Die sterfte op die treinspoor

  • 0

In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.

Kort na tien op die aand van 29 April 1938 het die stoker van ’n stoomtrein, ene mnr Koekemoer, so ongeveer 25 km van Graaff-Reinet af die liggaam van ’n swart vrou oor die spoorlyn voor hom sien lê. Toe hy haar die eerste keer gesien het, was die trein ongeveer 30 treë van haar af en hy het omtrent net kans gehad om te sien dat sy bewegingloos gelê het voordat die trein oor haar geloop het.

Agterna is die liggaam geëien as dié van Elsie Yalola, ’n jong swart vrou wat volgens getuienis nog ’n uur voor die voorval springlewendig was.

Dokters wat haar liggaam ondersoek het, het tot die gevolgtrekking gekom dat Elsie reeds dood was toe sy deur die trein getref is. ’n Nadoodse ondersoek het aan die lig gebring dat sy skielik gesterf het en die dokters se beste raaiskoot was dat haar dood óf deur ’n harde hou oor die kop óf deur die toediening van chloroform veroorsaak is. Die dokters kon egter nie met sekerheid sê watter van dié twee moontlikhede die waarskynlikste was nie, aangesien haar kop erg deur die trein vermink is.

’n Paar dae na die voorval is ’n blanke man - ene Blom - in verband met Elsie se dood in hegtenis geneem. Die getuienis wat later teen Blom aangebied is, was die volgende: hy het ’n motief gehad om haar dood te maak, aangesien bewys is dat hy ’n intieme verhouding met haar gehad het en dat sy ten tye van haar dood reeds ses maande swanger was. Daar is ook bewys dat hy ongeveer ’n maand voor die voorval probeer het om ’n aborsie op Elsie te bewerkstellig.

Verder is bewys dat Blom op die middag van die voorval net meer as 28 g (een ons in die “ou taal” van destyds) suiwer chloroform by ’n apteker op Graaff-Reinet gekoop het. In die gifregister wat die apteker gehou het, is die koper se naam as Swart aangegee, wat natuurlik vals was. As rede vir die aankoop het hy gesê dat hy dit vir ’n onderwyser wou gee wat in sy biologieklas insekte daarmee wou doodmaak. Ook dít was vals. Op die dag toe Blom in hegtenis geneem is, wou die polisieman sy huis deursoek vir ’n chloroform-bottel. Blom het geantwoord dat hy nog nooit in sy lewe chloroform in sy besit gehad het nie, wat natuurlik ’n leuen was in die lig van sy besoek aan die apteker die middag voor Elsie dood is.

Verder het ’n dokter getuig dat Blom hom twee dae ná Elsie se dood kom spreek het met ’n spierbesering aan die kant van sy bors. Sy verduideliking was dat hy die spier ’n dag of wat vantevore tydens ’n motorfietsrit na Aberdeen beseer het. Ongeveer ’n week later het Blom die dokter weer oor die spierbesering besoek en toe verduidelik dat hy die spier beseer het toe hy ’n sak koejawels opgetel het. Toe die dokter vir hom sê: "Maar die vorige keer het jy vir my gesê dat jy jou bors beseer het tydens ’n motorfietsrit na Aberdeen", het hy dit ontken. Hy het egter ook vir die dokter gevra om "by hom te staan", aangesien hy verdink word in verband met die moord op ’n swart vrou wat eintlik - volgens hom - deur ’n trein gestamp is.

Tydens Blom se verhoor voor die rondgaande hof op Graaff-Reinet was sy verweer ’n alibi, naamlik dat hy op die dag van die voorval nie naby Graaff-Reinet was nie. Hy het sy broer en sy skoonsuster geroep, wat getuig het dat hulle hom om ongeveer halfses op die middag van die voorval op sy fiets sien ry het ongeveer 20 km van Graaff-Reinet af, in die teenoorgestelde rigting van waar Elsie se lyk op die spoor gevind is. Die argument was dat hy onmoontlik vir Elsie tussen nege en tien daardie aand op die spoor kon gaan neersit het. Om verskeie redes het die regter egter nie die getuienis van Blom se broer en skoonsuster aanvaar nie. Blom het besluit om nie self te getuig en enigsins op die aantygings oor die chloroform en sy besoek aan die dokter, ensovoorts, te antwoord nie.

Regter Pitman het Blom skuldig bevind aan moord, maar het tog die saak na die appèlhof verwys vir ‘n beslissing oor die vraag of ’n redelike mens op die getuienis wat gelewer is, vir Blom skuldig sou bevind.

Die appèlhof se uitspraak1 is tot vandag toe ’n baie belangrike uitspraak oor omstandigheidsgetuienis. As iemand gesien het dat Blom vir Elsie met chloroform vergiftig, sou só ’n persoon se getuienis direkte getuienis van die moord gewees het. Maar nou het niemand gesien dat Blom die moord pleeg nie, en tog was daar ’n klomp getuienis, soos die leuens oor die chloroform-kopery by die apteker, die motief rondom Elsie se swangerskap, die leuens oor die spierbeserings, wat natuurlik veroorsaak kon gewees het toe Blom Elsie se lyk op die spoorlyn geplaas het, en dies meer. Dit is alles omstandigheidsgetuienis.

Appèlregter Watermeyer het beslis dat omstandigheidsgetuienis onder bepaalde omstandighede heeltemal voldoende kan wees om iemand weens, byvoorbeeld, moord (soos in dié geval) skuldig te bevind.

Hy het twee belangrike reëls geformuleer. Die eerste is dat die afleiding wat ’n mens die hof vra om te maak – naamlik, dat ’n moord gepleeg is - bestaanbaar moet wees met ál die feite wat bewys is. As dit nie bestaanbaar is met ál die feite nie, kan die hof nie die afleiding maak dat ’n moord gepleeg is nie.

Die tweede reël is dat die feite wat bewys is, van só ’n aard moet wees dat dit enige ander redelike afleiding wat ’n mens van daardie feite sou kon maak, uitskakel, behalwe die één besondere afleiding, en dit is dat ’n moord gepleeg is.

Hierdie reëls kan natuurlik ook toegepas word op enige ander misdaad waar net omstandigheidsgetuienis aangebied word.

Ja, as jy gedink het dat regter Pitman reg was om vir Blom aan moord skuldig te bevind, dan is jy in goeie geselskap, want ook die appèlhof het uiteindelik geen twyfel gehad dat skuldigbevinding gehandhaaf moes word nie. In dié verband het Blom se weiering om self te getuig ’n belangrike rol gespeel.

1 R v Blom 1939 AD 188

 

 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

                                                    
 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top