Die sing van “Vlaglied” in sommige wit Afrikaanse skole in die 1980’s

  • 5

Opsomming

Die teks en musiek van “Vlaglied”het my reeds in die 1980’s gehinder, toe ek dit as deel van my pligte soggens by die skoolopening by ’n wit Afrikaanse Vrystaatse skool op die klavier moes begelei. Dit is egter eers onlangs dat ek oor die moontlike betekenisse en herkoms van die lied begin navorsing doen het. Ek het bevind dat die gebruik daarvan waarskynlik nie van owerheidsweë afgedwing was nie, maar dat dit tog by baie skole, veral in die eertydse Oranje-Vrystaat en Transvaal, as roetine in die oggende gesing is. Ek het ook bevind dat hierdie lied geskik was vir indoktrinasie in die apartheidsideologie. Dit was juis in hierdie tyd dat dit toenemend begin duidelik word het dat apartheid as ’n sisteem en ideologie nie volhoubaar was nie. Musiek kon dus kulturele werk doen waar die politiek nie langer kon bykom nie. Die teks van “Vlaglied” word in hierdie artikel ontleed, aan die hand van ’n boek wat in 1983 verskyn het en waarin die skrywer (J.M. du Preez) die “meestersimbole” in skoolhandboeke wat in 1980 en 1981 vir hoërskole in Suid-Afrika voorgeskryf is, uitlig en bespreek. Hierdie artikel toon aan dat meestersimbole, soos godsdiens, grond, nasie/volk, blanke oorheersing / nieblanke ondergeskiktheid, (ras-) suiwerheid, militarisme en manlikheid, ook in “Vlaglied” teenwoordig is. Die teks van “Vlaglied”word ondersteun deur die aard van die musikale begeleiding. Dit is ’n mars, maar in teenstelling met die feestelike “Die Stem van Suid-Afrika”, ook ’n mars, is “Vlaglied” swaar en afgemete, met ’n sterk militêre karakter. Die “geweld” van hierdie musiek, so word in hierdie artikel aangevoer, herinner aan die argitektuur van die ideologie in wie se diens dit gestaan het. Hoewel die sing van “Vlaglied”(sover vasgestel kon word) nie deur die apartheidsregering afgedwing is nie, was daar sterk aanmoediging daarvoor, in sowel die parlement as in burgerlike publikasies. Die gevolgtrekking is dat die onderwyssisteem in die 1980’s sangstukke soos “Vlaglied” in talle wit Afrikaanse skole as deel van die “verborge kurrikulum” gebruik het om skoliere in apartheidswaardes te indoktrineer.

Trefwoorde: “Vlaglied”; FAK-Sangbundel; apartheidsideologie; skool; skoliere; meestersimbole; kurrikulum; teks; musiek; ritme; melodie


Abstract

The singing of “Vlaglied” in some Afrikaans schools during the 1980s

The text and music of the song “Vlaglied” started troubling me as far back as the 1980s, when I had to accompany pupils singing it at morning assembly as part of my duties at a white Afrikaans Free State school. I suspected that the singing of this song bolstered the apartheid ideology. It was, however, only recently that I began to research the origin and possible meaning of the song.

The first phase of this research was an investigative study and it consisted of surveying Afrikaans-speaking people in the age group of about 40 to 50 years, because they were in school during the 1980s. The people were chosen at random and the interaction with them was oral and person to person. The questions asked were: “Were you at school during the 1980s?” and if “Yes”, “Was ‘Vlaglied’sung at morning assembly at your school?”. The third question was: “Where were you at school?”

The people questioned at this stage of the investigation came from a wide range of occupations, including the plumber working at my house and lecturers at two local universities. Answers to the first two questions were simply either “Yes” or “No”. The conclusions reached during this first phase of the survey were that “Vlaglied”was sung at morning assembly at a large number of schools during the 1980s, and that it was more often sung in schools in the former Transvaal and Orange Free State than in the Cape and Natal.

The second and most important phase of the research consisted of a textual and musical analysis of “Vlaglied” in order to answer the main research question, namely whether/how the singing of the song bolstered the apartheid ideology.

The textual analysis was carried out according to the so-called “master symbols” identified by J.M. du Preez in her study “Africana” Afrikaner. Meestersimbole in Suid-Afrikaanse skoolhandboeke, which was published in 1983. This textual analysis included the meanings of words as well as the semantic context of the song, including religion, land, nation/people (“volk”), white supremacy / non-white subordination, purity, militarism and masculinity.

The musical analysis did not include a full harmonic analysis; the structure and the harmony of the composition were analysed to determine how they support the meaning of the words / the semantic context. The song is a march with a military character. The melody and rhythm are heavy and simple. The first part of the song consists almost completely of tonic and dominant harmony, while in the second part of the song chromatic elements are confined to secondary dominant and leading tone chords.

The investigation concluded that as late as the 1980s the white education system (as an “own affair” matter in the political language of the time, maintaining its Christian and national character) indoctrinated learners in the values of apartheid. The programmed singing of “Vlaglied” was utilised to further this aim. Even though, as far as I could tell, the apartheid government did not actually force schools to sing the song there was, nonetheless, active encouragement from the authorities in parliament and in public publications to do so.

Keywords: “Vlaglied”; FAK-Sangbundel; ideology; apartheid; school; pupils; master symbols; curriculum; text; music; rhythm; melody

 

1. Agtergrond en navorsingsmetodiek

In die middel-1980’s het ek vir een en ’n halwe jaar ’n onderwyspos by ’n wit Afrikaanse skool in die destydse Oranje-Vrystaat beklee. As deel van my pligte moes ek by die skoolopening in die oggende die gesang wat gevolg het op die skriflesing en gebed begelei en daarna ook, afwisselend, “Die Stem van Suid-Afrika” en “Vlaglied”. “Die Stem” het ek geken, maar “Vlaglied” was vir my nuut. Ek het toe reeds vrae gehad oor die invloed van die lied op die skoliere. Toe ek onlangs, meer as twintig jaar later, daaraan terugdink, het ek begin om navorsing te doen om vas te stel hoe wyd die lied gedurende die 1980’s gesing was en of/hoe dit die handhawing van die apartheidsideologie bevorder het. Ek het ’n vermoede gehad dat die sing van die lied wel dié ideologie bevorder het.

Die navorsing is gedurende die eerste ses maande van 2012 in Pretoria onderneem. Die eerste fase was ’n voorondersoek in die vorm van vrae wat aan Afrikaanssprekendes in die ouderdomsgroep van ongeveer 40 tot 50 jaar gestel is – mense van daardie ouderdom was gedurende die 1980’s op skool. Die teikengroep is willekeurig gekies uit mense wat moontlike blootstelling gehad het aan die onderwerp wat ek ondersoek. Die 40 mense wat ondervra is, het ’n groot spektrum beroepe beoefen, en het die loodgieter wat by my huis kom werk het en dosente aan twee Pretoriase universiteite ingesluit. Die interaksie was in al die gevalle mondeling, van persoon tot persoon. Getalle is aangeteken, nie name nie.

’n Eenvoudige onderhoudskedule van drie vrae is gebruik om ’n deel van my vermoede te toets, naamlik dat “Vlaglied” in die tagtigerjare van die vorige eeu wyd in skole gesing is. Die eerste vraag was: “Was jy in die 1980’s op skool?” Indien bevestigend geantwoord is, is gevra: “Is ‘Vlaglied’ in jou skool in die oggend by die skoolopening gesing?” Die derde vraag was: “Waar was jy op skool?” Die antwoorde was bloot “Ja” of “Nee” en die naam van die skool en waar dit geleë was. Ek het niks verder van die ondervraagdes verwag nie. Dit was slegs ’n ondersoekende studie en nie ’n versameling van data in besonderhede nie, en dit het slegs die weg gebaan vir die tweede fase van die ondersoek, wat ’n ontledingstudie was.

Twee van die vrae het geen variante toegelaat nie, terwyl die antwoord op die derde bloot feitelik was. Niemand het geweier om te antwoord nie en die onderhoud is vinnig afgehandel. (Sien Babbie en Mouton 2012:80 en Mouton 2001:105, 106.) Alhoewel dit moontlik is dat sommige mense dit kon vergeet het, het die meerderheid goed (en met genot) onthou dat hulle die lied op skool gesing het – daar is egter nie pertinent gevra hoe die deelnemers die sing daarvan ervaar het nie.

Die bevinding was dat 32 van die 40 persone aan wie die mondelinge vrae gestel is, “Vlaglied” op skool gesing het; 27 van dié wat die lied gesing het, het in die voormalige Transvaal en Oranje-Vrystaat skoolgegaan. “Vlaglied” is egter nie in alle skole in Pretoria gesing nie. Dit het ook geblyk dat die lied in die skool op een dorp in die Vrystaat gesing is, maar nie in die skool op die buurdorp nie. Pogings om onderwysers uit hierdie tyd te kontak het grotendeels misluk, want die meeste was reeds afgetree. Dié wat telefonies bereikbaar was, het gesê dat “Vlaglied”by die betrokke skool gesing is toe hulle daar ’n pos aanvaar het, en dat die onderwysers dit bloot behou het.

Die gevolgtrekking (en antwoord op die eerste fase van die navorsing) is dus dat “Vlaglied”in die 1980’s wyd by skole gesing is tydens die openingbyeenkoms in die oggend en dat dit meer dikwels in die voormalige Transvaal en Oranje-Vrystaat as in die Kaapprovinsie en Natal gesing is.

Die kernnavorsingsmetode wat toegepas is en waaroor hier verslag gedoen word, is ’n tekstuele en musikale ontleding van “Vlaglied”. Die doel van die ontleding is om die tweede fase van die navorsing aan te spreek, naamlik om vas te stel of/hoe die teks en die sing van die lied die apartheisideologie bevorder het.

Die tekstuele ontleding is gedoen aan die hand van “meestersimbole” wat uitgewys is deur J.M. du Preez (1983) in haar boek “Africana” Afrikaner. Meestersimbole in Suid-Afrikaanse skoolhandboeke, soos toegepas op skoolhandboeke van 1980 en 1981. Die betekenis van woorde is in hierdie ontleding ingesluit en die groter semantiese konteks van die tekstuele inhoud van “Vlaglied”is ontleed (Mouton 2001:105). Die musikale ontleding behels geen volledige harmoniese ontleding nie, maar die struktuur en harmonie in die toonsetting is ontleed om vas te stel hoe dit die betekenis van die woorde ondersteun.

Terwyl “Vlaglied” waarskynlik reeds voor die 1980’s in skole gesing is en daar al voor daardie tyd indoktrinasie in skole kon plaasgevind het, word die artikel beperk tot hierdie tydperk, aangesien dit my enigste ondervinding van skoolonderwys was en die enigste tyd waarin ek direk daarmee kennis gemaak het. Dit was ook juis in hierdie tyd dat dit toenemend begin duidelik word het dat apartheid as ’n sisteem en ideologie nie volhoubaar was nie.

Hoewel daar heelwat geskryf is oor hoe die apartheidsregering die onderwys aangewend het om hulle doelwitte te bereik, is daar so ver my kennis strek geen bestaande diskoers rondom die sing van “Vlaglied” nie.

 

2. Die geskiedenis van “Vlaglied”

Die teks van “Vlaglied” is in 1926 deur C.J. Langenhoven (1873–1932) geskryf en dit is deur F.J. Joubert getoonset. Joubert was ’n tandarts van die Paarl wat in 1928 ’n kompetisie vir die toonsetting van “Vlaglied”gewen het (Albertyn 1992:56).1 Die lied is in 1959 gedurende ’n seremonie amptelik aan die Suid-Afrikaanse regering oorhandig (C.J. Langenhoven s.j.).

