"Die Stad, die Stad" deur Ollie Olwagen

  • 0

Die Stad, die Stad

Die somerson se skilderkwas
word in die damp verwaai
Die krete van die hadidas
trompetter oor die baai
En uit die roesemoes van rook
verrys die grys beton
Die grou gedaante van 'n spook
wat worstel teen die son
Die grou gedaante van ’n spook
wat worstel teen die son

REFREIN:
Die stad, die stad
die gees is plat
Die joligheid hou aan
Solank jou lyf dit net kan vat
en jy nog regop staan

Die stad met duisend dreunings dreun
en boor reg deur jou siel
Hoor net die krysings en gekreun
van rat teen rat en wiel
En uit die roesemoes van kraak
en barste in beton
verrys die skimbeeld van 'n draak
wat wraak skree teen die son
Die grou gedaante van ’n draak
wat vuur spoeg teen die son

REFREIN

Maar in die welwing van die wind
wat deur die rookmis dring
is daar die wekroep van 'n kind
wat steeds van vrede sing
En in die bries verdwyn die waas
en wink die somerson
En skielik is daar geen geraas
en goud in die beton
En skielik is daar geen geraas
en goud in die beton

Ja, skielik is daar geen geraas
en goud in die beton

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top