Die soet smaak van reis

  • 7

Om te reis is kraakvars, opwindend en smaakvol. Soos ‘n bloedrooi appel op die rak wat noukeurig uitgesoek word volgens begroting en behoefte. Versigtig teen die lig gehou word om deeglik ondersoek in te stel na swak of vrot plekkies. Die buitekant moet tog die inhoud so goed moontlik weerspieël. Dan oee en aaa mens in bewondering oor die rooi blinkheid daarvan. Ruik die aroma van varsheid, uitlokking en vryheid. Rek behaaglik die kake sodat ontblote tande kan wegsink in die soet geur van genot. Nektar wat in jou mond ontplof en in jou wese afdrup.

Dis die gevoel wat ek kry elke keer wanneer ek die voorreg het om ‘n reis te beplan. Maak nie saak of dit per trein, motor, bus, vliegtuig of boot is nie. ’n Paar ure, heeldag of selfs ‘n week of twee gaan behels nie. Dalk ‘n kuier by familie of vriende, of ‘n welverdiende vakansie by die see of ‘n binnelandse oord. Die feit dat ons die bekendheid van ons daaglikse omgewing gaan verlaat, ons oopstel vir nuwe ervarings en ontdekkings, is soetsalig, waaghalsig en uitdagend, maar bly steeds ‘n groot verantwoordelikheid.

Saam word gedroom en gekoukus oor die eindbestemming. Opgewonde navraag gedoen en rondgevra. Pryse vergelyk, foto’s bestudeer. Ondersoek ingestel om te beplan vir die beste geleentheid met maksimum genot. Natuurlik teen sakpas-pryse. Ons moet darem nog kan oorleef wanneer ons terugkeer na die werklikheid.

Droom ons almal nie maar soms groot met minimale begrotings nie?

So verloor ek dikwels myself in reistydskrifte. Droom oor al die plekke wat ek graag nog sal wil besoek. Lees elke fyn detail met sorg deur. Sien myself op dekstoele langs swembaddens of op spierwit strande lê. Vrugte-mengeldrankies met gekleurde sambreeltjies in die hand. Net om wakker te skrik en te besef dat my vlerkies liederlik geknip word deur rand en sent. Gewoonlik ver tekort skiet teen wil en begeerte.

Maar met min kan mens nog steeds genoeg doen. Hoe goed onthou ek nie my kinders (nou almal getroud en uit die huis) se opgewondenheid wanneer ons begin inpak vir ‘n reis af see toe nie. Gehoorsaam voer hulle elke opdrag uit. Help gretig met die maak van padkos. Sukkel om tot rus te kom die aand voor die vroegoggend-vertrek.

Dan breek die uur aan. Die motor word noukeurig gelaai. Is al die vorige dag goed nagegaan en volgemaak. Kinders word wakker gemaak om gou ‘n draai te loop. Mooi gerangskik op die agtersitplek sodat elkeen ‘n gemaklike lêplekkie kan kry. Ons het verkies om ‘n groot gedeelte deur die nag te ry, sodat hulle rustig kan slaap. Alles word vir oulaas deurgegaan om seker te maak wat nodig is, is in. Deure en vensters gegrendel. Afgeskakel wat onnodig krag kan verbruik en dan durf ons die langpad aan.

Teen sonop is ons eerste pitstop by ‘n Ultra City. Kinders word badkamer toe vergesel om gesiggies te was en tandjies te borsel. Nagklere word verruil vir dagklere. Daar heers ’n ingehoue bedeesdheid in hul ontwaking op die reispad wat my moedersinstink in ‘n dieper dimensie stoot.

Koffie word gekoop, want Wimpy-koffie in ‘n papierglasie met ‘n plastiekdekseltjie is spesiale bederf. Gaan ook goed af saam met tuisgemaakte kaas- en tamatiebroodjies, frikkadelle en gekookte eiers.

Met die liggame gevoed, word die agtersitplek omskep in ‘n speelplek met inkleurboeke, kleurkryt, boublokkies, legkaarte en speelgoed. Als wat ‘n kind stil en besig kan hou solank as moontlik, selfs tolletjiebrei is ingespan. Solank Pa net kan konsentreer op die pad en Ma rustig deur ‘n tydskrif kan blaai.