Dit verskyn in die eerste uitgawe van die FAK-Volksangbundel (Gutsche, Du Preez, Erlank en Eyssen 1937) as no. 39 in die afdeling “Volk en Vaderland” (in B-mol majeur); in die tweede uitgawe van die FAK-Sangbundel (De Villiers 1961) as no. 29 (in A majeur); en in die derde uitgawe van die FAK-Sangbundel (Hartman 1979) reg aan die begin van die afdeling “Volk en Vaderland” as no. 3, net na “Die Stem” (in A-mol majeur). In al hierdie gevalle verskyn slegs die teks van die vierde vers. Soos Pieter van der Westhuizen (2012), die eindredakteur van die 1979-bundel, opmerk, was die toonsetting in B-mol te hoog en die jongste, in A-mol, veel singbaarder.

In 2012 is die 75ste verjaarsdag van die FAK-Sangbundel gevier met onder andere’n nuwe uitgawe van die bundel. Hierdie nuwe uitgawe bevat dieselfde aantal liedere as die bundel van 1979. Die hoofdoel van die 2012-uitgawe was om ’n publikasie daar te stel wat vir die volgende 75 jaar kon dien as dié bundel van Afrikaanse musiek. ’n Groot gedeelte van die Afrikaanse musiekskatte sal (volgens die FAK-webwerf) op hierdie manier bewaar en ten toon gestel word. Die bundel word vergesel van ’n CD/DVD waarop soveel moontlik van die sangbundel-liedere ingesluit is. Die “nuwe elektroniese sangbundel” het in 2011 verskyn. In hierdie uitgawe van die sangbundel, waarin die liedere met klavierbegeleiding deur Hannelore Olivier vir elke lied gepubliseer is, is “Vlaglied” nog steeds as no. 3 en aan die begin van “Volk en Vaderland”-afdeling geplaas (FAK s.j.).

In 1974 is die kopiereg van “Vlaglied” deur die “Vlaglied Kopieregwet no. 9 van 1974” van die boedel van C.J. Langenhoven aan die Staat oorgedra. Die oordrag is “met dankbare waardering” deur die destydse minister van verdediging, P.W. Botha, aanvaar. Die oordragakte is deur Margarita Rachel Engela Brümmer, dr. Jan Naude de Villiers, toe rektor van die Universiteit Stellenbosch, en Sarah Goldblatt, administratrise van Langenhoven se literêre nalatenskap, onderteken. Daar word terloops gemeld dat die komposisie van F.J. Joubert daarby ingesluit is (Vlaglied-kopieregwet s.j.)

Kopiereg op “Die Stem van Suid-Afrika” is reeds in 1959 deur die “Die Stem van Suid-Afrika Kopieregwet no. 2 van 1959” van die boedel van C.J. Langenhoven aan die regering van die Unie van Suid-Afrika oorgedra. Die oordrag is aanvaar deur J.G. Strijdom in sy hoedanigheid as eerste minister van die Unie van Suid-Afrika. “Die Stem” is op 2 Mei 1957 amptelik tot volkslied van Suid-Afrika verklaar (Stem van Suid-Afrika kopieregwet. s.j.).

Figuur 1. “Vlaglied” – Opgeneem in die FAK-Sangbundel 1979.2

Die volledige teks lui soos volg:

Daar is ander en eie wat opkyk en vra:
Wat beteken jou vlag dan, Suid-Afrika –
’n Lap met ’n skilderpatroon,-
’n Vaatdoek wat fladder vir spogvertoon?

 

Aan die vreemde van ver af wat opkyk en vra:
Wat beteken jou vlag dan, Suid-Afrika –
Sê: Vreemdeling, luister met vriendelikheid:
Die vlag is die beeld van ons majesteit,
Ons nasie se septer, ons volk se kroon,
Die regterhands-waarborg aan al wat hier woon
Dat burger by burger as een man sal staan
Om skoon en onskendbaar te hou daardie vaan;
Aan ander ’n waarskuwing, wie ook kom pla,
Pasop vir die seuns van Suid-Afrika.

Aan kinders van my wat nog opkyk en vra:
Wat beteken jou vlag dan, Suid-Afrika –
Sê: Kinders hy’s julle verbond met mekaar
Om elkeen teen elkeen sy trou te bewaar.
Om elkeen sy eer en sy roem te behou,
Om te voel ons is niemand se minderes nou –
Ons wil is ons eie, ons weg wys so
Soos ons self hom baan, onder God daar bo,
Saam sal ons dien, en saam sal ons dra,
Want saam is ons seuns van Suid-Afrika.

Nooit hoef jou kinders wat trou is te vra:
Wat beteken jou vlag dan, Suid-Afrika?
Ons weet hy’s die seël van ons vryheid en reg
vir naaste en vreemde, vir oorman en kneg:
Om te hou vir ons kinders se kinders wat wag:
Ons nasie se grondbrief van eiendomsland,
Uitgegee op gesag van die Hoogste se hand,
Oor ons hoof sal ons hys, in ons hart sal ons dra,
Die vlag van ons eie Suid-Afrika.3

 

3. Die gebruik van “Vlaglied”

In ’n artikel wat in 2003 in South African Journal of Musicology (SAMUS) verskyn het, verwys Winfried Lüdemann na “political songs of a bygone era in which Boer and Brit and, more recently, Black and White fought each other not only with weapons but also with words and music”. Hy bespreek hoofsaaklik “Die Stem” en wys daarop dat dié lied met ’n aantal ander patriotiese liedere saam gegroepeer is onder die opskrif “Volk en Vaderland” in die 1937-, 1961- en 1979-uitgawes van die FAK-Sangbundel. Daar is 51 liedere in hierdie kategorie in die 1937-uitgawe, 57 in die 1961-uitgawe en 47 in die 1979-uitgawe. Die meeste van hierdie liedere het hulle oorsprong in die lang vryheidstryd tussen Boer en Brit. Hulle het egter tussen 1910 en 1994, maar veral vanaf 1948, toe die regerende Nasionale Party sy beleid van apartheid begin afdwing het, bly voortbestaan as verteenwoordigend van Afrikanernasionalisme. Om hierdie rede meen Lüdemann (2003:19) dat hierdie liedere as ’n uiters belangrike bron vir navorsing oor hierdie periode in ons geskiedenis beskou moet word. Lüdemann bestudeer “Die Stem” en ’n aantal ander soortgelyke patriotiese liedere om onderliggende denkpatrone te identifiseer wat gestalte gegee het aan liedere wat bygedra het tot die inprenting van Afrikanernasionalisme onder die jeug van verskeie geslagte. In dié opsig kan die belangrikheid van hierdie liedere skaars oorbeklemtoon word, meen hy (Lüdemann 2003:13).

Ek stem saam met Lüdemann en argumenteer in hierdie artikel dat van al hierdie liedere “Vlaglied” waarskynlik die geskikste was om by te dra tot sodanige indoktrinasie, des te meer omdat dit in die 1980’s by ’n groot aantal skole in Suid-Afrika verpligtend was dat skoliere dit gereeld soggens tydens skoolopening moes sing. Dit is in hierdie verband ook opmerklik dat “Vlaglied” van ’n plasing taamlik na aan die einde van die “Volk en Vaderland”-afdeling verskuif het tot ’n uitsoekposisie net na “Die Stem”, en dat dit inderdaad as ’n soort tweede volkslied behandel is. Dit was dan ook dié lied wat met die eertydse Suid-Afrikaanse vlag geassosieer is.

Van der Westhuizen (2012) ontken dat daar enige betekenis ingelees moet word in die verskuiwing van die plek van “Vlaglied”. As eindredakteur van die 1979-Volksangbundel het hy ’n sisteem bedink vir die volgorde waarin liedere geplaas moet word. Die liedere wat eenstemmig gesing word, is eerste in die bepaalde rubriek geplaas. Daarna het die tweestemmige liedere gevolg, dan die driestemmiges en dan die sopraan, alt, tenoor en bas (SATB-) liedere. Volgens Van der Westhuizen het Anton Hartman egter daarop gewys dat die eenstemmige “Die Stem” en die vierstemmige “Die Stem” dan nie by mekaar opgeneem sal word nie. Van der Westhuizen se oplossing was ’n afsonderlike rubriek wat sou heet: “Die Stem van Suid-Afrika”. “Vlaglied” is dus as nommer 3 in die bundel geplaas, omdat dit ’n eenstemmige lied is en ’n lied waarvan die teks deur Langenhoven geskryf is. Dit was heeltemal ’n toevallige besluit, sê Van der Westhuizen. Lied 8, “Werdalied”, is egter ook ’n eenstemmige lied, ook deur C.J. Langenhoven geskryf, en is deur die komponis van “Die Stem”, M.L. de Villiers, getoonset en nie deur die minder bekende tandarts van die Paarl nie. Dit is egter ’n vroliker en veel “vriendeliker” lied, in 6/8-maatslag, baie anders as die “gewelddadige” en militaristiese “Vlaglied”. As daar nie ’n ander rede was vir die ordening van die liedere nie, kan ten minste daarop gewys word dat hierdie ordeningsisteem geensins konsekwent is nie.

In “Exploring the aesthetics of reconciliation: rugby and the South African national anthem” wys Stephanus Muller (2001:21) daarop dat die woorde van “Die Stem van Suid-Afrika” geskryf is deur die “early Afrikaans language-rights activist C.J. Langenhoven” uit protes teen die voortgesette diskriminasie teen Afrikaans wat toe algemeen was in die Brits-oorheerste Unie van Suid-Afrika. Komponiste is aangemoedig om die teks te toonset, en paslik, in die lig van die noue verband tussen Afrikanernasionalisme en Calvinisme, is die suksesvolle melodie in 1921 gekomponeer deur ’n dominee in die Nederduitse Gereformeerde Kerk. Vanaf 1957 tot 1994 was Langenhoven en M.L. de Villiers se volkslied in die Afrikaanse en Engelse weergawes die enigste volkslied van Suid-Afrika. In hierdie tyd is “Die Stem” nou verbind met die belofte van gelykheid en vryheid waarna die Afrikaners gestreef het in die verband van hulle geskiedkundige verhouding met hulle Britse koloniale meesters, en dit was ook ’n ritueel wat oorwinning en oorheersing oor swart Suid-Afrikaners gevier het (Muller 2001:21).

“Die Stem” het soomloos deel geword van ’n nuwe politieke orde wat daargestel is deur die Nasionale Party, met ’n noue verwantskap tussen die woorde, melodie en die politieke aspirasies van Afrikaners, wat dit ’n simbool van eksklusiewe politieke eenheid gemaak het (Muller 2001:22).

“Vlaglied” het, sover vasgestel kon word, nooit enige amptelike status gehad nie, maar dit is net so nou verbonde in teks en melodie aan die politieke strewes van die Afrikaner – met die verskil dat dit veel donkerder en dreigender in gevoelswaarde is as “Die Stem”.

Muller (2001:22) wys verder daarop dat saam met Nederlands, Afrikaans die enigste taal is wat na die nasionale lied (anthem) as die “volkslied” verwys. Net so is die term vlaglied nie algemeen nie. ’n Internet-soektog na flag song ondersteun laasgenoemde stelling. Mens vind heelwat flag songs by die Amerikaners, die meeste daarvan oorbekend, soos byvoorbeeld die “Battle Hymn of the Republic”deur Julia Howe, “America, the Beautiful” deur Katharine Lee Bates en “America, my country, ’tis of thee” deur Samuel F. Smith (Patriotic songs s.j.), maar nêrens anders nie. Daar is wel liedere soos “Waving Flag”, wat gekies is as die anthem vir die 2010 FIFA-sokkerwêreldbeker en 24 “Black Flag songs”, wat deur die Rollins Band geskryf is vir die West Memphis Three, drie jong mans wat vir moord tot lewenslange tronkstraf gevonnis is, ten onregte, soos sommige Amerikaners beweer (Rise above s.j.). Dit is duidelik dat hierdie liedere geensins met ’n vlag te make het nie, allermins ’n landsvlag, maar verwys na ’n popgroep met die naam Black Flag. So ook het die bekende “Red Flag” nie te doen met ’n landsvlag nie – dit is ’n proteslied.

