Die Tuindwergies: "Dit was 'n organiese proses ..."

  • 0

Emile Swiegers van Die Tuindwergies beantwoord ’n paar vrae oor dié groep se nuwe album.

Julle album launch-toer is bykans afgehandel (ten tye van hierdie onderhoud). Hoe gaan dit tot dusver? Enige hoogtepunte en laagtepunte?

Dit was ’n sukses in meer as een opsig (alhoewel die toer nog nie heeltemal klaar is nie). Die ouer aanhangers en die nuwe aanhangers ontvang die nuwe CD baie goed.

’n Hoogtepunt kan wees dat ons ’n wêreldrekord aangedurf het by Firkin in Centurion – een duisend Jägermeisters in ’n paar sekondes! Wag nog vir terugvoer van die Guinness- boeke. ’n Ander hoogtepunt is definitief ’n klein plekkie met die naam McNasty's in Groot Brak, waar ons ’n laaste-oomblik-show gereël het. Dit is lekker om te sien hoe die mense op kleiner dorpies musiek waardeer, want die mense in die stad is mos eintlik baie bederf. (Ek self is deel van hulle!)

’n Laagtepunt vir my was die hoeveelheid tyd wat mens in ’n bussie spandeer. Jy raak gatvol vir die pad, maar sodra jy by jou bestemming aankom is als die moeite werd (veral as mens in die berge vaskyk).

Pieter de Jager, Jean Swiegers, Emile Swiegers en Dawie de Jager van Die Tuindwergies. Foto: Waldo Swiegers

Ek het die album nou al ’n paar maal deurgeluister en ek hoor beslis daardie country-vibe waarvan julle bestuurder, Hannes, in die een YouTube-onderhoud praat – veral die kief banjo-klanke. In hoe ’n mate was dit bewustelike beplanning aan julle kant om met dié album dié rigting in te slaan en hoe lank werk julle al aan hierdie aanslag?

Dit was ’n organiese proses tot hier. Ek het eendag in ’n musiekwinkel ingestap en kon nie loop sonder ’n banjo nie. Die ouens het ook van die klank gehou en toe ons weer sien, het ons twee songs uit hom uit. Om jou vraag te beantwoord, ons werk omtrent al so ’n jaar aan die spesifieke aanslag.

In dieselfde onderhoud sê Hannes dit is die "eerste keer" dat Suid-Afrika ’n raamwerk het van "hoe country vorentoe kan gaan". Wat behels hierdie filosofie en wat beteken julle musiek daarvoor?

Jy moet hom dalk self vra! My interpretasie is dat ons wegbreek van vooropgestelde "four to the floor" Afrikaanse songs waarvan die lirieke nie veel van ’n lewensvatbare betekenis het nie. Ons mag dalk nie die beste band wees nie, maar ten minste klink ons nie soos iemand anders nie. Afrikaans sal baat by meer bands en kunstenaars wat hul eie koppe volg as dit kom by die musiek. 

Een verskynsel op die album wat nogal ’n groot verrassing is, is die colab met Francois van Coke op “Paar stappe voor”. Dis nogal ’n onwaarskynlike kombinasie – hoe het dit gebeur?

Ek het die song geskryf omdat ek van rock hou. Ons almal in die band het ’n liefde vir harde musiek (alhoewel ons dit nie altyd self speel nie). Ek het ook al saam met Van Coke Kartel ’n paar keer op die verhoog verskyn. Met dié song het die instrumente net van nature harder gekom. Dis toe wat ons besluit het om vir Francois te vra vir sy bydrae. What a man!

Dawie de Jager, Pieter de Jager, Jean Swiegers en Emile Swiegers. Foto: Waldo Swiegers

Julle lirieke het in die algemeen ’n positiewe, oftewel “ligter” aanslag, soos byvoorbeeld op “Skemer en geraas”: "Vee af jou wange skattebol, ons gaan nog lekker kry, jy sal nog sien, jy sal nog sien, miskien is dit net groot praat, miskien is ek nou besig om braaf te raak, of miskien was dit tog so beplan." Tog skemer daar nou en dan iets meer desperaats deur, soos op “Byle en uile”: "... hoor jy hoe huil die byle, hoor jy hoe roep albei die uile op ons dak, my liefie, ons is in die kak." Hoe sou julle die album tematies beskryf en hoe wissel julle die onderskeie aanslae af?

