
“Die tiende vrag” is voorgelê om Afrikaans te vier onder die tema “Kyk hoe ver het ons gekom”. Dié inisiatief van PEN Afrikaans word ondersteun deur LitNet en moontlik gemaak deur Kruger Internasionaal Bate- & Welvaartbestuur. Hierdie fiksiekompetisie se tema sluit aan by een van die motiverings vir die Afrikaans Amptelik 100-veldtog.
Die prysgeld beloop R10 000 vir die eerste-, R5 000 vir die tweede- en R2 500 vir die derdeplekwenner.
*
Die tiende vrag
Die Groot Krokodil swaai sy vinger vir ons op die agtuur nuus. “Die regering van Suid-Afrika sal nie toelaat dat wanorde of anargie hierdie land vernietig nie.”
“Sit dit af. Sit dit liewer af,” sê Pa. “Ek sal na môre se weervoorspelling op die radio in die kamer gaan luister.”
Die vragmotor beur in die los rooi sandgrond van die aartappelland. Hou stil. Laai op. Ry na die volgende hopie sakke toe. In die weste pak die wolke saam en die wind waai reg vir reën. Vandag wens ons nie vir reën nie, al is die veld droog. Een bui en die res van die aartappeloes vrot in hierdie bloedige hitte op die lande.
Met elke sakkie aartappels wat ritmies van die man op die grond na die man op die vragmotor se bak na die manne wat pak en regskuif aangegee word, klink die vreugdelied “Tiende vrag, skool. Tiende vrag, skool. Die kinders hy gaan by die skool loop”.
Toe die vrag gelaai is, staan die werkers in ’n halfsirkel om die vragmotor en hef ’n vreugdelied aan. Dié vrag waaroor almal al van die winter af praat, droom en hoop is gelaai.
Pa het die kontrak gemaak voordat die vragmotor in Julie Douglas toe gery het om die moere te gaan haal: “As die tiende vrag aartappels Desember mark toe gaan, bring die lorrie die sinke vir die skool se dak terug. Ons gaan ’n skool vir die kinders bou, daar duskant die populiere.”
Die kontrak was daar in die winter toe hande vroegoggend die sware pype wat wil-wil ys skuif, moeë bene oor opgeërte rye klim en die lywe probeer om die yskoue water te systap wanneer ’n sproeier vashaak. Die kontrak was daar met die skoffel in Augustus se dor wind. En nou in Desember, met die versengende hitte, is die kontrak hier. Die vragte is getel, die rye met die oog gemeet. Gaan daar genoeg vragte uit die blok aartappels kom? Maar vandag, die 14de Desember van 1986 is die tiende vrag gelaai.
Ma sny tamatie vir middagete se slaai, en ek pak Pa se padkos in en maak koffie vir die fles. Pa draai die telefoon se slinger; een lange om by die sentrale uit te kom.
“Nee, net Bloemfontein se mark, nie Kimberley ook nie,” sê Pa vir Pietie by die sentrale. “En kry vir my die staalmense daar op Winburg ook op die lyn, asseblief.”
Pa gaan sit by die tafel, skuif sy eetgery eenkant toe en trek die sakrekenaar en ’n oefeningboek nader. Hy vou die vel papier oop en maak die somme. Soveel sakkies aartappels en die prys sal tot Nuwejaar hou, het die agent by die mark gesê, vermenigvuldig, skryf die antwoord neer. Begin ’n nuwe som met die vorige een se antwoord.
“Bid eers dat ons kan eet,” sê Ma. Later staan sy op en gaan sit Pa se kos in die lou-oond.
Pa maak somme: sakkies aartappels maal prys min die agent se kommissie. Prys van die sinkplate. Bakstene, sement, vensterrame, glas. “Twee klaskamers,” sê Pa vir Ma. “Ons kan ’n skool bou met twéé klaskamers.”
Ná ete val ons in, maar almal hou die werf dop en wag vir die wit Nissan om te ry. Brim-brim-brim kom hy oor die motorhek, dreun teen die gruispad op en verdwyn oor die randjie. Joel haal sy hoed af, staan ’n rukkie so voordat hy op die trekker klim en die uithaler in die grond laat sak.
Ma organiseer die mense wat optel vir die soveelste keer. “Die sakkies met die groot aartappels kyk dorp toe, Petrusburg se kant toe. Die sakkies met medium kyk Koffiefontein se kant toe. Die kleintjies kyk huis toe.” ’n Paar maal elke dag sê sy dit, maar kort-kort laat weet die mark daar was medium tussen die groot en dit het die prys afgebring. Soms word Pa kwaad, soms moedeloos en soms roep hy die werkers bymekaar en maak die som van hoeveel geld ons verloor het met witkryt op die stoor se muur, maar hulle verstaan nie. Nie een van die werksmense op die plaas kan lees of skryf nie. Piet, wat na die skape kyk, kan tel.