Daar moet ook verder besin word oor die funksie van “Vlaglied”, aangesien “Die Stem”by die meeste vlaghysingseremonies gesing is. Daar is ses vlagliedere uit ’n totaal van 47 patriotiese liedere in die “Volk en Vaderland”-afdeling van die 1979-uitgawe van die FAK-Volksangbundel.

Wydlopende persoonlike navrae (en die resultaat van die voorondersoek waarna hier bo verwys is) het bevind dat “Vlaglied” in die 1980’s gereeld soggens by die skoolopening van baie Afrikaanse skole gesing is. Daar moet egter beklemtoon word dat dit nie by al die skole gebeur het nie; blykbaar wel veral in die destydse Oranje-Vrystaat en Transvaal. Dit wil dus voorkom asof dit ’n besluit van individuele skoolhoofde en skoolrade was. Geen spoor van ’n amptelike regulasie in dié verband kon gevind word nie. Die webtuiste Republiek van Bravoland bevat insiggewende kommentaar oor “Vlaglied”, byvoorbeeld: “Ons het darem nog al vier die verse op skool geleer in die OSA [Ou Suid-Afrika], nou ja … pragtige lied”; “Ook hoendervleis gekry … ons het altyd net die laaste strofe gesing …”; “Dit is darem maar mooi”; “… ons sing nog altyd die vierde vers”. Sannie van der Walt het al vier verse op die webblad voorsien. Hierdie soort internetgesprek ondersteun die afleiding dat “Vlaglied” in die 1980’s aan verskeie Afrikaanse skole gesing is.

Die Bravoland-webwerf beskryf sigself as “’n Kuberstaat vir die Bloedrivier Geloftevolk!” en die webwerf verklaar verder: “Bravoland het tot stand gekom, grensloos, onafhanklik, uit die versugting van die Afrikaner/Boerevolk na Vryheid! Elke lid van die Bloedrivier Geloftevolk en ALMAL [oorspronklike hoofletters] wat hulself met die stryd van die Bloedrivier Geloftevolk vereenselwig is welkom in Bravoland. U word vriendelik uitgenooi om deel te word van die snelgroeiende kuberstaat.” Dit is duidelik dat die saad wat deur die sing van “Vlaglied” geplant is (ook by hierdie “kuberstaat”) op vrugbare aarde geval het. In hierdie verband moet die politieke klimaat en die emosies rondom die Suid-Afrikaanse vlag aan die einde van die 1970’s en in die 1980’s in gedagte gehou word.

Die Suid-Afrikaanse vlag is vir die eerste keer op 30 Maart 1928 by ’n internasionale konferensie in Havana gehys, op voorstel van Eric Louw, wat toe die Unie van Suid-Afrika se handelskommissaris in New York was. Die amptelike hysing in Suid-Afrika was op Uniedag, 31 Mei, van dieselfde jaar. Die minister van binnelandse sake, dr. D.F. Malan, het die Goewerneur-generaal reeds in 1925 versoek om ontwerpe vir die vlag aan te vra. Hierdie gebeure was die aanleiding tot die skryf en toonsetting van “Vlaglied”.

Hernude belangstelling in “Vlaglied”, en waarskynlik die rede vir die oordrag van die kopiereg aan die Suid-Afrikaanse regering, was wat J.C. Kannemeyer in sy biografie van C.J. Langenhoven “Saartjie se ‘supersirkus’” noem (Kannemeyer 1995:48). Tydens Langenhoven se lewe het daar ’n baie hegte vriendskap tussen hom en sy sekretaresse, Sarah Goldblatt, ontstaan. Met die herdenking van sy geboorte in 1973 het Goldblatt vir die eeufeesviering feitlik die hele land gemobiliseer (Kannemeyer 1995:51). Sy het reeds met die amptelike oorhandiging van “Vlaglied” aan die regering in 1959 vir ’n seremonie gesorg (Kannemeyer 1995:42). In 1973 het die hoogtepunt van die eeufeesvieringe op Saterdag 11 Augustus plaasgevind met ’n vlaghysing en kranslegging by Arbeidsgenot, Langenhoven se huis op Oudtshoorn. Sierwaens met Langenhoven-temas het deur die strate beweeg. By die sportterrein was daar ’n vlaghysing waartydens “Die Stem” gespeel is, en ’n verbyvlug van ses Impalas van die Suid-Afrikaanse Lugmag is begelei deur gesamentlike sang van “Vlaglied”. Die geleentheid is deur ongeveer 15 000 mense bygewoon.

Op 3 Mei 1978 sê die leier van die Volksraad in die parlement, B.J. Vorster, dat aangesien dit die volgende dag presies 50 jaar sal wees sedert die landsvlag vir die eerste keer op die Parlementsgebou gehys is, hy “hulde wil bring”. Volgens Vorster was dit “stormagtige tye” en die vlag wat toe “voortgebring is”, het ’n simbool van eenheid en nasieskap geword. Hy verwys na die skryf van “Vlaglied” in 1927 en die komponeer van die musiek, en sê: “Ons het dus saam met die vlag, wat die simbool van ons nasieskap geword het, ook ’n roerende lied gekry wat in pragtige woorde uitdrukking gee aan die gevoel wat vir daardie vlag bestaan” (Hansard 1978, kol. 8052).

Vorster haal verder ook vir D.F. Malan aan wat by die indiening van die Vlagwetsontwerp gesê het dat ’n vlag “die diepste dryfvere tot handeling in beweging bring”, asook genl. Jan Smuts wat met verwysing na die vlag gesê het dat die mag van simbole “dikwels verreikender is as dié van ander maatskaplike strominge”. Dit is paslik dat die parlement in 1974, deur bemiddeling van Sarah Goldblatt, die woorde en toonsetting van “Vlaglied” tot Staatseiendom kon verklaar, sê hy (Hansard 1978, kol. 8052).

By dieselfde geleentheid spreek J.D. du P. (Japie) Basson hom soos volg uit:

Wat die toekoms alles vir ons land inhou, sal niemand met sekerheid kan sê nie; wat ons wel weet, is dat almal van ons nog voor groot toetse te staan sal kom. Ons droom almal van ’n nuwe Suid-Afrika. Wat ook sal gebeur daar lê vir ons almal ongetwyfeld ook nog verdere toetse voor. Laat ons dit maar nou eerlik sê dat dit nog die toets moet deurstaan van oortuigde aanvaarding deur al die bevolkingsgroepe van ons land wat tans in die proses verkeer om op die een of ander manier opgeneem te word in die staatkundige bestel van ons land. Wie weet, dit gaan miskien nog ons Unievlag, ons Republiekvlag, se grootste toets wees: of dit die strydvlag gaan bly of inderdaad toekomsvlag gaan word. (Hansard 1978, kol. 8054)

Basson sê verder dat die grootste praktiese bewys van hulde wat “ons” aan die vlag kan bewys, in die eerste plek is om alles in “ons” vermoë te doen om te verseker dat die vlag van Suid-Afrika in alle omstandighede en met geesdrif die vlag sal wees van alle Suid-Afrikaners (Hansard 1978, kol. 8055).

Parlementslid W. Vause Raw meen:

Wat ons sal lei, is hierdie vlag: die simbool van ooreenkoms van die verlede wat vir ons ’n inspirasie kan wees wanneer ons na die probleem van die toekoms kyk.

Ek glo dus dat ons met vertroue kan uitsien na die tweede helfte van ’n eeu, die tweede helfte van die eerste 100 jaar in die geskiedenis van ons vlag wanneer die vlag, glo ek, trots oor ’n groter, ’n veiliger en ’n magtiger Suid-Afrika kan wapper, ’n Suid-Afrika wat gebou is op die lesse van die verlede, wat geleer het hoe om vooroordele en verdeeldheid te ontgroei. Ek hoop dat die vlag sal kan wapper oor ’n Suid-Afrika waarin al die volke vir wie Suid-Afrika iets beteken met dieselfde trots, met dieselfde toewyding en dieselfde hoop en geloof daarna sal kyk as waarmee die geslag waarvan ek trots is om ’n lid te wees, kyk na die vlag wat ons dien. (Hansard 1978, kol. 8057)

Die laat fase van apartheid is gekenmerk deur ’n skerp toename in onsekerheid, verdeelde lojaliteite, valse sekuriteit en onrealistiese verwagtinge, maar veral deur vrees vir verandering. Die apartheidsparadigma het neerslag gevind in alle fasette van die lewe in Suid-Afrika, byvoorbeeld politiek, kultuur, sport en opvoeding (Engelbrecht 2004:2).

Hierdie vrees vir verandering en vasbeslotenheid om die status quo te behou, blyk ook uit die bostaande parlementsdebat. Dit toon ook ’n vasberadenheid om die vlag en “Vlaglied”in hierdie verband te gebruik.

In 1979 verskyn ’n boekie van tien gedrukte bladsye, getitel Die Nasionale Vlag en Volkslied van die Republiek van Suid-Afrika. Dit isopgestel en versprei deur die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK). Afrikaners (d.w.s. blanke4 Afrikaanssprekende Afrikaners) word sterk aangemoedig om die landsvlag te hys – en “Vlaglied”te sing:

Elke landsburger kan die Vlag tuis hys […]. Eerbetoon aan ’n nasionale vlag dagteken uit die vroegste verlede en is deur die geslagte heen getrou gehuldig. In Suid-Afrika het die vroegste burgers aan die Kaap, die Voortrekkers en die burgers van die republieke dié tradisie voortgesit en aan ons geslagte oorgedra. Laat ons dit met woord en daad aan die opkomende geslagte oordra. (FAK 1979:6)

Direk op hierdie aanhaling volg die vierde vers van “Vlaglied” – sonder verklaring, kommentaar of verduideliking. Die boodskap van noue verbintenis tussen die vlag en die sing van “Vlaglied”is egter duidelik: dit staan enigiemand vry om “Die Stem”in die openbaar uit te voer; “Die Stem” kan gesing of gespeel word by skoolbedrywighede, byvoorbeeld aan die begin en einde van kwartale of termyne, asook by kolleges en universiteite; en by vlaghysings (waar “Vlaglied” ook gesing of gespeel kan word) (FAK 1979:8).

By die skool waar ek skoolgehou het, is die vlag voor die skool elke oggend deur die prefekte gehys en weer aan die einde van die skooldag gestryk. Dit was ook die geval by ander skole. (Die nuwe landsvlag word tans nog gereeld by sommige skole gehys.) Volgens Pama (1984:51) is

[d]ie vlag [...] die simbool van die nasie […]. Die gewoonte om die vlag op nasionale feesdae of ander feestelike gebeurtenisse by woonhuise te laat wapper of in die voortuin voor die huis te hys, neem gelukkig ook toe en kan nie genoeg aangeprys word nie [...]. In ander lande, soos die Verenigde State van Amerika, het dit die gebruik vir skoolkinders geword om soggens voor die begin van die dag se werk byeen te kom vir ’n plegtige vlaghysing. Hulle sing hierby dan meestal ook hul volkslied. By ons in Suid-Afrika het baie skole ook al sulke gebruike. Hulle hys meesal eers die nasionale vlag, en daarna die skoolvlag.

“Vlaglied” word steeds deur die Voortrekkerbeweging gesing. In Dit is die Voortrekkers, hersien in Januarie 2012, word onder die opskrif “Die Vlaglied” gesê: ”Die betekenis van ’n eie Nasionale vlag word mooi en treffend saamgevat deur C.J. Langenhoven in sy vlaglied ‘Ons eie Vlag’.” Dan volg al vier die verse van “Vlaglied”(Voortrekkers (vereniging) 2012:38).

 

4. Die teks van“Vlaglied” aan die hand van meestersimbole

Soos in die geval van “Die Stem” is die eerste aspek wat opval, die woorde van die vierde vers, wat, soos Muller (2001:21) dit stel met verwysing na “Die Stem”, “affirm Afrikaner historical mythology and assert claims to land and religious favour with the Almighty […]”:

Ons nasie se grondbrief van eiendomsland
Uitgegee op gesag van die Hoogste se hand.

