Die Suid-Afrikaanse staat en ekonomie voor en na 1994: het die luiperd sy kolle verander?

  • 0

Hierdie essay is as gesprek by US Woordfees 2016 aangebied. Dit word gepubliseer met skyfies wat die skrywer gedurende sy lesing aangewend het.

***

  1. My praatjie vloei uit twee onlangs-gepubliseerde boeke wat ek hier aan julle bekend sal stel. Ek sal 'n analitiese lens – die NWW-lens – gebruik om verandering in Suid-Afrika te bespreek, voor en na 1994. Die fokus van hierdie lens sal wees op die politieke ekonomie.[1]

2. Die gebruik van 'n lens is ‘n besluit om te fokus op een objek, om sodoende hierdie objek te vergroot ten einde sy besonderhede te openbaar sonder om ander voorwerpe in sy omgewing te ignoreer, al bly hulle in die periferie en bly hulle dikwels ietwat dof, ietwat uit fokus uit. Sommige van julle mag Sean Connery erken as 'n monnik wat so 'n instrument gebruik het.

3a. Charles Tilly se boek Why? ondersoek waarom ons die vraag “Waarom?” vra: Wat behels ‘n verklaring? Tilly sê daar bestaan vier tipes redes: konvensies, kodes, stories, en tegniese verklarings wat die deskundiges gebruik. Vir my doeleindes vandag is dit die derde tipe verklaring wat ek wil opper: die vertel van stories, van staaltjies. Hierdeur word oorsaak en gevolg in baie spesifieke terme gestel. In plaas daarvan dat die verklaring op tegniese wyse uiteengesit word, illustreer die staaltjie ‘n verklaring. Ek sal vandag ‘n paar sulke staatjies gebruik.

3b. Violence and social orders is 'n boek deur drie Amerikaanse navorsers, North, Wallis en Weingast, wat belangstel in die geskiedenis van die nasie-staat en die rol wat instellings in daardie geskiedenis gespeel het. Van tyd tot tyd verskyn daar 'n boek wat ons, deur die uniekheid van sy teorie, die geskiedenis laat sien soos ons dit nog nie tevore gesien het nie. ‘n Goeie voorbeeld is bogenoemde boek, wat gebruik maak van wat ek die NWW-lens sal noem.

4. Maar laat my toe om te begin met my eerste persoonlike staaltjie.

‘n Paar jaar gelede, toe ek nog klas gegee het by die universiteit, het sowat 15 studente, onder wie twee Zimbabwiërs en twee swart Suid-Afrikaners, my nagraadse seminaar oor ontwikkeling bygewoon. Tydens bespreking het die twee Zimbabwiërs na die twee swart Suid-Afrikaners gekyk en gesê: "Julle moet sorg vir julle wittes. Ons het nie gesorg vir ons wittes nie en is vandag jammer daaroor.”

Daar is drie dinge wat ek interessant vind in hierdie storie: in die eerste plek, die kwessie van eienaarskap. Na UDI (onafhanklikheidsverklaring) in die destydse Rhodesië (Zimbabwe) en na 1994 in Suid-Afrika word wittes gesien as ‘n swart besitting. Tweedens, hierdie eienaarskap is politieke eienaarskap: die wittes besit nie meer die politieke stelsel nie. Maar derdens voeg hulle – die wittes – nog steeds waarde by tot die samelewing – hulle lewer steeds 'n positiewe bydrae.

Onweerlegbaar, derhalwe, as ons fokus op die Suid-Afrikaanse politieke stelsel, het werklike verandering in eienaarskap plaasgevind.

Maar behoort ons verandering deur hierdie politieke lens te kyk? Die NWW-lens wat ek nou gaan beskryf sê nee – dit is te beperkend.

5. Die NWW-lens behou 'n fokus op geweld – in die besonder op interne kollektiewe geweld binne 'n staat.

Alle samelewings sukkel met die probleem van geweld, sê die outeurs. Ongeag ons genetiese samestelling bly die moontlikheid dat sommige individue gewelddadig sal optree, 'n sentrale probleem vir enige groep. Geen samelewing los die probleem van geweld op deur die uitskakeling van geweld nie; op sy beste kan dit beperk en bestuur word.

Sedert die opkoms van moderne state sowat 400 jaar gelede deel alle state sekere kernfunksies onder mekaar. Hierdie eienskappe het na vore gekom om te probeer om hierdie uitdaging van kollektiewe geweld binne die samelewing op te los. Dit word in hierdie publikasie die logika van natuurlike state genoem.

