Die tale van die springbok

  • 3

Foto van springbok: Izak de Vries

Die aanleer van ’n taal is ’n opdraandestryd.

Ek beur teen die bult uit tot by die Spar; oorhandig die melk en die appels aan die kassiere.

“Molo, sisi,” word ek ’n uitruilstudent in my geboorteland. “Unjani?”

Sy glimlag, lyk vriendelik, maar praat nie terug nie.

Ek gaan moedig voort.

“Ndicela ubatala …”

Sy lig haar hand soos ’n stopteken. Ek moes daardie werkwoord gegoogle en vooraf geoefen het.

“I don’t speak Xhosa,” sê sy. “I am from Zimbabwe.”

Terwyl ek die debietkaart, waarvoor ek nie die woord geken het nie, aan haar oorhandig, vertel sy my wat “goeiedag” in Shona is. Ek vergeet dit onmiddellik.

Dis enkele dae ná die Springbokke se oorwinning. Ek kan nie elegant spring nie. Die streep teen my wang is sommer net stof.

Toe ek by die uitgang uit is, klim ek die trappe na onder. Ek kon kleintyd al leer stap; mens se breinsenuwees kan op enige ouderdom nuwe paadjies leer maak, word vertel.

Waarom dan die gesukkel met die aanleer van ’n taal? Want as ons Saterdag saam kon juig, moet ons in die week met mekaar kan praat ook.

Ek stap by ’n kroeg verby. Hier gaan dit jolig. Mens sou glo dis ’n rugbywedstryd daarbinne. Agter my rug hoor ek hulle lostrek: “Happy birthday to you …”

Die verjaardagliedjie se Xhosa-woorde val my by; in my kinders se skool sing hulle dit in drie tale: “Mini emnandi kuwe …”

Maar hoe waarskynlik is dit dat ek gereeld ’n Xhosa-spreker sal teëkom wat verjaar en vir wie ek my gelukwensinge kan sing?

Ek dink aan ’n YouTube-video waar die Iere gespot het met die soort Iers wat hulle in die skool geleer het. Die nutteloosheid daarvan in alledaagse, praktiese situasies.

Só is dit ook met my, ’n Suid-Afrikaanse burger wat met net twee volledige tale hinkepink.

Daar moet baie meer woorde en klanke tot my beskikking wees as dié van ’n verjaardagliedjie. Maar ek slaan my oë op na die Kaapse berge – waar sal daar geld vir boeke in al die tale vandaan kom?

Terug in my buurt stap ek nou verby ’n pa en sy seuntjie by ’n fiets.

Pa (goedig, asof sy kleuterseun werklik die vryheid het om met hom te redenaar): “Dis nie ’n goeie plan om so te ry nie. Kyk, die voorwiel buig sommer heeltemal om. Jy gaan val as jy om die draai ry, Boeta.”

Die seuntjie reageer: “Nee.”

Hier is my persepsie, selfs na die rugby. Soms voel dit vir my die somtotaal van my Xhosa-woordeskat is ook net een woord, soos die seuntjie se sin aan sy pa.

Een Xhosa-woord vir my is geen reusesprong vir die Springboknasie nie.

Die volgende dag by die werk, terwyl ek besig is om ’n drietalige onderhoud met Eileen Pooe oor haar doktorale proefskrif wat in Tswana geskryf is, uit te lê vir publikasie, is die taalgedagtes steeds by my.

Lees die onderhoud hier.

Eileen Pooe’s Setswana PhD: an interview in three languages

Ek lees een van haar antwoorde: “Suid-Afrikaners moet die ekstra myl loop en minstens twee ander tale leer, want ons is ’n veeltalige en multikulturele land. Ek praat vyf tale, Afrikaans ingesluit, en ek probeer my bes om ook in een Nguni-taal, naamlik Zoeloe, te kommunikeer sodat ek nooit gestrand is as ek omring word deur mense wat slegs Zoeloe praat nie.”