Die vierde vers word die meeste gesing, maar reeds in die derde vers vind ons:

Ons wil is ons eie, ons weg wys so
Soos ons self hom baan, onder God daar bo.

Lüdemann (2003:22) wys daarop dat Langenhoven se gedig “Die Stem” (geskryf in 1918) oorspronklik uit slegs drie verse bestaan het. Die vierde is geskryf eers nadat ’n leser in Die Burger gevra het vir ’n vers om die Afrikaner se godsdienstigheid uit te beeld. Langenhoven het daarop gereageer deur die vierde vers te skryf: die vorige drie het die wyer perspektief en die versekering vir die toekoms kortgekom wat insluiting van die geloof sou bied (Lüdemann 2003:22): “Op u Almag vas vertrouend […]” en wat daarop volg. Dit is insiggewend dat Langenhoven met die dig van “Vlaglied” in 1926 seker gemaak het dat hierdie godsdienstige versekering wel in die vierde vers vervat is.

Die vierde vers van “Die Stem” dra, soos Muller aantoon, die gewyde en godsdienstige oor op nasionale gebied deur aan laasgenoemde ewigdurende en transendentele waardes toe te dig (Muller 2001:22). Die toon daarvan is gewyd en het die aard van ’n gebed. Dit is nie die geval in “Vlaglied” nie. Daar word nie in hierdie lied gebid nie. Daar word uitdagend en brutaal verklaar:

Ons nasie se grondbrief van eiendomsland
uitgegee op gesag van die Hoogste se hand. (vers 4)

En:

Ons wil is ons eie, ons weg wys ons so
soos ons self (my kursivering) hom baan, onder God daar bo. (vers 3)

God word hier ietwat soos ’n nagedagte bygebring.

Lüdemann (2003:22) wys verder daarop dat die Suid-Afrikaanse landskap die simbool is vir ’n ideologie wat gebaseer is op ’n aanspraak op die regmatige eienaarskap van die grond deur diegene wat hulself as die ware eienaars beskou, ongeag die kolonialisasie deur vreemde moondhede. “Vlaglied” gaan egter veel verder as “Die Stem”. Hier word ware koninklike eienskappe aan die Afrikaner toegeskryf:

Die vlag is die beeld van ons majesteit.
Ons nasie se septer, ons volk se kroon.

Die teks van “Vlaglied”as geheel het ’n sterk dreigende ondertoon:

Aan ander ’n waarskuwing, wie ook kom pla,
Pasop vir die seuns van Suid-Afrika. (vers 2)

J.M. du Preez het skoolhandboeke wat in 1980 en 1981 vir blanke en nieblanke hoërskole in die Republiek van Suid-Afrika en in sommige van die destydse nasionale state voorgeskryf was, in haar boek “Africana” Afrikaner. Meestersimbole in Suid-Afrikaanse skoolhandboeke (1983) bestudeer.5 Die onderliggende waardes en houdings in die handboeke word uitgelig en ontleed. Sy wys daarop dat dominante simbole waarmee ’n samelewing identifiseer, in skoolhandboeke weerspieël word. Hierdie simbole verklaar wat die samelewing tot sekere optredes beweeg en wat van die toekomstige burgers, toegerus met die besondere simboolsisteem, verwag kan word. Die grens tussen nasionale identiteitsvorming en nasionale manipulasie is moeilik om te onderskei. Deur die meestersimbole wat gebruik word noukeurig te selekteer of te redigeer, kan iemand mense se houdings teenoor ’n instelling of groep beïnvloed, want meestersimbole is onder andere stereotipes, en stereotipes is uitnemende werktuie vir manipulasie. Alle insette gemik op die handhawing van die status quo is uiteraard stereotipies. Skoolonderrig bepaal die maatstawwe waarop die oordele berus, asook die elemente wat ideale, ideologieë en doelwitte vorm. Lank nadat die inhoudelike vergeet is, sal die waardes wat in hierdie tyd by skoliere gevestig is, steeds blywende invloed uitoefen (Du Preez 1983:3, 5, 6 en 11). Die kommentare oor “Vlaglied” op die webwerf Bravoland waarna reeds verwys is, toon hoe die waardes wat deur hierdie lied by skoliere gevestig is, hulle steeds beïnvloed.

Die geïdentifiseerde dominante simbole of meestersimbole word deur Du Preez gedefinieer as simbole wat die bestaande sosiale struktuur of institusionele orde regverdig. Hulle het konsekwent in skoolhandboeke vir die vakke geskiedenis, aardrykskunde en Afrikaanse letterkunde voorgekom (Du Preez 1983:63, 73).

Van de Rheede (1992:277) onderskei tussen die eksplisiete, die implisiete en nul-kurrikula. Jansen (1998:130) verklaar die konsepte uit ’n krities-teoretiese oogpunt: die skoolkurrikulum is op drie maniere ’n politieke dokument: (i) die amptelike (eksplisiete) kurrikulum selekteer formele en eksplisiete kennis wat geleer moet word; (ii) die verborge (implisiete) kurrikulum leer gedragskodes, waardes, stereotipes en verwagtinge van die gemeenskap; (iii) die nul-kurrikulum verwys na daardie aspekte wat nie in skole geleer word nie. Die waardes oorgedra deur die sing van “Vlaglied” val duidelik binne die bestek van die verborge of implisiete kurrikulum.

Apple (1990:84) definieer die verborge kurrikulum as die norme en waardes wat stilswyend maar effektief in skole onderrig word en wat nie gewoonlik in die opgawes van onderwysers se doelstellings genoem word nie. Du Preez se “meestersimbole”, wat deel is van hierdie verborge kurrikulum, kan in so ’n mate deel van ’n gemeenskap se kollektiewe onderbewussyn word dat hulle as onweerlegbare feite aanvaar word. Sy wys daarop dat die heersende ideologieë en dogmas binne ’n gemeenskap wat as feite aanvaar word, die onvermydelike kategorieë is waarin mense hulle wêreld en die dinge rondom hulle indeel. Die dieperliggende gesigspunte is in so ’n mate deel van ’n persoon dat hy nie meer bewus daarvan is nie. Onbewus van hierdie gesigspunte as sodanig, evalueer hy ander dinge daarvolgens. Dit word dus ’n bril waardeur dinge gesien, ervaar en beoordeel word (Du Preez 1983:62).

4.1 Godsdiens as meestersimbool

Een van die meestersimbool-boodskappe wat deur die destydse handboeke uitgedra is, was: die Afrikaner het ’n eksklusiewe verhouding met God (Du Preez 1983:67).

Die beeld wat die godsdienstige Afrikaner van sy geskiedenis gehad het, was ’n Ou-Testamentiese siening. Daar is geglo dat God die Afrikaner gewil het deur die verskillende elemente uit Nederland, Frankryk en Duitsland hier met ’n bepaalde doel byeen te bring. Die Afrikaners wat aan die suidpunt van Afrika geplant is, is ’n uitverkore volk, soos Israel, ’n volk wat in sy oorsprong na ’n idee soek wat sin aan sy bestaan sal gee. Dit lei tot die eksklusiwiteitsidee van die verhouding tussen God en die blanke Afrikaner (Du Preez 1983:72).

Religieuse simbole is by uitstek emotief van aard weens die bonatuurlike konteks waarin dit funksioneer (Du Preez 1983:77). Daarom dat verwysings na “God” en “die Hoogste” in “Vlaglied”, veral wanneer dit gereeld soggens gesing is net na die Skriflesing en gebed as deel van ’n godsdienstige ritueel, ’n beduidende invloed op skoliere moes gehad het om die geloof te vestig dat Suid-Afrika aan hulle behoort, “uitgegee op gesag van die Hoogste se hand”.

4.2 Grond as meestersimbool

Gebiedsafbakening is vir enige nasie-in-wording ’n kritieke en soms plofbare vraagstuk. Die Afrikaner, wat in die 1980’s die politieke toneel in die land oorheers het, het geglo dat Suid-Afrika deur God aan hom gegee is en dat dit dus sy regmatige plek is. Daar is ook geglo dat blankes en nieblankes gelyktydig hier aangekom het en dat die land feitlik onbewoon was. Afsonderlike gebiede, so lui die oorsprongsmite van die Afrikaner, is beset, en volgens hierdie mite het die blanke nooit geweld gebruik om grondgebied te bekom nie (Du Preez 1983:78). Om dit na die Bybelse idioom te herlei: soos Josua van ouds het die Trekkers die land van melk en heuning binnegetrek en God het die mure van Jerigo laat val. Suid-Afrika is die blankes se vaderland en dit is hulle geboortereg om hulle beskawing te beskerm en hulle heerskappy te bevestig. Omdat daar geglo word dat God hierdie Kanaän (Suid-Afrika) aan die blanke Afrikaner gegee het, regeer hy die land daarvolgens. Die onderrig van sulke oortuigings oor grondgebied en politieke mag in skoolhandboeke is nie bevorderlik vir gevoelens van verdraagsaamheid en die skep van lewensruimte vir ander volksgroepe by leerlinge nie (Du Preez 1983:78).

Ek meen dat hierdie oortuigings wat by leerlinge in die klaskamer gevestig is, nog baie sterker vasgelê is wanneer hulle soggens oor die bewys van besitlikheid, “die grondbrief van eiendomsland”, wat boonop op die Hoogste gesag uitgereik is, gesing het.

4.3 Nasie/volk as meestersimbool

Met die woorde volk en nasie in die skoolhandboeke van die 1980’s is “blankes”, “Boere” en “Voortrekkers” bedoel. Hulle was die Afrikaners en hulle was Suid-Afrika. Die land het behoort aan die blanke, veral Afrikaanssprekende, Suid-Afrikaner. Alles wat nie tipies Afrikaner is nie, is as ’n bedreiging gesien (Du Preez 1983:55).

Hierdie gevoel van bedreiging blyk ook uit die debat in die parlement van 3 Mei 1978 wat reeds aangehaal is, veral in Basson se woorde. Duidelik is “ons” die blanke volk en die bedreiging kom van “die ander bevolkingsgroepe”.

Die klem op “ons (blanke) nasie” en “ons (blanke) volk” kom baie sterk in “Vlaglied” na vore:

Ons nasie se septer, ons volk se kroon
Die regterhands-waarborg aan al wat hier woon. [maar net die blankes]

In die skoolhandboeke van die 1980’s word skoliere aangemoedig om ’n onbevraagtekende lojaliteit teenoor die staat aan te kweek. Die absolute lojaliteit versterk die status quo, maar is in direkte teenstelling met demokratiese beginsels. Die onvoorwaardelike aanvaarding van wettige gesag soos dit deur hierdie meestersimbole in die handboeke gepropageer word, kan spruit uit ’n innerlike onsekerheid en ’n gebrek aan ’n kritiese ingesteldheid (Du Preez 1983:74, 75). In“Vlaglied” getuig die uitgesproke gevoel van bedreiging en die bravado wat dit probeer verberg, hiervan:

Aan ander ’n waarskuwing, wie ook kom pla
Pasop vir die seuns van Suid-Afrika. (vers 2)

Om te voel ons is niemand se minderes nou
Ons wil is ons eie, ons weg wys ons so …
Want saam is ons seuns van Suid-Afrika. (vers 3)

4.4 Blanke oorheersing / nieblanke ondergeskiktheid as meestersimbool

Die etnosentrisme van die blankes is ’n diepliggende meestersimbool by die Afrikaner en is in die 1980’s geregverdig deur die Christelike beskawing en die persepsie van inherente ondergeskiktheid van nieblankes. Hierdie persepsie het natuurlik lank voor die 1980’s al bestaan.

A vocabulary of motives [...] lends to the status superior the secondary advantage of implementing his superiority of property and power by a sense of moral superiority, it enables him to “rationalize” social differences into “moral” differences, with all the moral benefits accruing to himself. (Gerth en Mills 1953:259)

Die verwysing na “oorman en kneg” in “Vlaglied” toon hierdie magsverskil duidelik aan. In die Suid-Afrikaanse samelewing van die 1980’s was daar geen twyfel nie dat die blanke die “oorman” was en die res die “kneg”.