Die vragmotor met die vrag sinkplate het laat in die nag teruggekom op die plaas. “Die wind was van voor en ek moes baie stadig ry,” sê Pa.
Die vragmotor met OX-nommerplate het in die week ná Dingaansdag die staal vir die skool kom aflaai. Pa en die man het aanvanklik vasgesit. “Die Ventertjie van Winburg wil op Dingaansdag kom aflewer. Sê sy lorries moet elke dag loop om ’n wins te maak. Hy maak ’n groot fout as hy dink daar gaan Dingaansdag op my plaas gewerk word.”
Die huishouding kry ’n ander ritme. Die skool se stene, sement vir die skool, die bouers vir die skool. Pa bel nog elke dag as ons uitval vir ontbyt om te hoor hoeveel het die aartappels op Bloemfontein en Kimberley se mark gegaan, maar ook waar kan hy die boumateriaal teen die beste prys kry. Die lorrie gaan laai nie meer net af waar die aartappelprys die beste is nie.
Paasnaweek van 1987 staan die skool. Trots sluit Pa vir my die twee klaskamers oop. In elke klas op een van die mure is ’n swartbord geverf. Ná die klasinspeksie draai hy die kraan langs die skool oop en laat die ry lemoenbome natloop.
Van die gesukkel met die onderwysdepartement hoor ek so stuk vir stuk. Gewoonlik Sondagmiddae as ek huis toe bel. In haar briewe is Ma ’n bietjie meer spraaksaam oor die onderwyseres wat hulle in Bloemfontein gaan haal het en die gesukkel met die departement vir die skoolbanke.
Julievakansie is ek weer op die plaas. “Jy moet ná ontbyt vir my die lone op die dorp gaan haal en die meel bring,” vra Pa en gee vir my die lysie.
Ek kyk na die lone se lysie en vergelyk dit met die meel se lysie. “Hier is te veel halfsakke.”
“Nee, al die strooise wat skoolkinders blyplek gee, kry ekstra rantsoen. As jy vanaand rantsoen uitdeel, moet jy kyk daar is ’n lys in die stoorkamer; ons gee ekstra tee, koffie, suiker en kookolie ook.”
“Hier is baie kinders wat wil skool toe kom en party bly te ver om elke dag heen en weer te loop, nou slaap hulle by ons plaas se mense en dan gee ek meel. Ons melk ook twee ekstra koeie.” Ek begin verstaan hoekom die karavaan nie hierdie jaar wildtuin toe gaan nie.
Die aand ná die nuus vra ek: “Ek het vandag vir Bennie Grobler by die koöperasie gekry en hy was half ongeskik met my. Hy sê iets van Pa wat met sy boerdery inmeng?”
Pa sug, vou sy servet baie presies op, druk hom in die ring en trek die punte gelyk. “Die bure is baie ontevrede oor die skool. Hulle het die klonkies elke dag opgelaai om hekke oop te maak en skape aan te jaag en nou is al die kinders in die skool. Hulle het begin om elke dag lekkers te gee, maar die kinders wil liewer skool toe kom. Hulle betaal nou groot mans om die kinders se werk te doen.”
“Die vrouens is ook kwaad, want van die jong meidjies het separate gewas en dié is ook nou in die skool,” las Ma by. “Die vrouens ignoreer my by die VLU-vergaderings. Ek het opgehou om te gaan.” Die VLU was een van die ligpunte in Ma se lewe hier, ver van alles af op die plaas.
“Ja,” Pa sug swaar. Hulle is baie kwaad oor die skool.
Ek begin afdek en vra wat ek eintlik wil weet: “Is almal vir ons kwaad, oom Kobie-hulle en Alet-hulle, almal?” Alet is tog so ’n mooi man en die plase aangrensend.
“Ja, maar die ergste is Charl Hertzog, hy wil nie eens meer aan Ma perdemis vir die tuin verkoop nie. Hy het ook nie gekom toe die biduur by ons gehou is nie.”
Saterdag bak Ma soos gewoonlik koek vir die naweek, maar nie een van die bure kom kuier nie. Ons gaan ook by niemand kuier nie. Maandag laat Ma die koek uitgaan. Half geëet.
