Die stand van die Suid-Afrikaanse media

  • 0
Hierdie artikel is ’n verwerking van ’n hoofstuk in Pillay ea (reds), State of the Nation (2014) (met toestemming).

Opsomming
Hierdie artikel poog om ’n blik te gee op die Suid-Afrikaanse media en hul verhouding tot die samelewing. Die fokus is die huidige stand van die media, maar daar word ook na sleutelverwikkelinge in die eerste twintig jaar van demokrasie verwys ten einde ’n raamwerk vir onlangse gebeure te verskaf. Die bespreking van die stand van die media word gestruktureer om drie belangrike nuusgebeure wat dekking in 2013 oorheers het. Hierdie gebeure is die nadraai van die Marikana-slagting, die arrestasie van die atleet Oscar Pistorius op ’n moordklag, en die hospitalisering van oudpresident Nelson Mandela.

Abstract
This article attempts to provide a perspective on the South African media and its relationship to society. The focus is the current state of the media, but key developments during the first twenty years of democracy are also referenced in order to provide a framework for more recent events. The discussion of the state of the media is structured around three key news events that dominated coverage in 2013. These are the aftermath of the Marikana massacre, the arrest of the athlete Oscar Pistorius on a murder charge, and the hospitalisation of former president Nelson Mandela.

Inleiding
Die openbare bewussyn van 2013 het waarskynlik nog die mees ikoniese mediabeeld van 2012 in sy geestesoog gehad toe die Farlam-kommissie sy ondersoek na die Marikana-slagting voortgesit het: ’n ry gewapende polisiebeamptes wat op aanstormende myners skiet. Die botsing by die Lonmin-myn het tot die dood van 36 mynwerkers en twee polisiebeamptes, en beserings aan 78 ander gelei. Die eerste beeldmateriaal van hierdie droewigste oomblik sedert die einde van apartheid (Plaut 2012), wat internasionaal gebeeldsend is, is letterlik van agter die rûe van skietende polisiemanne afgeneem (sien beeldmateriaal in City Press 2012 en bespreking in Wasserman 2013). Hierdie uitkykpunt van joernaliste vanuit die hoek van dié in ’n magsposisie word verder beklemtoon deur die feite wat later geblyk het – in die eerste plek aan die lig gebring deur ’n ondersoekende joernalis van die niehoofstroom-nuuswebwerf Daily Maverick (Marinovich 2012) – dat die aanvanklike berigte wat hoofsaaklik van “amptelike” bronne verkry is, ten beste onvolledig was, en dalk selfs nog wreder dade deur die polisie verberg het (De Waal 2012a en 2012b).

Wat werklik by Marikana gebeur het, is in 2013 steeds deur die Farlam Regterlike Kommissie ondersoek (http://www.marikanacomm.org.za), maar dekking van die verhore het teen die nuusagenda afgeskuif. Die Marikana-slagting is gou vervang deur nog ’n gewelddadige gebeurtenis wat plaaslike en wêreldwye mediadekking oorheers het: die beweerde moord deur die Suid-Afrikaanse Olimpiese atleet Oscar Pistorius op sy meisie, Reeva Steenkamp, op 14 Februarie 2013.

Pistorius is gearresteer nadat Steenkamp dood in Pistorius se huis aangetref is. Sy het gesterf aan koeëlwonde wat Pistorius later erken het deur hom afgevuur is. Pistorius het beweer dat hy in noodweer opgetree het toe hy verkeerdelik gedink het dat Steenkamp ’n inbreker is. Toe hierdie stuk geskryf is, het Pistorius op aanklag van moord tereggestaan. Dekking van Pistorius se arrestasie en borgverhoor het weke lank die media oorheers. Die borgverhoor het gelei tot eindelose dekking oor Pistorius, sy persoonlike lewe, sy persoonlikheid, en – dalk die belangrikste in terme van die media se rol in ’n demokratiese samelewing – selfs oor hoe Pistorius se vervalling in onguns as ’n metafoor vir die verval van postapartheid Suid-Afrika in geweld en chaos beskou kan word.

Steinberg (2013) beskou die manier waarop die Suid-Afrikaanse publiek se liefde vir Pistorius verflou het, as ’n aanduiding van die onvermoë van die land om die teenstrydigheid te hanteer van ’n land wat daarin geslaag het om aan die donker jare van apartheid te ontsnap, maar tog baie gewelddadig en uiters ongelyk bly. Wanneer gebeure soos die moord deur Pistorius plaasvind, spat die “wonderwerk”-diskoers in stukke en moet dit herstel word deur die sondebok te “ver-Ander”, en in die openbaar van hom gedistansieer te word, in plaas daarvan om die teenstrydighede en spanning in die Suid-Afrikaanse samelewing te aanvaar en die oorsake te hanteer. Steinberg het dit soos volg gestel:

Walk through inner-city Johannesburg on a Saturday morning and its spirit and its joy will leave you exhilarated. You can return home the same day to read that in a shack settlement 10 miles away a mob has set a person on fire. Spend a day in the city and you'll experience the kindness of innumerable strangers. And yet you will in all probability rub shoulders with an 11-year-old girl who expects to be raped. South Africa has not learned both to love itself and to feel ambivalent about itself. It hasn't the courage to look itself squarely in the eye. That is why it invented Oscar the great on one day and Oscar the terrible the next.

Nietemin, die dekking van Pistorius se arrestasie en verhoor is ’n aanduiding van die mate waarin Suid-Afrikaanse openbare diskoers gerig word deur beelde en berigte wat duidelik voldoen aan die gedagte van ’n “mediaskouspel” – ’n organisasie van verskynsels wat terselfdertyd aanloklik, beeldend, afleidend en oppervlakkig is (Crary 205:335). Ten spyte van bewerings dat hulle ’n rasionele openbare sfeer vir demokratiese debat verskaf, het die Suid-Afrikaanse media nie ontsnap aan die kommersiële druk van deelname aan ’n wêreldwye media-omgewing wat ’n samelewing uit die skouspel skep nie – een wat Guy Debord as samelewing sonder gemeenskap beskryf (Crary 205:336). Ons keer later na hierdie sleutelkenmerk van die postapartheid Suid-Afrikaanse media terug.