Volgens Auerbach (1963:75) was een van die belangrikste kenmerke van die Suid-Afrikaanse kultuur die diskriminasie teenoor swart mense. Daarteenoor was die hoogste waarde die behoud van ’n dominante blanke kultuur. So word dit in “Vlaglied” gestel:

Die vlag is die beeld van ons majesteit
Ons nasie se septer, ons volk se kroon
Die regterhands-waarborg aan al wat hier woon…
Om elkeen sy eer en sy roem te behou
Om te voel ons is niemand se minderes nou. (vers 2)

Du Preez wys daarop dat die opvatting dat elke volk besondere inherente eienskappe het, onderliggend was aan die Christelike nasionale denke in Suid-Afrika in die 1980’s. Blanke skoliere wat geskiedenis met hierdie klem geleer het, het oordrewe opvattings oor die belangrikheid van die Suid-Afrikaanse geskiedenis binne die geskiedenis van die beskawing ontwikkel. Hulle het die oortuiging ontwikkel dat nieblankes permanent primitief en inherent minderwaardig is in vergelyking met hulself en het die siening gehuldig dat beskawing en Christelikheid onlosmaaklik aan die Kaukasiese ras verbonde is (Du Preez 1983:23). Die gevare wat dié geloof inhou, is dat vooroordeel nie staties bly nie, maar deur aanhoudende versterking al hoe intenser word. Vooroordeel teenoor ’n ander groep gaan maklik oor in vyandigheid, en gaan dan deur die fases van verwerping en diskriminasie oor in haat, aggressie en selfs uitwissing (Du Preez 1983:23). Hierdie geloof kan in die onderbewussyn setel. Karbusicky toon in Empirische Musiksoziologie. Erscheinungsformen, Theorie und Philosophie des Bezugs ‘Musik – Gesellschaft’ (1975) herhaaldelik aan dat ’n psigiese grondvorm (hy gebruik die woord Archetyp) wat deur kultuurgebondenheid gevestig is, altyd weer in die onderbewuste opduik. Hy stel dit die duidelikste waar hy sê: “(D)ie Ideologie [...] sät ihre magische Denkformen in das Unterbewusstsein der Menschen ein” (Die ideologie vestig sy magiese denkvorme in die onderbewussyn van die mens) (1975:376).

In die skoolhandboeke van die 1980’s is onderrig dat die blankes in ’n voogdylike hoedanigheid teenoor ander rassegroepe in Suid-Afrika staan, en die blankes het hulle meerderwaardigheid gegrond op hulle hoër beskawingspeil en Christelikheid. Slegs die blanke Afrikaner is as godsdienstig beskou. Die nieblankes was steeds die heidene wat gekersten moet word, en die roeping tot kerstening was die rede waarom die blanke volk in Suid-Afrika geplaas is. Die godsdiens wat die blanke groep as die uitverkore volk van God uitsonder, het dus weer die verdeeldheid van bevolkingsgroepe in Suid-Afrika tot gevolg. Die Afrikaner het ’n Godgegewe taak in “donker” Afrika (Du Preez 1983:78, 71).

Die tematisering van ’n sendingopdrag vir die Afrikanervolk kan moontlik hier uitgelig word. Dié tema oorvleuel met ander meesterkonsepte: die Afrikaner het ’n eksklusiewe verhouding met God; Suid-Afrika is die Afrikaner se land; en die blanke is meerderwaardig, die nieblanke minderwaardig (Du Preez 1983:87).

Volgens die strekking van hierdie skoolhandboeke het Suid-Afrika homself op alle terreine as die leier in Afrika beskou, deels vanweë sy meerderwaardigheidsgevoel teenoor die nieblankes. Leier en leierskap impliseer egter veel meer as net die meeste, beste, grootste en sterkste – sonder ware volgelinge kan daar nie sprake van leierskap wees nie (Du Preez 1983:87). Dat die Suid-Afrikaanse regering hierop bedag was, is seker. Soos reeds aangehaal, sê Basson op 3 Mei 1978 in die parlement dat ’n “nuwe Suid-Afrika […] nog die toets moet deurstaan van oortuigde aanvaarding deur al die bevolkingsgroepe van ons land wat tans in die proses verkeer om op die een of ander manier [my kursivering] opgeneem te word in die staatkundige bestel van ons land” (Hansard 1978, kol. 8054). Basson was weliswaar nie ’n lid van die regerende party nie, maar sy uitlatings by hierdie geleentheid het duidelik die goedkeuring weggedra van die lede van die regerende party wat teenwoordig was. Daar moet daarop gewys word dat drie en ’n halwe miljoen mense tussen 1960 en 1985 gewelddadig verplaas is van een deel van Suid-Afrika na ‘n ander en dat in 1985 nog twee miljoen gedreig is met verplasing in die toekoms (Silverman s.j.). Die “majesteit”-simbool in “Vlaglied”impliseer baie sterk dat daar wel volgelinge is.

Die blanke het ’n reg op Suid-Afrika, is onderrig. Du Preez (1983:71) wys daarop dat die blanke se reg op Suid-Afrika beklemtoon is deur die woord reg herhaaldelik in geografiese, historiese en politieke konteks te gebruik. So het die skoliere ook soggens by die skoolopening van die Suid-Afrikaanse vlag gesing:

Ons weet hy’s die seël van ons vryheid en reg
Vir naaste en vreemde, vir oorman en kneg. (vers 4)

Alhoewel die Afrikaner so ingestel was op afsondering, was ’n groot sensitiwiteit ten opsigte van sy aansien in die buitewêreld opvallend. Die uitdrukking “grootste ter wêreld” word gereeld in skoolhandboeke aangetref (Du Preez 1983:87) en in “Vlaglied” vind ons die stelling: “ons is niemand se minderes nou”.

4.5 Suiwerheid as meestersimbool

Dit blyk uit die skoolhandboeke van die 1980’s dat die persepsie bestaan het dat ander bevolkingsgroepe ’n bedreiging vir die blanke Afrikaanssprekende Afrikaner ingehou het. Alles wat nie onder tipies Afrikaans geressorteer het nie, is as ’n bedreiging beskou. Afrikaners is beskou as ’n eksklusiewe, blanke, Afrikaanssprekende, godsdienstige groep. Eienskappe wat hoog aangeskryf is, was selfstandigheid, heldemoed, fisieke welsyn, tradisievastheid en lojaliteit (Du Preez 1983:70). Hierdie eienskappe, en veral die konsep van rassuiwerheid, herinner baie sterk aan dit wat gedurende die Hitler-bewind in Nazi-Duitsland aan kinders in skole geleer is (Buffington e.a. s.j.). Die Afrikaner het bedreig gevoel deur alles wat on-Afrikaans was en die swart getalle-oorwig is as een van die grootste bedreigings beskou (Du Preez 1983:70). Hierdie begrippe is sterk bevestig in “Vlaglied”. Aan “die vreemde van ver af wat opkyk en vra”, word gesê:

Dat burger by burger as een man sal staan
Om skoon en onskendbaar te hou daardie vaan
Aan ander ’n waarskuwing, wie ook kom pla
Pasop vir die seuns van Suid-Afrika. (vers 2)

Giliomee (1975:42) skryf dat genetiese beweegredes alleen nie die belangrikste oorweging was vir hierdie strewe na “suiwerheid” nie; die begeerte tot afsonderlikheid en “suiwerheid” het gewig verkry slegs in samehang met die tweede komponent van die blankes se groepsbewustheid, te wete dié van ’n groep met die eerste of grootste aanspraak op sekere voorregte en voordele. Die afsonderlikheid en suiwerheid van die ras moes bewaar word nie as doel op sigself nie, maar wel om sodoende die bevoorregte posisie van die rassegroep “onverdun” te behou. Sonder ’n bevoorregte posisie sou daar nie ’n “suiwer” blanke ras behoue kon bly nie, sonder ’n “suiwer” blanke ras nie ’n bevoorregte posisie nie.

Venter (2011:11) wys daarop dat bloedsuiwerheid ’n belangrike posisie beklee het in die kollektiewe en individuele psigologie van die Afrikaner en sy idealisering van ’n bloedsuiwer nasie. Dit was die “Afrikanermoeders” wat by uitstek die beskermers was van die bloedsuiwerheid van die Boerenasie. Die (sterk “manlike”) lied “Vlaglied”kom net voor die lied “O, Boereplaas” in die eerste uitgawe van die FAK in 1937. In “O, Boereplaas”val die klem op die Afrikanermoeder, die moederhuis en die moedertaal.Hierdie naasmekaarstelling van die liedere kan egter blote toeval wees. In die 1979-uitgawe van die FAK-Volksangbundel is “O, Boereplaas”nie in die afdeling “Volk en Vaderland” geplaas nie, maar in die afdeling “Besinning”.

4.6 Militarisme as meestersimbool

Militêre optrede in die verlede, hede en toekoms was ’n wesenlike kenmerk van die simboolsisteem van die Afrikaner van die 1980’s. Die beskrywings in die destydse handboeke is deurgaans positief; slegs oorwinning word genoem (Du Preez 1983:69). Die uitgangspunt is: die Afrikaner is ’n vernuftige en dapper soldaat. Vyande is almal wat nie onder die term/begrip Afrikaner (blank en Afrikaanssprekend) ingedeel kan word nie. Die verwysings laat blyk dat deelname aan militêre optrede ’n voorreg is (Du Preez 1983:47).

Die militêre bewustheid is nou gekoppel aan die gevoel van bedreiging wat die Afrikaner ervaar het. Die bedreiging van die Afrikaner is ’n meestersimbool wat hom sterk in die leerplan manifesteer het (Du Preez 1983:83). Bedreigings het die Afrikanerbestaan gekenmerk en die Afrikaner het deurentyd gewaak teen die sogenaamde “swart gevaar”, die “rooi gevaar”, en (vroeër) die “Kakiegevaar”. Swart mense is algemeen as bedreigers of probleme beskou en nie as mense wat uit eie reg ’n deel van die geskiedenis uitmaak nie. Die bedreiging kom voor op verskillende terreine: die voortbestaan van die blanke deur bloedvermenging, onrus in die land, maatskaplike probleme, grondbesit en die deling van politieke mag (Du Preez 1983:84).

Die simbool “die Afrikaner word bedreig”, by welke bedreiging alle on-Afrikaanse elemente ingesluit word, kon geen positiewe bydrae lewer tot die oplossing van konflikte in Suider-Afrika nie. Die inprent van hierdie simbool by wyse van handboekmateriaal kon min bygedra het tot vreedsame naasbestaan in die toekoms. Deur alle veranderings, nuwe idees of ontwikkeling (soos byvoorbeeld verstedeliking) op sigself as bedreigings te sien, is natuurlike groei en ontwikkeling gestrem (Du Preez 1983:86).

Die bedreigdheid van die Afrikaner en die moontlikheid van militêre optrede in die toekoms is versterk deur die samesang van “Vlaglied”by die opening in die oggend. Die algemene milieu moet hier ook in ag geneem word. Al die leerlinge is in skooluniform wat streng gereguleer is. Lengte van rokke en hare is streng bepaal. Die skoliere het die skoolsaal in gelid binnegekom (dikwels op maat van ’n ander mars). Die seuns in die kadetkorps is in semimilitêre uniform geklee. Daar is reeds ’n militêre atmosfeer, en al die leerlinge sing wat beskou kan word as ’n gelade en problematiese teks:

Om te hou vir ons kinders se kinders wat wag
Ons nasie se grondbrief van eiendomsland. (vers 4)

4.7 Manlikheid as meestersimbool

Du Preez wys daarop dat in die skoolhandboeke van die 1980’s verwysings na manlike figure oorheers. ’n Sterk patriargale inslag kenmerk alle verwysings na die gesin. Die man, die boer, die burger is die prototipe. Vroue word geïgnoreer. Selfs in die vakke geskiedenis en letterkunde is vroue naamloos en dien slegs as ’n stilswyende passiewe agtergrondsgroep (Du Preez 1983:55, 87).

