Die tweestryd

  • 1

Ek skiet die sigaret in die vuur en staar na die vlamme wat soos lang vingers uitstrek na bo. Soos ek die rook uitblaas, vroetel ek vir die pakkie en die aansteker in my sak. My liggaam, warm in die vuur se gloed, is ’n flou weerkaatsing teen die donker rondom my. As ek my hand tussen my oë en die gloed hou, sien ek die sterre wat in alle dimensies bo my uitspan. Van een uiterste tot ’n ander. Buite bereik. Miljoene ligjare van my af. Tog, as ek my oë toemaak, voel ek hoe die swaartekrag van hul massa aan my skouers pluk en golwe in my are maak.

Miskien trek ek die onbereikbare sterre ook aan. Miskien voel hulle ook ’n swak, maar definitiewe trekkrag wat êrens vanuit die ruimte aan hul formasies pluk. As ek op een kon fokus, sou ek dit kon nader dwing? Nader en nader aan die aarde, sodat sy oppervlak ’n armlengte van my af is? Sou ek sy kors kon oopruk en die brandende kern ontbloot? Sou ek dit in my hande kon neem en die samestelling daarvan bestudeer? Sou ek sy molekules kon identifiseer, die elemente uitmekaartrek, en die ontelbare deeltjies oopkloof? Wat sou dan oorbly? Wat sou ek uiteindelik in my hande oor hê? Niks?

Ek laat sak my hand en steek nog ’n sigaret aan. Soos ek die eerste rook uitblaas, sien ek, tussen die vlamme, ’n vlammende vorm gestalte kry en vanuit die vuur oprys en oorkant my gaan sit. Ek herken die vorm, maar kan slegs sy profiel uitmaak. Dit is ’n spieëlbeeld van die vuur, ’n weerkaatsing van die gloed. Hy staar direk na my. Uitdagend.

"Weet jy wat my grootste sukses in hierdie lewe is?" begin hy braaf. Selfvoldaan.

"Dat jy my laat glo dat jy nou hier oorkant my sit en met my gesels."

Hy lag uit sy maag. ’n Diep en donker stem wat in my ore weerklink. "Byna, maar nee. My grootste sukses is jou bevryding." Hy neem ’n trek van sy sigaret. "Jou bevryding van ’n leeftyd se verkramptheid. Bevryding van ’n primitiewe bestaan. Ék het jou verlig." Die woorde rol soos robyne uit sy mond en sy oë verlig in selfvoldane vlamme.

"Ek dink jy gee jouself meer krediet as wat jy verdien." Die vuur kraak saggies in ’n oomblik se stilte.

"Jy is ’n agtergeblewene sonder my. ’n Dier. Bewusteloos. Sonder my sou jy opkyk na die onbekende dieptes bo jou" – hy lig sy hande op in die lug, laat sak dit stadig – "en jy sou nie eens frons vir die oneindigheid daarvan nie. Jy sou nie eens wonder oor die diepte daarvan nie." Hy leun stadig vorentoe in sy stoel. "Jy sou handeviervoet jou spieëlbeeld in waterpoele opsuip en jou weerkaatsing nie herken nie. ’n Leegheid sou die ruimtes van jou holtes beslaan."

Die vuur kraak. ’n Bekende gevoel, soos ’n herinnering, spoel oor my. Ek skuif rond in my stoel. Met saamgeperste lippe blaas ek die rook deur my neus. "Jy bestaan bloot as gevolg van ’n primitiewe wil om te oorleef. ’n Swakheid wat ek lank reeds met my saamsleep. Jy is ’n evolusionêre neweproduk. Skuim in die hoeke van my mond."

Ek wag. "Bevry? Jy het my nie bevry nie. Jy het my ..."

Ek sak terug in my stoel. ’n Bekende moegheid verlam my.

Kalm en berekend neem hy nog ’n trek van sy sigaret. "Jóú grootste sukses," gaan hy voort asof ek niks gesê het nie, "is hierdie ontdekking. Die onthulling van my bestaan. Tog, aan die ander kant, is dit ook die bron van jou grootste stryd. Die bron van die spyt wat aan jou gedagtes kou. Jy wil my saampers in jou hande, die lewe uit my uit dwing en my van jou palms afvee." Die klein kooltjie van sy sigaret gloei flou waar ek dink sy mond is. Hy blaas die rook tydsaam uit. "Maar jy kan nie."