Indien die skouspel rondom Pistorius se doodmaak van sy meisie die teenstrydighede inherent aan populêre diskoers oor postapartheid Suid-Afrika as ’n “wonderwerk” of ’n “reënboognasie” belig het, is die verlies aan onskuld en die kollektiewe gevoel van koersloosheid van die Suid-Afrikaanse samelewing 20 jaar ná demokrasie deur veral nog ’n groot mediastorie van 2013 beklemtoon: die siekte, hospitalisering en naderende dood van oudpresident Nelson Mandela.

President Mandela het sedert 2011 wel tydperke in die hospitaal deurgebring, maar die jongste opname in Junie 2013 was verreweg die langste, en het ook die meeste kommer oor sy gesondheid veroorsaak. Nuusberigte wat oor sy naderende dood bespiegel, het algemeen geword, en onwaar gerugte oor sy dood het op die sosiale media die ronde gedoen. Toe nuus oor sy toestand opdroog, het die aandag verskuif na die onsmaaklike struweling onder Mandela se familielede oor waar hy begrawe sal word.

Dit was nie die eerste keer dat joernaliste om die voormalige president se siekbed rondsnuffel nie. In 2011 is daar berig (Smith 2011a) dat die internasionale nuusagentskappe Reuters en Associated Press versteekte kameras op sy huis in die Oos-Kaapse dorp Qunu gerig het. Dit is algemeen as in swak smaak beskou, asof die agentskappe net sit en wag dat hy moet doodgaan. Ander was van mening dat aangesien Mandela reeds minstens ’n dekade lank nie ’n faktor in Suid-Afrika se politieke ontwikkeling was nie, die media hom in vrede moet laat om sy aftrede te geniet.

Dit sal nietemin naïef wees om te dink dat oudpresident Mandela se afsterwe nie ’n reuse internasionale nuusgebeurtenis sal wees nie. Wat insiggewend was oor die manier waarop die Suid-Afrikaanse media die voormalige president se hospitalisering gedek het, was hoe berigte nie net op Mandela se toestand gefokus het nie, maar ook sy siekte gebruik het as ’n manier om die huidige regering aan te val. Hierdie aanvalle het dikwels gekonsentreer op wat beskou is as ’n gebrek aan, of swak, kommunikasie van die regering se woordvoerders, veral die hoofwoordvoerder vir die presidensie, Mac Maharaj. Dit het gelyk asof die regering wel probeer het om sy kommunikasie te verbeter na die volslae mislukking in 2011, toe Mandela met respiratoriese infeksie in die hospitaal opgeneem is en die regering 48 uur gewag het voordat inligting uitgestuur is (Smith 2011b). Toe Mandela in 2012 gehospitaliseer is, het die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum die regering se poging om inligting aan die vloei te hou, verwelkom. Dalk as gevolg van die duur van president Mandela se jongste verblyf in die hospitaal in 2013 was die openbare gemoedstemming egter een van groter angs, en kommentators in die media het ’n gebrek aan vertroue in die regering uitgespreek om akkurate en tydige nuus oor die oudpresident se toestand te verskaf (Moodie 2013, Msomi 2013).

Vrae oor die verslagdoening oor Nelson Mandela se hospitalisering gaan oor baie meer as bloot die doeltreffendheid van die regering se kommunikasie. Dit lei tot die bekende etiese strikvraag oor die skeidslyn tussen openbare en private inligting, die verskil tussen nuus in die openbare belang en die smous van sensasionalisme, maar ook oor die politieke dinamika van hierdie spesifieke nuusgebeurtenis soos dit in die media uitgebeeld is.

Soos Hook (2013) dit stel: die wydverspreide uitstorting van liefde en bewondering vir Mandela het gepaardgegaan met hernude kritiek op en beswaddering van die huidige president, Jacob Zuma, wat nie net as ’n swak leier nie, maar ook as moreel korrup beskou word. Onder sy bewind ervaar die land ’n krisis in basiese onderwys en ontlok protesoptrede toenemend gewelddadige reaksie (soos bogenoemde slagting by Marikana, maar ook ander, soos die doodmaak van Andries Tatane tydens protesoptrede in Ficksburg 2011) (Duncan & Royeppen 2013); en president Zuma is betrek by ’n skandaal waar belastingbetalers se geld gebruik is om vir die opgradering van sy private woning by Nkandla in KwaZulu-Natal te betaal. Die bewerings rondom Nkandla volg op ander skandale, insluitend ’n aanklag van verkragting in 2006 en korrupsie-aanklagte teen hom. Hy is op eersgenoemde vrygespreek, en laasgenoemde aanklagte is laat vaar. Maar die strydpunt wat dalk verreweg die meeste media-aandag ontvang het tydens president Zuma se ampstermyn, was die aanvaarding van die Wetsontwerp op die Beskerming van Staatsinligting (WOBS) deur die parlement. Hoewel dit nog onderteken moet word om ’n wet te word, is die wetsontwerp wyd veroordeel deur burgerlikesamelewingsorganisasies, joernaliste en redakteurs en lede van die publiek (sien Wasserman en Jacobs 2013 vir ’n bespreking van die mediadiskoers oor die wetsontwerp). Die wetsontwerp maak voorsiening vir ernstige strawwe, insluitend tronkstraf, vir joernaliste en verklikkers wat geklassifiseerde staatsinligting besit. Die Wetsontwerp op die Beskerming van Staatsinligting word beskou as ’n simptoom van die toenemende onverdraagsaamheid aan die kant van die ANC-regering teen kritiek, asook van die toenemende verdieping van die veiligheid van die staat (wat ook weerspieël word in die staat se reaksie op protesoptrede, soos hier bo genoem). Hoewel dit nie direk verband hou nie, word die wetsontwerp dikwels in openbare diskoers saamgevoeg met die voorgestelde mediatribunaal, wat die ANC as ’n alternatief vir selfregulering voorstel.

