Die spook van Willempie Jooste

  • 2

Foto: Canva

Die spook van Willempie Jooste

Oom Gerhardus tuur ingedagte in die verte by die venster uit, terwyl hy aan sy pyp suig. Hy bly ’n hele rukkie stil voordat hy praat.

“Willempie Jooste,” sy stem is sag, amper afgetrokke. “Julle krap nou ou sere oop. Wat wil julle weet?”

Gertjie skuif na die punt van sy stoel. “Is dit waar dat sy spook vandag nog steeds daar in die kasteel ronddwaal, Oupa?”

Oom Gerhardus frons. “Waar kom jy daaraan?”

“Hulle sê jy kan hom vandag nog soms in die nagte daar in die toring hoor huil. En baie mense sê hulle het hom al in die nag van buite voor die venster in die toring sien staan.”

Oom Gerhardus dink ’n paar oomblikke na terwyl hy ingedagte na die drie tienerseuns voor hom staar. “Ek sal nie kan sê of die stories waar is of nie. Maar ek kan vir julle vertel van Willempie Jooste. Ek was daar, die nag toe hy ... ek was daar.”

Die drie seuns sit regop. Hier kom ’n storie wat die moeite werd is om te hoor.

“Vertel, Oupa, asseblief,” sê Gertjie.

“Willempie was ... hoe sal ek sê?” begin oom Gerhardus. ”Willempie was anders. Vandag sal daar seker ’n naam daarvoor wees. Een of ander sindroom, dalk outisme of iets. Maar daardie jare het mense nie geweet van goed soos sindrome en outisme nie. Ons het net geweet hy was anders ... Spesiaal. Tant Kobie het altyd gesê hy is haar hemelkind. Nie bedoel vir hierdie wêreld nie. Maar vir ons was daar niks hemels aan Willempie nie. Hy was net anders. Ongeskik, het ons gedink. Hy het ’n manier gehad om jou te ignoreer asof jy nie eens bestaan nie. Behalwe wanneer hy lus was om hom te verwerdig om met jou te praat. Die meeste van die tyd was dit asof hy in sy eie klein wêreldjie geleef het.”

Oom Gerhardus bly weer stil en suig ingedagte aan sy pyp.

“Wat het daardie aand gebeur, Oupa?” por Gertjie hom aan. “Hoe oud was Willempie toe?”

“Ons was daardie aand nege kinders bymekaar,” vervat Oom Gerhardus na ’n tydjie. “Dit was ek met my sussie en twee boeties, die res was almal neefs en niggies. Behalwe Willempie. Hy was nie bloedfamilie nie. Maar hy was altyd daar tussen ons. Hy was maar elf jaar oud. Ek was twaalf. Die grootmense het ’n byeenkoms in die dorp bygewoon en ons kinders moes tuisbly en mekaar vermaak ...”

***

Dit is die jaar 1924. Die massiewe Maritz-kasteel lyk tegelyk imposant en onheilspellend in die donker. Die wind loei en boomblare gooi skaduwees. In die woonvertrek van die kasteel sit nege kinders met ouderdomme wat wissel tussen nege en dertien jaar in ’n kring op die vloer. In die lig van ’n paar kerse is hulle besig om mekaar met spookstories bang te praat.

“Ek sweer,” Nelus is die oudste in die groep. “Dis die heilige waarheid. My pa het hom self met sy eie twee oë gesien. Die afkop man op sy perd met bloed wat by sy nek uitspuit terwyl hy sy kop onder sy arm vashou.”

Gerhardus ken sy neef goed genoeg om te weet dat hy besig is om spek te skiet. Maar hy besluit om niks te sê nie. Die ander kinders skuif nader aan mekaar. Een is bleek. Hy lig sy hand om te hoes en sy grinnik weg te steek.

Anna se oë rek. “Ag, dis sommer nonsens, hy wil julle net bang maak. Daar bestaan nie sulke goed soos spoke nie.”

Gerhardus ril en glimlag. “Natuurlik bestaan hulle. Hier, in hierdie einste huis, is daar ook spoke wat rondloop.”

Anna frons. “Watse spoke nogal?”

Gerhardus rek sy oë en wys met sy vinger na bo. “Daar bo in die toring. Party nagte kan jy hulle hoor lag in die donker.”

“Het jy hulle al self gehoor?” Anna staar na hom.

Hy knik. “Natuurlik. Baie kere.”

“Jislaaik,” die elfjarige Petrus, Gerhardus se ander nefie, sit kiertsregop. “Hoe voel dit om in so groot huis te bly? Is julle nie bang nie?”