“Vlaglied” sit hierdie tendens voort: dit is ’n manlike lied. Die manlikheid word duidelik in die teks uitgespel: die tweede vers eindig met “Pasop vir die seuns van Suid-Afrika” en die derde “Want saam is ons seuns van Suid-Afrika”. Daar is ook die verwysing na “oorman” en “Dat burger by burger as een man sal staan”. Daar is geen verwysing na vroue nie.

4.8 Die vlag as meestersimbool

Die vlag op sigself is uiteraard ’n baie sterk simbool. Landsvlae is wêreldwyd gevoelsimbole. In “Vlaglied”word die vlag uitgebeeld as verteenwoordigend van blanke meerderwaardigheid:

Die vlag is die beeld van ons majesteit
Ons nasie se septer, ons volk se kroon. (vers 2)

4.9 Samevattend

Volgens Du Preez (1983:87) wil dit voorkom asof die onderliggende simboolstruktuur van skoolhandboeke in die 1980’s sprekend was van die Afrikaners soos hulle hulself graag wou sien. Haar ondersoek het bevestig dat die meestersimbole in daardie Suid-Afrikaanse skoolhandboeke hoofsaaklik uit die godsdienstige orde kom en dat laasgenoemde dus toonaangewend is. In ’n sosiale struktuur waar die godsdienstige orde nie oorheers nie en waar die simbole van die religieuse instelling uiteenlopend en teenstrydig mag wees, ontwikkel daar ’n wedersydse aanvaarding. Maar waar simbole absoluut is, kan die volgelinge onverdraagsaam wees teenoor gelowe wat verskil van hul eie. Hierdie onverdraagsaamheid ten opsigte van alles wat nie onder die eie geklassifiseer kan word nie, is kenmerkend van die geïdentifiseerde meestersimbole (Du Preez 1983:98). Karbusicky wys daarop dat ’n bepaalde ideologiese gegewe die enigste lewenswyse kan word. Dit word “die Gegenüberstellung zweier Welten, der ‘unsrigen’ (heilen, glücklichen, bedrohten) und der ‘anderen’ (schlechten, verfaulten, niederträchtigen), der Welt des Feindes” (die teenoormekaarstelling van twee wêrelde, dié van ons (vreedsaam, gelukkig of bedreig) of dié van die vyand (sleg, dekadent, verraderlik) (1975:361).

Herhaalde gebruik van die simbole in samesang, soos dit gedoen is deur die sing van “Vlaglied” by die skoolopening in die oggend, het bygedra tot die kondisionering van die jeug tot behoud van die bestaande instellings.

 

5. Die musiek

Soos “Die Stem”is “Vlaglied”’n mars. Terwyl Muller meen dat “Die Stem fits the bill of the festive march splendidly” (2001:25), is daar niks feestelik aan “Vlaglied” nie. Die eerste agt van die altesaam twintig mate bestaan feitlik uitsluitlik uit tonika- en dominant-harmonie. Die eerste vier mate bestaan slegs uit tonika- en dominant-harmonie, behalwe die kadens op die submediant aan die einde van die frase, terwyl die melodie vir meer as twee mate slegs afwissel tussen die dominant E-mol en die submediant, F, met twee sestiende-note op G. Daar is ’n kwint-styging in die derde maat, net voor die kadens, ter beklemtoning van die woord vlag. Al die frases kadenseer op die tonika of die dominant, met die uitsondering van die derde frase, wat op die mediant kadenseer. Die melodie styg ook tot op C, die mediant. Volgens Lüdemann (2003:31) kom so ’n kadens op die mediant aan die einde van die derde kwart van die lied dikwels in soortgelyke patriotiese liedere voor. Die “most predictable of clichés” (Lüdemann 2003:24), ’n hoë noot aan die einde van die laaste, vyfde frase, is wel daar in die hoë tonika in die voorlaaste maat, sodat die apoteose6 ook daar is. Chromatiese elemente in die lied is beperk tot enkele sekondêre dominant- en leitoon-akkoorde.

Daar is geen opmaat aan die begin van die lied nie. Al die ander frases begin wel met ’n opmaat. Gepunteerde ritmes op die swak maatslae kom deurentyd in die melodie voor. Dit is nie slegs ’n kenmerk soos in “Die Stem”nie; dit word deurentyd volgehou, terwyl die sterk, manlike, dreigende voetslae van die mars afgemeet word deur die ononderbroke kwartnote op die sterk maatslae in die regterhand en al vier maatslae in die linkerhand. Die afgemete vier akkoorde in die linkerhand word slegs in mate 7, 16 en 19 effens versag in die linkerhand, wat feitlik deurentyd oktaaf- en dominant-spronge handhaaf. Dit gee uitdrukking aan ’n dreigement wat aanpas by die woorde. Al die kadense aan die einde van die frases is manlik: dit wil sê al die frases eindig op ’n sterk maatslag.

Effense verligting van die donker voetslae in die ritme van die linkerhand kom ook slegs voor in die voorlaaste maat van frase twee (maat 7), wat dieselfde gepunteerde ritme as die melodie het. Daar is verder verligting van die ononderbroke kwartnote in die linkerhand in frase vier (maat 16), waar gepunteerde ritmes op die swak maatslae voorkom, en frase vyf (maat 19), waar twee agtste-note voorkom. ’n Dreigender militêre mars is, wanneer die musikale materiaal van “Vlaglied” in oorweging gebring word, nouliks denkbaar. Terwyl die aanduiding “opgewek” aan die begin van “Die Stem” voorkom, is daar niks opgewek aan “Vlaglied” nie. Hier is die aanduiding slegs “marstempo”. Die openingsmate dui die atmosfeer van die hele lied aan. Dit is ’n donker strydlied. Daar is geen gebroke-akkoord-konstruksie nie, slegs digte, vol, stabiele akkoorde.

Die melodie, harmonie en ritme is eenvoudig, maar die lied het ten spyte daarvan ’n “gewelddadige” karakter. Die geweld spruit uit die meedoënlose, strak eenselwigheid van die vier kwartnote in ’n maat in die linkerhand, asook die strakheid van die gedurige herhalings op dieselfde toonhoogte in die melodie.

Muller (2001:23) wys daarop dat “Die Stem” dikwels stadig gesing word om ’n gesangagtige (hymn-like) effek daar te stel, maar dat die gepunteerde opmaat, en De Villiers se tempo-aanduidings in die manuskrip (“poco vivo e marcia”), sy bedoelings oor die marsagtige karakter van sy melodie duidelik maak. Daar is geen opmaat aan die begin van "Vlaglied" nie en die tempo-aanduiding is “marstempo”. Die musiek is swaar en afgemete en het ’n sterk militêre karakter.

McClary (1991:8, 9) voer aan:

The musical semiotics of gender can tell us much about the actual music (why these particular pitches and rhythms as opposed to others). And studying music from this vantage point can also provide insights into social history itself.

[...]

The images of gender or sexuality are usually rhetorically generated: that is, they are produced by more or less deliberate choices by composers, along with other dramatic and affective strategies of particular pieces […]. Chromaticism, which enriches tonal music but which must finally be resolved to the triad for the sake of closure, takes on the cultural cast of femininity. The “feminine” never gets the last word within this context: in the world of traditional narrative, there are no feminine endings.

Williams (1961:67) skryf verder soos volg oor ritme:

We are only beginning to investigate this on any scientific basis, but it seems clear from what we already know that rhythm is a way of transmitting a description of experience, in such a way that the experience is re-created in the person receiving it, not merely as an “abstraction” or an emotion but as a physical effect on the organism – on the blood, on the breathing, on the physical patterns of the brain […] it is more than a metaphor, it is physical experience as real as any other.

So gesien, word die manlikheid van die “Vlaglied”-teks weerspieël in die musiek. Daar is die voortdurende reëlmatige maatslae, soos ratwerk, en al die kadense het manlike eindes. Daar is min chromatiek. Die chromatiek wat wel voorkom, kom slegs in die middel van die lied voor, en wat daar is, is van ’n eenvoudige aard en beperk tot sekondêre akkoorde.

McClary (1991:131) wys daarop dat die luisteraar deur herhaling kan leer om die konstante erotiese energie, die ekstase van die ratwerk (“the ecstasy of the clockwork”) te waardeer, en selfs daaraan geheg te raak. ’n Mens moet vra of dit die konstante, erotiese energie, die ekstase van die onafgewisselde ratwerk van die onafgebroke kwartnote en ingehamerde melodie was wat “Vlaglied”aantreklik gemaak het vir ontvanklike tienderjariges. Want hulle het van die lied gehou. Sien in hierdie verband byvoorbeeld die kommentaar op die webwerf Bravoland.

Die strak, meedoënlose brutaliteit van die lied skakel in by die argitektuur van die apartheidsera. Herwitz (2001:148) meld onder die opskrif “Genealogy of modern South African architecture”:

The building of apartheid sought to articulate and extend the power of the state, with its apportionment of citizenship and space on the basis of racist essentialism […]. In the bare, modernist blocks of concrete that are the buildings of apartheid resides “a power that does not have to account for itself”.

Hy verwys na die rigiede formules van hierdie geboue en die onbuigbaarheid van die sisteem. Hy gebruik die Unisa-gebou in Pretoria as voorbeeld en sê dit is “a monument to itself, its power, its capacity to install itself with maximum brutality on its site” (Herwitz 2001:148).

“Vlaglied” is ewe rigied en onbuigbaar wat teks en musiek betref.

Silverman (s.j.) voer aan: “In essence, apartheid was about the control of space.” As voorbeelde van die brutale argitektuur noem sy ook die Unisa-gebou, die Voortrekkermonument, die radiotorings in Brixton en Hillbrow, en die Johannesburg Algemene Hospitaal in Parktown wat in die styl van die Nuwe Brutalisme ontwerp is. Hafajee (1998:4) het ook die “megalomaniac architecture” van die tyd beskryf wat ten doel gehad het om die apartheidsideologie te handhaaf.

“Vlaglied” is lank voor hierdie tyd geskryf en gekomponeer, maar verklank dieselfde ideale.

“Vlaglied” is nie die volkslied van Suid-Afrika nie, wel ’n soort tweede volkslied in die aanwending daarvan vir die jeug. Dit verskil van die veel opgewekter “Die Stem van Suid-Afrika”, die gewyde “Nkosi sikelel’ iAfrika”, “God save the Queen”, die “Marseillaise”en “Wilhelmus van Nassouwe”. Selfs die “Horst Wessel Lied”,7 gewild onder die Hitler Jugend gedurende die Nazi-bewind in Duitsland, het ’n meer toeganklike melodie.

Daar moet daarop gewys word dat laasgenoemde melodie in baie ander liedere gebruik is en dat die oorsprong daarvan omstrede is. Die bekendste lied met ’n soortgelyke melodie is die gesang “How great Thou art” (in Afrikaans “Hoe groot is U”) (Anesi 1997). Die melodie is dus gewyd, soos dié van “God save the Queen” en “Nkosi sikelel’ iAfrika”. Interessant is wel dat dit ook ’n “vlaglied” is. Dit begin met die woorde “Die Fahne hoch” (Hoog die vlag) en die vlagmotief kom herhaaldelik voor. Dit het in Nazi-Duitsland gelyke status gehad met “Die Lied der Deutschen” en is net na dié lied gesing, sodat Duitsland toe ’n dubbele volkslied gehad het. Die melodie van “Die Lied der Deutschen”, nou nog die Duitse volkslied, is die baie bekende melodie uit Franz Joseph Haydn se “Keiserkwartet”, ’n melodie wat in die FAK-Sangbundel gebruik is vir die vaderslandslied “Afrikaners Landgenote”.

