Die spreekwoordelike klipgooi

  • 3

Ek verwys na die opspraakwekkende ontdekking van die aardgrote exoplaneet — wat voorlopig  informeel  Alpha Centauri Bb heet — en wat wentel om die nabygeleë ster Alpha Centauri B (4.3 ligjaar vanaf son). Alpha Centauri Bb is ’n skamele 6.4 milj km vanaf sy moederster geleë en voltooi ’n omwenteling in slegs 3.2 dae.

Wat egter die lagspiere effens geprikkel het,  is die aankondiging deur RSG van die ontdekking op  ‘klipgooi afstand’. Hier is nou ’n uitstekende voorbeeld van hoe relatiwiteit mense onder verkeerde indrukke kan bring. Indien die saak in perspektief gesien wil word, moet die volgende ingedagte gehou word:

Lig beweeg teen 300 000 km/sek. (Dus, 7½ keer in 1 sekonde om die aarde.) Dit sal vir ’n ligstraal nietemin 4.3 jaar neem on Alpha Centauri Bb te bereik.Indien ons ’n ruimtetuig kan ontwikkel wat net duisend keer stadiger is as die spoed van lig, dws 300km/sek,  sal dit vanselfsprekend ook duisend keer langer neem om dieselfde afstand af te lê. So ’n ruimtetuig sal dus 4 300jr neem om Alpha Centauri Bb te bereik. Maar ’n ruimtetuig wat teen 300km/sek kan beweeg is tans ver bo ons vermoë. Trouens ons kom nog nie eers naby 30 km/sek nie — wat die reistyd sal opstoot tot 43 000jr.  Hoe’s daai vir ’n klipgooi ver?

Groete

Panda

  • 3

Kommentaar

  • Dit is maklik om uit te werk dat Alpha Centauri 40 681 440 000 000 000 meter van ons af is. As ons nou argumentsonthalwe sou aanvaar dat die gemiddelde mens ’n klip sowat 50 meter ver kan gooi, dan is Alpha Centauri 813 628 800 000 000 klipgooie van ons af. As jy elke sekonde ’n klip gooi sal dit jou 25 800 000 jaar neem om klippe te gooi van hier tot daar.

    Nietemin, RSG is in ’n sekere sin tog reg: kosmiese afstande is so reusagtig dat Alpha Centauri vergeleke daarmee inderdaad net ’n klipgooi van ons af is.

  • Chris Dippenaar

    Hello Panda

    "Warp speed ... Engage".

    Ons het almal seker te veel Star Trek gekyk toe ons jonger was.

    Chris

  • Hallo Brianvds,

    Natuurlik is jy reg dat RSG met die 'klipgooi' vergelyking, in kosmiese terme gemeet, eintlik reg is. Maar my breinkrag is net eenvoudig te min om die aantal klipgooie in jou berekening sinvol te verwerk, As jy egter volgens jou berekening meer as 25 milj. jaar nodig gaan hê om dié takie af te handel en in aanmerking neem dat suigelinge, jongetjies en ou omies nie so ver kan gooi nie en dat ’n generasie sê maar 25 jaar duur,  lyk dit vir my of ons meer as ’n miljoen geslagte nodig gaan hê om die sakie af te handel.

    Groete

    Panda

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top