Die DA se 2026 Federale Kongres en die gepaardgaande leierskapsverkiesings is nou agter die rug – die gesprekke oor die uitkoms daarvan egter nog lank nie. En soos wat in LitNet se jongste Wyngaard Weekliks-videogesprek voorspel word, sou ras- en geografiese verteenwoordiging in die nuwe leierskapsamestelling ’n veelbesproke onderwerp bly – vooraf en agterna.
Wat sowel ras as geografie betref, blyk dit egter dat die top drie posisies in die leierstruktuur die toets slaag. ’n Mens moet dit wel duidelik stel dat die DA as party nie rasseklassifikasie erken of – meer akkuraat – deel van hul partybeleid maak nie: Meriete, of bekwaamheid, is al wat formeel vir die party tel.
Hoe ook al, só lyk die nuutverkose “top 3”:
- Geordin Hill-Lewis (wit en van die Wes-Kaap) is die nuwe federale (of nasionale) leier in die plek van John Steenhuisen, minister van landbou, wat hom nie weer verkiesbaar gestel het nie.
- Solly Msimanga (swart en van Gauteng) is die nuwe federale voorsitter, ’n rol wat hy by die Wes-Kaap se Ivan Meyer oorgeneem het. Na dié verwikkeling keer ons later in die artikel terug.
- Ashur Sarupen (Indiër en van die Oos-Rand) beklee nou die vorige stoel van Helen Zille (tans burgemeesterskandidaat in Johannesburg) as voorsitter van die federale raad.
En soos Hill-Lewis dit aan my gestel het, dié raad “runs the party” (bestuur, beheer, regeer).

Foto van Geordin Hill-Lewis deur fotograaf in diens van die DA (CC BY-SA 3.0 ZA, via Wikimedia Commons)
Oor wie nou eintlik die grootbaas van die party is – die voorsitter van die federale raad of die federale leier – sê een van die Wyngaard Weekliks-paneellede, Jan-Jan Joubert, joernalis en politieke kommentator: “Die nasionale leier bly die belangrikste leier.” Die oudparlementslid Pieter Mulder, wat ook ’n voormalige adjunkminister en eensmalige VF Plus-leier was, stem met Joubert saam, “maar Helen Zille het die voorsitterskap van die federale raad dié belangrikste pos gemaak”.
Nogtans het die uitgetrede nasionale leier, John Steenhuisen, goed presteer, meen Mulder en Joubert se gespreksgenoot, Jason Lloyd, wat politieke kommentaar vir LitNet skryf. Steenhuisen, sê hy, het dit reggekry om die DA “meer te moderniseer”, veral in terme van ekonomiese en internasionale beleid. Hy bou die argument verder uit in sy mees onlangse artikel.
Wat ook al Steenhuisen se prestasies as voormalige leier mag gewees het, dit moet opgeweeg word teen die mate waartoe die DA glo hy het die party se beeld skade aangedoen met die hantering van die bek-en-klouseer-krisis. Die “bevinding” sal bepaal of die party hom in die kabinet sal laat aanbly en of hy dalk “herontplooi” sal word (om ANC-spraak hier aan te wend). ’n Party wat roem daarop dat hy effektief bestuur en beter as die ANC regeer, kan nie die soort krisis bekostig waarin Steenhuisen se portefeulje verval het nie. Maar die feit dat Hill-Lewis as nuwe leier in sy aanvaardingstoespraak tog vermeld het dat dié krisis nou behoorlik gepak word, is dalk ’n ligpunt vir Steenhuisen.
Mulder glo wanneer ’n nuwe leier oorneem, moet die vorige een uittree – anders sit dié daar soos die afgetrede dominee wat die oggenddiens bywoon en sy kop sit en skud terwyl nie nuwe dominee preek. Joubert het ’n idee oor wat ’n nuwe pos vir Steenhuisen kan wees, wat sy nasionale politieke profiel as uitnemende hoofsweep vir die DA gebou het: Maak hom parlementêre leier, aangesien Hill-Lewis reeds uit die staanspoor aangedui het dat hy as Kaapstadse burgemeester gaan aanbly indien hy leier word.
Dié pos is inderdaad nou aan hom toevertrou – en daardeur skep dit dalk die geleentheid om sy “nasionale eweknie” in die party, Msimanga, in die rol van parlementêre leier aan te stel. Die ander moontlikheid, indien dan nie Steenhuisen of Msimanga nie, sou wees om Meyer vir sy verlies teen Msimanga te troos met ’n belangrike nasionale parlementêre pos.
Nie net sal dit soos “bevordering” vertoon nie, maar dit sal ook die gewenste aanwending wees van Meyer se ervaring waarvan ontleders en sy ondersteuners groot gewag maak: Onder meer het hy twee termyne as die DA se federale voorsitter gedien en word hy ook gerespekteer as ’n gesoute provinsiale minister.
Moontlik sal dit help om die kritiek te versag oor die feit dat die DA nie “bruin” verteenwoordiging in sy hoogste leiersposte het nie, kritiek wat deur Hill-Lewis weerlê is toe ek hom daaroor vra. Hy wys daarop dat Carl Pophaim immers as een van die adjunkvoorsitters vir Sarupen as voorsitter verkies is. Pophaim is een van Hill-Lewis se burgemeesterskomiteelede in Stad Kaapstad, maar geniet beslis nie die soort openbare profiel as dié van Meyer nie.
Natuurlik sou ras altyd ’n rol in die DA se leierskapverkiesing speel, was Lloyd se oortuiging gedurende die Wyngaard Weekliks-gesprek. Hy het dit gekoppel aan die DA se nederlae teen die PA in tussenverkiesings in tradisioneel bruin gebiede in die Wes-Kaap veral, maar ook die Baai en Johannesburg. Die DA glo egter dat hy met sy nuwe leierskapsamestelling goeie demografiese en geografiese verteenwoordiging uitbeeld – en dan die nuwe element, wat spesifiek benadruk word deur die politieke kommentator Harlan Cloete: ’n verjonging van leierskap.
Terwyl hy die grootste agting vir Meyer het en behou, meen hy dit is dalk eerder waar Meyer uit die bus geval het: dat hy nie jonk genoeg is nie; dat hy in die konteks van die party se toekomsgerigtheid die “ou orde” verteenwoordig. Ongetwyfeld opper dit ’n nuwe besprekingspunt vir ’n volgende gesprek.
Kyk en lees ook:
Wyngaard Weekliks: Die DA se leierskapstryd is aan die gebeur.

