
Foto: Canva
Die spoorsnyer
Boesnot het by sy pagoed geleer spoorsny. Hy het in die Kalahari grootgeword.
Hannes Ferreira boer in die Noordweste met skape. Hy het die opgeskote Khoi, Boesnot, in diens geneem. Hy het vir Hannes gewys hoe goed hy kan spoorsny. Hy het nog nie vrou gevat nie en het naby die skaapkraal alleen in ’n kliphuisie gewoon. Hannes het hom aangestel om skape op te pas en spoor te sny. Goeie spoorsnyers was skaars. Rooijakkalse en rooikatte het gemaai onder die lammers, veral snags. Boesnot het elke aand die kudde skape kraal toe gejaag, waar hulle redelik veilig teen die ongediertes geslaap het. Nogtans het die roofdiere veral lammers doodgebyt en opgevreet. Wanneer dit gebeur, het Boesnot na die ongediertes gaan soek. Sy vaardigheid as spoorsnyer het hom telkens die skaapvreters laat opspoor. Boesnot het die pestilensies van kant gemaak. Vir elke vel van ’n rooijakkals en rooikat wat hy doodgemaak en afgeslag het, het Hannes hom vyftig rand gegee.
Ook kon die spoorsnyer gekweste wildsbokke se spore volg. As hulle gelê het, het hy hulle keelaf gesny. So nie, het Hannes met sy bakkie gegaan en die kwesbokke doodgeskiet. Hannes het die dooie bokke gaan oplaai. G’n mens kan ’n dooie bok so ver van die huis af dra nie.
Hannes se broer, Piet, ’n stadsjapie, heelwat jonger as hy, het vir Hannes op sy plaas gaan kuier. Die broers het land en sand gesels en koffie op die stoep van die opstal gedrink. Hannes het Boesnot se lof as spoorsnyer besing.
“Ek glo jou nie, Hannes. Bewys vir my hoe goed hy rêrig is.”
“Nou maar goed, ons sal môreoggend sien.”
Na Boesnot die koeie gemelk het, roep Hannes hom.
“Meneer Piet is my broer. Hy glo my nie jy is so ’n goeie spoorsnyer nie. Klim agterop die bakkie, sodat ons hom kan wys.”
“Reg, my kroon,” sê Boesnot. “Dag, my kroon Piet.” Hy klim op.
Hannes hou voor ’n oop hek stil. Hulle klim uit. Boesnot spring af.
“Boesnot, ek sien hier’s spore wat deur die hek gaan. Kyk wie en wat is deur die hek en dan kom vertel jy vir ons wat jy gesien het.”
Die broers slaan hulle kampstoele oop. Sit in die heerlike oggendson. Hannes haal ’n termosfles en twee blikbekers uit die bakkie. Karringmelkbeskuit ook. Hulle geniet die warm koffie en beskuit en gesels terwyl hulle vir Boesnot wag.
Ongeveer ’n halfuur gaan verby. “Doer vêr sien ek Boesnot aangedraf kom. Nou gaan jy sien, jou ongelowige Thomas,” spot Hannes.
“Boesnot, kry eers ’n bietjie koffie. Dan kan jy vertel.”
Na hy beskuit geëet en sy koffie afgesluk het, begin hy vertel.
“Seurs, hier by ons verby was omtrent ’n uur gelede ’n ryk oubaas op ’n vosperdmerrie wat blind is in haar linkeroog. En saam met hulle was ’n stompsterthond.”
Piet lag. “Moenie jy hier staan en lieg nie. Laat ons hoor.”
Hannes vra: “Hoe kan jy sê die man is ryk?”
“Kyk hier, die hoefysters van die perd is nog nuut. Ek herken nie hierdie soort nie. Sulke nuwe ysters het ek nog nie gesien nie.”
“Goed, maar hoe kan jy sê dis ’n vosperd?”
Boesnot wink die seurs nader. Hy gaan vroetel aan die bossies teen die kant van die tweespoorpaadjie. “Kyk, hier in my hand is die merrie se hare, pure vosperd.”
“Dit lyk goed, my ou, maar blind in die linkeroog? Nee, jy vat ’n kans,” merk Piet spottend op.
“Kyk hierso, die voshare is almal teen die bossies aan die linkerkant van die pad. Dis hoekom ek sê die merrie is blind in die linkeroog. Sy loop al links.” Piet se mond val oop.
Die broers loop agter Boesnot aan en sien hom buk.
“Sien die menere waar die perd se agterpote gestaan het?”
“Jou wragtie, ja,” sê Piet. Hy moet teenoor homself erken dat hy vir Boesnot heeltemal onderskat het.
“Nou wil ek weet,” vra Piet, “’n stompsterthond?”
“My kroon, kom kyk hierso. Hier is die spore van die hond se agterpote langes mekaar. Net agter die hond se spore is ’n gaatjie in die grond. Sien, my kroon? Die gaatjie is gemaak deur die hond se stomp stert.”
“Dis ’n merrie. Kyk die nat kol tussen haar agterpote.”
“Jy’s reg, Boesnot.” Piet skud sy kop in ongeloof.
“Nou maar, hoe dan dat dit ’n oubaas is?”
“Die oubaas se skoene se spore is hier langes mekaar. En tussen die spore is ’n nat kol.”