"En waarom nie?" vra ek.

"Die prys is te hoog." Ons tik gelyktydig die as van ons sigarette af. Dit warrel opwaarts saam met die hitte van die vlamme en verdwyn in die donker lug.

"Oorlewing is ’n illusie," sê ek met nuwe krag. "Jý het oorlewing noodsaaklik gemaak." Ek tik my wysvinger hard teen die kant van my kop en leun vooroor in my stoel. Uitdagend. "En ek het die kapasiteit om dit te onmaak." Ek sit weer terug in die stoel en beskou die vlamme tydsaam. "Om te leef is beter as om te oorleef," sê ek sag.

Sonder om my hand teen die gloed op te lig soek ek na die sterre wat alewig skyn teen die fluweelband wat bo my span. Maar dit het ’n swart skerm geword. ’n Donker sluier wat diep die vertes insak. ’n Gat wat my van bo af intrek, soos ’n vlokkie as wat meegesleur word die dieptes in. ’n Magnetiese krag wat my in tyd en ruimte se gety in dwing. Waarheen? Waar sal die gety my uitspoel? Sal ek ooit uitspoel? Of sal ek vir ewig drywend in hierdie leë, donker poel bly?

"Weet jy wat is jou grootste probleem?" Ek skep moed en daag op my beurt uit.

"Jy met jou bewese verset teen evolusie," kap hy dadelik. "Oorlewing is nie ’n illusie nie. Dit is soos swaartekrag, of die spoed van lig. ’n Basiese natuurwet wat die bestaan van jou spesie reguleer. Dit is in die kos wat jy eet, die water wat jy drink, die lug wat jy inasem. Dit is in die leuens wat jy vertel. En in die waarhede. Dit is in die saad wat die eier bevrug en in die selle wat die vrug produseer. Niemand kan dit on-maak nie." Hy neem ’n laaste trek van sy sigaret, sit terug in sy stoel en blaas die rook uit in my rigting.

Ek lag uit my maag soos ek die rook van my sigaret uitblaas. "Nee; benewens jou bewese arrogansie" – my oë weerkaats die laaste vlamme van die vuur in sy rigting – "is vrees jou grootste probleem. Vrees vir die ewige onbekendheid wat ons inwag. Jy sien dit as jy opkyk in die nag. Jy voel dit as jy jou oë toemaak." ’n Oomblik se stilte." En vrees is die bron van die illusies wat jý skep. Illusies wat jy skep om jou lot te ontken." Ek bly vooroor leun en daag ’n antwoord uit. Hy ignoreer my en skuif rond in sy stoel.

Soos die kole geleidelik tot as verkrummel en die hitte van die vuur verdwyn, verdof die vlammende vorm oorkant my en sy gloeiende oë doof uit teen die donker van die nag. Ek vou my hande op my skoot en sluit my oë.

Die donker, dink ek, bestaan uit sy eie. Dit was daar voor die lig in ontploffings ontstaan het, en dit sal daar wees wanneer alles weer in een punt inkrimp en verdwyn. Die donker bestaan ongeag enigiets. Selfstandig. Absoluut. Die lig, daarenteen, ontstaan slegs vanuit ’n bron. Dit kan nie bestaan sonder die ontploffings van energie nie. As die bron uitgeput raak, sal die lig daarmee saam uitdoof. Lig is afhanklik. Relatief.

Ek laat sak my kop en knyp my oë styf toe.

"Jý is die illusie," fluister ek die nag in. My hart klop teen die binnekant van my bors. Lug vloei my longe binne. Elektrisiteit ontplof tussen stringe weefsel, my liggaam bewend teen die skielike koue. "Jý is die illusie," dink ek. "Die lig uit hierdie bron."

Ek maak my oë oop, gooi my kop agteroor en glimlag vir die miljoene skitterende oë wat vanuit die verte afkyk na my.

  • 1

Kommentaar

  • Rensie WWeimann

    Filosofie op sy beste! Dis juis die aanhaling oor donker/ lig wat my geprikkel het om dit te lees. Sondag het ek na 'n preek geluister wat presies oor dieselfde onderwerp gegaan het. Hierdie verhaal het die waarde dat dit mens nog lank laat nadink. Skitterend geskryf!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top