Johan Strijdom, dosent aan UNISA, gee sy perspektief vanuit ’n religiewetenskaplike oogpunt oor universiteite as veilige ruimtes.
.......................
In ’n onlangse blitspos vra LitNet my mening oor studente wat daarop aandring dat “veilige ruimtes” aan universiteite geskep word, waar hulle “nie ontstel … word deur ideologiese en ander inhoud wat gedoseer word nie”. Dosente moet dikwels snellerwaarskuwings (trigger warnings) voor lesings gee om teen moontlik ontstellende inhoud te waarsku. Wat sou my perspektief vanuit ’n religiewetenskaplike oogpunt wees, op grond van my ervaring van die “meule” by Unisa met gepaardgaande “politieke woelinge”?
My antwoord word uiteraard gekondisioneer deur my doseerervaring in Klassieke Studies, Nuwe Testamentiese Wetenskap en Vergelykende Religiewetenskap aan die Universiteit van Pretoria en Unisa oor die afgelope dertig jaar. Twee modelle uit die antieke Griekse en vroeg-Christelike wêreld inspireer my steeds om na te dink oor wat kritiese denke behels, wat ek as die primêre taak van ’n universiteit beskou.
In die vyfde eeu voor die Christelike jaartelling, vertel Plato in die Verdedigingsrede van Sokrates, het Sokrates tydens sy verdediging die Atheense burgers met ’n trae perd vergelyk, en sy taak as denker uitgebeeld as dié van ’n lastige steekvlieg wat die perd gedurig moes wakkermaak. Onder die lastige vrae wat hy met die jeug beredeneer het, was kwessies oor religie (vroomheid), politiek (dapperheid en geweld), etiek (geregtigheid), liefde (eros) en wysheid (sofia).
In die proses het hy kenmerkend die onkunde van die sogenaamde wyses blootgelê, terwyl hy homself as soeker na waarheid getoon het. So bedreigend en onrusbarend het die maghebbers van Athene sy optrede gevind dat hulle ’n klag teen hom gelê het en hom skuldig bevind het daaraan dat hy die jeug korrupteer en onvroom teenoor die gode van die stad optree. Om die doodsvonnis vry te spring, is hy die ultimatum gebied om voortaan sy lastige vrae te stop. Dié leefwyse kon Sokrates egter nie prysgee nie. In die jaar 399 het hy uit die gifbeker gedrink wat die hof as sy doodsvonnis voorgeskryf het.
In die eerste eeu na die Christelike jaartelling, leer ons uit ’n kritiese lees van vroeg-Christelike literatuur, het ’n Jood met die naam Jesus in die Galilese platteland opgetree. Die beelde wat hy gebruik het, was ontleen aan die plase, dorpies en see waar hy sy visie vir ’n beter wêreld onder arm volgelinge verkondig het. Teenoor die onderdrukkende Romeinse Ryk en dié se aristokratiese Joodse medewerkers, het hy in beelde gepraat oor hoe ’n alternatiewe wêreld sou lyk waar God in beheer is – soos ’n maaltyd waaraan nie die verwagte gaste deelneem nie, maar diegene wat op straat en in stegies bly. Met die uitdeel van brood en visse het hy gewys hoe so ’n visie, waar materiële bronne gedeel word, nie bloot praat is nie, maar ’n werklikheid kan word.
Een van die belangrikste navorsers oor die historiese Jesus in die laaste deel van die 20ste eeu, John Dominic Crossan, het Jesus se gelykenisse treffend geteoretiseer. Soos visse in die see, leef ons as mense in stories in die wêreld. Maar die stories waarin ons leef, kan gekarteer word tussen mites en parabels. As die funksie van mites is om die bekende wêreld te bevestig, is die funksie van parabels om die gevestigde wêreld deur paradokse te bevraagteken en om te keer. In aansluiting by Paul Ricoeur se gesegde “orientation by disorientation”, meen Crossan dat ons in mite alleen kan leef, maar nie slegs in paradoks nie. Die gewenste storie vir ’n kritiese denker is om tussen die twee pole te beweeg. In terme van ons onderwerp: om ruimtes te skep waar gevestigde waarhede radikaal herdink kan word sodat ons met vernuwende insigte en oplossings na vore kan kom.