Die probleem van geweld word binne 'n natuurlike staat bestuur deur die vorming van 'n dominante koalisie wat toegang beperk tot waardevolle hulpbronne – grond, arbeid en kapitaal – of toegang beperk tot en beheer beperk oor waardevolle aktiwiteite – soos handel, geloof en onderrig. Hierdie word tot elite-groepe beperk. Hierdie soort koalisie word teweeg gebring deur elite-skikkings – in Winston Churchill se woorde, deur “jaw jaw” eerder as “war war”.

Die skepping van “rent” (dws ekonomiese waarde hoër as suiwer markbepaalde berekening, waarde bepaal deur politieke invloede) deur die beperking van toegang bied die gom aan wat die koalisie bymekaar hou, sodat elite-groepe vreedsaam met mekaar handel om die regime te ondersteun, om hul funksies uit te voer, en om hulle te weerhou van geweld. Die beperking van toegang tot sodanige hulpbronne en aktiwiteite is die sleutel tot die natuurlike staat, want die beperking van toegang skep nie net “rent” deur eksklusiewe voorregte nie, maar verhoog ook die waarde van die voorregte deur die ekonomie meer produktief te maak. Die aansporings gewortel in hierdie organisasies produseer wat NWW noem 'n dubbele balans waar 'n ooreenkoms tussen politieke en ekonomiese magte 'n interne balans van belange skep wat vir die samelewing nodig is om stabiel te bly.

Hierdie ooreenkoms tussen ekonomiese en politieke magte – hierdie skikkings tussen elites – kan nie in afsonderlike politieke of afsonderlike ekonomiese terme verstaan word nie: dit moet in terme van ooreenkomste binne die politieke ekonomie – in terme van elite-skikkings in die politieke ekonomie – verstaan word. In die woorde van die outeurs:

The need in natural states to reach political bargains among powerful players inevitably leads to manipulation of the economy for the purpose of stabilizing political arrangements. Natural states do not do so simply to maximize the wealth and power of elites. Instead they allocate rents and privileges, constantly operating under the constraint that the failure to reach or maintain intra-elite agreements will lead to violence, disorder, and, potentially, civil war. (North ea 2013:275)

Tot sowat 150 jaar gelede was alle state op die planeet natuurlike state, volgens NWW. Daarna het sowat twee dosyn state, onder die meer as 190 op die aardbol vandag, ontwikkel tot wat hulle noem ooptoegangstate – dit is volhoubare moderne demokrasieë en lewensvatbare markekonomieë. Die sleutelgevallestudies is Brittanje, Frankryk en die VSA. Om ooptoegangstate te word, is minstens drie drumpelvoorwaardes nodig:

  • opperheerskappy van die reg vir die elite (waar elite-voorregte elite-regte geword het) (‘n regstaat onder die elite)
  • die opkoms van onpersoonlike organisasies in beide die staat en die ekonomie (eerder as persoonlike politieke en ekonomiese organisasies wat deur persone beheer word)
  • politieke beheer oor die weermag en polisie (waar die staat se weermag en polisie deur die bevolking as legitiem gesien word).

Die belangrikste voorwaarde is dat die instellings van die oorgang – van beperkte- tot ooptoegangsamelewings – verseker dat vrye toegang tot die politieke stelsel en tot die ekonomie geskep word. Ooptoegangkompetisie is die fundamentele beperking op staatsoptrede, veroorsaak in die politieke stelsel deur georganiseerde politieke partye en in die ekonomie deur middel van georganiseerde sake-entiteite. Hier, onder ooptoegangvoorwaardes, genereer die dubbele balans organisasies wat skeppende vernietiging (“creative destruction”) bevorder: skeppende ekonomiese vernietiging lei tot 'n voortdurend veranderende verdeling van ekonomiese belange, en skeppende politieke vernietiging deur kompetisie tussen politieke partye.

  1. Wat van elites in Suid-Afrika?

6a. Ek sal min sê  oor die politieke elite voor en na 1994. Die wit Afrikaner-elite van die Nasionale Party het regeer met 'n mate van voorwaardelike steun van beide wit opposisiepartye en van sommige tuislandleiers.

Vanaf 1994, na 'n kort tydperk van 'n eksperiment genoem regerings van nasionale eenheid, het die ANC-elite 'n monopolie van formele staatsgesag geniet, met voorwaardelike steun van Cosatu en van die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party.

Maar natuurlik was hierdie twee tydperke van oppergesag, hierdie twee regimes met hul gepaardgaande ideologieë, nie staties nie – beide het dramatiese uitdagings ervaar, soos ons binnekort sal sien.

6b. Wie was die ekonomiese elite vóór 1994?

Ek het gedurende die tagtigerjare vir die Stedelike Stigting gewerk. Dit was 'n niewinsmakende ontwikkelingsagentskap uitsluitlik befonds deur die privaat sektor, met sy hoofkantoor in Johannesburg. Die organisasie is gestig en gelei deur Suid-Afrikaanse ekonomiese elites met voorwaardelike steun van die besigheidsgemeenskappe in Europa en Noord-Amerika.

