Die Afrikaanse musiekgroep Die Skynmaagde het met vreugde kennis geneem van Gwede Mantashe se onlangse uitsprake waarin hy die ANC met ’n “heilige drie-eenheid” vergelyk (soos berig in Die Burger, 04/11/13).
“Ons gedagtes rondom die ANC het die afgelope tyd ’n soortgelyke rigting ingeslaan,” het Blackie Swan en Ewig Verwey, die lede van dié groep, gesê. “Dit is duidelik te sien in die nuwe lied wat ons ter ondersteuning van die ANC vrystel, in die aanloop tot volgende jaar se verkiesing.”
Die nuwe lied, “Wat ’n vriend het ons in Zuma”, is volgens Die Skynmaagde geïnspireer deur Johannes Kerkorrel se aanpassing van dié aanvanklike Jesus-lied, wat hy destyds tot “Wat ’n vriend het ons in PW” herskep het.
Die Skynmaagde, wat die afgelope jaar bekendheid verwerf het met onder meer die trefferlied “Die Kommunis Sokkie”, meen dit is hoog tyd vir dié soort politieke aanprysing om terug te keer, veral uit Afrikaanse oorde.
“Kerkorrel se aanprysing van PW Botha en die NP in hierdie konteks het ons laat besef dit is tyd vir die lied om in ’n moderne konteks voort te leef,” meen Die Skynmaagde. “Ons wou op soortgelyke wyse ons onvoorwaardelike liefde vir Jacob Zuma en die ANC aandui. Amen C!”
"Wat ’n vriend het ons in Zuma" – Die Skynmaagde
REFREIN
Wat ’n vriend het ons in Zuma
Twintig kinders om te voed
Maar sy huis is amper klaar
Dan is alles wel en goed
VERS 1
Hoe welvoeglik is jou dade
Al smeer jy die meeste toe
En as jy dalk Nkandla oorverf
Dink aan dié wat honger sterf – ANC!
BRUG 1
Gemeente, Zuma het ons al telkemale verseker hierdie land is ’n veilige land!
Daarom is dit reg en binne sy goeie wil dat die miljoene aan die veiligheidsmuur by Nkandla spandeer word.
En die snoepwinkel, liewe gemeente – o, soete versnaperinge van bevryding!
REFREIN
VERS 2
Kyk hoe salig vlieg daai stralers
Dit kort net blou ligte op
En jy gee ons altyd weer hoop
Selfs al gaan soldate dood – ANC!
BRUG 2
Om sy wil te bevraagteken is nie vir ons nie, gemeente.
Om byvoorbeeld te sê Zuma voer ’n Machiavelliaanse veldtog ter selfbeskerming
selfs meer onderduims as Mbeki is nie ons reg nie.
Om te sê onkunde is onwenslik, is verkeerd – dit weet ons vir seker!
REFREIN
VERS 3
Marikana maak nie saak nie
Nog die Guptas of Cele
En vir jou is regters steeds lief
Selfs al stort jy nes ’n dief
BRUG 3
Kuns sal slegs geskep word ter aanprysing van die ANC.
’n Mens kry geel kaarte vir spear paintings
geel kaarte met lieflike groen en swart spatsels.
Sisulu, Tambo, Mandela was, maar Jacob Zuma is!
REFREIN
Amen C!
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