Dit is dus geen wonder nie dat die vooruitsig om president Mandela te verloor by geleentheid gekoppel word aan ’n verval in ’n ondemokratiese staat, asof hy die laaste skans van demokrasie was (vgl byvoorbeeld die CNN-ankeraanbieder Robyn Curnow [2013] se kontras tussen Mandela se verbintenis tot ’n kritiese en ondersoekende vrye pers en die Zuma-administrasie se WOBS). Die melodramatiese hoofopskrif van Curnow se stuk (“Madiba dies, Freedom dies”) dui op ’n onakkurate evaluering van die mate waarin die voormalige president se sienings steeds regeringsbeleid en demokratiese kultuur in die land bepaal. Nietemin weerspieël dit ’n toon wat onderliggend is aan heelwat van die openbare diskoers oor Mandela se hospitalisering, naamlik dat die verlies van Mandela ook die verlies van onskuld vir Suid-Afrika inhou. Sommige kommentators (byvoorbeeld Jacobs 2013) beskou die angs oor wat met die Suid-Afrikaanse demokrasie sal gebeur as Mandela sterf, as ’n spesifiek wit vrees, aangesien Mandela se versoenende houding wit Suid-Afrikaners oorreed het om liberale demokrasie te aanvaar, selfs ten koste van die ekonomiese transformasie van die swart meerderheid.

Die toon van onvermydelikheid wat die deurlopende berigte oor Mandela se siekte gekenmerk het, kan egter ook beskou word as ’n aanvaarding van die feit dat die “wonderwerk” (hoewel hierdie metafoor ook problematies is) van demokratisering en oorgang plek gemaak het vir die morsige realiteit van wat as “normale” politiek beskou kan word (Bruce 2013). Ontnugtering met die regerende party is wydverspreid. Herhaalde gemeenskapsverset – dikwels eng beskryf as “diensleweringsverset” – is sedert die vroeë 2000’s ’n herhalende kenmerk van Suid-Afrika se maatskaplike en politieke lewe (Pieterse en Van Donk 2013:109), met sommige waarnemers (Alexander 2012) wat ’n skerp toename (40%) in die getal voorvalle van verset vanaf 2004 tot 2012 aandui. Hierdie protesoptogte, waarvan daar vanaf 2004 tot 2009 ’n gemiddeld van 2,1 per dag opgeteken is, word as die “rebellie van die armes” beskryf (Alexander 2012).

Hoewel die ontevredenheid en woede wat op die ANC gerig is, aan die toeneem is, waarsku Marais (2011:459) dat frustrasie met die ANC se beleide en praktyke dalk nie tot volle vervreemding en vyandigheid sal lei nie, maar eerder deel is van ’n proses waarin burgers hulle eie lojaliteite bevraagteken, ’n geëerde politieke organisasie onder die vergrootglas plaas, en tradisies van insubordinasie wat die bevrydingsbewegings voorheen ingespan het, terugeis.

Die drie belangrikste nuusgebeure van 2013 wat hier bo beskryf word, kan beskou word as illustrasies van belangrike tendense ten opsigte van die manier waarop die Suid-Afrikaanse media geposisioneer is in verhouding tot die politieke lewe en die samelewing 20 jaar na demokrasie.

Hierdie belangrike tendense is:

  • Die media wat ontluik as ’n politieke rolspeler uit eie reg, met ’n elite-oriëntering.
  • Kommersialisering en ’n verskuiwing na poniejoernalistiek.
  • Die globalisering van media oor nuwe mediaplatforms en -kanale heen.

In die res van hierdie artikel bespreek ek elkeen van hierdie tendense – wat soms oorvleuel – wat die stand van die media in 2013 kenmerk.

Media as ’n politieke rolspeler
In die postapartheid-tydperk het die Suid-Afrikaanse media minder openlike politieke parallellisme getoon as in die apartheidjare, toe steun vir of teenstand teen die heersende Nasionale Party-bestel in ’n groot mate met die verskillende tale van hoofstroommedia ooreengestem het (Afrikaanse media grootliks ondersteunend, Engelse media met liberale kritiek), terwyl ’n lewenskragtige alternatiewe, anti-apartheidmedia ook bestaan het. Die koms van demokrasie het groter professionaliteit aan die media verleen, wat ingesluit het die aanvaarding van perskodes wat die idees van “objektiwiteit” en “balans” en die verklaring van persvryheid en onafhanklikheid beklemtoon het. Van die begin af het die demokratiese regering en die media uiteenlopende verwagtinge van die media se rol in ’n demokratiese samelewing getoon, en dit het tot gereelde botsings gelei (sien Jacobs 1998, Botma 2011 en Sparks 2011 vir ’n oorsig van ’n paar van die standpunte in hierdie debatte en botsings).

Hierdie spanning het voortgeduur tot met die skryf hiervan, toe die Wetsontwerp op die Beskerming van Staatsinligting, wat volgens algemene verwagting vryheid van uitdrukking oor die algemeen en persvryheid in die besonder sou onderdruk, op president Jacob Zuma se handtekening gewag het (sien Wasserman en Jacobs 2013 vir ’n bespreking van die mediadiskoers oor hierdie Wetsontwerp). Die ANC se voorgestelde mediatribunaal, wat ten doel het om oortredende joernaliste strenger te hanteer as die vrywillige, selfregulende (en nou hersiene, mederegulerende) Persraad-proses, is blykbaar op die agtergrond geskuif, maar nie heeltemal van die baan nie. Die genadelose kritiek op die regering en die heersende ANC van die kant van die media hamer blykbaar op ’n toenemend teer plek.

Hoewel die media in die moniteringsrol van toesig oor mag (Christians ea 2011) dikwels beweer dat hulle ’n objektiewe toeskouer by politieke gebeure is, veral wanneer hulle vryheid bedreig word (byvoorbeeld deur hulle te beroep op die verweer van “moenie die boodskapper doodmaak nie”), weerspieël hulle werklike praktyk dikwels ’n nouer belyning met mag.

In die dekking van die Marikana-slagting, een van die sleutelnuusgebeure waarna daar hier bo verwys word, het dit duidelik geword dat die meerderheid hoofstroomnuusmedia in Suid-Afrika geneig is om voorkeur aan ’n elite-perspektief op gebeure van politieke en ekonomiese belang te verleen. Ongeag gereelde bewerings van neutraliteit het nuusmedia in die postapartheid-era ontluik as ’n politieke rolspeler uit eie reg. Die Suid-Afrikaanse media ondersteun nie gewoonlik spesifieke politieke partye openlik nie (hoewel daar in die eerste 20 jaar van demokrasie uitsonderings was, soos die Financial Mail onder Peter Bruce wat die United Democratic Movement in die 1999-verkiesing ondersteun het). Die steun vir spesifieke partye neem eerder ’n implisiete vorm aan, byvoorbeeld deur sekere sake op die nuusagenda te hou of meer prominente ruimte aan die stemme van sekere afdelings af te staan. Dit is nie slegs met die kommersiële elite-media die geval nie – die Daily Sun-poniekoerant het ook voor die ANC se verkiesing in Polokwane in 2007 sy steun vir Jacob Zuma duidelik gemaak, hoewel dit nie ’n openlike verklaring ten gunste van Zuma gemaak het nie (Wasserman 2010:105). Die SAUK word dikwels daarvan beskuldig dat dit pro-ANC is en politieke inmenging by die uitsaaier toelaat.