Wie is vandag se ekonomiese elite?

Ek sal my reaksie  illustreer deur die gebruik van 'n onlangse skatting van individue wat meer as R1 miljoen per jaar verdien. Alhoewel beperk as 'n indikator, dui dit nietemin op 'n antwoord: Daar is volgens die Buro vir Marknavorsing 'n bietjie minder as 200 000  sulke persone. 68% is wit – wat dui op ‘n voortgesette meerderheid van wittes – sowat 22% is swart – wat dui op 'n stygende deel van welgestelde swart persone, al bly dit nog steeds 'n minderheid – en die res (10%) Suid-Afrikaners wat hulself geklassifiseer het as lede van ander bevolkingsgroepe.

  1. Laat ons vir 'n oomblik voortgaan om te dink aan die twee regimes as staties – as vaste, onveranderlike state – wat hulle nie was of is nie.

Die eerste, vóór 1994, het die klem laat val op 'n ideologie van “apart maar gelyk”. Ek wil wat dit vir die nie-elite in die land beteken het, met 'n staaltjie illustreer. Daarna het die regime ná 1994 die klem laat val op 'n ideologie van “saam en gelyk”, en weer eens wil ek wat dit vir baie van die nie-elite beteken het, illustreer by wyse van 'n tweede staaltjie.

Eerstens, ‘n staaltjie omtrent Suid-Afrika as ‘n beperktetoegangsamelewing vóór 1994 – ‘n fokus op inwoners wat nie toegang het nie.

Ons het navorsing in die tagtigerjare oor Bantoesake-administrasierade uigevoer en my staaltjie ontbloot die institusionele logika onderliggend aan hul beleide en praktyke.

Die geval van armlastige begrafnisse is 'n goeie manier om hierdie logika te illustreer. Plaaslike besture se beleid in dié opsig was dat wanneer 'n armlastige binne 'n plaaslike gemeenskap te sterwe kom, die plaaslike regering eiendomsbelasting en diensfooie gebruik om ‘n behoorlike begrafnis vir die armlastige te organiseer en te betaal. Administrasierade het hierdie welsynslogika aangepas deur te besluit dat swart armlastiges wat binne swart stedelike gebiede sterf, begrawe sou word deur Administrasierade, terwyl wit, bruin en Indiër-armlastiges wat binne hul groepsgebiede sterf, begrawe sou word deur hul eie sake plaaslike regerings. Ongelukkig was daar ten tye van ons navorsing ‘n toenemende aantal swart armlastiges wat in wit stedelike gebiede gesterf het. Dit het 'n beduidende administratiewe dilemma geword,  omrede wit plaaslike owerhede geweier het om wit belastingbetalers se fondse te gebruik om swart armlastiges te begrawe en Administrasierade geweier het om hul fondse te gebruik om armlastiges wat buite hul regsgebiede gesterf het, te begrawe. Dit was hoe ons, die navorsers, die teenwoordigheid van 'n toenemende aantal liggame in staatslykshuise veral in Johannesburg en Pretoria verklaar het – lykshuise sonder fondse beskikbaar vir hul begrafnisse of verassings.

Tweedens, ‘n staaltjie omtrent Suid-Afrika as ‘n beperktetoegangsamelewing na 1994 – weer eens ‘n fokus op inwoners wat nie toegang het nie.

Gedurende die eerste dekade van 2000 het die nasionale Departement van Onderwys,  toe onder Kader Asmal, die Suid-Afrikaanse-geskiedenisprojek van stapel gestuur, wat daarop gemik was om 'n nuwe benadering tot die vak geskiedenis – veral Suid-Afrikaanse geskiedenis – by staatskole daar te stel. Nuwe tekste is gepubliseer en 'n nuwe kurrikulum aan provinsiale onderwysdepartemente voorgestel. 'n Span wat ek gelei het, is in 2002 gevra om hierdie nuwe program te evalueer.

Een staaltjie: 'n landelike staatskool in die Oos-Kaap het hoofsaaklik tekste gebruik wat in die tagtigerjare gepubliseer is. Verder het die geskiedenisonderwyser gekla dat die skool lank wag voordat bestelde tekste aankom. Handboeke en skryfbehoeftes wat die skool wel ontvang het, kon nie binne die perseel gestoor word nie, weens ‘n tekort aan ruimte. As gevolg hiervan is tekste wat aangekom het, óf in die hoof se kantoor óf by 'n private woning naby die skool gestoor. Leerders is nie toegelaat om hierdie handboeke huis toe te neem nie, aangesien hulle deur die skool besit word. Dié handleidings is soms deur die onderwysers vanuit hierdie twee stoorplekke gehaal wanneer hulle veronderstel was om deur die leerders gebruik te word.

