Die trein stop nie hier nie

  • 1

Die dag na my nege-en-vyftigste verjaardag was ek alreeds sestig en bly ek dit vir die volgende 364 dae voordat ek kwalifiseer vir senior korting. Net toe ek mymer oor hoe lekker hierdie tydvak afskop - met ‘n vakansie in die Noordkaap en ‘n kampnaweek twee dae na ons terugkoms - kom die versoek om vir die nuwe formaat Courant ‘n gereelde rubriek te hanteer. Dit raak net al beter!

Eintlik moet ek gereken word as die mees lendelam stoel op Gansbaai Media se inventaris aangesien ek vir Gansbaai Herald begin skryf het, toe vir Gansbaai Courant en daarna vir Overstrand Tribune. Ek onthou weer dinktyd, navorsingtyd, skryftyd, saktyd. Daardie tyd was ek in iemand anders se byekorf; my heuningkoek is onderstebo in ‘n geldskottel gehang; my souse het geloop, later gedrup en my koek is nog later uitgewring tot ‘n hopie verwronge was. Saans het ek die wasklont uitgehaal, dit oor ‘n kersvlam warmgemaak om die laaste bietjie energie-heuning uit te kry. Saam met saktyd, het my skouers gesak van pure verligting - tot die volgende môre.

My kreatiewe stelsel werk van so ‘n aard dat ek ontwaak met al hierdie kreatiewe gedagtes in my lyf. Mens sou kon sê die muse klap my wakker. Hierdie gedagtes word in my swart boekie gestoor. Wanneer ek wakker genoeg is om oggendgodsdiens te hou, is die kreatiewe oomblik verby en verval ek in die heuningkoek-roetine tot die aand nadat die huis stil geword het, want snags is my produktiewe, aktiewe skeppingstyd. Die nagstilte, ‘n oop venster sodat ek al die vrygestelde energie van die slapendes vir myself kan opeis, is ‘n kreatiewe lafenis. Feit is dat té veel vir té lank sy tol ge-eis het en die grootste guns wat mens jouself kan bewys, is om te weet wanneer om op te hou.

Tog het ek nooit ophou skryf nie. Dit kan ek nie, want dit is in die DNA, vloei saam tussen bloedplaatjies en plasma. Buiten my outobiografiese fiksie-boek – wat ‘n kortverhaal sou wees, maar al baie na aan die afsnygrens vir ‘n novelle trek – lê die meeste ander woorde op die internet in beide Afrikaans en Engels.

Tot vandag toe nog vra mense van tyd tot tyd vir my: “Hoekom skryf jy nie meer vir die koerant nie, jou goed het altyd so lekker gelees?” Baie dankie, julle is my inspirasie en ek hoop dat julle hierdie keer dieselfde genot uit my woorde sal put. Die lewe en die mense wat dit leef, ek en jy, bied die beste materiaal vir enige rubriekskrywer. My kinders sal weer, soos destyds, grappenderwys vir mekaar sê: “Nou moet ons alweer in ons pasoppens wees wat ons doen of sê, want Ma gaan dit koerant toe vat.” Dit is maar so: ‘n rubriekskrywer se hoor-en-sien-sintuie is onbewustelik fyn ingestel en die feit dat hulle self nou jong pappas en mammas is, laat my lekker in die mou lag.

Kortom, die wêreld is skryfgewys hierdie keer net soveel groter as destyds, danksy die nuwe dimensie waarin ek my nou bevind. ‘n Mens se persepsies het intussen die konkreetheid bewys, al dan nie; jy lag oor die politiek en jy huil oor ‘n sny brood wat iemand anders nie het om te eet nie; die grys in jou hare is die stof wat engele van hulle vlerke afskud en vergifnis is makliker as om deur die aand se tv-nuus te sit. Alles dit gegewe, bly die bloed in jou are steeds warm – al is dit met die hulp van pilletjies - en jou oë blink steeds - al skuil hulle deesdae agter glase - ten aanskoue van dit wat jou estetiese snaar pluk.

Geen trein wat so lekker op spoed is, gaan hier stop nie. Allermins myne.

Suikerbrood en suurvye

 

  • 1

Kommentaar

  • Ek hoop regtig om gereeld van jou skrywes hier op Senet te sien.  Dis soos 'n vars briesie wat begin waai.

     
    Doen asseblief so voort.
     
    Enjee
  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top