Die hoofstroom kommersiële gedrukte media benader kwessies egter meestal vanuit ’n perspektief wat Friedman (2011) ’n siening uit die voorstede noem. Dit is deels die gevolg van die politieke ekonomie van die meeste kommersiële media (met die uitsondering van die massamark-poniekoerante, wat groot werkersklasgehore bedien en ander skaalbesparings het) wat geneig is om lonende gehore te verkies wat vir adverteerders aantreklik is. Ten einde hierdie welvarende gehore te lok moet joernaliste hulle belange dien, wat lei tot die aanvaarding van die middelklassiening van politiek waarvan Friedman (2011) praat.

Benewens die ekonomiese redes vir die hoofstroommedia se neiging tot middelklasgehore, beïnvloed die liberaal-demokratiese konsensus onder hierdie media hulle ook (in ooreenstemming met die dominante normatiewe “waghondrol”) tot antagonistiese politieke dekking van die regering. Hoewel ’n kritiese standpunt teenoor die regering in lyn sou wees met hierdie moniteringsrol, soos deur Christians ea (2011) beskryf word, skakel dit in Suid-Afrikaanse politieke joernalistiek dikwels in die praktyk om na implisiete steun vir die opposisie politieke partye. As gevolg hiervan ontvang die Demokratiese Alliansie as die amptelike opposisie ’n groot deel van lugtyd en bladruimte. Vorige navorsing (Wasserman 2010b) toon dat joernaliste ook hulle eie rol beskou in terme van die verskaffing van ’n tipe informele opposisie teen die hegemonie van ’n dominante regerende party.

Die sameloop van die politieke ekonomiese imperatief en die rol-oriëntering van Suid-Afrikaanse joernaliste ten gunste van opposisiepartye lei tot hoofstroom kommersiële media (weer met die uitsondering van die poniekoerante) waarin die oorheersende stemme dié van elite-bronne is.

Om na die voorbeeld van Marikana terug te keer: Peter Alexander het in sy navorsing bevind dat joernaliste bitter min aandag aan ander weergawes van die gebeure tydens die slagting as dié van die hoofstroombronne gegee het.

What was apparent to me on both Saturday and Monday, when the ministerial group was there, was that journalists just stand around but don’t really investigate or speak to any of the workers. (…) The journalists interacted with the politicians, the police and sometimes with AMCU (the Association for Mineworkers and Construction Union) or NUM (the National Union of Mineworkers). But there are hardly any accounts of events from people who were on the mountain when the massacre occurred. (De Waal 2012a)

Die stemme wat die Suid-Afrikaanse mediaverbruikers by herhaling in die aanvanklike berigte oor Marikana gehoor het, was dié van persone in gesagsposisies. In haar ontleding van die bronne wat in die aanloop tot en die onmiddellike nadraai van die Marikana-slagting (13–22 Augustus 2012) deur joernaliste by hoofstroom Suid-Afrikaanse koerante (Business Day, The Star, The New Age, The Citizen, The Times, Sowetan, Beeld, Die Burger, Mail & Guardian) gekontak is, het Jane Duncan bevind dat werkers in slegs 3% van die stories as bronne van inligting gebruik is. Die meerderheid bronne was sakelui (27%), mynbestuur/-eienaars (14%), politieke partye (10%), die regering (9%) en die polisie (5%). ’n Opdragstudie deur die media-ontledingsmaatskappy Media Tenor oor ’n langer tydperk (24 Augustus tot 19 September) het bevind dat slegs 15% van die berigte wat op Marikana betrekking gehad het, mynwerkers as hulle bronne aangedui het. Politici en vakbondamptenare het die grootste deel van die bronne uitgemaak, met mynbestuur wat dieselfde hoeveelheid dekking as bronne as die mynwerkers (15%) ontvang het. Die grootste volume van dekking het van die Business Day-koerant gekom. Hierdie koerant was meer krities oor die gebeure as ander koerante, en het gefokus op die ekonomiese impak van die onrus, terwyl ander platforms, soos die dag- en weekblaaie, minder op die rol van vakbonde en Lonmin gefokus het. Die belyning van hoofstroomjoernaliste met hierdie “gesaghebbende” bronne in magsposisies het daartoe gelei dat Duncan die Suid-Afrikaanse media se dekking van die Marikana-slagting as die plaaslike weergawe van “embedded journalism” (De Waal 2012b) bestempel het.

Die hoofstroommedia se antagonistiese houding teenoor die regering blyk ook uit een van die ander drie sleutelnuusgebeure wat hier bo gelys word. Soos reeds gemeld, het Hook (2013) opgemerk dat dekking van Mandela se hospitalisering ’n geleentheid vir die media gebied het om die huidige president te kasty:

The more Mandela is idealised, the more Zuma’s (not inconsiderable) faults are progressively magnified. Whereas Mandela is lionised, Zuma by contrast is reduced to caricature, to the embodiment of everything wrong with South Africa. It perhaps goes without saying that neither of these portrayals is wholly accurate or completely rational in nature. This dynamic reflects something of the country’s speculation on its own identity. It represents also the country’s inability to bring together what is best and worst, what is most inspiring and most dismaying, in our recent history. One is reminded of the resentful words Oliver Stone puts into Richard Nixon’s mouth in a scene from his (1995) film Nixon. Staring with bitterness at a portrait of Kennedy and wondering why the American people loved the younger man so much, he laments: “When they look at him, they see themselves as they want to be; when they look at me, they see themselves as they are.”

Die spanning tussen die hoofstroommedia en die regering, en die politieke implikasies van hierdie spanning, toon dus geen teken dat dit 20 jaar na demokrasie aan die afneem is nie.