 

6. “Vlaglied” en die onderwysstelsel

In 1983 het ’n nuwe grondwet vir Suid-Afrika in werking getree. Hiervolgens is ’n wetgewende liggaam daargestel wat bestaan het uit drie kamers: een vir blankes, een vir kleurlinge en een vir Indiërs. Daar is op sentrale regeringsvlak geen voorsiening gemaak vir swart mense nie, aangesien daar van hulle verwag is om hulle politieke regte binne hulle eie gebiede uit te oefen. Die nuwe grondwet het die konsepte algemeen en eie sake (own affairs) ingevoer; laasgenoemde is gedefinieer as “matters which specifically or differentially affected a population group in relation to the maintenance of its identity and the upholding and furtherance of its way of life, culture, traditions and customs”, en onderwys was so ’n “eie saak” (Booyse, Le Roux, Seroto en Wolhutter 2011:230). Dit is dus baie duidelik dat die apartheidsregering hom aan die begin van die tagtigerjare daarop toegespits het om sy ideologie te behou en te bevorder.

Msila (2007) wys daarop dat opvoeding altyd te make het met die vorming van identiteit. Die wetgewers of andere wat opvoedingsbeleid formuleer, het sekere doelstellings in gedagte wat polities, sosiaal of kultureel van aard kan wees. Geskiedkundig kan aangetoon word dat opvoeding nie ’n neutrale daad is nie; volgens Msila is dit altyd polities. Suid-Afrika kom uit ’n verlede waarin apartheidsopvoeding gebruik is as ’n werktuig om die samelewing te verdeel terwyl dit sekere vorme van identiteit in die leerders gevorm het. Onder apartheidsonderwys is skole verdeel volgens ras, en hierdie verdelings het die ongelykhede van ’n verdeelde samelewing versterk (Msila 2007:146–7). Apple (1990:1) toon aan dat onderwys nooit ’n neutrale aangeleentheid was nie. Verder beweer hy dat die onderwyser (bewustelik of onbewustelik) deur die aard van die inrigting by ’n politieke daad betrokke was. Skole speel ’n rol daarin om ongelykheid óf te versterk óf te betwis. “Vlaglied” was nie deel van die kurrikulum nie, maar was in sekere skole deel van wat Jansen (1997:129–39) omskryf as die “verborge kurrikulum”. Hierdie “verborge kurrikulum” kan toegeskryf word aan die onbewuste navolging van die apartheidsideolgie.

Msila (2007:149) voer aan dat die doelwitte van onderwys wat daargestel is deur Afrikanernasionaliste baie soortgelyk is aan dié van die sendelinge: die politisering van die onderwys en die misbruik van godsdiens speel ’n rol in albei gevalle. Hoewel Msila dit besonder sterk stel, wys ook ander skrywers daarop dat sendelinge apartheid aanvaar het. Hale (2010:2) sê dat hoewel die sendelinge gedurende die 1950’s aanvanklik apartheid gekritiseer het, hierdie “legally vulnerable missionaries” oor die algemeen apartheid aanvaar het. Hy wys daarop dat ook Cochrane in 1987 en Villa-Vicencio in 1988 die heersende opvatting dat alle Engelssprekende kerke apartheid teenstaan, betwyfel het.

In die blanke skole in Suid-Afrika het die regeringsbeleid in die verlede verskeie “opvoedkundige programme” ingesluit waar die jong skoliere geïndoktrineer is in waarna as “veldskole” verwys is. Dit is gedoen onder die voorwendsel van natuurstudie. In die veldskole is blanke seuns geleer hoe belangrik dit is om hulle land te beskerm teen nieblankes en kommuniste en hierdie skole het ook die meerderwaardigheidsidee van die blanke Suid-Afrikaner beklemtoon. Die skole was geleibuise van die apartheisideologie (Msila 2007:149).

Die gereelde sing van ’n lied soos “Vlaglied” met die talle indoktrinerende meestersimbole het vermoedelik hiertoe bygedra.

Die gevare verbonde aan die soort onderwys wat deur “Vlaglied”ondersteun is, het onlangs weer geblyk toe daar in Februarie 2012 in koerante berig is oor “rassistiese kampe” waar ’n regse groep, die Kommando-korps, jong Afrikaanse seuns leer om swart mense te haat (Van Gelder 2012).

 

7. Die sing van liedere as manifestasie van politieke mag

Afsonderlike skole met verpligte moedertaalonderrig het die identiteit van die Afrikaner as ’n afsonderlike etniese groep beklemtoon. Die skool, met ’n verpligte gehoor van ontvanklike skoliere, was by uitstek die plek om kultuurleiers en politieke leiers se beskouings te versprei. Formele politieke mag was baie opsigte deurslaggewend, veral in ’n tydvak waarin baie keuses gemaak moes word wat later onherroeplik blyk te gewees het. In die 1980’s het die Afrikaner nog ’n sterk monopolie gehad oor die formele politieke mag. Vir die toekoms van die Afrikaner was dit dus ’n belangrike vraag of hierdie monopolie sou kon voortbestaan (Van der Merwe 1975:75). Kondisionering van skoliere was ’n manier om dit te verseker.

Vanaf die oomblik toe die Nazi-bewind die politieke mag in 1933 in Duitsland oorgeneem het, het die bewind hom daarop toegespits om musiekbeoefening in skole te laat herleef en dit te koördineer. Musiek is beskou as ’n gerieflike saambindende faktor tussen die regeerders en die volk. Joseph Goebbels het toe reeds uitgevind dat musiek geweldige propagandistiese potensiaal het waardeur die onderdane beheer kon word; dit kon gebruik word om nasionale geleenthede op te luister en kon dien as ’n voertuig vir boodskappe en slagspreuke van die bewind. Musiek is beskou as ’n basiese instrument om die jeug te vorm (Kater 1997:130).

Potter (1998) toon aan dat die jeugbewegings tydens die Nazi-bewind hulle dit ten doel gestel het om ’n gemeenskaplike musiekkultuur te vestig wat die mag van musiek om die gemeenskap te bou benut het. Die jeugmusiekbeweging het direkte deelname beklemtoon, ongeag bevoegdheid; koorsang het die kern van hul georganiseerde aktiwiteite gevorm. Die musiekkonsultant vir die Pruisiese ministerie van wetenskap, kuns en onderwys Leo Kerstenberg, het die skool beskou as die beste inrigting om “musikalische Volksbildung” (musikale volksbou) daar te stel (Potter 1998:7, 8).

Hoe bewus die apartheidsregering in Suid-Afrika was van die mag van musiek as saambindende faktor, word onder andere getoon deur die gebeure rondom die vrystelling van die lied “Together we will build a brighter future” in Augustus 1986. Die lied is met groot reklame deur die regering se Inligtingsburo as die amptelike “Vredeslied” vrygestel. Die buro het navorsing gedoen en bevind dat ’n lied die mees effektiewe medium sou wees om die onrus in die land te probeer beveg. Sewe-en-veertig vooraanstaande musikante is gehuur om die lied in sewe tale op te neem. Daar was talle besware. Belastingbetalers was kwaad omdat R4,3 miljoen bestee is aan wat as ’n propagandafoefie gesien is. Lede van die publiek was kwaad omdat die lied die destydse politieke werklikhede in die land ontken het en probeer het om ’n krisis te kamoefleer met ’n strelende retoriek om die volk ’n valse sekuriteitsgevoel te gee met die regering as patriargale “oorman”. Die lied is deur die publiek geboikot, en teen Desember 1986 is alle eksemplare van die lied van die mark onttrek (Byerly 1998:29). Die insident toon egter baie duidelik die destydse regering se bewustheid van die krag van ’n lied en hul misbruik daarvan.

Louis Althusser, die Franse Marxistiese filosoof, het die term “ideologiese staatsapparatuur” geskep. Dit was vir hom verteenwoordigend van die prosesse waardeur die heersende klas nie slegs ’n oorheersende ideologie geprojekteer het nie, maar ook die toestande geskep het wat nodig was vir sy eie voortbestaan en oorheersing. So is kultuur, soos weerspieël in musiek en ander kunsvorme, in totalitêre gemeenskappe gebruik om die heersende ideologie te ondersteun (Althusser 1994:90, 91).

 

8. Ten slotte

Tot so laat as die 1980’s het die onderwysstelsel gepoog om skoliere in apartheidswaardes te indoktrineer. Die Suid-Afrikaanse vlag is op “belangrike dae” gehys (by sommige skole daagliks), en die amptelike volkslied, “Die Stem”, is aan die kinders geleer (South African History Online s.j.). Sommige skole het selfs verder gegaan en ook “Vlaglied” moes gereeld gesing word.

Hoewel geen bewys gevind kon word dat die sing van hierdie lied van owerheidsweë afgedwing is nie, is dit opmerklik dat ’n groot aantal mense wat in dié tyd in die Oranje-Vrystaat en Transvaal op blanke Afrikaanse skole was, onthou dat die lied gereeld by die skoolopening gesing is. Hulle onthou dit met vreugde as iets wat hulle geniet het. Dit kon geen toeval gewees het dat al hierdie skole die sing van hierdie lied as roetine beoefen het nie. Daar was ongetwyfeld van owerheidsweë in die parlement en in publikasies sterk (nie-amptelike) aanmoediging om “Vlaglied” te sing. ’n Groot aantal Afrikaanse skole het die lied by die oggendopening gesing; en dit word nog steeds deur die Voortrekkerbeweging gesing – hoewel ook liedere soos “Nkosi sikelel’ iAfrika”en “Die Volkslied van Namibië”sedert 1994 gesing word (Voortrekkers (vereniging) 2012:7, 8).

Muller (2001:21) argumenteer dat sukses op die rugbyveld toenemend politieke relevansie verkry het as ’n manier om wit onsekerhede te ondersteun en om die simboliese mag van blanke Suid-Afrika te demonstreer. Dit is in hierdie verband dat die blanke simbool, “Die Stem”, gebruik is, voer hy aan.

In hierdie artikel argumenteer ek dat “Vlaglied”op soortgelyke wyse aangewend is. Die twee liedere bevat dieselfde meestersimbole, maar sowel die musiek as die teks van “Vlaglied”is brutaler en dreigender as die veel vriendeliker “Die Stem”. Dit wat in “Die Stem”handel op die vlak van subtiele verbeelding van mag en oorheersing, word ondubbelsinning deur “Vlaglied” verwoord en verklank.

 

 

Bibliografie

Albertyn, E. 1992. Die argitektuur van die Paarl tussen die twee wêreldoorloë – ’n kulturele ondersoek.Ongepubliseerde DPhil-proefskrif, Universiteit Stellenbosch. enscientificcommons.org (5 Januarie 2012 geraadpleeg).

Althusser, L. 1994 [1971]. Ideology and ideological state apparatuses. In Storey (red.) 1994.

Anesi, C. 1997. The Horst Wessel song. http://www.anesi.com/east/horstw.htm (10 April 2012 geraadpleeg).

Apple, M.W. 1990. The hidden curriculum and the nature of conflict. In Stub (red.) 1990.

Arbeidsgenot. s.j. C.J. Langenhoven. Sagmoedige Neelsie. http://www.CJLangenhoven.co.za (1 Maart 2012 geraadpleeg).

Auerbach, F.E. 1963. An enquiry into history textbooks and syllabuses in Transvaal high schools. Johannesburg: Universiteit van die Witwatersrand.

Babbie, E. en J. Mouton. 2012. The practice of social research. Kaapstad: Oxford University Press.

Booyse, J.J., C.S. le Roux, J. Seroto en C.C. Wolhuter. 2011. A history of schooling in South Africa. Pretoria: Van Schaik.

Buffington, L., T. Martinez, P. Mclaughlin, J. Porter en N. Puglia. The educational theory of Adolph Hitler. http://www.newfoundations.com/gallery/Hitler.html (20 Januarie 2012 geraadpleeg).

Byerly, I.B. 1998. Mirror, mediator, and prophet: The music indaba of late-apartheid South Africa. Ethnomusicology, 42(1):1–43.

De Villiers, D. (red.). 1961. Fak-Sangbundel. Kaapstad: Nasionale Boekhandel.

