Die stand van tale aan die Universiteit van KwaZulu-Natal

  • 1

 

Howard Kollege Kampus, Universiteit KwaZulu-Natal

Bron: Wikipedia

Die besluit van die Universiteit van KwaZulu-Natal om Europese tale en Afrikaans af te skaf illustreer duidelik die tweespaltige aard van die Suid-Afrikaanse universiteit van vandag. Aan die een kant is daar die ideaal van die universitas, met die universiteit as instelling om jongmense die geleentheid te bied om wyer te leer dink as die eie plek en tyd. Daarteenoor het jy die praktykgerigte benadering: dat die universiteit hier en nou ’n verskil moet maak. Na die herstrukturering tot UKZN in 2004 het dit gou geblyk dat laasgenoemde benadering voorrang sal geniet met die instel van die slagspreuk “The University of Premier African Scholarship”. As deel van Afrika moes die universiteit nou op sy eie omgewing fokus, en hier in KwaZulu-Natal is daar nie juis veel nut vir Europese tale nie, is blykbaar die redenasie – behalwe Engels, wat vir ’n deel van die plaaslike bevolking as huistaal geld en die omgangstaal en medium van onderrig is. Die taaldissiplines is derhalwe ingedeel in sogenaamde skole, met Zulu en Engels in eie skole en Afrikaans en die Europese tale in ’n ander, ten spyte van herhaalde pleidooie dat Afrikaans as inheemse taal en een van die amptelike tale van die provinsie nie daar hoort nie.

Dietloff van der Berg

Die praktykgerigte benadering het ook tot gevolg dat finansiële oorwegings swaarder weeg as enige akademiese beginsel. Die taaldissiplines is gereeld voor stok gekry omdat hulle te “duur” is, ondanks die feit dat taal die draer van alle kennis en denke is. Omdat daar nie genoeg boude op banke was om winsgewend te wees nie, is alle poste in die tale bevries. Indien ’n pos wel ontvries is, is vertragingstaktiek toegepas. Toe ’n personeellid in Afrikaans in 2007 bedank het en daar nog genoeg studente was om ’n permanente aanstelling te regverdig, is die pos eers in 2011 gevul. Die radikale afname in personeelgetalle het veroorsaak dat personeellede tot 21 lesings per week, meer as drie maal die universiteit se gemiddeld, moes aanbied om dissiplines aan die gang te hou. Toe is hulle weer aangespreek omdat hulle nie navorsing doen en publiseer nie!

Die winsmotief in plaas van akademiese beginsels het gelei tot ’n beleid dat slegs kursusse met ’n minimum van 40 studente wat daarvoor registreer, aangebied mag word. Hoewel UKZN se besluit om ’n kursus in Zulu vir studente in die lettere verpligtend te maak, op LitNet en in ander bronne positiewe kommentaar ontlok het, ontneem dit studente die vryheid van keuse. Die meeste studente kan net twee tale in hulle kurrikulum inpas, wat dan Engels en Zulu is, en gevolglik daal die ander taaldepartemente se getalle en moontlikheid op oorlewing. Die beleid bevorder dus in die praktyk nie veeltaligheid nie, want die kleiner taaldepartemente word gesluit en ’n dwangbuis van tweetaligheid word heringestel.

Die swaard van onsekerheid oor of ’n taaldissipline die volgende jaar nog daar gaan wees, het ’n geweldig negatiewe uitwerking op die moreel van personeel wat “heropgelei” of “uit diens gestel” sal moet word. Hoe ’n mens hoogs gespesialiseerde akademici wat om ’n spesifieke liefde vir ’n taal of om ander redes uit vrye wil jare aan opleiding in daardie dissipline bestee het, kan kry om iets anders te wil of moet doen, of hulle binne die afsienbare toekoms te kan “heroplei”, is doodgewoon nie haalbaar nie. Dit is dan ook opvallend dat die dekaan in beheer van die taaldissiplines wat die beleid van “De-establishing failing Programmes/Disciplines” sou moes uitvoer deur personeel uit diens te stel, die afgelope vier jaar telkens verander het.

Die gebrek aan sekerheid veroorsaak ook totale verwarring by taalstudente, omdat hulle nie weet of hulle hoofvak die volgende semester beskikbaar gaan wees en op watter kampus nie, soos ook blyk uit die petisie1 wat onlangs aan die universiteitsbestuur gerig is. As die bestuur kleiner taaldepartemente om ekonomiese redes sien as ’n “kanker wat uitgesny moet word”, soos die rektor, Malegapuru Makgoba, geskryf het, en Afrikaans spesifiek uitgesonder het,2 word ’n sterk negatiewe persepsie geskep wat nie maklik omgekeer kan word nie.

Dit lyk dus asof daar nie deeglik besin word nie, of nie vir tale omgegee word nie. UKZN is die enigste instelling in die provinsie wat Afrikaansonderwysers oplei, en as dié opleiding hier afgeskaf word, sal die nypende tekort daaraan nog groter word.

Selfs die ekonomiese beginsel word ook nie konsekwent toegepas nie. Soos in die geval van Nederlands wat deur die Nederlandse Taalunie befonds is en UKZN geen geld uit die sak gejaag het nie, is ander Europese lande ook bereid om taalkursusse te befonds, maar dit word volgens die 40-studente-reël nie toegelaat nie. Die kursus Afrikaans vir Beginners op die Pietermaritzburg-kampus is vanjaar byvoorbeeld deur privaat befondsing aangebied, maar die studente is aangesê dat hulle vir ander kursusse moet inskryf, want daar was nie 40 van hulle nie. Die kursus moes dus gestaak word. Eers na sterk druk is dit na ’n week heringestel en moes die verwarde studente wat weer daarvoor geregistreer het, die verlore tyd inhaal.

Die Babelse verwarring wat tans heers oor die behoud van ander tale as Engels en Zulu aan die Universiteit van KwaZulu-Natal kan opgelos word slegs indien daar ’n balans tussen ekonomiese oorwegings en akademiese beginsels gevind word. Terwyl ons in die praktyk ervaar dat minderheidstale in ons land al hoe meer op die agtergrond geskuif word, ten spyte van ’n pragtige grondwet met 11 amptelike tale, behoort ’n universiteit wat jongmense geestelik moet verruim, te verhoed dat dit op universiteitsvlak gebeur. Daar moet aanvaar word dat taalonderrig ’n belangrike rol speel om vensters op ander wêrelde oop te maak en toegang daartoe te verleen. Die bestuur moet die insig hê dat taalonderrig belangrik is en ’n wilsbesluit neem om deur ’n mate van kruissubsidiëring en gebruik van ander befondsing standvastigheid in kleiner taaldepartemente te skep. Die Universiteit van KwaZulu-Natal kan homself nie tot Engels en Zulu beperk en werklik ’n universiteit wees nie. Ons kan slegs hoop dat daar met ’n nuwe rektor volgende jaar daadwerklik opgetree sal word om sekerheid te bring oor die behoud van onderrig in ’n verskeidenheid tale.

1 Die Avaaz-petisie

2 E-pos op Woensdag 8 Augustus 2012 aan hoofde van kolleges gestuur

  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    Johannes Comestor

    Ja, dit is eintlik op die nuwe rektor wat hoop gevestig moet word. Naas akademiese en ekonomiese/finansiële oorweging speel politiek 'n groot rol. Dit is waarom die universiteit 'n African university geword het, soos Jakes Gerwel wat van die Universiteit Wes-Kaapland 'n tuiste vir polities linkses gemaak het. Die wesenlike aard van die universiteit - dat studente aan 'n verskeidenheid menings blootgestel moet word - word misken. 

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top