Die Swart Kat slaan 'n vos toeganklik vir die moderne jong leser

  • 0

Titel: Die Swart Kat slaan ’n vos en ander avonture
Skrywer: Chris Sasner
Uitgewer: Protea Boekhuis, 2013
ISBN: 9781869196981

Koop Die Swart Kat slaan ’n vos en ander avonture van Kalahari.com

As ’n vurige oudleser van Saartjie, Trompie, Maasdorp, Die Uile en nog ’n paar ander reekse, moet ek bieg dat ek nooit in my prille jeug Die Swart Kat gelees het nie. Ek was egter vasgenael voor die kassie toe die televisiereeks uitgesaai is. Die spannende avonture van Borrie Veldt, oftewel Die Swart Kat, was ’n hoogtepunt in ons week. Dit was dus heerlik om na die reeks terug te keer.

Die feit dat daar ’n tekort aan Afrikaanse jeugboeke is, is alombekend. Tradisioneel word vertalings en heruitgawes gesien as ’n manier om hierdie tekort aan te vul en daarom is dit nie vreemd dat bogenoemde Afrikaanse jeugboekreekse die afgelope paar jaar heruitgegee is nie. Die Swart Kat van Chris Sasner spog nou ook met ’n nuwe mantel. Sommige kritici wonder egter of heruitgawes nie ’n slenter is om uitgewers se verkoopsyfers ’n hupstoot te gee wanneer nostalgiese ouers die boeke koop nie.1

Die Swart Kat slaan ’n vos en ander avonture is die vyfde boek in die reeks en het pas by Protea Boekhuis verskyn. Die heruitgawes van die ander boeke in die reeks het reeds in 2012 verskyn. Die reeks spog met vars illustrasies deur die kunstenaar Willem Samuel, wat dit meer aantreklik vir moderne jong lesers maak. Die boek is eintlik ’n bundel met drie verskillende Swart Kat-avonture – die een so spannend soos die ander. Aangesien die stories nie te lank is nie, is dit ook besonder geskik vir die minder ywerige lesers wat skugter is vir langer tekste. Daar is ook volop humor – soos Borrie se alewige stryd om ’n paar van sy sus Rienie se swart broekiekouse in die hande te kry om sy mondering af te rond.  

Die lewe (en ons land) het egter drastiese veranderinge ondergaan sedert die Swart Kat in 1982 sy eerste misdaad bestry het (en te wyte aan die visitekaartjies wat telkens wegwaai of wegspoel, nooit erkenning daarvoor gekry het nie). Vandag het Afrikaanse laerskoolkinders dikwels hulle eie selfone, maar die Swart Kat gebruik telkens die landlyn en moet sy eie planne beraam as die telefoon om een of ander rede buite werking is. Borrie en sy vriendin Anri ry sonder toesig per bus na die dieretuin, en hy bly selfs vir ’n langnaweek alleen tuis – vandag kan ouers eenvoudig nie bekostig om hulle kinders hierdie tipe vryhede toe te laat nie. Terwyl vertalers probeer om die veelrassige Suid-Afrika in die name van karakters te weerspieël (kyk byvoorbeeld na Rowan Coleman se Ruby Parker-boeke,2 wat in Afrikaans as Mia Malan3verskyn het), het ons hier met uitsluitlik (wit) Afrikaanse karakters (die goeies én die booswigte) te make – selfs die polisiemag het versteen in die tyd voor 1994. En dan is daar die gender-kwessie wat insluip wanneer Borrie verontwaardig is omdat hy “’n allerbelangrike stuk inligting van ’n meisie [moet] kry!” (98). Dis nou sy vriendin Anri de Waal – “’n Amasone so reg na [sy] hart”. Dalk vergoed die verwysing na die Amasone vir sy neerhalende verwysing na die vroulike geslag, of dalk het dinge op skoolvlak nog nie so baie verander soos ons graag sou wou glo nie. Hoe dit ook al sy, dit is sulke kwessies wat heruitgawes (en vertalings) met baie kopkrap laat gepaardgaan. My tienjarige dogtertjie (wat ná die lees van die boek besluit het Die Swart Kat is, naas Saartjie, saam met die Maasdorp-reeks tweede op haar lys van gunstelingboeke) het my egter verseker dat mens mos weet die stories het lank terug afgespeel.

Borrie Veldt is ’n dromer met ’n verstommende woordeskat en algemene kennis – iets waaraan kinders gerus blootgestel kan word. Tog is die taalgebruik effens aangepas vir die moderne konteks. Voorbeelde hiervan is “piepjonge” wat “bloedjong” word; “forse” is nou “fris”; “waan” word “wanindruk”. Wanneer iemand in die oorspronklike teks wil weet “hoe de drommel” of “waar de drommel”, word dit nou “hoe de heng” en “waar de heng”. Die “balaklawa-mus” word aangepas volgens die jongste spelreëls na “balaklawamus”. Sekere woorde met bagasie uit die apartheidsera is ook verander of selfs weggelaat: “ons vadere” word “ons voorvaders”, terwyl Borrie se Voortrekkerlidmaatskap in die nuwe uitgawe verswyg word.

’n Heruitgawe bied natuurlik ook die geleentheid om foute in die vorige uitgawe te korrigeer, en gelukkig word die “dief- en bomvrye kluis” toe ’n “dief- en bombestande kluis”.

Ongelukkig het daar egter nuwe foute ingesluip – ’n aanhaling wat nie gesluit is nie (enige obsessiewe redigeerder se nagmerrie) op bladsy 167; en net ’n paar reëls verder word “Danie” ’n “Dame”. Die goue reël by die gebruik van koppeltekens by eiename in samestellings is dat dit konsekwent toegepas moet word – dit het opgeval dat “Techmark-gebou” kort op “Oberholzersaal” volg, en dan is daar ook ’n “Cosmo-gebou” in dieselfde storie.

Ten spyte van hierdie drukkersduiwels was my algemene indruk egter dat die teksversorging keurig gedoen is.    

Die heruitgawe van Die Swart Kat-reeks is ’n belangrike toevoeging tot die Afrikaanse kultuurskat. Ten spyte van ons moderne konteks is hierdie reeks nou meer toeganklik vir jong lesers (teikenlesers is 7–13 jaar). Enige ouer kan dit dus gerus uit ontspannings-, opvoedkundige én nostalgiese oorwegings vir hulle kinders aanskaf.  

 


 

 

1 Fouché, M. 2010. Die ontmoedigende aard van Afrikaanse kinder- en jeugliteratuur: Afrikaanse vertaling van die ongepubliseerde referaat “Se construire en lisant” gelewer tydens die konferensie L’enfant et le livre, l’enfant dans le livre, Roche-sur-Yon, Frankryk. 21–22 Januarie.

2 Coleman, R. 2007. Ruby Parker: Soap Star. Londen: HarperCollins Children’s Books.

3 Coleman, R. 2007a. Mia Malan Sepiester. Vert Lydia du Plessis. Londen: Lapa Uitgewers in medeproduksie met HarperCollins Children’s Books.  

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top