Kommersialisering en ’n verskuiwing na poniejoernalistiek
Die ontluiking van poniekoerante bykans ’n dekade na demokratisering in Suid-Afrika is een van die interessantste tendense in die postapartheid-medialandskap. Hierdie poniekoerante, wat gemik is op ’n massamark wat hoofsaaklik uit swart, werkersklaslesers bestaan, bied die soort sensasionele skindernuus wat regoor die wêreld tipies van hierdie genre is. Benewens stories oor seks, skandale en sport verskaf die Suid-Afrikaanse poniekoerante egter ’n perspektief op nuusgebeure wat sedert die verdwyning van die alternatiewe pers in die Suid-Afrikaanse gedrukte media ontbreek het. Die verhale in die Daily Sun, Daily Voice en Son vertel van alledaagse ervarings van daardie mense wat nie gewoonlik belangrik genoeg geag word om in die hoofstroom gedrukte koerante gedek te word nie omdat hulle nie vir adverteerders aantreklik is nie. Die poniekoerante het egter daarin geslaag om ’n massamark uit hierdie gehoor te skep, in so ’n mate dat die Daily Sun die dagblad met die grootste omset in die land geword het.

Ongeag hierdie sukses, wat duidelik die gevolg was van hulle aantrekkingskrag vir die gemarginaliseerde gehoor, is hierdie poniekoerante aanvanklik deur die professionele media-establishment verguis. Die Nasionale Redakteursforum het gewik en geweeg of die poniekoerantredakteurs tot hierdie professionele liggaam toegelaat moes word, en redaksionele kommentaar en akademiese reaksies het die poniekoerante gekritiseer oor wat beskou is as die smous van vermaak wat gehore van rasionele debat in die openbare sfeer oor “ernstige” politieke en maatskaplike kwessies weggestuur het. (Vir ’n gedetailleerde bespreking oor die ontluiking van, reaksies op en politieke implikasies van die Suid-Afrikaanse poniekoerante, sien Wasserman 2010.)

Hierdie besware teen die poniekoerante was egter gegrond op ’n eng siening van wat politieke gesprekke is, en het die belangrikheid onderskat van emosionele betrokkenheid by en geesdrif vir politieke debat in die openbare sfeer. Soos Dahlgren (2009:84) dit stel: tradisioneel word geesdrif gekonseptualiseer as afsonderlik van rede, en beskou as sou dit in stryd met selfbeheer funksioneer. Hierdie binêre opposisie tussen emosie en rede, wat verband hou met begrippe van wat beskou word as geldige modusse van politieke gesprek (wat op sigself in hiërargieë van ras, klas en geslag gewortel is), het heelwat van die kritiese reaksie op Suid-Afrikaanse poniekoerante onderlê. Hierdie reaksies het ook voortgespruit uit ’n vlak lees van wat die “politieke” element in mediadebatte en voorstellings uitmaak. Poniekoerantnuus kan ’n alternatiewe openbare sfeer verskaf waar kwessies van belang bespreek kan word wat nie ’n politieke dimensie het nie, al word hierdie alledaagse politiek dalk nie onmiddellik as sodanig herken nie (sien Wasserman 2010).

Die joernalistieke establishment het geleidelik sy houding teenoor poniekoerante versag, dalk in die lig van hulle reuse kommersiële sukses. Die Standard Bank Sikuvile-toekennings (voorheen die Mondi Shanduka-toekennings) vir gedrukte joernalistiek wat deur Print and Digital Media South Africa toegeken word, sluit nou ’n kategorie vir “populêre joernalistiek” in. Hoewel hierdie formele erkenning van goeie poniekoerantjoernalistiek stellig daarin slaag om die siening van poniekoerantjoernalistiek as apart van “ware” ondersoekende, artikel- en soortgelyke joernalistiek te vestig, is dit ver verwyder van die aanvanklike verguising wat poniekoerantjoernaliste van hulle kollegas moes ervaar.

Hierdie toenemende erkenning van poniekoerante as ’n gevestigde deel van die Suid-Afrikaanse medialandskap kan ook ’n reaksie wees op wat ’n wêreldwye tendens geword het. Zelizer (2009:5) identifiseer “tabloidization”, of dan die verskuiwing na poniejoernalistiek, as een van die sentrale navraagplatforms aan die hand waarvan veranderinge in joernalistieke oriënterings en praktyke wêreldwyd verstaan moet word. In ’n wêreldwye konteks waar tradisionele vorme van joernalistiek toenemend bedreig word, word die skuif na poniejoernalistiek deur sommige waarnemers beskou as ’n manier om die tradisionele gedrukte en elektroniese nuusmedia se aantreklikheid te verhoog. Hoewel die skuif na poniejoernalistiek dikwels met trivialisering, glansskindernuus en stories oor die menslike sy verbind word, word dit ook dikwels gebruik as sondebok waarop hoofstroomjoernalistiek sy uitdagings en tekortkominge kan projekteer (Zelizer 2009:7–8).

Wanneer ons na die stand van Suid-Afrikaanse media in 2013 kyk, kan die plek en rol van poniekoerante dus nie geïgnoreer word nie. Die verskuiwing na poniejoernalistiek as ’n tendens, veral in die mate waarin dit betrekking het op groter kommersialisering van nie net kommersiële gedrukte media nie, maar ook die uitsaaiwese (insluitend die openbare uitsaaier) en die elektroniese media, is ’n sleuteleienskap van die Suid-Afrikaanse media oor die algemeen.

