Op 10 Augustus plaas Netwerk 24 'n berig: "Goue handdruk vir raadslede wat nie herkies is.
"Die geldkraantjie het steeds nie opgedroog vir raadslede van munisipaliteite landwyd wat nie herkies is nie, omdat die staat R100 miljoen bewillig het om vir elkeen ’n goue handdruk te gee."
In 2015 was daar berig dat Raadslede ongeveer R415 000 per jaar verdien, in Ekurhuleni, wat volgens sommige nie genoeg was nie.
Nou vra 'n mens jouself af hoe vergelyk dit met die pensioene van afgetrede spoorwegamptenare wat bygedra het tot Suid-Afrika se ekonomiese voorspoed, toe ’n mens kon staatmaak op die diens. 48% van hulle het in 2010 ongeveer R1080 per maand gekry nadat hul pensioenfonds gestroop is.
Indien die ANC-regering goue handdrukke wil uitdeel het ek geen beswaar daarteen nie, mits dit uit die ANC se sak en nie van die belastingbetaler afkom nie. Of bly dit maar weereens so telke male 'n geval van 'breë rieme sny uit 'n ander se vel’ (verkwistend werk met 'n ander se goed)?


Kommentaar
FC Boot
SA rugby was op sy beste toe dit nog 'n amateursport was, want spelers het suiwer vir die liefde vir die sport gespeel. Dieselfde was ook die geval in die dae toe raadslede sonder vergoeding hulle poste beklee in opregte belangstelling in die belange van die gemeenskap wat hulle bedien het; maak nie saak watter party hulle verteenwoordig het nie.
Die soustrein gaan nog tot in lengte van dae voortstoom. Die een lot passasiers gaan nou afklim, en 'n nuwe lot passasiers gaan opklim. Hulle klap die lippe al vir daardie lekker etes, paarties en feesvierings wat kom. Die soustrein het nie brieke nie. Solank daar 'n ekonomiese basis is wat die trein se wiele aan die rol hou, en genoeg olie om die deure oop te maak, gaan die soustrein aanhou voortstoom.