In my lesings oor Grieks-Romeinse kulture, die historiese Jesus en vroeg-Christelike bewegings, en die vergelykende studie van religieë, het ek doelbewus probeer om studente uit hulle veilige ruimtes te lig sodat hulle opnuut kan dink oor kritiese probleme in die wêreld, veral rondom sistemiese geweld en ongelykhede in uiteenlopende konstrukte van klas, gender en ras. In die afgelope paar jaar het postkoloniale en dekoloniale teorieë en proteste studente en dosente uit veilige ruimtes geskud en genoop om gekoesterde posisies te herbedink.
In die studie van religieë bied vergelyking ’n handige strategie om veilige hawens te verlaat en grense oor te steek ten einde vernuwend te dink. Sodra ’n kernbegrip soos ras, klas of gender met inhoud gevul is en met diepgang geteoretiseer is, is ons gereed om voorbeelde van die probleem binne elk se konteks te bestudeer en dan gedissiplineerd te vergelyk. Sodoende hoop ons dat die gevallestudies lig op mekaar sal werp, en ons sal help om die ter sake probleem beter te verstaan. Dit help inderdaad dikwels om elders – geografies en/of histories – te kyk ten einde ’n probleem hier en nou beter te verstaan.
Ek kon nooit en kan steeds nie aan studente die versekering gee of aan ’n versoek voldoen om veilige ruimtes vir denke te skep nie. Ek kan wel steeds onderneem om ’n ruimte te skep waar ons voortdurend ons veilige ruimtes bevraagteken en toets in ’n poging om nuwe insigte en programme in ons wêreld te ontwerp en implementeer. Die beweegrede vir so ’n houding is allermins eties onverskillig, maar is juis ’n morele roeping.
Aan die een kant waarsku Walt Whitman (die disoriëntering):
Whoever you are holding me now in hand,
[…]
I give you fair warning, before you attempt me further,
I am not what you supposed, but far different.
Who is he that would become my follower?
Who would sign himself a candidate of my affections?
The way is suspicious – the result uncertain, perhaps destructive;
[…]
The whole past theory of your life, and all conformity to the lives around you, would have to be abandoned;
[…]
Aan die ander kant kom hy tog tot die etiese gevolgtrekking (die heroriëntering):
Having studied the new and antique, the Greek and Germanic systems,
Kant having studied and stated – Fichte and Schelling and Hegel,
Stated the lore of Plato – and Socrates, greater than Plato,
And greater than Socrates sought and stated – Christ divine having studied long,
I see reminiscent to-day those Greek and Germanic systems,
See the philosophies all – Christian churches and tenets see,
Yet underneath Socrates clearly see – and under Christ the divine I see,
The dear love of man for his comrade – the attraction of friend to friend,
Of the well-married husband and wife – of children and parents,
Of city for city, and land for land.
* Die eerste aanhaling uit ’n gedig van Whitman is hier beskikbaar en die tweede een hier. Beide is in Leaves of grass gepubliseer.
Klik hier vir meer oor die seminaar en om ander bydraes te lees:
Kommentaar
Ek het gehou van wat ek lees, Johan. Dankie. Covid-19 is maar een van die 1000de peste deur die geskiedenis (wat nie noodwendig altyd siektes was nie) wat die mensdom by punte gekom het om nuwe grense te stel - moeilik oortuigbaar dat die heling van nuwe moontlikhede juis geleë is in die oopstoot van hekke om die asem heen en weer te laat vloei. En onverskrokke die olifant in die kamer te identifiseer. Groete.
Skitterend, Johan! Universiteite durf nie veilige hawens wees nie. Elders in 'n LitNet Onderhoud gee ek my definisie van 'n universiteit:
"Universiteite is ruimtes van debat en wetenskaplike ondersoek waar nuwe kennis deur intellektuele aktiwiteit en vryheid van idees ontwikkel word."
Maar dit stel natuurlik ook nuwe eise aan teologie wat in so baie gevalle en plekke verval het in 'n apologetiek van geykte belydenisskrifte. Ek is rustig oor kerklike seminaries en selfs Christelike universiteite, maar publieke universiteite wat internasionaal meeding op ranglyste, stel 'n nuwe eis aan die wetenskaplikheid van teologie. My definisie van teologie aan 'n publike universiteit is gevolglik:
"Teologie is ’n wetenskaplike poging van gelowiges in die openbare sfeer om greep op ’n multidimensionele werklikheid te kry sodat dit saak maak."