(Hierdie vraag is deur Pieter de Jager beantwoord) Ons het nie regtig al ooit ’n tema gehad wat ons volg as dit kom by skryf nie! My songs gaan maar oor dinge wat met my gebeur of hoe ek oor dinge voel. So partykeer gaan dit goed en soms is ek in die "kak" ... Is maar net altyd dankbaar as mense kan identifiseer en aanklank vind! ’n Tipe gevoel van “darem is ek nie alleen in hierdie mal avontuur nie”. 

Die cover van David Kramer se “Meisie sonder sokkies” is nogal lekker. Hoe het julle besluit om hierdie lied in te sluit op die album? Met ander woorde, julle voel natuurlik dit pas só goed by die res van die album in dat julle dit móés insluit. Hoe het daardie gedagteproses gewerk?

Ons het die song lewend gespeel by shows en as gevolg van die gehoor se reaksie besluit om hom op te neem. Ons almal is aanhangers van David. 

Julle het die nuwe album opgeneem in Stellenbosch se Konserwatorium. Dis betreklik ongewoon vir ’n ruk-en-rol-groep om daar op te neem – hoe het dit gebeur? Hoe het julle die proses gevind om hier op te neem, in teenstelling met byvoorbeeld kleiner ateljees met asbakke langs die desk en Jägermeister-vlekke op die vloer? In hoe ’n mate beïnvloed die omgewing die klank wat voortgebring word?

Dawie (ons basspeler) het ná ’n Tuindwergies-show in Stellenbosch met Gerhard Roux (wat by die konservatorium werk) gesels. Dawie het vir Gerhard laat weet dat ons ’n spasie soek om die album op te neem. Gerhard stel toe voor om sommer die volgende dag ’n song by hulle op te neem. Ons het toe van die proses gehou en besluit om die hele album daar te doen. Ons het ons kortspeler "Tuisgekweek" in ’n slaapkamer opgeneem waar jy skaars die rekenaarskerm kon sien van al die rook, want sou jy die venster wou oopmaak, neem jy die snelweg op. Ons het matrasse op mekaar laat staan om ’n klankdigte kamer na te maak waarin ons die stemme en die kitare opgeneem het. Dit was ’n lekker ondervinding, maar baie tydsaam. Die konservatorium was nou weer lekker, omdat jy verskillende mikrofoon-opsies het, verskillende terugluister-opsies en ’n goeie kamer vir opnames. Gerhard, wat die album opgeneem en gemeng het, het ook al jare se tegniese ondervinding. Dit als het bygedra tot die skoner, maar tog natuurlike klank van die nuwe album.

 

Op die YouTube-onderhoud sê Jean: "Ons weet nou meer wat ons doen, as Die Tuindwergies." Watter verskille is daar in julle aanslag as, sê nou maar, met die vrystelling van die eerste kortspeler of die eerste vollengte-album?

Met dié album het ons van die begin af mediahulp ingekry en dadelik afgeskop met ’n landswye toer. Ons verbeter ook elke dag op ons instrumente en kry weer kreatiewe idees vir nuwe songs. Die manier waarop ons as ’n besigheid werk het ook verander – nou het elke ou sy afdeling en deel om te bring.

Het julle “day jobs”? Indien wel, hoe balanseer julle dit met die band? Indien nie, wat moet ’n band doen om ten alle koste day jobs te vermy en steeds aan die leef te bly?

Die enigste ou in die groep wat iets anders as musiek doen, is Dawie. Hy het ’n orgideekwekery (nogal gepas by die naam Tuindwergies), maar hy is ook die enigste een wat getroud is! Die raad wat ek het om aan die gang te bly is om baie te speel, maar steeds elke show so goed as moontlik beplan en om jou song-registrasies op datum te hou. ’n Ander ding is om produktief te bly, want jy werk vir jouself. Probeer musiek maak met meer as een groepie mense en wees oop om te verbeter, al beteken dit iets moet verander.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top