Die stad sonder ’n kerk

  • 2

Foto’s: Pixabay

Ek was nog destyds predikant in Ceres toe ek my motor vir ’n diens Stellenbosch toe gebring het. Nadat my motor klaar gediens is, word ek deur ’n motorbestuurder by die Kweekskool opgetel, waar ek heel oggend in die biblioteek deurgebring het, op soek na gedagtes vir ’n preek. Dit was November, die verjaardagmaand van ons gemeente, en ek wou hierby in ’n preek aansluit.

“Het jy darem die plek maklik gekry?” vra ek half impulsief vir hom. Ons is die enigste twee in die voertuig. Effe verontwaardig antwoord hy: “Hoe bedoel jy dan nou, Meneer? Howie het grootgeword in Stellenbosch. Ek het hier gespeel as kind. Ek ken hierdie dorp soos die palm van my hand.”

Ek vra dadelik vir hom om my op die naam te noem, maar hy skud sy kop ontkennend. Sy spontane glimlag versag darem so iets van die (oorblyfsels van die) “sondes van ons vaders” in my binneste.

Hy ry stadig en stop oral vir mense om oor die pad te stap, want Howie, so kom ek agter, is lus vir gesels. “Meneer,” gaan hy voort, “ek het nie net hier gespeel nie, maar vir meer as 20 jaar het ek aflewerings in hierdie plek gedoen. Daarom ken ek elke adres op hierdie dorp.”

Hy begin my van homself vertel. “Ek het sommer kwaai gedrink, tot op ’n dag. Ek het vir die soveelste keer in ’n vullissak vir ’n ‘botteltjie’ gesoek, toe ek ’n klein Bybeltjie daarin vind. Ek het dit uitgehaal en begin lees en my hele lewe het verander. Ek het ophou rook en drink, en later met ’n paar rand in my sak verder in die Bybel gaan studeer.”

Dit is asof Howie vir my volgende vraag gewag het. “Nou preek jy by geleentheid?” “Natuurlik Meneer,” antwoord hy. Diep in sy oë sien ek sy hart oopgaan. “Ek is juis besig om ’n preek oor kerk-wees te maak. Ek het net verlede week gevra: Ag Here, gee tog net vir my ’n clue. Net ’n paar kernwoorde asseblief.”

Hy het my ál meer gefassineer. Ek het gehou van sy manier. Kon Howie vir my iets bied oor kerk-wees wat ek die heel oggend nie in die biblioteek kon kry nie? het ek by myself gewonder.

“Nou het jy toe daardie kernnotas ontvang?” vra ek.

“Natuurlik. En baie duidelik ook. Openbaring 21.” Hy kyk op ’n manier na my kant toe wat wou vasstel of ek die gedeelte ken. Voor ek iets kon sê, vertel hy: “Dit gaan mos oor die nuwe Jerusalem, nie waar nie? Nou daais ’n wonderlike teks vir kerk-wees.”

Hy groet ’n bekende en praat gou-gou weer. Dit het vir my gevoel hy wou nie hê ek moes saampraat of te vinnig vooruit dink nie. Hý wou vertel. “Twee dinge van Johannes as hy die toekoms beskryf, praat met my, Meneer,” sê hy effe fronsend. “Die eerste is dat Johannes die hemel as ’n stad beskryf; en die tweede is dat hierdie stad glad nie ’n kerk het nie.” Nou het Howie my behoorlik nuuskierig gehad.

“Weet jy Meneer, toe die kerk in die 16de eeu hervorm het, was mense soos Luther en Calvyn ongelukkig met die kerk en die stad. Oor hoe mense geleef het. Daarom het hulle ’n sekere visie van die toekoms gehad. Ook Johannes het probleme met die stad gehad. Net soos ons.

