"Die strewende sondaars" deur Celeste Theron

  • 0

Die strewende sondaars

Vers 1

Sê my nou maar eenmaal wat het dit jou gekos? Daar by die hemelpoorte, wie’t jou van God verlos? Die versamelde eensames staan borg toe vir jou siel net sodat hul jou lewenslank die hel in kan verveel.  Gemeente van gewoontes giggel galant oor jou dood. Tap nog bloed, breek meer brood. Ek vrees die heiliges, aasvoëls van sonde, wat slange met stokke in wildernis soek. En al was jul nie daar nie, ek weet dit is waar, strewende sondaars vermink op altaars.

Vers 2

Want die kerk is ’n menslike institusie, met menslike waardes en menslike foute. Regeer rondom menslike behoeftes en menslike verwagtings. Aartappelsprokies, Seal se rock en Widd se hartkloppende Christelike fantasieë. Die sensasie van seks en Christus verkoop vinniger as die Sondagkoerant. Nou vra jul my wie is die Antichris? Wie is die Antichris?

Koor

Heilig water eend se rug
Heilig water
Bloed
Been
Murg

Vers 3

Dis nie die man op die straat met die oë vol onraad. Dis nie die meisie wat gebuk staan met haar rug in Kerkstraat. Dis nie jou oom wat die tuin-boy langsaan probeer skiet, of jou ma in haar verwaande menswees en dronkverdriet. Dis nie die siektes van die gees of die oortredings van die vlees.

Koor

Heilig water eend se rug
Heilig water
Bloed
Been
Murg

Vers 4

Afrikaners is ’n waansinnige nasie. Wat neul oor Malema op die nuwe treinstasie, en die optogte op Kerkplein en die uniegeboue en Nelson Mandela-square met sy verwronge beeld van ’n gewese volksheld en die mense in Sandton se oortollige geld.

Koor

Heilig water eend se rug
Heilig water
Bloed
Been
Murg

Vers 5

Die tor het van sy prop geval en iewers verdrink. Toe jy jou laaste boereraat met gemak probeer skink. En iewers klap skote in townships deur oningeligte haat en die Waterkloof-vier ontvang grade agter drade. En ons Sondagverkragter, skoolrokjagter, was ’n aangename knaap met ’n vrou op die skoolraad. En Advokaat Barbie ’n victim van  ’n mansgedrewe staat.

Koor

Heilig water eend se rug
Heilig water
Bloed
Been
Murg

Vers 6

Gee my net ’n flat in Tamboerskloof, daar waar al die Pretorianers bly, en ’n pos vir my pa wat onder BEE ly sodat ek my studielening by Open Window kan betaal want party het veroorsaak dat ek nie my graad daar gaan behaal. Ek hunker na die samesyn en menswees van toeka se dae, koeksisters en tee en liefs geen vrae. Ek mis dit om soos ’n kind te kan glo maar die Here alleen weet: kind-wees is ’n duur prys om die Koninkryk te bereik.

Koor

Heilig water eend se rug
Heilig water
Bloed
Been
Murg

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top