Die TV-optrede van die ANC-NUK op 3 April was wel ‘n “Jacob Zuma magsvertoning” (Max du Preez DB voorblad 5 April). In “Kies die beste opskrif” mag die wenner (dalk) wees “JZ Frankenstein poog om sy monster te besweer en te begrawe”, maar ‘monsters’ is makliker te skep as te vernietig.
Drie van die ‘grotes’ te siene op die betrokke TV-uitsending ervaar agter die fasade van eensgesindheid, elk sy eie Malema-stuipe negatief. Ja-wel, of dalk ook positief: Gwede Mantashe nadat hy in 2007 met die twyfelagtige “drankhouer-werp-en-boude-wys-verkiesing” Julius Malema as die ‘wenner’ uit die warboel geraap het; JZ wat Malema as blinkgepoetse pop van een na die ander ANC-opkoms saamgedra het — maar die buiksprekerpop het gou as homself begin praat (en baie); en Mathews Phosa wat meer as net simpatieke geluide in die rigting van Malema maak — maar hy weet waarskynlik waar die beste wortels vir sy agenda te grawe is.
Die onvermo? van die ANC om te regeer word nêrens beter verwoord as in die onderhoud van Chris Barron met die Minister van Basiese Onderwys me Angie Motshega (Sunday Times, 1 April 2012). Dit is skokkend hoe die provinsiale regering van die Oos-Kaap en Sadou (wie is die perd en wie die handperd?) hulle so gemaklik afvee aan die verordeninge en gesag van die sentrale regering — “we were supposed to take over complete control (van onderwys) but we met a brick wall”.
Toe Helen Zille (die mees man(!)moedige in opposisiegeledere) dié seer toon van die regering met mening trap skreeu almal en nog wie histeries ten hemele oor haar “brutale eurosentriese onsensitiwiteit” — maar hoe hard hulle al probeer kan hulle nie die etiket van “rassis” aan haar geplak kry nie. Sy is die mees effektiewe politieke teenstander van die ANC — en ons sal ver kom as die politike balbyters maar net hul persoonlike afkeer in haar kan besweer. Daar is ‘n praktiese politieke keuse vir ons almal, en ook vir hulle, te maak tot die beswil van Suid Afrika en al sy mense.
Mantashe kan “rassis”, sy welbekende troefkaart (en die Jokerin sy pak), geensins teen Reuel Khoza, die grootbaas van Nedbank, speel nie. Khoza se assessering van die patetiese politiese en bestuursonvermo? van die ANC regering om ‘n ondubbelsinnige en uitvoerbare raamwerk te skep waarmee ekonomiese sekerheid en voorspoed vir die totale bevolking van Suid-Afrika ontwikkel kan word, word wyd in die ekonomiese hiërargie gedeel. Die stemme in die koor van bekommerdes word dringender by die dag — maar die Mantashe-viool word as teenvoeter al hoe luider gespeel.
Die twee bekendstes van 1912:
Die Titanic (die “onsinkbare skip”) het met die nooiensvaart gesink.
Sal die susterskip, die Titanic (wat “tot die wederkoms van Jesus sal regeer”) betyds haar eufees-noodlotsvaart kan omkeer?
Naas Viljoen


Kommentaar
Hallo Naas,
Allegorieë het altyd meer betekenis as wat die opsteller daarvan bewus is.
Neem byvoorbeeld die sinnebeeld in jou opskrif ; "Die Titanic en ander onsinkbare skepe" . Die Titanic was 'n behoorlik ontwerpe, beplande en geboude ingenieurswonder.
Die ANC is van die begin af 'n stuk drywende skroot wat die Kommuniste hier kom wegsmyt het. Die ergste is die feit dat dit met 'n uitgediende eksperimentele kernreaktor aangedryf word. Dis uiters onstabiel en onvoorspelbaar. Dit word ook nie ver weg van beskawing op die oop see gebruik nie. Nee, hulle veer heen-en-weer oor die Vaalrivier daarmee omdat hulle die geld vir 'n brug eerder op donker sjampanje en swart whiskeys spandeer wat hulle namens die volk MOET drink.
Dus, plof die ANC se oorlaaide onsinkbare skippie - dan plof menige op land saam daarmee.
Dis anders as die Titanic vol beskaafde passasiers wie se bevoegde kaptein in 'n breukdeel van 'n sekonde moes besluit het of hulle die berg kop-aan-kop moet tref en of hulle teen dit moet skuur. Die kaptein het besluit om te skuur - ook vir baie goeie redes - maar dit was die verkeerde besluit. In plaas van net een dryfkamer wat beskadig sou word soos in die geval van 'n kop-aan-kop botsing teen die ysberg, het ses kamers se wand geskeur ...
As die ANC se oorlaaide en geroeste veerboot se kernreaktor nie een of ander tyd gaan smelt nie, gaan die ding om donder en soos so gereeld met al die baie ander veerbote vir die armes, 'n groteske ramp veroorsaak waarin baie onskuldiges omkom.
Naas, dankie ook vir jou lig omtrent die balbyters oral met ons - hetsy die politikasters of die kardoeskop kritikasters op die werf. Enige seun wat in die veld gesit en konfytbrood eet weet waar klim die goed in. Maar dan is daar onse maatjies met bakstene in hul handsakke se balbyt "drag" ook nog.
Groete,
Cornelius