Beste Kobus
Ek geniet jou briewe en ek is jou meer simpatiek gesind as wat uit my eie brief van Vrydag geblyk het. Ek moet eintlik onderaan jou reaksie daarop reageer, maar ek is 'n bietjie clueless oor hoe om dit reg te kry, dus skryf ek hier.
Nee, ek is nie 'n ateïs nie. Ek glo en bid en lees Bybel; baie, baie meer as vyftien jaar gelede. Ek stel belang in die gawes van die Heilige Gees en lees op die oomblik 'n boek oor praat in tale in die hoop dat ek dit eendag sal kan doen, want Christene wat ek ken, verseker my dis iets spesiaal. Dit is ook 'n manier om weer vuur en vlam vir die godsdiens te wees. Nou ja, my ambisie maak my nog nie 'n Christen in ander se oë nie, maar ek is gerus dat ek een is. Ek sal dit wel aanvaar as jy vir my sê geen mens kan gerus oor sy saligheid wees nie en dat ek dalk te gerus is.
Maar. Hoewel ek kan aanvaar dat die Here almagtig is, kan ek nie aanvaar dat ons as mense almagtig raak net omdat ons glo en bid nie. Baie, baie dinge is ons nie beskore nie en net omdat ons iets kan droom, beteken nie dit kan gedoen word nie. Ons leef in 'n wêreld wat aan natuurwette onderhewig is. Die bonatuurlike lewe is wat my betref 'n reeks neurologiese verskynsels. Was dit Arthur C Clarke wat gesê het "toorkuns is net fisika wat ons nog nie verstaan nie"?
Sielkunde verduidelik hoe 'n persoonlikheid 'n elektriese en chemiese verskynsel is. Dit is ook so dat die menslike brein "ou" dele het waarvan die ekwivalente strukture ook in reptiele en ander laer lewensvorme aangetref word. Dit bevestig aan my dat evolusie nie net bestaan nie, maar die Here se werktuig is. Die Skepping is 'n werk-in-wording.
Oor die psigatriese siektes wil ek nie eintlik veel meer sê nie. Ek aanvaar dat jy meer as ek daarvan weet, maar ek hou voet by stuk dat jy dit op die verkeerde wyse wil behandel.
Van satanisme weet ek min. 'n Psigiater het my verseker die okkulte bestaan. Ek weet nie, vir my gaan dit oor waarop jy jou toelê. As jy negatiewe gedagtes koester, gaan daar negatiewe gevolge in jou lewe wees. Maar daarmee saam kan ek nie sê ek glo 'n mens moet altyd 'n sonstraaltjie wees nie. 'n Redelik siniese ingesteldheid beskerm 'n mens teen ontnugtering.
Jaco Fouché


Kommentaar
Jaco,
My verskoning. Ek het jou met Jaco Fourie verwar.
Ek sal reageer op wat jy hierbo geskrywe het.
Groete,
Kobus de Klerk