een Vrydagaand die drek op die vensters, deur, handle en stoep van die rent-offis gesmeer. Dit was dan onse resistance.

Ook in 1956 word ons standerd agters gesê dat ons Afrikaans op die hoër vlak van toe af moes doen. Al ons vakke was alreeds op die hoogste stand want daar was geen ander peil nie. Engels was ons eerste taal en Kaaps ons huistaal. Afrikaans as tweede taal was eintlik net ’n klaskamertaal. Ons het bitter weinig in kontak met wit mense gekom. Wanneer dit wel gebeur het, was hulle in die vorm van huis-tot-huis-verkoopsmense. As ons wel na die winkels in Athlone toe gegaan het, was die witmense Jode wat snaaks Engels gepraat het. Maar hulle het ons verstaan as ons altyd op ’n afslag aangedring het. Van Afrikaanssprekendes het ons byna niks van geweet nie.

Eendag toe is ons Engels hoër-onderwyser siek. Ons moes toe by die ander helfte van ons klas by die Afrikaans hoër-klas insit sonder om deel te neem. Afrikaans eerste taal was vir ons heeltemal duister. Ons sukkel met anglisismes en die confusion wat ons moes verdra van “wanner-praat-ons-onse-taal-en-wanner-praat-ons-Boere-Afrikaans?” was klein dingetjies in vergelyking met Afrikaans as eerste taal wat op ons afgefors is.

So toe ons gesê is ons moet die standerd agt June eksamen op die Afrikaans hoër graad skryf, het ons ’n problem gehad wat aandag makeer het. Ons scheme toe dat as ons goed doen, hulle ons nie net vorentoe in Afrikaans eerste taal gaan opvoed nie maar hulle sal ook al die ander vakke (wat ons in Engels geloop het) in daai vreemde taal sou verander. En dit sou hel wees, want kyk hoe duister was Afrikaans toe ons ingesittet. ’n Mens kon byna niks van daai groot woorde verstaan het nie.

Ons besluit toe ons gaan almal die Afrikaans hoër-vak druip. Dit was maklik vir meeste van die klas. Vir my was dit egter ’n uitdaging. Op primêre skool het ek altyd eerste in die klas gestaan. (Nie dat ek eintlik getraai het nie!) Op Athlone High moes ek hierdie ereplek met twee ander studente, Alex Volkwyn van Caledon en Frank Hermanus van Windhoek, deel. Hulle was Afrikaans hoër-studente. Dus as ek ook sleg druip dan moet dit wys dat so ’n idee van die Onderwysdepartment eintlik ’n slegte benul is. Ek moes toe baie sukkel met die vraestel om nie die plan weg te gee nie.

Dit was dan onse 1976 in 1956. Ons het geslaag al het ons gedruip. Weer eens het ons dit nie as ’n politieke set beskou nie. Ons het miskien ’n bietjie van die gees van die studente van 1976 self ervaar. Coming Events.

Peters Snyders by die groot klip op Paternoster

So in 1957 het onse Afrikaans laer gebly en vir ons kollegas uit die platteland was alles ook nog dieselle. Die onderwyser wat Engels of Afrikaans op die hoë vlak vir een helfte van die klas geleer het, het dit ook vir die ander helfte van die klas op die laer vlak les gegee. Dus in standerd nege was meneer Janari almal van ons (albei klasse) se Afrikaansonderwyser. Janari was politiekbewus en hy het ons belangstelling in die politiek aangewakker. Ons het met nuwe oë na die situasie in die land gekyk en namate hoe dit ons tref. Hy het vir ons gesê al wat ons moet doen, is om elkeen ons ons baksteen van resistance op die muur teen apartheid te messel en die res op die toekomstige tydsgees te los.

Ons het meneer Janari se wenke ernstig opgeneem, maar hoe doen ’n sewentienjarige sy bydrae? Ons was op ’n baie sagte manier gereeld oor die politiek in die land ingelig voor ons Afrikaans klas begin het. Toe die Coloured People’s Party ’n byeenkoms op die Parade reël, was ons almal (die hoër Afrikaanses ook) daar. Ons het met trots ons name en adresse verskaf al was die polisie daar en ons geweet het dat hulle die lys name af sou vat.

Dit was die extent van my politieke aktivisme. Wat ek wel hieruit geleer het, was dat bewusmaking baie belangrik vir die groepsgees se doelwitte is: iets wat ek in die jare tagtig in my skrywe bewerkstellig het. In die jare sewentig en tagtig moes ons as skeppende en uitvoerende kunstenaars eers Suid-Afrika en dan die wêreld conscientise. Baie mense het nie eens geweet dat hulle verdruk is nie en ander wat voordeel uit die onderdrukking benut het, was nie bewus van die moontlike negatiewe uitwerking van die oppression nie.

Peter en Sandra

Nog iets wat ek terugskouend dikwels in die jare sewentig en tagtig en later sou ervaar, is dat wanneer die tyds- en groepsgees deur jou werk, jy nie bang is nie. Maar ek het ook gou gesien dat politiekbetrokkenheid is nie goed vir ’n kunstenaar is nie want dit cloud sy judgement. Al wat vir ’n ware kunstenaar van belang is, is die waarheid; en hy gebruik sy kuns om dit uiting te gee want kuns bevat die gees wat op sy beurt in alles versteek is.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top