Gerhardus se broer Bennie stoot sy bors ’n fraksie vorentoe. “Nee wat, hier is niks om voor bang te wees nie.”

“Behalwe spoke,” kap Gerhardus terug. Hy geniet die uitdrukkings op die ander se gesigte. Bennie moenie nou alles kom staan en bederf nie.

“Dis ’n lieg!” Almal se koppe ruk in die rigting waar Willempie steeds kop onderstebo met sy vingers sit en speel. Dis vreemd om hom te hoor deelneem aan ’n gesprek. Tot nou toe was daar geen aanduiding dat hy enigsins die gesprek gevolg het nie.

Gerhardus is dadelik op sy perdjie. “Ek lieg nie! Wil jy wed?”

Willempie kyk steeds af na sy hande. “Ek glo jou nie.” Sy stem klink sag, effens onseker.

Gerhardus is nie heeltemal seker hoe om die situasie te hanteer nie. As dit enige van die ander was, sou dit ’n ander saak wees. Maar Willempie ...? Hy weet almal kyk na hom om te sien hoe hy gaan reageer. Almal van hulle is ewe ongemaklik om met Willempie te kommunikeer. Die man kan ’n mens mos nie in die oë kyk nie. Dis te sê as hy hom nog verwerdig om met jou te praat. Gewoonlik sit hy net daar eenkant in sy hoekie, terwyl niemand hulle aan hom steur nie.

Hy besluit om vir Willempie uit te daag. “Sê jy ek lieg?”

Willempie kyk steeds na onder. “Daar issie goed soos spoke nie.” Dit klink meer na ’n verklaring as ’n antwoord.

Gerhardus besef dat hy op die punt is om die argument te verloor. Daar is iets aan Willempie se manier van praat wat ’n mens erg ongemaklik maak. ’n Soort gesag waarmee ’n mens nie kan stry nie. En hy weet almal wag angstig om te hoor hoe hy op Willempie se aantyging gaan reageer. Hy kan nie nou terugstaan nie, sy eer is op die spel: “Ek wed jou daar ís ’n spook in die toring.”

Willempie aarsel nie ’n oomblik nie. “Ek sal wed.”

Die vinnige reaksie neem die wind opnuut uit Gerhardus se seile, maar hy is onmiddellik gereed om sy troefkaart te speel. “Nou toe, wys vir ons jy is nie bang nie. Gaan haal vir my ’n blikkie kos uit die doodskis in die toring en bring dit hier. As jy nie ’n spook teëkom nie, sal ek jou glo.”

“Watse doodskis?” Anna se stem bewe liggies. “Is daar regtig ’n doodskis in die toring?”

“Ja, dis ’n tweedehandse kis. My pa het dit vir ’n goeie prys gekoop.” Gerhardus knik. “Hy sê mens weet nooit wanneer jy so iets sal nodig kry nie. Doodskiste is baie duur ... Maar my ma het ’n klomp blikkieskos daarin gebêre, want sy weet niemand sal dit daar gaan uithaal nie. Almal is te bang.”

Anna is nie tevrede nie. “Hoe kan dit ’n tweedehandse kis wees? Waar is die lyk wat daarin was dan?”

Dis waar, dink Gerhardus. Hy het nog nooit só daaraan gedink nie. Hy wens Anna wil ophou met al haar vrae ... Netnou dink die ander hy is besig om spek te skiet.

“Hoe moet ek weet? Ek sê net wat my pa vertel het.”

Soos gewoonlik het Anna weer ’n antwoord gereed. “Dis sweerlik die een wat daar spook se kis. Hy soek seker sy kis terug.”

“O, nóú glo jy skielik aan spoke.” Haar boetie Nelus se stem drup van sarkasme. “Netnou het jy gesê ek lieg.”

“Is nie! Ek het gesê jy jok oor die afkopman op sy perd!” kap sy terug.

***

Maar Nelus laat nie los nie. “O nee, jy het gesê daar bestaan nie sulke goed soos spoke nie.”

Willempie sê deurentyd niks nie. Hy sit net roerloos koponderstebo met sy vingers en speel. Gerhardus geniet sy stilswye. Dit beteken dat hy wat Gerhardus is, die argument gewen het. Hy het gewéét Willempie sou nie alleen die drie verdiepings na die toring opstap nie. Nie in die donker nie en nog minder in ’n nag soos hierdie.