Septembervakansie is daar ’n sokkerveld. Ma vertel dit gaan nou baie makliker met die mense wat almal kan tel en bietjie lees. “Die grootmense gaan in die middag skool toe vir so twee uur. Vier van die mans het al hulle leerlinglisensies gekry. Ek leer hulle met boetie se ou karretjies hier op die stoep. Sarah het nou die dag vir ons pampoenkoekies gebak met Kook en geniet se resep.”
Desember is weer die drukgang van aartappels uithaal en mark toe aanry en regmaak vir Kersfees. “Waar is Joel?” vra ek toe ek die vreemde man op die trekker sien.
“Hy is weg na die Van Jaarsveldjie toe. Ek het hulle mos geleer totdat drie van hulle lisensies vir swaar voertuie gekry het. Toe bied hy vir Joel dubbeld die salaris aan. Ons sukkel baie, want Joel het die uithaler goed verstaan.” Later sien ek die groot hoop aartappels wat raakgesny is, agter die stoor lê.
So twee dae voor Kersfees word ek van die land afgehaal en kombuis toe gestuur. “Bak sommer die kinders se koek in die plat panne,” sê Ma. Ek bak koek, versier en sny in blokkies. Ek spring kiepiemielies en strooi sout oor. Ek meet koppies en koppies vol suiker af, roer dit in die water en gooi die klein botteltjies Oxo by, rooi koeldrank, groen koeldrank en geel koeldrank.
Kersoggend gooi ek ’n tafeldoek oor die melktafel, haal al die blikbekers uit en dra die eetgoed aan. Die mense kom van die strooise af, almal in hulle Krismisklere. Ons eet koek en sing Kersliedere.
“Sala hantle. Julle moet mooi bly; ek gaan by my sussie in Bloemfontein Krismis eet,” groet Pa.
“Tsamaya ka Ghotso.” Loop in God se vrede, groet hulle ons.
Die horison lyk verkeerd toe ons laatmiddag oor die bult kom. Pa stop. Die windpomp lê opgefrommel in die veld, die populierbome op hulle sye, wortels in die lug; die skool het nie meer ’n dak nie.
“Dit moes ’n verskriklike wind gewees het,” is al wat Pa sê. Ons ry by die huis langs. Dankie tog daar is nie skade nie, ook nie by die buitekamers of die stoor nie. Ons ry strooise toe. “Nee, hier by onse huise hy es nie die fout nie. Onse huise het nie die moeilikheid gakry nie. Maar dit was anderste wind. Hy vat die skool se dak en gaan gooi vir hom doer by die veld. Die wind hy het gakom, gaverniel en die kant toe geloop.”
“Wat ’n genade!” sê Pa toe ons by die skool stop. “As hier vandag kinders in die skool was, was hulle dood.” Die een klaskamer se muur lê bo-op die banke. Ná aandete bid Pa. “Dankie, Here, dat U hand van beskerming vandag oor ons was. Dat U ons nie leed aangedoen het nie. Ons en die mense wat vir ons werk. Dankie vir U goedheid en U genade.”
Pietie van die sentrale vertel vir Pa watter pad het die wind geloop en wie van die bure het skade gekry.
Die tweede week van die jaar bel Dominee. “Sien ek julle by die biduur? Dit word hierdie maand by Bennie Grobler op Bhimtal gehou?”
“Ja, ons sal daar wees; ons kom mos altyd,” antwoord Pa.
Woensdagmiddag ná ete bad ons, trek aan en ry Bhimtal toe. Nie Bennie of Belinda kom uit om ons te groet nie.
Ná die biduur kom staan oom Kobie Hugo, die hoofouderling, by Pa. “Ek hoor jou skool se dak het afgewaai met die wind van Kersdag?”
“Ja. Wat ’n seën daar was nie kinders in die skool nie,” sê Pa.
Oom Kobie maak sy keel skoon, wag dat dit stil word om die tafel. “Jy besef seker nou dat die skool waar heidene leer lees en skryf nie God se goedkeuring wegdra nie? Die klonkies hoort in die veld by die skaap. Die goeie Vader het vir jou ’n duidelike teken gegee toe Hy op die geboortedag van Sy Seun die dak laat afwaai het.”
Ek wag dat Pa vir oom Kobie vra of God ook nie van Alet se melkery hou nie, want sy melkstal se dak het ook Kersdag afgewaai. Maar Pa vat ’n sluk tee, sit sy koppie so half gedrink op die tafel neer en antwoord: “Nee, Kobie, ek het nie so gedink nie. Al wat ek wil hê is dat hierdie land se volgende staatspresident moet kan lees en skryf.”
Lees die ander verhale hier:
Kyk hoe ver het ons gekom: PEN Afrikaans en LitNet se kortverhaalkompetisie