Sy sê ook: “Ons moet mekaar aanmoedig om minstens een ander taal as ons huistaal aan te leer, veeltaligheid aanmoedig en daardeur mekaar se kulture en lewenswyses probeer verstaan. Dit sal ons help om mekaar te respekteer, ongeag ons taal of die kleur van ons vel. Die manier waarop ons as Suid-Afrikaners dinge doen, kan ons help ontwikkel en versoening bring indien ons verstaan hoekom mense hulleself op ’n sekere manier uitdruk, byvoorbeeld deur stemtoon, uitspraak en gebare.”

Wat is die taal van die springbok? Hy’s taamlik stil, sover ek kan agterkom. Sy taal is hoofsaaklik die elegansie van sy spronge, die statigheid van sy dans. Soms is sy taal ook spierkrag en spanwerk, suiwer konsentrasie.

Laat ek kyk hoe ver ek kan vorder teen die bult op, want Saterdag het daardie bokkie met sy Afrikaanse naam ’n hele spul tale van die land gepraat.

Lees:

Eileen Pooe’s Setswana PhD: an interview in three languages

 

  • 3

Kommentaar

  • Avatar
    Gustaf Claassens

    Vir eers is die Springbok as embleem weer veilig vir 'n ruk. Dis gewoonlik so wanneer jy wen. Die mens torring nie aan iets as hy op 'n wenbus na 'n partytjie saam met ander is nie. Om meer tale as jou eie aan te leer is uiteraard 'n prysenswaardige gebaar. Vraag is, watter een van die ander 11, indien joue Afrikaans en Engels is. Gaan dit oor 'n gebaar van welwillendheid of oor aanvaarding/erkenning wonder ek soms. Persoonlik sal ek goed voel oor myself indien ek 'n Afrikataal kon praat. Dieselfde geld vir 'n tale soos Italiaans, Frans of Spaans. Dit mag wees dat die redes hiervoor verskillend is.

    Op tuisbodem dink ek behoort verhoudinge tussen rasse in die eerste plek oor respek te gaan. Die basiese dinge van die lewe soos om elke individu menswaardig te behandel. Dit, en goeie maniere soos 'Goeie môre', 'dankie', 'hoe gaan dit', 'waarmee kan ek help' ensomeer, is nie 'n taalgebonde ding nie. Dis 'n ingesteldheid. Iets wat met beskawingspeil, waardes, opvoeding en ander faktore te doen het.

    Ek het 'n gevoel dat ons eerder moet begin om respek teenoor mekaar te betoon vir wie en wat ons is. Dat andersheid en verskillende tale nie as 'n bedreiging gesien moet word nie. Daar is min dinge so mooi soos wanneer volkere en nasies hulle kultuur tydens volksfeeste ten toon stel en vier. Hul taal, musiek, danse, kuns, poësie, kos ensomeer. Dis ook goed as kultuurgroepe mekasr hierin ondersteun op welke maniere hulle dit ookal goeddink. Dis nie nodig om jou eie prys te gee in 'n poging om erkenning te kry en aanvaar te word nie.

    Indien ons dit kan regkry is die stryd halfpad gewonne. Dan reik jy makliker uit en maak selfs moeite om dinge aan te pak soos 'n nuwe taal. Alles begin by onsself en is 'n proses. Hopelik kan dit vorentoe meer gemoedelik realiseer maar ons sal moet waak om dinge nie op mekaar te probeer af forseer nie. Behoeftes en omstandighede verskil en daarvoor moet daar begrip wees. Wat vir die een belangrik is, is nie 'n prioriteit vir die ander een nie. Laat dinge hulle loop neem en moedig mekaar aan om beter mense vir mekaar te wees. Die res sal natuurlik volg.

  • Avatar
    Gustaf Pienaar

    Lekkerlees-essay! Ek dink as ons net die volkslied se woorde korrek kan uitspreek (en als verstaan) én dit sonder 'n papiertjie voor jou kan sing, het ons al ver, ver gevorder....

  • Avatar
    Hans Richardt

    Naomi Meyer moet maar regstel aksie doen in haar persoonlike lewe, sy is geen navolgingswaardige voorbeeld of standaard nie.
    Wonder net hoekom haar bydrae nie tussen ander briewe is nie...

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top