“Ek sê julle, dit spook daar in die toring. Is daar nog iemand wat met my wil stry?” Hy loer onderlangs na die ander om te sien wat hulle reaksie is. Niemand sê ’n woord nie.

“Nou ja, moenie weer sê Gerhardus lieg nie.”

“Ek sal gaan!” Soos die vorige keer vang Willempie se onverwagse hertoetrede tot die gesprek almal onkant. Hy sit steeds in dieselfde posisie met sy kop onderstebo, maar sy bolyf wieg liggies vorentoe en agtertoe.

Vir ’n paar oomblikke is daar ’n doodse stilte in die vertrek. Dit neem ’n rukkie voordat Gerhardus die volle implikasie van sy woorde snap. Hoe reageer ’n mens nou daarop? Dit was nooit sy bedoeling om regtig vir Willempie alleen na die toring te stuur nie. Maar as hy nou terugstaan, gaan hy die verloorder in hierdie stryd wees.

Hy huiwer net ’n oomblik. “Nou toe, doen dit dan. Vat een van die kerse en gaan haal vir my ’n blikkie.”

Sonder ’n verdere woord staan Willempie van die vloer af op. Hy tel een van die kerse op die vloer op en verdwyn by die vertrek uit. Niemand waag dit om ’n woord te sê nie. Almal is skynbaar ewe geskok oor wat voor hulle afgespeel het. Willempie Jooste van alle mense! Wie sou dink dat hý so dapper sou wees?

“Heng, ouens, ek hoop hy gaan oukei wees,” verwoord Petrus almal se gedagtes.

“Ja wat,” dit klink meer of Gerhardus homself probeer oortuig. “Daar is niks om voor bang te wees nie. Hy sal nou-nou terug wees, julle sal sien.”

***

Oom Gerhardus bly lank stil. Die drie seuns sit aandagtig na hom en kyk terwyl hulle wag dat hy die res van die storie moet vertel. Na ’n tyd sit hy sy pyp op die koffietafeltjie langs hom neer en kyk dan na die seuns voor hom. Daar is ’n nattigheid in sy oë.

Hy sug. “Helaas, Willempie het nie weer teruggekeer nie. Ons het almal doodverskrik daar gesit en wag. Namate die tyd verloop het, het ons begin besef dat iets fout moes wees, maar nie een van ons was braaf genoeg om te gaan kyk wat van hom geword het nie. Toe die grootmense laatnag terugkeer, het my pa en Oom Joggie saam die trappe opgeklim na die toring om te gaan kyk wat van Willempie geword het. Hulle het lank weggebly. Toe hulle terugkom, het my pa vir Willempie in sy arms gedra. Tant Kobie was histeries. Ons het eers nie almal mooi besef wat aangaan nie. Maar Willempie sou nooit weer praat nie. Ons het hom in daardie einste doodskis in die familiebegraafplaas begrawe, al was hy nie bloedfamilie nie.”

“Maar hoe, Oupa?” Gertjie se nuuskierigheid kry die oorhand. “Wat het gebeur?”

“My pa het later vir ons die storie vertel,” vervat Oom Gerhardus. “Willempie het die deksel van die doodskis oopgemaak en ’n blikkie daaruit gehaal. Maar toe hy omdraai om terug te keer na die woonkamer, het iets hom aan sy jas beetgekry en hom teruggeruk. En van die skrik het sy hart eenvoudig gaan staan. Hy moes baie bang gewees het. My pa-hulle het hom daar op die vloer gekry met die blikkie kos in sy hand en die punt van sy jas steeds onder die deksel van die kis vasgeklem.”

Oom Gerhardus bly weer lank stil. Die seuns kan aanvoel dat hulle liefs ook nie iets moet sê nie. Wanneer hy weer praat, is daar ’n gelatenheid in sy stem. “Dis ironies ... Die spook waarvoor hy bang was, het nie bestaan nie. Maar uiteindelik het sy vrees vir iets wat nie bestaan nie, veroorsaak dat hy self daardie spook geword het.”

“Dink Oupa dan hy spook nog steeds daar?” por Gertjie hom aan.

Dit lyk nie asof Oom Gerhardus die vraag gehoor het nie. “In die jare daarna het ek hom dikwels in die nagte gehoor huil daar in die toring. ’n Aanhoudende, deurdringende gekerm wat ’n mens laat voel asof jy gaan mal word daarvan. Ek kon nooit vasstel of dit Willempie se spook is wat nie tot rus kan kom, of my gewete wat aan my vreet nie.”

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top