  1. Vóór en na 1994 is dit duidelik dat verandering plaasgevind het in ons politieke stelsel en in ons ekonomie. Maar wat van ons politieke ekonomie? En wat van die skikkings tussen ons politieke en ekonomiese elites? En watter implikasies hou verandering in dié konteks vir ons nie-elites in?

8a. Vlugtig: gedurende die laaste dekade vóór 1994:

  • ‘n veranderde buitelandse konteks met die val van die Sowjetunie
  • binnelandse geweld wat toegeneem het
  • lae ekonomiese groei in die 1980's wat gelei het tot 'n algehele daling in lewenstandaarde – bevolkingsgroei het ekonomiese groei geklop
  • ‘n nuwe elite-skikking tussen die Nasionale Party, die ANC en besigheidslui, wat regstellende aksie ingesluit het
  • grondwetlike waarborge wat ekonomiese besittings betref
  • die stigting van die Waarheid-en-Versoeningskommissie.

8b. Na 2008, weer eens vlugtig:

  • ‘n veranderde buitelandse konteks met die globale finansiële krisisse
  • binnelandse geweld wat toegeneem het
  • lae ekonomiese groei wat lei tot 'n algehele daling in lewenstandaarde – bevolkingsgroei klop ekonomiese groei
  • nuwe elite-skikking tussen die ANC en Suid-Afrika se ekonomiese elites
  • bevestiging van grondwetlike waarborge wat ekonomiese besittings betref.
  1. Wat van die toekoms van die nie-elite?

Ten slotte wil ek terugkeer na die drie drumpelvoorwaardes wat die NWW-lens stel as stappe in die rigting van 'n ooptoegangsamelewing, dit wil sê in die rigting van 'n samelewing waar alle burgers gelyke toegang kan kry.

In die eerste plek, ’n ooreenkoms tussen die verskillende elites dat opperheerskappy van die reg gerespekteer moet word, tussen hulle, tussen die elites. Ons konstitusionele hof is hier krities belangrik, en die stryd oor Nkandla is 'n toetssaak. Ons blyk op die drumpel te wees.

Tweedens, die opkoms van onpersoonlike eerder as persoonlike openbare organisasies: ons het belangrike onpersoonlike organisasies in ons samelewing, organisasies wat hul stigters oorleef. Ons het ook etlike openbare organisasies wat blyk private eiendom te wees, persoonlike instellings van die elite: dink aan die pos van die nasionale direkteur van openbare vervolging, ‘n pos waarin niemand tot dusver sy of haar volle ampstermyn kon vul nie. In die privaat sektor kan ons ook dink aan die Gupta-skandaal. Ook hier staan ons óf op die drumpel óf, meer pessimisties gesien, is ons nog nie daar nie, alhoewel ons bewus is van die nadeel vir die nie-elites om hierdeur nie toegang tot ekonomiese en politieke geleenthede te kry nie.

Derdens, politieke beheer oor die weermag en polisie (waar die staat se weermag en polisie deur die bevolking as legitiem gesien word). NWW het geskryf, wat beperktetoegangsamelewings betref, dat “the failure to reach or maintain intra-elite agreements will lead to violence, disorder, and, potentially, civil war”. My vertaling: die versuim om tussen die verskillende elites skikkings oor hierdie kwessies te bereik of in stand te hou sal lei tot geweld, wanorde en, potensieel, burgeroorlog.

Hier belig die NWW-lens ‘n interessante, belangrike en positiewe kenmerk  van ons huidige politieke ekonomie – in ‘n samelewing van beperkte toegang – ‘n lens wat fokus op die gebrek aan potensiële interne konflik. Alhoewel ons misdaad het, sg diensleweringsproteste, en ‘n polisiemag het wat soms min toegang het tot sekere gemeenskappe in die land, het ons nie militarisiese of burgermagte wat hulself aanspreeklik sien vir elite-groepe eerder as vir die staat nie. Dit beteken dat die soeke na nuwe en beter skikkings tussen ons elite-groepe ‘n beter kans het om stabiliteit te bewerkstellig – “jaw jaw” eerder as “war war” – en wat ons moontlik ook op ‘n ontwikkelingspad kan plaas wat tot almal se voordeel sal strek, op pad na ‘n samelewing van oop toegang.

North, D, JJ Wallis en BR Weingast. 2009 [2013: eerste sagtebanduitgawe]. Violence and social orders: a conceptual framework for interpreting recorded human history. Cambridge University Press.

Tilly, C. 2006. Why? Princeton en Oxford: Princeton University Press.

[1] Ek wil STIAS bedank vir die geleentheid in 2015 as een van hulle genote om die NWW-lens na te vors.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top