Die spieëlkas, verslag twee deur Eben Venter

  • 0

Die verhaal gryp die leser aan: Dit kom uit die hart. Die “karakter” van die spieëlkas wat reg aan die begin binnekom en dwarsdeur sentraal staan, dra tot die bekoring én ontroering by. Dit is via die einste spieëlkas dat die verhaal geleidelik en via terugvoerende vertellinge ontvou. Aan die einde word die tot nog toe versweë skande onthul, met die gebreekte spieël van die spieëlkas as getuie.

Venetia en Simoné tree nou vanaf die eerste sin binne, en dis duidelik wie die verteller is. Die strukturering van paragrawe laat die verhaal ook vlotter lees. Die vertelling is kragtiger as in die eerste weergawe. Verdere krag word aan die verhaal verleen deur die kort sinne en die gebruik van intieme en oorspronklike woorde en uitdrukkings:

Pappe; Mamme; stulpings; ge-in en ge-uit; gier; bak bene soos ’n voël wat se lyf te swaar was om te dra; deurmeketaar; die kan loop leeg; hy's ’n kont, hy; uitgedors. Hierdie woorde en uitdrukkings werk oortuigend en getuig van ’n geleefde en beleefde ervaring.

Tot vervelens vir die skrywer, hier en elders, gaan ek in byna elke verslag voorstel dat die verhaal verdig moet word. Saulse maak haar wel minder skuldig aan óórskrywe, maar plek-plek kan sy tog verdig of gewoon weglaat. Dit is ’n kuns en vaardigheid om aan te leer: hoe om elke sin stip te lees en jouself dan af te vra, het ek al dié ding gesê of geïmpliseer, en is dit nodig om dieselfde ding nog eens te noem, al is dit dan op ’n ander manier?

Ek noem een voorbeeld.

Die skrywer se weergawe:

“Julle mense met julle stories,” sê Pappe. Hy gaan sit; vryf oor sy kop soos altyd as ’n ding pla. “Wat myne is, is myne. Julle was nie by nie. Niemand het gesien nie, maar julle praat julle stories nog al die tyd.”

My voorstel:

"Julle mense met julle stories," sê Pappe. Hy vryf sy kop. "Wat myne is, is myne. Julle was nie by nie. Julle praat julle stories nog altyd."

Die slot.

Ek sou ongetwyfeld die volgende sin vroeër by die verhaal inskryf – dis te veel inligting hier reg aan die einde wanneer die skrywer ten alle koste die dramatiese sfeer moet behou:

Soms, as mevrou Claire weg was dorp toe, het Simon haar sommer in sy       huweliksbed beetgekry. Wat sy agterna weer moes opmaak.

Ek stel voor die skrywer sluit af met slegs:

Mamme maak haar oë toe. “Loop nou, julle. Ek. Wil. Rus.”

 ***

Bernice Saulse het ’n meesleurende verhaal vertel, en soos ek in my eerste verslag genoem het: Dis ’n aanklag teen daardie onding van ’n era.

Lees ook:

LitNet-slypskool Om te skryf: Die tweede weergawe van ons deelnemers se verhale

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top