Die toespraak vir die spreker en die toespraakskrywer deur Daan Prinsloo: ’n resensie

  • 0

Die toespraak vir die spreker en die toespraakskrywer
Daan Prinsloo
Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN: 9781485309130

Enige persoon wat betrokke is by die kuns van redevoering, hetsy dit as spreker, afrigter of beoordelaar is, is dankbaar vir enige boek wat op die mark verskyn wat daarmee kan help. Daar is veral ’n leemte wat ’n goeie oorkoepelende gids betref vir almal wat by die skryf of lewering van enige toespraak betrokke is.

Daan Prinsloo se Die toespraak vir die spreker en die toespraakskrywer verskyn onlangs as ’n heruitgawe by Protea Boekhuis. In die voorwoord word aangedui dat hierdie publikasie as handleiding bedoel word om almal te help wat toesprake moet beplan en skryf – maak nie saak wie dit uiteindelik gaan lewer nie. Dit skep natuurlik ’n uitdaging aan die skrywer hiervan om aan alle vereistes te kan voldoen vir diegene wat by openbare (en ander aspekte van) redevoering betrokke is; soos dit gestel word: “die volwasse spreker, toespraakskrywers, studente, skoliere en natuurlik derduisende ouers dwarsoor die land wat gereeld by hul kinders se optredes binne en buite die klaskamer betrek word”.

Enige boek wat verskyn wat mense kan help om beter sprekers te word, is welkom. Die vraag is: Wat wil die skrywer hê moet die teikengebruikers met hierdie sogenaamde handleiding doen? Om net oorkoepelend kennis te neem van die skryf en lewering van toesprake? Die skrywer stel dit duidelik in die voorwoord wat die oogmerk is, naamlik “om te help om van ’n amateur of beginner te vorder” om uiteindelik ’n toespraak te lewer “wat as ’n sukses bestempel kan word”. Dit dien voorts as ’n praktiese gids en bevat voorbeelde uit suksesvolle toesprake uit die geskiedenis, asook praktiese wenke.

Die boek is in vyf afdelings verdeel: Die toespraak en kommunikasie; Toespraak, spreker en skrywer; Stof, styl en strategie; Gespesialiseerde aanbiedings; en Toespraaklewering.

Deel een fokus op die konteks waarbinne ’n toespraak geskryf en gelewer word, naamlik as ’n proses van kommunikasie. In hierdie deel bespreek die skrywer die toespraak as kommunikasie, die kuns en vakmanskap van skryfwerk, die gehoor, humor en die toespraak, en struikelblokke by luister en verstaan.

Deel twee se fokus is op aspekte soos die beplanning en voorbereiding van die toespraak, die formulering van die tema en onderwerp, die “anatomie van die toespraak” – met ander woorde, hoe ’n toespraak lyk – en laastens die verhouding tussen die skrywer en die spreker.

In deel drie verskuif die fokus na die meer strategiese aspekte van die toespraak, naamlik navorsing en inligtingstegnologie, die gebruik van hulpmiddels, die verhouding tussen toesprake en die media, en laastens sekere “Moets en moenies”. Hierdie afdeling is baie nuttig en behoort menige aspirantspreker te kan help.

In deel vier ondersoek Prinsloo verskillende soorte toesprake en verskaf breë riglyne en beginsels oor elkeen. Dit is natuurlik onmoontlik om aan elke soort toespraak aandag te skenk, maar die oorkoepelende blik is baie nuttig.

Die laaste afdeling se fokus is op die lewering van die toespraak. Daar word gekyk na die verskillende vrese wat sprekers kan oorkom, die korrekte gebruik van die spreker se stem en liggaam, en die korrekte taalgebruik. Dit is ’n heel nuttige afdeling vir sprekers.

Die boek bevat agterin ’n nuttig registerlys wat dit makliker vir die gebruiker van die boek maak om by belangrike kernaspekte uit te kom, asook ’n bronnelys. Wat egter pla met hierdie bronnelys (en ander aspekte van die boek), is dat meer onlangse bronne oor toesprake in die algemeen en voorbeeldtoesprake ontbreek. Prinsloo bespreek byvoorbeeld in hoofstuk 18 “Debatte en redevoering”. Hy bespreek debatte op bl 123 en verder en verwys na en gebruik as voorbeeld die beoordelaarskaart van die M-Net/Junior Rapportryersbeweging se nasionale debatskompetisie. Dié kompetisie is egter al etlike jare gelede deur die ATKV oorgeneem en bestaan tans uit twee afdelings, naamlik een vir junior en een vir senior hoërskoolleerders wat elkeen ’n ander formaat en beoordeelstaat het. Dit is jammer dat die meer onlangse inligting oor hierdie kompetisie nie in die heruitgawe opgeneem is nie. Net so mis ek verwysings na byvoorbeeld die Britse parlementêre-styl-debat of forumdebatte of selfs die sogenaamde “Dink of sink”-formaat van debatvoering. Nog ’n tekortkoming by openbare redevoering is die verwysings na die ATKV se redenaarskompetisie en die verskillende formate wat daar gebruik word; asook die gebruik van onlangse beoordeelstate by hierdie kompetisie. Baie van die voorbeeldtoesprake, soos dié van Churchill, John F Kennedy en Martin Luther King, is natuurlik nog steeds baie relevant en nuttig, maar meer onlangse voorbeelde kon ook gegee gewees het, byvoorbeeld Steve Jobs se 2005-toespraak en van Barack Obama se toesprake.

As ’n algemene gids en ’n handleiding oor die skryf en lewering van toesprake, slaag Die toespraak vir die spreker en die toespraakskrywer in sy doel en kan as nuttige hulpmiddel gebruik word wat beide teoretiese aspekte en praktiese wenke in een bruikbare gids saamvoeg.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top