Die stranding van die VOC-skip Schoonenberg: Struisbaai 1722 deur Jan Malan: ’n resensie

  • 0

Die stranding van die VOC-skip Schoonenberg: Struisbaai 1722
Jan Malan
Uitgewer: Africana Uitgewers
Prys: R225
ISBN: 9780639911113
Bestellings: africanapublishers@mwebbiz.co.za

“Dwalings, verdigsels en raaisels”. Só heet een van die hoofstukke in Jan Malan se pas verskene Die stranding van die VOC-skip Schoonenberg: Struisbaai 1722. Die kuslyn en waters wat bestryk word deur die lig van die Kaap Agulhas Vuurtoring is inderdaad een van die geheimsinnigste gebiede in Suid-Afrika. ’n Oseaan wat die een dag nog in onskuldige reëlmaat in die helderste skakerings van groen en blou teen mosbegroeide rotse en skitterende sand aanspoel, maar net daarna totaal kan verander. 

’n Misbank kan alles vervaag of ’n woedende Suidoos en Westewind kan die see omkeer tot ’n wrede monster, honger na slagoffers. Onder die oppervlak bestaan ’n paradys van kleurryke seelewe, maar rus ook die reste van eens trotse vaartuie, van groot tye uit die wêreldgeskiedenis, verlore skatte en verpletterde ideale.

Malan probeer in sy boek agter die kap van die byl kom van die mees romantiese van al die verdigsels wat oor die jare uit hierdie kontrei ontstaan het. Dit is die storie van die stranding van die VOC-skip die Schoonenberg in 1722 in uitstekende weersomstandighede in die baaitjie naby die huidige Northumberlandpunt. Die eienaars van Vergelegen in die Hottentots-Holland sou met kaptein Albertus van Soest saamgesweer het om die skip doelbewus te laat strand sodat hulle die vrag en veral die kratte met goud, silwer en edelgesteentes kon buit. Vergelegen is trouens die plaas wat kort daarvoor nog deel uitgemaak het van goewerneur Willem Adriaan van der Stel se korrupte praktyke.

Van Soest het sy bemanning weggestuur om kuswaarts Kaap toe te stap. Kort daarna het die boere met hul waens oor die duine verskyn om die vrag te kom laai. Die goewerneur het egter uiteindelik snuf in die neus gekry. Van Soest en twee van die medepligtige boere, Jacob Malan en Jacob van der Heiden, is in hegtenis geneem en die waarheid is uit hulle gemartel.

Hendrik Klopper wat die skat op Vergelegen begrawe het, was egter die enigste wat geweet het waar dit is, maar hy is kort te vore deur ’n onbekende sluipskutter doodgeskiet. Van Soest sou vervolgens die doodstraf gekry het en geradbraak word terwyl Malan en Van der Heijden na Batavia verban is. Die skat sou tot vandag êrens op Vergelegen lê en wag op ’n gelukkige ontdekker.

Die feit dat Jacob Malan, vrome Hugenoot en stamvader van die Malans in Suid-Afrika, so ’n geslepe rol in die verhaal speel, was een van die redes waarom die skrywer hom tot die argief gewend het. Uiteindelik kon hy nie slegs die feite nie, maar ook die bron opspoor van die verdigsels wat jare lank in die een publikasie na die ander herhaal is.

Dit is Eric Rosenthal se The hinges creaked: True stories of South African treasures lost and found (1951). Die omslag maak daarop aanspraak dat die  feite “have carefully been investigated by the author who has spent years in collecting his material from old records, etc.”! Dit bevat ook ’n stuk oor “The Treasure of Vergelegen”. Hierin kom die name en uitgebreid verdraaide weergawe voor. Rosenthal het weer, volgens Malan, sy opstel waarskynlik gebaseer op ’n stuk van Roy Jenkins in die Cape Times van 23 Desember 1939, bekende komkommertyd vir koerante.

Malan vermoed dat daar nog ’n ouer bron bestaan, maar dit is volgens hom eweneens “een van die Schoonenberg se raaisels”. Hoe hardnekkig die verdigsels bly voortleef, blyk daaruit dat dit selfs nog deel uitmaak van The Cape Odyssey 105 – Wrecked at the Cape, Part 2, wat in Mei 2015 verskyn het! Dit sal dus interessant wees om dop te hou of Malan se boek nou wel ’n einde gaan bring aan die Rosenthal-verdigsels.       