Onder die bogenoemde belangrike nuusgebeure in 2013 het die dekking van die Oscar Pistorius-saak hierdie tendens van die skuif na poniejoernalistiek die duidelikste weerspieël. Die media het na bewering Pistorius se doodmaak van sy meisie binne ’n breër samelewingskonteks ontleed (byvoorbeeld deur te probeer om Pistorius se persoonlikheid en sy motivering te verstaan, of wat die gebeurtenis ons oor geslagsidentiteite en -rolle in Suid-Afrika vertel), maar die kumulatiewe effek van die geweldige hoeveelheid dekking wat deur die gebeurtenis gegenereer is, was dié van ’n mediaskouspel wat ander belangrike politieke stories op die agtergrond geskuif het, soos die bekendstelling van Mamphela Ramphele se nuwe politieke party, Agang, wat op dieselfde tydstip gestig is (Nicolson 2013). In hierdie verband kan die Pistorius-saak beskou word as ’n illustrasie van hoe die idee van die “skouspel”, soos deur Guy Debord uitgedink en deur Hardt en Negri (2000) ontwikkel is, werk. Hierdie skouspel kan omskryf word as ’n “integrated and diffuse apparatus of images and ideas that produces and regulates public discourse and opinion” (Hardt en Negri 2000:321–2):

In the society of the spectacle, what was once imagined as the public sphere, the open terrain of political exchanges and participation, completely evaporates. The spectacle destroys any collective form of sociality – individualizing social actors in their separate automobiles and in front of separate video screens – and at the same time imposes a new mass sociality, a new uniformity of action and thought.

Hoewel sommige mediaberigte probeer het om Pistorius binne die wyer konteks van ’n gewelddadige, patriargale en macho Suid-Afrikaanse kultuur te plaas, was die rede waarom die storie die geweldige wêreldwye belangstelling ontlok het (en voortgegaan het om dit te ontlok), Pistorius se individuele profiel as ’n wêreldbekende sportster. Die effek van die skouspel om Pistorius was dat die doodmaak van Reeva Steenkamp gesien is in die lig van ’n individu se misstap, verwyder van die wyer samelewingsgruwel van geslagsgebaseerde geweld. Die Kommissie vir Geslagsgelykheid het hierdie styl van verslagdoening, wat Steenkamp se dood uitgebeeld het as ’n ongelukkige misstap, eerder as as ’n deel van ’n wyer patroon van geslagsgebaseerde geweld in Suid-Afrika (Sapa 2013), gekritiseer. Met ander woorde, die verslagdoening oor die doodmaak van Reeva Steenkamp deur haar kêrel as die Oscar Pistorius-skouspel het Suid-Afrikaners aangemoedig om te onthou dat hulle nie Oscar is nie, en Oscar nie hulle is nie (Steinberg 2013).

Hierdie tipe verskuiwing na poniejoernalistiek in die Suid-Afrikaanse media wat wyer samelewingsprobleme as individuele patologieë voorhou, is stellig skadeliker vir demokratiese debat as die popularisering van joernalistiek in die vorm van poniekoerante wat die openbare sfeer kan vergroot en voorheen gemarginaliseerde dele van die samelewing ingesluit kan laat voel as deelnemers aan mediadebatte en voorstellings – selfs terwyl sodanige voorstellings ook nie sonder probleme is nie (Dahlgren 2009:46).

Die dekking van Mandela se siekte het ook by tye hierdie tipe poniejoernalistiekgevoelens getoon. Hoewel ’n mens kan redeneer dat die media-aandag wat op die oudpresident se toestand fokus, gewortel is in die universele liefde en agting vir Mandela, het die dekking soms wel die vorm van ’n morbiede “doodswaak” aangeneem, met joernaliste wat uitgekamp het buite die hospitaal waar Mandela behandel is (een verslaggewer het selfs lighartig geskryf oor hoe die joernaliste besig bly terwyl daar geen nuus oor die oudpresident se toestand is nie – Kings 2013). Sy dogter, Makaziwe, het teen hierdie oomblik-vir-oomblik-dekking van Mandela se siekte uitgevaar as dat dit alle grense van sy en sy familie se privaatheid en waardigheid skend, en veral die buitelandse media beskuldig dat hulle “rassisties” en “aasvoëls” is (SABC 2013).

Parallel met die dekking van Mandela se hospitaalverblyf is aansienlike mediabelangstelling gewek deur die stryd tussen die Mandela-familielede oor die herbegrawing van die oudpresident se familielede, wat implikasies vir die ligging van die staatsman se graf sal hê, en ook weer vir die potensieel winsgewende transaksies wat rondom die graf se ligging gesluit word. Hierdie onsmaaklike familietwiste is deur aartsbiskop Tutu veroordeel as ’n selfsugtige bekladding van Mandela se naam (Smith 2013), maar terwyl Mandela in ’n kritieke toestand in die hospitaal gelê het, het die twis en die media-aandag wat daaraan geskenk is, geen tekens van verflouing getoon nie. Trouens, Schechter (2013) se stelling was waar: Nelson Mandela se laaste stryd was om waardig te sterf.

Die globalisering van media oor nuwe mediaplatforms en -kanale heen
Die groot nuusgebeure van 2013 soos hier bo bespreek is, het almal oor die grense van die Suid-Afrikaanse mediaruimte heen gestrek. Die Marikana-slagting (en in ’n mindere mate die nadraai in die vorm van die Farlam-kommissie), die Pistorius-saak en die dekking van oudpresident Nelson Mandela se siekte is alles deur die groot wêreldwye nuusmedia gedek. Terwyl hierdie wêreldwye aandag soms die plaaslike nuusakteurs (byvoorbeeld lede van die Mandela-familie wat voorkeur vir die dekking van hulle vader se begrafnis deur CNN eerder as die SAUK toon, omdat eersgenoemde waarskynlik winsgewender sal wees – sien Schechter 2013) se pogings vererger het om in die kalklig te kom, beteken dit ook dat Suid-Afrikaanse gehore met toegang tot wêreldwye media deur middel van satelliettelevisie of die internet nou uit ’n wyer verskeidenheid perspektiewe en stories van belang vir hulle kon kies. Die negatiewe sy van hierdie wêreldwye dekking was dat dit meer druk op plaaslike nuusafsetpunte geplaas het om met baie groter wêreldwye nuusbedrywe mee te ding, met toenemende verskuiwing na poniejoernalistiek en kommersialisering van nuusagendas en benaderings as die feitlik onvermydelike gevolg.

