
Om te skryf 8–21:
Soms is ’n skrywer wat “ek” as verteller gebruik, besig om ’n persona te skep – ’n masker waaragter hy praat, maar wat nie identies aan hom is nie.
Ironie kan verwoestende kritiek lewer.
Morele verontwaardiging kan versterk word juis deur onderdruk te word.
Bostaande verwys na indrukke uit Jonathan Swift se A modest proposal, waar die skrywer juis op ’n satiriese wyse sy indrukke lewer van die kinders van arm mense in Ierland. Hoewel dit in wese verskil van die verhaal in die kompetisie, is daar die ooreenkoms dat ’n morele kwessie in beide hierdie skryfstukke uitgelig word.
Daar is ’n aansienlike verbetering in die verhaal, wat verder versterk word deurdat daar ’n eerstepersoonsverteller aan bod kom.
Die gesprek tussen Adam, Patrys en Jaco kom egter steeds nie tot sy volle reg nie. My voorstel sou hier wees dat Jaco en Patrys iets vermoed wat Adam reeds weet, maar weier om te erken; laat hulle hom konfronteer met sy ruggraatloosheid dat hy ’n ander man se kinders grootmaak. So plant die skrywer ook ’n saadjie van twyfel by die verteller sowel as die leser. Soos dit tans is, dra die gesprek oor drank nie by tot die verhaallyn nie. Wil Adam dalk die wete van sy kinders se vaderskap stil sus deur te drink?
Die skrywer kan hierdie gegewe verder ontwikkel deurdat Salome die gesprek tussen Adam en sy vriende hoor, die saak self uitredeneer en dan dalk tot die besluit kom dat hulle verkeerd is, dat Adam wel haar pa is. Op hierdie wyse sal haar verontwaardiging wanneer die eintlike erfporsie bekend gemaak word, groter wees.
Daar is ’n soort ironie rondom die feit dat mevrou Claire die spieёlkas se eienaarskap aan Liesbet toegelaat het. Die item dien as ’n simbool van die “verhouding” tussen Liesbet en haar man, maar hierdie element kan steeds verder uitgebou word.
Daar is inligting in die storie wat nie tot sy volle reg kom nie. Meneer Simon se koperpand aan Liesbet se vinger is so ’n gegewe. Sou dit geen agterdog gewek het nie?
Die kinders wat met Simoné en Venetia spot dat hulle dagspoke is, is nog so ’n stukkie inligting wat verlore gaan.
Simoné reken hulle lyk soos Adam se familie, maar ken nie sy familie nie. My voorstel is dat die skrywer elke karakter en elke stuk dialoog baie deeglik herbedink. Hoe dra dit by tot die gevoel van identiteit, behoort en erfenis van die twee dogters?
Die heel laaste paragraaf voel oorbodig na Liesbet se onthulling; dit sou meer gepas wees vroeër in die verhaal, dalk net nadat Liesbet noem dat Simoné reeds verwek is toe sy en Adam getrou het. Of dalk selfs nog vroeër in die verhaal. Dalk kon Liesbet iets oor meneer Simon, heeltemal buite verband, genoem het toe die dogters kom kla oor die kinders wat hulle spot?
Die feit dat Simoné se naam van Simon s’n afgelei is, word ook glad nie na verwys in die verhaal nie. Let ook weer op Simoné se reaksie na die tyd: “My woorde was weg” – in die verlede tyd terwyl die storie in die teenwoordige tyd afspeel.
Wat wil die skrywer bereik met die verhaal? Twee susters wie se totale lewe op ’n leuen gebou is, moet hier nuus verwerk. Maar eers moet hulle vergewe, aanvaar, berus. Nuut begin.
Baie voorspoed met die herskryf van die verhaal.
Lees ook:
LitNet-slypskool Om te skryf: Die tweede weergawe van ons deelnemers se verhale