Soos Malan se navorsing toon, is daar by elke ramp van hierdie aard is ’n magdom kwessies betrokke. Bowendien het voorvalle soos die Schoonenberg-ongeluk plaasgevind in ’n tyd toe die gebied yl bevolk was. Kommunikasie wasmoeilik en die owerheid kon slegs met groot moeite 'n ondersoek uitvoer. Anders as sy voorgangers, het Malan hom tot die beskikbare argiefmateriaal gewend en so gesorg het vir ’n deeglike, gegronde weergawe van hierdie klein onderdeel van die Kaapse geskiedenis. Die verhaal wat hom so ontvou, is steeds boeiend. Die weergawe van die prosesse daaromheen is eweneens ’n verhelderende bydrae.

Malan sorg hiermee vir ’n knap sistematiese verslag: Allereers van die konteks en toestande waarin hierdie vaart plaasgevind het, insluitend goeie tegniese inligting oor die vaartuig (’n “spiegelretourschip” uit 1717) en bevelstruktuur. Vervolgens word die gegewens uit die skip se logboek oor die noodlottige vaart self weergegee en beredeneer.

Daarna kom gegewens oor die voorvalle aan land, die verskillende amptelike sendings uit Kaapstad, besluite oor ’n moontlike berging van die vrag, die verbranding van die wrak en die geregtelike proses. Die aard en onstaan van legendes word behandel en ten slotte ook die ontdekking van die wrak in 1985 en die artefakte wat opgediep is. Elke onderdeel word goed ondersteun deur voetnote en bronaanwysings. Dit lyk of die skrywer werklik geen steen onaangeroer gelaat het om inligting te bekom en seker te maak dat dit so korrek moontlik is nie.

Hy maak korte mette met die samesweringsteorie, ten minste in die vorm wat dit in die Rosenthal-storie aanneem. Die oorsaak van die stranding word deur sobere beredenering nagegaan. Dit sluit ’n beskrywing in van die instrumente en wyse waarop die posisie op see vasgestel is. Op grond van inskrywings in die skip se logboek, wat in die Kaapse Argief bewaar word, word foutiewe navigasie uitgewys. 

Die bemanning is nie deur die kaptein weggestuur Kaap toe nie, hoewel die meerderheid ’n dag later kuslangs begin stap het. Op die strand het volgens skipper Van Soest se skeepsjoernaal ’n muitery en ’n drinkery ontstaan wat ook uitgeloop het op die plundering van vrag deur die agtergeblewe matrose. Van Soest is volgens sy inskrywing persoonlik beroof. Latere verslae en getuienis van sy offisiere bevat inligting wat teenstrydig is met syne, selfs dat hy eweneens diep in die bottel gekyk het. Dit staan egter vas dat Jacob Malan se wa, opgekommandeer deur die owerheid, pas meer as twee weke later opgedaag het.

Van Soest is, soos van sy medeoffisiere, skuldig bevind aan nalatigheid en onthef van amp, rang en salaris. Uiteindelik is ook probeer om sy besittings te konfiskeer. Van fisieke straf is daar geen sprake nie. Hy het daarin geslaag om met ’n Engelse skip uit die Kaap weg te glip terug Nederland toe. Hy en die Vergelegense boer Jacob van der Heijde, omstrede vleisleweransier, was inderdaad “op besonder goeie voet”. Dat daar tussen die twee suurlemoensop deurgeloop het, lyk baie waarskynlik uit wat die skrywer omtrent die plaaslike VOC-amptenare se ondersoeksproses gevind het.

Uiteindelik, ná sy terugkeer, het die VOC-owerhede in Nederland – heel waarskynlik ontereg – die vermoede geformuleer dat Van Soest die skip doelbewus laat strand het sodat hy homself kon verryk. Teen die tyd dat hul laaste opdrag vir ’n streng ondervraging van Van der Heijde die Kaap bereik het, was dié egter al oorlede.

Dit staan vas dat stamvader Jacob Malangeen strandrower was nie.

Die boek bevat ook interessante illustrasies. Dit is ’n publikasie van dieselfde kwaliteit as Dan Sleigh en Piet Westra se Die aanslag op die slaweskip Meermin 1766 (2012) wat by dieselfde uitgewer verskyn het. Albei boeke toon dat goed nagevorste weergawes geen afbreuk hoef te doen aan die pakkende weergawe van historiese gebeurtenisse nie. Daar bly nog meer as honderd strandings in hierdie area oor wat roep om deeglike ondersoekers.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top