Hoewel plaaslike gehore nie wêreldwye media sonder kritiek aanvaar nie, maar wêreldinhoud binne die spesifisiteit van hulle plaaslike konteks interpreteer, kan die invloed van wêreldwye mediastyle en genres op plaaslike mediaproduksie nie ontken word nie. Op die vlak van sowel eienaarskap as inhoud ontvang die voormalige mediareuse van die “Weste” deesdae mededinging van hulle ampsgenote in die “Res” (Zakaria 2011). Chinese media versprei hulle invloed oor Afrika (Wasserman 2012), en die afgelope jaar het hulle invloed in Suid-Afrika uitgebrei tot ’n aandeel in die Sekunjalo-konsortium wat die Independent-groep gekoop het; en die verspreidingsnetwerk van hulle Engelstalige koerant, China Daily, in Suid-Afrika is ook vergroot. Ten spyte van die soms paranoïese terme waarin hierdie verwikkelinge beskou word (byvoorbeeld Harber 2013), moet hierdie verwikkelinge nie in terme van kru teorieë oor media-imperialisme beskou word nie, maar eerder in terme van Suid-Afrika se eie herposisionering ten opsigte van veranderende geopolitiek en sy lidmaatskap van die BRICS-groep – ’n verhouding wat toenemend bemiddel sal word.

Moontlik is die grootste negatiewe effek van die groter globale aard van die Suid-Afrikaanse media egter die verdere marginalisering van minderheidstemme en voetsoolvlaknuus wat nie as aantreklik of belangrik genoeg beskou word in ’n medialandskap wat toenemend deur groot spelers – Suid-Afrikaanses ingesluit – oorheers word nie. In ’n sekere mate verskaf die poniekoerante en gemeenskapsradiostasies nog ’n teenwig vir hierdie kommersiële oorheersing, maar hulle word ook deur probleme met befondsing en volhoubaarheid gekniehalter. Ironies genoeg het die wêreldwye reikwydte, maklike toegang en bekostigbare produksiegeleenthede wat deur nuwe media gebied word, ook gelei tot webgebaseerde publikasies soos die Daily Maverick en Groundup, wat broodnodige alternatiewe perspektiewe op nuus verskaf.

Slot
Suid-Afrika bly onder die mees ongelyke lande ter wêreld. Die maatskaplike en ekonomiese ongelykhede van apartheid het steeds ’n negatiewe impak op die gehalte van demokrasie, ook omdat hierdie demokrasie na bewering deur die media “verdiep” word.

In die eerste 20 jaar van demokrasie het die media dikwels hul vryheid aangevoer as voorvereiste vir die uitvoering van hulle werk om demokrasie te beskerm. Die vrye media word algemeen beskou as ’n noodsaaklike voorwaarde vir die verdieping van demokrasie – dit kan die moniteringsaspek behels van verantwoording deur die staat, verteenwoordiging van marginale groepe (armes, vroue en kinders), die fasiliterende rol van die versekering van lewendige dialoog in die openbare sfeer, en die samewerkende rol van die ondersteuning van die burgerlike samelewing in sy werk om burgerlike deelname aan demokratiese prosesse te verbreed (sien Christians ea 2011 vir ’n beskrywing van hierdie rolle).

Demokrasie in Suid-Afrika het die strukturele toestande verskaf om die media in staat te stel om hierdie rolle te vervul: die land het ’n lewenskragtige mediabedryf, en media geniet konstitusionele waarborge vir vryheid van uitdrukking. Onlangse ekonomiese, politieke en wetgewende verwikkelinge het egter kommer laat ontstaan oor die omstandighede waarbinne die Suid-Afrikaanse media werk. Dit sluit in kommer oor politieke druk op vryheid van uitdrukking oor die algemeen, en op die media in die besonder, byvoorbeeld die aanvaarding van ’n potensieel onderdrukkende Wetsontwerp op die Beskerming van Staatsinligting.

Die Suid-Afrikaanse medialandskap is dus steeds veranderlik, en die rolle wat die media moet speel om demokrasie te verdiep, word steeds luidkeels onderhandel. Regdeur al hierdie onderhandelinge bly die verhouding van die land se media – kommersiële, openbare én gemeenskapsmedia – met die ongelykhede in die land die kern van die stryd.

 

Bibliografie
Alexander, P. 2012. Protests and Police Statistics: Some Commentary. Amandla! http://www.amandla.org.za/general-downloads/protests-and-police-statistics (29 Mei geraadpleeg).

Bennett, T, L Grossberg en M Morris (reds). 2005. New Keywords: A Revised Vocabulary of Culture and Society. Malden, MA: Blackwell.

Botma, GJ. 2011. Going back to the crossroads: Visions of a democratic media future at the dawn of the new South Africa. Ecquid Novi: African Journalism Studies, 32(2):75–89.

Bruce, P. 2013. South Africa more “normal” than we think. Business Day. 29 April. http://www.bdlive.co.za/opinion/columnists/2013/04/29/thick-end-of-the-wedge-south-africa-more-normal-than-we-think (12 Julie 2013 geraadpleeg).

Christians, CG, TL Glasser, D McQuail, K Nordenstreng en RA White. 2011. Normative Theories of the Media: Journalism in Democratic Societies. Urbana: University of Illinois Press.

City Press, 2012. Watch-Marikana: Who shot first? http://www.citypress.co.za/news/watch-marikana-who-shot-first-20120821 (9 Julie 2013 geraadpleeg).

Crary, J. Spectacle. In Bennet ea (reds). 1989.

Curnow, R. Mandela dies, freedom dies. 2012. Times Live,27 Februarie. http://www.timeslive.co.za/opinion/columnists/2012/02/27/madiba-dies-freedom-dies (12 Julie 2012 geraadpleeg).

Dahlgren, P. 2009. Media and Political Engagement: Citizens, Communication and Democracy. Cambridge: Cambridge University Press.

De Waal, M. 2012a. Marikana: What really happened? We may never know. Daily Maverick,23 August. http://dailymaverick.co.za/article/2012-08-23-marikana-what-really-happened-we-may-never-know (7 Julie 2013 geraadpleeg).

—. 2012b. Marikana: The matter of embedded journalism. http://dailymaverick.co.za/article/2012-08-24-marikana-the-matter-of-embedded-journalism (7 Julie 2013 geraadpleeg).
Duncan, J. 2012. Marikana and the problem of pack journalism. SABC News Online. http://www.sabc.co.za/news/a/00f7e0804cfe58899b00bf76c8dbd3db/Marikana-and-the-problem-of-pack-journalism-20121007 (25 Oktober 2012 geraadpleeg).

