Die tafel in die hoek

  • 1

Foto: Canva

Die tafel in die hoek

“Hoekom kyk jy my so, Oom?” ’n Sproetgesiggie, skaars agtien, spoeg die woorde in lettergrepe uit. Kliphard. “Sies man, ek kon jou dogter gewees het.”

Sy swaai om. Lang, haastige tree. Met die spotlight op haar, stoom sy voort. “Vark! Ek wonder wat hy alles in sy gedagtes met my wil doen.”

’n Seun met ’n mohawk-haarstyl se selfoon flits tussen ons. Facebook Live?

’n Man se stoel kletter, hy storm nader. Vuiste gebal.

“Jy moet liewers gaan.”

Sy stem sny deur die stilte.

Ek knik, druk kontant onder die piering en staan op. Stamp in die proses die tafel. Koffie spat.

Die hou tref my onverwags voor die bors.

“As ek jou weer by kinders sien, maak ek jou vrek. Gemors.”

“Dis nie wat jy dink nie.” Ek haat die trilling in my stemtoon. Ek kreukel my hoed. Kyk af, na die stukkie koek. Onaangeraak. “My ...”

“Ouman, skoolkind – ek weet goed wat jý dink. Skoert.”

My sug is ’n laaste asem. Ek skuur deur tafels. Doof skelwoorde uit. Oë brand my rug tot buite. Ek vee ’n traan weg; niemand verstaan nie.

Die bestuurder drafstap nader, uitasem. “Jammer, Oom. Die kelner het my nou eers gesê. Kom terug, asseblief.”

Ek staar oor haar skouer, skud my kop. My lippe trek ’n reguit lyn. “Liewers nie.”

Sy vat my hand. “Kom, ek sal saam Oom sit.”

Oom? Dit voel soos gister toe ek vir Dee ontmoet het. Beeldskoon en jonk, my kuis in standerd 6, my matriekafskeid-date en uiteindelik my vrou. Hoeveel middae het ons nie by hierdie tafel gesit nie? Voor Eden, en gereeld daarna. Tot ...

Die man stormram nader, bulder: “Ons soek nie ’n pedofiel tussen ons kinders nie.”

Pedofiel. Ek hoor dit soms. Mense oordeel sonder om te verstaan.

“Ek moet gaan. Asseblief.”

Haar greep verstram. Sy draai na die man. “Ken jy die Oom se verhaal?”

Soveel gesag in haar stem. Hy wil iets sê; sy knip hom kort. “Oom Buys kom eenkeer ’n jaar. Net eenkeer. Altyd op dieselfde dag. Altyd by hierdie tafel.”

Die man blaas deur sy neus. “Sodat hy die meisies lekker kan dophou.”

My oë spring na die koerantberig teen die muur, geraam. Voorblad. Vandag, veertien jaar gelede. ROOF LOOP SKEEF: MEISIE IN RESTAURANT DOODGESKIET.

Sy oë volg myne. ’n Frons. Hy kyk na my, die berig, dan na die meisie. “Bliksem ... jy kon sy dogter gewees het!”

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top