So het kilometers salig onder ons verby gespoed. Hier en daar kon ek hulle aandag vestig op die mooi natuur en interessante besienswaardighede uitwys. Pa selfs oorreed om by ‘n stalletjie of twee stil te hou.

Dit was kosbare ons-tyd. Die knoesheid van saamwees in die klein ruimte van ‘n motor, op pad êrens heen na ‘n onbekende blyplek en omgewing, het ‘n stil vrede oor ons laat hang.
Dieselfde vrede wat ek ervaar het toe ons een jaar met die Transkaroo afgery het Kaapstad toe. Wat ‘n heerlikheid. Die treinrit was ‘n vakansie op sy eie, amper lekkerder as die week in die Kaap. Ons kon nie wag om weer die terugrit op dieselfde trein aan te pak nie en was spyt toe dit Johannesburg-stasie binnestoom. Daardie klik-klak, klik-klak wat jou tot rustigheid skommel was pure saligheid.

Of die keer toe my dogter getroud is op die MSC Simfonia. ’n Lewenslange droom wat waar geword het. Die bootrit natuurlik, maar ook die feit dat sy man gekry het. Ons is soos adel behandel op dié luukse boot. Vir die eerste keer het ek voete op ‘n ander land gesit. Die Portugese Eilande. Nou nie juis wat ek in my verbeelding voorgestel het nie, maar die deurskynende seewater met helderkleurige vissies wat om ons voete rondswem was eksoties genoeg. ’n Geniepsige sonbrand was al wat ons met ons kon saamneem. Dit en pragtige foto’s vir die herinneringsboksie. Beslis ‘n reis op my emmerlysie wat ek weer binnekort sal wil aanpak.

En dan, my eerste vliegtuigrit af Kaap toe. Hier het die senuwees behoorlik geknaag, veral met die opstyg. Maar toe ons eers bo is en ek kon afkyk op die wolke, die land soos ’n groot lappieskombers ver onder sien lê, het ek voëlvry gevoel. Gewonder hoe so ‘n groot, swaar ding met soveel passasiers aan boord, so gemaklik deur die lug kan gly en bo kan bly.

Al hierdie voorregte het ‘n diep dankbaarheid in my laat ontspring. Dankbaar vir die keuse van verskillende vervoer wat dit vir ons moontlik maak om veilig te kan reis van een plek na ‘n ander. Dankbaar vir agentskappe, mense wat verblyf en besprekings moontlik, maklik en bekostigbaar maak. Dankbaar oor die voorreg om in so ‘n pragtige land te woon.

Ek het nog nooit die geleentheid gehad om oorsee te gaan nie, maar daar is nog so baie wat ek hier in my eie land kan sien en wil beleef.

Hoe geseënd kan ‘n mens dan wees? 

Lees hier meer oor die reisskryfkompetisie: 1 001 reiswoorde

  • 7

Kommentaar

  • Annatjie Sandrock

    Ek is absoluut verlief op Driekie se gemaklike skryfstyl en die manier waarop jy voel jy reis saam, jy droom saam en jy beplan saam. Dankie Driekie.

  • Dis 'n bekende, lekker, gevoel en haar woorde maak ou herinneringe wakker!
    Elke woord is waar en ook so goed van toepassing op Jan allenan se drome!
    Well done Driekie! ⭐⭐⭐⭐⭐

  • Karen Bezuidenhout

    Wow wow wow!
    So baie dankie vir die terugreis na my eie kinderdae ... jy't hierdie herrinering 100% vasgevat.

  • Anze Bezuidenhout

    Ai, ek het nou heerlik saam met jou gereis, jy skryf boeiend en pragtig. Dankie vir die deel van jou wonderlike herinneringe.

  • Gerhard Bothma

    My roeping is nog sterker as wat dit was toe ek dit ontvang het, Stefaan.

    Ek is egter die geleentheid om my roeping voort te sit ontneem. Verskil in visie (ek deel ons kerk se missionale ekklesiologie), kontrakbreuk van die kerkraad se kant af, vertrouensbreuk en persone wat nie wou versoen nie het hiertoe gelei.

    Dis vanweë my roeping dat ek alles binne my vermoë doen om binne die kerk te bly en te dien.

  • Kobus Henning

    Ja, hoe meer 'n mens hierdie stuk lees, hoe groter word daardie verlange weer vir 'n lekker vakansie! Baie dankie Driekie!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top