Du Preez, J.M. 1982. ’n Kommunikatiewe studie van geskrewe sekondêre onderrigmateriaal in Suid-Afrika. MA-verhandeling, Universiteit van Suid-Afrika.

—. 1983. “Africana” Afrikaner. Meestersimbole in Suid-Afrikaanse skoolhandboeke. Alberton: Librarius.

Engelbrecht, A. 2004. Who moved the textbook … ?A case study describing how ideological change in South Africa manifested itself in terms of racial representation in a transitional Afrikaans language textbook series. Ongepubliseerde MEd-verhandeling. Universiteit van Pretoria.

FAK (Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge). s.j. Amptelike webwerf. http://www.fak.org.za (30 Januarie 2012 geraadpleeg).

—. 1979. Die nasionale vlag en volkslied van die Republiek van Suid-Afrika. FAK:

Aucklandpark.

FAK Elektroniese Sangbundel. http://www.fak.org.za (31 Januarie 2012 geraadpleeg).

Gerth, H. en C.W. Mills. 1953. Character and social structure: the psychology of social institutions. New York: Harcourt, Brace.

Giliomee, H. 1975. Die ontwikkeling van selfkonsepsies by die Afrikaner. In Van der Merwe (red.) 1975.

Gutsche, H., W.J. du Preez Erlank en S.H. Eyssen (reds.). 1937. Fak-Volksangbundel. Pretoria: J.H. de Bussy.

Haffajee, F. 2001. Under the cold stare of Hendrik Verwoerd. Daily Mail and Guardian, 21 Desember.

Hale, F. 2010. The impact of apartheid on the educational endeavours of two missionary agencies. Studia Historiae Ecclesiasticae, 36(2):167–85.

Hansard, Suid-Afrikaanse parlement. 1978. Debatte, 30 Mei 1978, vol. 385, kol. 8052-8.

Hartman, A. (red.). 1979. Fak-Sangbundel. Johannesburg: FAK.

Herwitz, D. 2003. Race and reconciliation. Essays from the new South Africa. Minneapolis: University of Minnesota.

HiggsP. (red.). 1998. Metatheories in educational theory and practice. Sandton: Heinemann.

Jansen, J.D. 1998. Critical theory and the school curriculum. In Higgs (red.) 1998.

Kannemeyer, J.C. 1995. Langenhoven. ’n Lewe. Kaapstad: Tafelberg.

Karbusicky, V. 1975. Empirische Musiksoziologie. Erscheinungsformen, Theorie und Philosophie des Bezugs “Musik-Gesellschaft”. Wiesbaden: Breitkopf und Härtel.

Kater, M.H. 1997. The twisted muse. Musicians and their music in the Third Reich. Londen: Oxford University Press.

Lüdemann, W. 2003. “Uit die diepte van ons see”: An archetypal interpretation of selected examples of Afrikaans patriotic music. South African Journal of Musicology, 23:13–41.

McClary, S. 1991. Feminine endings: music, gender and sexuality. Minneapolis: University of Minnesota.

Mouton, J. 2001. How to succeed in your master’s and doctoral studies. Pretoria: Van Schaik.

Msila, V. 2007. From Apartheid education to the revised National Curriculum Statement: Pedagogy for identity formation and nation building in South Africa. Nordic Journal of African Studies, 16(2):146–60.

Muller, S. 2001. Exploring the aesthetics of reconciliation: Rugby and the South African national anthem. South African Journal of Musicology,21:19–37.

Pama,C. 1984. Die vlae van Suider-Afrika. Kaapstad: Tafelberg.

Patriotic songs. s.j. Lyrics that stir our hearts. http://www.usa-flag-site.org/song-lyrics/america.shtml (20 Februarie 2012 geraadpleeg).

Potter, P.M. 1998. Most German of the arts. Musicology and society from the Weimar Republic to the end of Hitler’s Reich. Londen: Yale University Press.

Republiek van Bravoland. Uit die volk vir die volk. Die vrye kuber volkstaat. http://www.bravoland.co.za/forum/index.php/topic,2598.msg34621.html (4 April 2012 geraadpleeg).

Rise above: 24 Black Flag songs to benefit the West Memphis Three. s.j. http://en/wikipedia.org (20 Februarie 2012 geraadpleeg).

Silverman, M. s.j. Architecture and apartheid. http://myfundi.co.za/e/South African architecture ll: Architecture and apartheid (14 Februarie 2012 geraadpleeg).

South African History Online. s.j. The revival of alliance politics 1982–1984. www.sahistory.org.za/archive/revival-alliance-politics-1982-1984 (12 April 2012 geraadpleeg).

Stem van Suid-Afrika. Kopieregwet no. 2 van 1959. s.j. www.cipro.co.za (10 April 2012 geraadpleeg).

Storey, J. (red.). 1994. Cultural theory and popular culture: A reader. Wheatsheaf: Hemel Hempstead.

Stub, H.R. (red.). 1990. The sociology of education: A sourcebook. Homewood: The Dorsey Press.

Van de Rheede, I. 1992. Die skool, Afrikaans en die kurrikulum. In Webb (red.) 1992.

Van der Merwe, C.J. 1975. Die Afrikaner in die politieke magstruktuur. In Van der Merwe (red.) 1975.

Van der Merwe, H.W. (red.). 1975. Identiteit en verandering. Tafelberg: Kaapstad.

Van der Westhuizen, H.P. 2012/04/08. E-pos-kommunikasie.

Van Gelder, E. 2012. Inside S/African racist camp where boys learn: Blacks are most barbaric race. Mail and Guardian, 24 Februarie. http://www.africanoutlookonline.com/index.php?option=com_content&view=article (28 Februarie 2012 geraadpleeg).

Venter, C. 2011. Die verband tussen vroeë apartheidsintellektualisering, Afrikanermusiekhistoriografie en die ontluiking van ’n apartheidsestetika in die toonkuns: Westerse kultuur, Afrikanernasionalisme en “O Boereplaas”. LitNet Akademies, https://www.litnet.co.za/Article (20 Januarie 2012 geraadpleeg).

Vlaglied. Kopieregwet no. 9 van 1974. www.cipro.co.za (10 April 2012 geraadpleeg)

Voortrekkers (vereniging). 2012. Dit is die Voortrekkers. Queenswood: Die Voortrekkers 2012.

Webb, V.N. (red.). 1992. Afrikaans na apartheid. Pretoria: Van Schaik.

Williams, R. 1961. The long revolution. Londen: Cox & Wyman.

 

 

Eindnotas

1 Na ’n lang soektog was Albertyn die enigste bron wat enige inligting oor F.J. Joubert verskaf het. Daar was geen verdere inligting oor die kompetisie nie.

2 Toestemming verleen deur die FAK. ’n Aanlyn klankweergawe van die lied is beskikbaar by FAK Elektroniese Sangbundel http://www.fak.org.za/faksangbundel.

3 Voortrekkers (vereniging) (2012:38). Die teks, op 17 November 2008 deur Sannie van der Walt voorsien, is ook beskikbaar by die webwerf Republiek van Bravoland (sien bibliografie).

4 Terme soos “blank”, “nieblank”, en “skolier” word in hierdie artikel in die konteks van die 1980’s gebruik.

5 Die boek was oorspronklik ’n meestersgraadverhandeling in kommunikasiekunde, getiteld “’n Kommunikatiewe studie van geskrewe sekondêre onderrigmateriaal in Suid-Afrika”, Universiteit van Suid-Afrika.

6 Verheerliking, of verheerlikte klimaks. Afgesien van die jubelende, triomfantlike einde pas “Vlaglied” nie in by die vierdelige struktuur van Karbusicky (1975:361–4) wat deur Lüdemann (2003:15–8) aangehaal word nie.

7 Horst Wessel het in 1926 by die Nazi-party aangesluit en was ’n kommandeur van die berugte Sturmabteilung (SA), wat prominent in die lied voorkom. Hy is deur die Kommuniste gedood in weerwraak vir ’n aanval op die plaaslike hoofkwartier van die Kommunistiese Party. Die Nazi-party het hom die krediet gegee dat hy sowel komponis as digter was, maar dit is onjuis. Hy is deur die Nazis as ’n martelaar gehuldig. Na 1945 is die sing van die lied deur die geallieerdes verbied en dit is nog steeds die geval in Duitsland (Anesi 1997).

 

 



  • 5

Kommentaar

  • Laerskool Touwsrivier

     
    Was een van daardie skole wat elke Republiekdag bv die "Vlaglied" sou sing. Ons het bv vir 3 keer 'n maand ons skoollied gesing en dan eenkeer in daardie selfde maand die vlaglied. 
     
     Ek is nie heeltemal seker nie maar in 1981/82 het ons opgehou met die vlaglied. Later van primêr na sekondêre skool dit nie weer gehoor nie.
  • Jy kan net van Stellenbosch wees om soveel stront uit te dink. Geen wonder ons het geen gehalte M&D studente meer nie.

  • Johannes Comestor

    Die Vlaglied en die vorige Suid-Afrikaans volkslied, Die Stem, het, soos die apartheidsregering, op baie meer as apartheid betrekking. In baie opsigte was Suid-Afrika voor 1994 beter daaraan toe as sedertdien. As die Vlaglied en Die Stem (uitsluitlik) met allerhande negatiewe dinge geassosieer word, kan dieselfde met die huidige volkslied gedoen word, bv terrorisme, gewelddadigheid, korrupsie, ondoeltreffende regering en blatante rassediskriminasie onder die dekmantel van transformasie/regstelling.

  • Wanneer die All Blacks die haka uitvoer staan die teenstanders stil en aanskou dit
    elkeen met sy eie gedagtes want dit is deel van 'n volk se kultuur oorgedra in 'n spansport.
    Wat word daar nou eintlik gesê
    "The Haka
    The All Blacks
    Leader
    KA MATE! KA MATE!
    We're going to die! We're going to die!
    We were at war
    Chorus
    KA ORA, KA ORA!
    We're going to live! We're going to live!
    But now there is peace.
    Leader
    KA MATE! KA MATE!
    We're going to die! We're going to die!
    We thought we were all going to die
    Chorus
    KA ORA, KA ORA!
    We're going to live! We're going to live!
    but now we are safe
    All together
    TENEI TE TANGATA PU'RU-HURU
    This is the man, so hairy
    because our leader, so strong and masculine,
    NA'A NEI TIKI MAI WHAKA-WHITI TE ...
    who fetched, and made shine he
    has unified us and brought back the sunny days of
    ... RA!… "

    Netso was die vlaglied 'n uitdrukking van 'n volk se wil en strewe.Waar Suid Afrika
    voorheen uit minderhede bestaan het en elke volk 'n minderheid was teen die geheel,is die begrip vinning deur die ANC doodgevee en word alle swart bevolkingsgroepe kunsmatig as 'n homogene groep voorgestel en dan met 'n koeksister volkslied kunsmatig as 'n reënboognasie aan die lewe gehou.

    Dat hierdie benadering ramspoedige gevolge vir almal inhou is duidelik uit die huidige toedrag van sake waar Suid Afika op die rand van 'n fiskale afgrond lewe.
    In so'n samelewing kruip die individu agter die kollektief weg deur herontplooing weg en vervaag persoonlike aanspreeklikheid.

    Die probleem lê dus nie in simbole nie maar in die mens se houding teenoor dit
    en die ingebore onverdraagsaamheid waardeur alles wat eie was aan elke volk,sy taal,kultuur en geskiedenis opgeoffer moet word om 'n onbereikbare reënboognasie te bou.Daar is geen pot goud by die einde van 'n reënboog nie en ook nie 'n nasie nie, nie voor elke volk se taal, kultuur en geskiedenis erken en eerbiedig word,wat ook simbole en liedere insluit.

  • Beste webvoet
    Verander asb die sin:"In so'n samelewing kruip die individu agter die kollektief weg deur herontplooing weg en vervaag persoonlike aanspreeklikheid."

    om te lees:

    'In so'n samelewing kruip die individu deur herontplooing weg agter die kollektief en vervaag persoonlike aanspreeklikheid.'

    Dankie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top