Hierdie debat raak nou al net so afgesaag soos die Godsdiensdebat en dit dra niks by tot enigiets nie, meen ek.
Nogtans deel ek Jan Rap se kommer dat daar te vinnig te veel Engelse woorde in Afrikaans ingesluip het en dat mense al hoe meer ’n geradbraakte Afrikaans praat. Maar om hier daaroor te redeneer gaan niks help nie, die regte mense lees nie hier nie, dws sê diegene wat die taal vermink.
Aan die ander kant stem ek ook saam met Angus dat die taal gaan verander, en ek glo ons kan min daaraan doen. Alle tale verander met die verloop van tyd, onder invloed van ander tale, nuwe uitvindings, en dies meer. Selfs Engels het merkwaardige verandering ondergaan oor eeue. In die tyd toe die Franse in Engeland geheers het, is bv baie Franse woorde in Engels opgeneem. Ook in die eeue daarna, deur wetenskaplike ontwikkelings wat nuwe woorde genoodsaak het, en deur Engeland se bemoeienis met baie ander lande tydens sy Empaaier dae, het hy woorde geleen uit ander tale. So groot was die veranderings, dat dit vandag skaars herkenbaar is as ’n taal wat ook van sy wortels in die Germaanse tale het.
Eerder as om oor die veranderings in Afrikaans te sit en weeklaag, moet ons positiewe stappe doen om dit te bestuur. Ek dink dit kan bv gedoen word deur op elke dorp en stad Afrikaanse kultuurgroepe te stig waar die mense aangemoedig word om die taal so skoon moontlik te hou. Sulke groepe moet nie net volwassenes betrek nie, maar ook skoliere, veral van die hoër grade. Maak dit vir hulle aangenaam, deur pret en speletjies, maar met die klem op mooi taal. En betrek alle bevolkingsgroepe wat Afrikaans as eerste taal het, of selfs diegene wat dit as tweede taal respekteer.
Jan Rap, wat doen jy in verband met die opheffing van ons taal, anders as om net hier gal te braak? Of moet ek Jannie se ma kry om jou weer ’n start te gee met haar lafenisse?
Groete,
Varkspek