Duncan, J en A Royeppen. 2013. Death by a thousand pinpricks – South Africa’s ever-vanishing right to protest. Daily Maverick, 8 Maart. www.dailymaverick.co.za/article/2013-03-08-death-by-a-thousand-pinpricks-south-africas-ever-vanishing-right-to-protest (10 Julie 2013 geraadpleeg).

Friedman, S. 2011. Whose freedom? South Africa’s press, middle-class bias and the threat of control. Ecquid Novi: African Journalism Studies,32(2):106–121.

Harber, A. 2013. Update on China in African media. The Harbinger Blog. http://www.theharbinger.co.za/wordpress/2013/07/08/update-on-china-in-african-media (22 Julie 2013 geraadpleeg).

Hardt, M en A Negri. 2000. Empire.Cambridge, MA: Harvard University Press.

Hook, D. 2013. For the love of Mandela. Mail & Guardian Thought Leader,4 Julie. http://www.thoughtleader.co.za/readerblog/2013/07/04/for-the-love-of-mandela (10 Julie 2013 geraadpleeg).

Jacobs, S. 1999. Tensions of a free press: South Africa after apartheid. Research paper R-22, Joan Shorenstein Center, Harvard University. http://shorensteincenter.org/wp-content/uploads/2012/03/r22_jacobs.pdf (15 Julie 2013 geraadpleeg).

—. 2013. After Nelson Mandela, what next for South Africa? The Guardian,4 Julie. http://www.guardian.co.uk/world/2013/jul/04/nelson-mandela-south-africa-anc (12 Julie 2013 geraadpleeg).

Kings, S. 2013. Seven things to do when there’s no news on Mandela. Mail & Guardian,13 Junie. http://mg.co.za/article/2013-06-13-8-things-to-do-when-theres-no-more-news-on-mandela (22 Julie 2013 geraadpleeg)

Marinovich, G. 2012. The murder fields of Marikana. The cold murder fields of Marikana. www.dailymaverick.co.za/article/2012-08-30-the-murder-fields-of-marikana-the-cold-murder-fields-of-marikana (9 Julie 2013 geraadpleeg).

Moodie, G. 2013. Mac, how hard is it to be honest and open about Mandela? Marklives, 10 Julie.http://www.marklives.com/wordpress/2013/07/mac-how-hard-is-it-to-be-honest-and-open-about-mandela (10 Julie 2013 geraadpleeg).

Msomi, S. 2013. Communications 101. Times Live, 17 April. http://www.timeslive.co.za/opinion/columnists/2013/04/17/communications-1011 (10 Julie 2013 geraadpleeg).

Nicolson, G. 2013. Mamphela Ramphele’s Agang, one week later. Daily Maverick,28 Februarie. http://www.dailymaverick.co.za/article/2013-02-28-mamphela-rampheles-agang-one-week-later/#.UeaiJ207Wys (17 Julie 2013 geraadpleeg).

Pieterse, E en M van Donk. 2013. Local government and poverty reduction. In Pillay ea (reds) 2013.

Pillay, U, G Hagg, F Nyamnjoh en J Jansen (reds). 2014. State of the Nation 2012–2013. Kaapstad: HSRC Press.

Plaut, M. 2012. Analysis. BBC News Africa. 17 Augustus. http://www.bbc.co.uk/news/world-africa-19292909 (9 Julie 2013 geraadpleeg)

SABC, 2013. Interview with Makaziwe Mandela by Vuyo Mvoko. Kyk op Youtube: http://www.youtube.com/watch?v=DnFuQYkMaXQ (22 Julie 2013 geraadpleeg)

Sapa, 2013. Gender commission: Media focus on Pistorius overlooks women abuse. Mail & Guardian,19 Februarie. http://mg.co.za/article/2013-02-19-gender-commission-media-focus-on-pistorius-ignores-gender-violence (17 Julie 2013 geraadpleeg).

Schechter, D. 2013. Nelson Mandela’s final battle: dying with dignity. AlJazeera 19 Julie. http://www.aljazeera.com/indepth/opinion/2013/07/201371711254473893.html (22 Julie 2013 geraadpleeg).

Smith, D. 2011a. Mandela house spied on by cameras as media prepares for his death. The Guardian,15 Desember. http://www.guardian.co.uk/world/2011/dec/15/mandela-house-cameras-media (10 Julie 2013 geraadpleeg).

—. 2011b. Nelson Mandela’s release from hospital calms national alarm. The Guardian,28 Januarie. http://www.guardian.co.uk/world/2011/jan/28/nelsonmandela-southafrica (10 Julie 2013 geraadpleeg).

—. 2013. Desmond Tutu: Nelson Mandela family feud “is like spitting in Mandela’s face”. The Guardian,5 Julie. http://www.guardian.co.uk/world/2013/jul/05/desmond-tutu-nelson-mandela-family-feud-mandiba (22 Julie 2013 geraadpleeg).

Sparks, C. 2011. South African media in comparative perspective. Ecquid Novi: African Journalism Studies,32(2):5–19.

Steinberg, J. 2013. How SA fell out of love with Oscar Pistorius. Mail & Guardian,27 Mei. http://mg.co.za/article/2013-05-27-how-oscar-pistorius-fell-off-track-with-sa (10 Julie 2013 geraadpleeg).

Wasserman, H. 2010a. Tabloid Journalism in South Africa: True Story!.Bloomington: Indiana University Press.

—. 2010b. Freedom’s just another word? Perspectives on media freedom and responsibility in South African and Nambia. International Communication Gazette 72(7): 567-588,

—. 2012. China in South Africa: the media’s response to a developing relationship. Chinese Journal of Communication, 5(3):336–54.

—. 2013. Journalism in a new democracy: The ethics of listening. Communicatio,39(1):67-84.

Wasserman, H en S  Jacobs. 2013. Media, Citizenship and Social Justice in South Africa. In Pillay, U, G Hagg en F Nyamnjoh (reds), State of the Nation 2011. Kaapstad: HSRC Press.

Zakaria, F. 2011. The Post-American World. Release 2.0. New York: WW Norton & Co.

Zelizer, B. 2009. The Changing Faces of Journalism: Tabloidization, Technology and Truthiness. Oxon: Routledge

Lees ook Waldimar Pelser se bydrae by die Afrikaanse Taalraad se simposium op 18 Oktober 2013: Afrikaans en die media op pad na 2020.

Also read African languages in the print media.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top