Die spieëlkas, verslag een deur Anzil Kulsen

  • 0

Die verhaal vertel van huweliksontrou en kinders wat deur haar werkgewer, meneer Simon Venter, by Lisbet verwek is.

Die storie begin in die verlede tyd met die gestoei om die oorgroot meubelstuk na sy nuwe staanplek in Lisbet se plaashuis te bring. Die meubelstuk is die spilpunt waarom die storie draai, ’n soort simbool vir Lisbet, ’n tasbare bewys van haar kinders se herkoms.

Paragrawe wissel mekaar af tussen die verlede en die hede, maar hierdie afwisseling tussen die verlede en die hede moet ook heroorweeg word – soms blyk dit effektief te wees, asof die skrywer dit so beplan het.

Om te skryf, 4-15: “Goeie beskrywings (beeldspraak) spreek tot jou oë en ore, maar ook tot jou ander sintuie soos jou neus, tassin en smaak. Die indrukke wat ’n skrywer wil oordra, hoef nie direk gestel te word nie (eintlik is dit beter as dit nie gedoen word nie), maar hy moet fyn kies watter beskrywende besonderhede hy met die leser wil deel.”

Ek sou voorstel dat die skrywer besluit wie se perspektief die belangrikste vir die leser gaan wees. Watter karakter in die verhaal sou weet dat Lisbet se hare meestal onder ’n kopdoek weggesteek was en dat sy dit Saterdae gewas en los laat hang het? Is Lisbet die verteller? Is Adam die verteller? Is dit ’n alomteenwoordige verteller?

Wat is die verwantskap tussen Jaco, Patrys en Adam? Soms blyk dit of Adam se perspektief aan die leser voorgehou word, maar die leser kry ook nie ’n duidelike idee van wat Adam se verwantskap aan Lisbet is nie. Is hulle getroud, bly hulle saam? Het Adam ook op die plaas by meneer Simon gewerk? Eers heelwat later lees ons dat Adam Lisbet “gevat” het, nadat Simoné reeds “geplant” is.

Die skrywer kry dit vanaf die begin goed reg om die sintuie van die leser in te span deur beskrywings soos die “stofwolkies wat blom”, “bakbene soos ’n voël se lyf wat te swaar is”, “die kamer ruik na sterk salf en siekte”.

Die hoofkarakter, Lisbet, se storie kom egter nie tot sy volle reg nie. Selfs Simoné en Venetia, wat op hul ma se sterfbed uitvind dat hulle die kinders van hul ma se werkgewer is, word as minder prominent in die storie uitgebeeld. Hul innerlike konflik, asook dié van Adam, word nie in die storie uitgebeeld nie. Die gebrek aan die twee dogters se reaksie aan die einde van die storie is ’n belangrike gegewe wat in die lug hang. Dis tog hul hele lewe, hul hele bestaan, wat ’n leuen was. Selfs ’n skerp asemteug, ’n snik, enige reaksie sou die leser meer empaties teenoor hulle stem.

Karakterisering en al die karakters se verwantskap aan mekaar en bydrae tot die verhaal kan vir seker aandag geniet. Dis onduidelik of Adam bewus was van die seksuele misbruik van Lisbet deur Simon. Ons lees dat Adam ’n man was wat nie vrae gevra het nie, tog leer ken die leser hom aan die begin as iemand wat heel spraaksaam is toe die spieëlkas sy staanplek moes kry.

Wat was die dogters se oortuiging oor wie hul pa is?

Die skrywer maak van heelwat dialoog gebruik, maar dis onduidelik of die dialoog, veral die gedeelte oor hul drinkery by Adam, werklik bydra tot die storie. Indien Jaco en Patrys vermoed dat Simoné en Venetia nie Adam se kinders is nie, en Adam self twyfel en drank gebruik om hierdie onsekerheid uit te doof, is die gesprek tussen hulle wanneer hulle oor drank stry, ’n goeie plek om dit uit te beeld. Ons kry geen idee van Adam se vermoede oor sy vaderskap nie.

Die skrywer laat ook na om die twee dogters se voorkoms te beskryf. Selfs enkele aanduidings wat die leser laat raai, ’n paar elemente wat afwagting en spanning kan skep. Het hulle dalk eienskappe van Adam, maar hul voorkoms word bevraagteken?

Tydens die gesprek tussen Simoné en Venetia is daar ’n gulde geleentheid om hul voorkoms en meer handeling te laat plaasvind.  Die leser kom nooit agter of die dogters oor enige eienskappe van meneer Simon beskik nie – lyk hulle soos Lisbet of soos hul biologiese pa? Hoekom het hulle nooit self die kloutjie by die oor gebring nie? Hoe lyk Adam?

Indien die skrywer die storie herskryf en oplet na die verteltegniek, meer wys en minder vertel, kan dele deur middel van dialoog deur Lisbet self aan haar dogters oorgedra word. Belangrike inligting, soos oor Adam wat met oorskietgoed beloon is, Simoné wat reeds verwek is toe Adam en Lisbet bymekaar kom, kom nie tot sy volle reg nie.

Terug na die invalsblad van die LitNet-slypskool Om te skryf. >>
Lees ook:

Die spieëlkas

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top