Die artikel “Witgesmeerde aanstelling” van Julian Smith in Rapport (12 Februarie)is ’n belangrike blik op die aanstelling van Peter de Villiers as Bok-afrigter in 2008 en Heyneke Meyer as sy opvolger vanjaar.
Ek is egter bevrees as die “omstredenheid” rondom De Villiers se termyn in oënskou geneem word, dan is dit veilig om te sê Smith se artikel is mosterd na die maal.
Hoekom het Smith as “’n lid van die keurkomitee wat verantwoordelik was vir die aanstelling van De Villiers” hom deurlopend van openbare kommentaar rondom dié “omstredenheid” die afgelope vier jaar weerhou? Hoekom is dit dan nou gepas vir Smith om kommentaar te lewer en selfs Meyer se aanstelling as ’n “witgesmeerde aanstelling” af te maak? Waar is die bewyse?
Terloops, dit is egter pynlik om te hoor hoe kommentators, joernaliste en ’n groot gedeelte van die openbare samelewing Meyer se aanstelling sonder enige vrae aanvaar. Met De Villiers se aanstelling in 2008 was dit presies die teenoorgestelde. Daarmee huldig ek geen mening oor die meriete rondom Meyer se aanstelling nie – bloot omdat ek geen bewyse het om te sê dit was deursigtig of andersom nie.
Smith se artikel is egter ongenuanseerd, want nêrens noem hy Oregan Hoskins, Saru-president, se aandeel in die feit dat De Villiers nooit regtig deur sommige wittes as Bok-breier aanvaar is nie. Die naaste wat hy daaraan kom om Saru voor stok te kry, is om te skryf: “Die uiters swak hantering en openbare bekendmaking van die aanbeveling van die keurkomitee deur Saru in 2007…”
Verder beweeg Smith op gevaarlike terrein as hy skryf: “Die ondeursigtigheid van die aanstellingsproses van Meyer word egter omtrent nêrens in die media bevraagteken nie. Dit word liewers in stilswye gelegitimeer en die uitkoms aangeprys.” Wel, weet Smith iets wat ons nie weet nie? Om sulke bewerings van ondeursigtigheid rond te slinger sonder enige bewyse, klink nie goed nie.
Om ook te swyg oor Hoskins se aandeel rondom De Villiers se “omstredenheid” plaas sy motiewe verder onder verdenking.
Met die aanwysing van De Villiers as eerste bruin Bok-afrigter in 2008 is dit die einste Hoskins wat De Villiers se aanstellingsproses geskaad het. Hoskins het gesê De Villiers was nie op “gehalte” of “meriete” gekies nie. Dit het die vermoede laat deurskemer dat De Villiers ’n politieke aanstelling was.
’n Paar dae later het Hoskins egter dié (gewraakte) stelling teruggetrek. Hoskins het dit reggestel deur te sê De Villiers het meer punte as enige ander kandidaat in die onderhoud gekry.
Die skade was egter reeds gedoen. De Villiers gaan ongelukkig vir die res van sy lewe swaar aan die stigma dra. Selfs na Hoskins sy “gewraakte stelling” probeer regstel het, het Smith vir vier jaar soos die graf geswyg.
Die vraag is nog steeds. Hoekom?
Wel, as Smith nie met die antwoorde vorendag kom nie, is dit seer sekerlik sy reg. Hy moet egter andere se reg om te bespiegel oor die redes vir sy stilswye respekteer.
Smith skryf ook dat De Villiers se aanstelling “omvangryk” en “deeglik” was en “onder meer psigometriese toetse, die ontleding van wedstryd-videogrepe, lang en deeglike onderhoude, formele aanbiedinge en ure lange intense besprekings behels het”. Hoekom het Smith of enige ander persoon in die keurkomitee dan nie vir Hoskins in die openbaar gerepudieer nie?
Smith is egter reg as hy skryf: “Realisties gesproke moet ons nie uit die oog verloor dat al twee aanstellingsprosesse en uitkomste polities beïnvloed en polities betekenisvol is nie.”
Dit geld vir alle vlakke van die samelewing en nie net vir rugby nie. Om gehalte en volhoubare groei in ’n diverse samelewing te bewerkstellig moet dit egter gebaseer wees op oop geleenthede vir almal, verskans in die nuwe realiteite van ons ontluikende demokrasie. Met ander woorde: die historiese onregte moet in ag geneem word en dan op ’n billike manier deur ’n aanstelling op meriete reggestel word.
Wat egter meer pla, is dat verskeie vooraanstaande mense, veral uit die bruin gemeenskap, sedert 1994 by verskeie privaat, openbare en historiese “Afrikaanse” instellings aangestel is om te verseker dat die historiese onregte van die verlede reggestel word. Dit is egter tragies dat veral bruines op voetsoolvlak kla dat hulle die impak van die aanstellings nie voel nie en dat eiebelang in baie gevalle gedien word eerder as die groter belang.
Van die brandpunte is dat sommige bruines toegekyk het hoe die Universiteit van Wes-Kaapland verengels het en hoe die Universiteit Stellenbosch onder ’n “bruin bestuur” (Smith is as ’n viserektor deel van bestuur) nog steeds vir baie arm bruin Afrikaanse studente te duur en dus ontoeganglik is.
Smith se stilswye vir die afgelope vier jaar versterk ongelukkig die sentiment dat die meerderheid bruines in “bestuursposisies” op alle vlakke van die samelewing min of geen waarde toevoeg nie. Eiebelang is dus aan die orde van die dag.
Tragies bring Smith se artikel meer vrae as antwoorde na vore.