“En ons moenie dink dat die nuwe Jerusalem net so gaan lyk soos Johannes dit beskryf nie. Dis mos soos hulle sê, beeldspraak,” glimlag hy. “Johannes kon net sowel gesê het hy sien die nuwe Kaapstad, of die nuwe Johannesburg, of selfs die nuwe Kaapse Vlakte uit die hemel neerdaal,” vertel hy ernstig. “En onthou nou, stede is gevaarlike plekke. Dis die plekke van dwelmsmouse, reeksmoordenaars en verkragters. Dis die plek van die moeg-gewerktes, straatkinders, fabriekrook en afvalwater. Ek sou eerder aan die hemel dink as ’n mooi tuin of eksotiese eiland. Maar Johannes, nee, hy sien die hemel as ’n stad, en boonop ’n stad sonder ’n kerk.” Howie het teen hierdie tyd my volle aandag gehad.

Terwyl ons indraai by die garage besef Howie hy moet sy punt nou vinnig en duidelik stel. “Verstaan jy die boodskap, Meneer? Ons moet ook ’n visie van die stad hê – en dit dan waar gaan maak. Nóú, in hierdie lewe!”

Hy skakel die motor af en draai na my. “Dis soms gevaarlik vir ’n stad om ’n kerk te hê,” vertel hy. Mense dink geloof is iets wat jy by die kerk kom doen, maar hulle vergeet die stad ís die kerk. Die stadsaal is die konsistorie. Die radio- en TV-mas is eintlik die kerktoring. Die erediensruimte is elke huis, elke straat, elke kantoor, elke fabriek, elke winkel. Die kerk verskyn in die lawaai van masjinerie en in die geskree van ’n pasgebore baba. Dis gelowiges se taak om stede te bou!”

Toe ek groet en uitklim, druk hy vinnig ’n verkreukelde groen papiertjie in my hand. “Meneer, sê my, is jy dalk ’n predikant?” Ek sien die duiweltjies in sy oë speel. “Gee my jou adres dan pos ek sommer oor die naweek die uitgeskryfde preek vir jou net om seker te maak jy het die storie.”

Terwyl ek daar wegry, het Howie se opregtheid, eenvoud en onbevangenheid ’n groot stuk innerlike vrede in my gemoed laat kom lê. Ek het opnuut besef dat dit die Howies is wat ’n verskil in hierdie wêreld maak. Soos hy self vroeër gesê het: “As elke werkswinkel maar net ’n werker sal hê soos Hy wat 2 000 jaar gelede in daardie skrynwerkerswinkel gewerk het, sal arbeidsprobleme baie minder wees. As elke straat maar ’n huis gehad soos Maria se huis in Betanië, sal die huislike lewe van die stad verander.”

Nou ja, ’n paar dae later lê die brief in my posbus. Ek maak dit haastig oop. “Beste Chris!” Met ’n uitroepteken. “Daar is ’n stad besig om uit die ‘hemel’ neer te daal. En elkeen van ons bou aan hierdie stad, of vertraag sy koms. Partykeer slaan ons dit selfs plat, en dan moet ons weer van voor af bou. Soms gaan die mure maar stadig op. Tog verrys die stad stukkie vir stukkie.

“As jy vandag ’n stad moet bou, of herbou, doen dit sonder ’n kerk. En laat jou eerste ‘preek’ wees: Die stad sonder ’n kerk. Vra dan vir die mense – sommer daar op die stadsaal se stoep – om uit te gaan en die stad mooi te gaan maak. Om só te leef dat die goddelike sal afgee aan elkeen wat julle teëkom.”

Daar is soveel indrukwekkende kerkgeboue in ons land en dwarsoor die wêreld – waarvan ek baie hou. En ek het al uitstekende preke in die kerk gehoor. Maar die laaste paar weke het ek baie teruggedink aan Howie se gedagtes van so 25 jaar gelede.

  • 2

Kommentaar

  • Ons het meer Howies nodig!! Mense wat stede bou en nie kerkgeboue nie. Kerkgeboue het ontaard in soutpotte: Elke korreljie veilig in die potjie met die roepstem: Kom tog hierheen. Dan is jy veilig beskut teen die sondige stad. Dankie, Chris. Jy het my weer diep laat dink. Ek wil ook maar so graag 'n geboutjie-mens, 'n potjie-mens wees. Dit is soveel veiliger as die onsekere stad ... GOD se stad.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top