Die sin van taalregtelitigasie as onderdeel van taalaktivisme

  • 0

Voordrag gelewer by AfriForum se Blitskonferensie, Afrikaans in Tersiêre Onderrig: Die Pad Vorentoe, Akademia, Centurion, 16 Februarie 2018

Theodorus du Plessis, Eenheid vir Taalfasilitering en -bemagtiging, Universiteit van die Vrystaat

 

1. Inleiding

Die vraag na die sin van taalregtelitigasie het ironies genoeg ontstaan na aanleiding van die Skoolbeheerliggaam van Hoërskool Overvaal se onlangse (voorlopige) oorwinning in dié se litigasie teen die Hoof van die Gautengse Departement Onderwys, waarin die Gautengse Hooggeregshof die litigant gelyk gegee het (Governing Body Hoërskool Overvaal v. Head of Department of Education. Judgment 2018). Soos ons weet, het die Hof ’n departementele direktief van 5 Desember 2017 aan die betrokke skoolhoof, naamlik dat die skool bykomende (Engelstalige) leerlinge in 2018 moet inneem, met koste tersyde gestel. Ons weet ook dat die betrokke Lid van die Uitvoerende Raad (LUR), soos ons verwag het, reeds geappelleer het, omdat die skool na 20 jaar van demokrasie skynbaar steeds byna uitsluitlik wit is en dus nie sy omliggende gemeenskap dien nie (Legal Brief 2018). Die slegte nuus omtrent die appèl is dat ons uit die Kovsie-saak agtergekom het hoe die twee onderskeie hoër howe se taalsentimente loop, dat beide die Appèlhof en die Konstitusionele Hof moeite het met objektiwiteit wanneer onse koloniale erfenistaal, Engels, in ’n regsgeding ter sprake kom. Dus, sonder om nou die saak vooruit te loop, duik die vraag onwillekeurig op of die kool die sous werd is indien regter Prinsloo se uitspraak in die Overvaal-saak na alle waarskynlikheid tog maar uiteindelik omgekeer gaan word. Des te meer in die lig van die protesaksie wat op die uitspraak gevolg het en die grootliks negatiewe publisiteit daaromheen. Het ons hier te make met ’n tipiese geval van “slag gewonnen maar oorlog verloren”?

Ek wil die betrokke sinvolheidsvraag vanuit die perspektief van taalregte-aktivisme behandel.

Angéline Martel, veelbekroonde Kanadese sosiolinguis en een van die eerste geleerdes wat hierdie verband lê, gaan juis daarvan uit dat litigasie en taalregte-aktivisme noodsaaklike en onvermydelike prosesse is wat sukses met gemeenskapsontwikkeling kan oplewer. Maar, waarsku sy onmiddellik, die betrokke koppeling skep juis vanweë litigasie terselfdertyd ’n teenstrydige sosiopolitieke klimaat: een wat uiteindelik kontraproduktief kan inwerk op ’n strewe na pluraliteit en solidariteit (Martel 1999:49). Die begrip gemeenskapsontwikkeling verwys binne die Kanadese konteks na stappe ter verwesenliking van groter outonomie vir die Franssprekende minderheidsgemeenskap; kortom, dit verwys na pogings tot selfbeskikking, nog ’n onkieswordende begrip binne die Suid-Afrikaanse konteks. Ons kan beslis veel leer uit die Franssprekende minderheid se selfbeskikkingstryd in Kanada, maar veral omtrent die voor- en nadele van taalregtelitigasie, van daar dat Martel se werk vir vandag ’n goeie vertrekpunt is.

 

2. Taalregtelitigasie en taalregte-aktivisme

Ter aanvang net iets oor enkele kernbegrippe.

Tegnies gesproke moet ons ’n onderskeid tref tussen taallitigasie en taalregtelitigasie. Nie alle taalverwante litigasie handel noodwendig oor taalregte nie. Hier dink ek byvoorbeeld aan die bekende “Kill the Boer, kill the farmer”-litigasie, wat streng gesproke nie regspraak oor ’n positiewe taalreg oplewer nie. Nogtans word die term taallitigasie soms losweg as sinoniem vir taalregtelitigasie gebruik. Insgelyks is taalaktivisme nie noodwendig aktivisme wat op taalregte slaan nie (dink maar aan litigasie oor banale of taboe-taalgebruik); en dit word ook soms as sinoniem vir taalregtelitigasie gebruik.

Taalregte-aktivisme is volgens Martel (1999:47–8) ’n regtegeoriënteerde proses deur middel waarvan druk uitgeoefen kan word ten einde sosiopolitieke praktyke en strukture in die samelewing te probeer verander. Die uiteinde van die proses behoort ten minste die verkryging of kondonering van ’n bepaalde taalreg op te lewer. Interessant genoeg verwys Martel (1999:77) na die betrokkenes in ’n positiewe sin as “rebelle, helde en gemeenskappe”. Aan die woord taalaktiviste, wat ons ook sou kon gebruik, word soms (verkeerdelik) ’n negatiewe konnotasie gegee. ’n Paar kollegas het byvoorbeeld erg gefrons oor my uitlating van twee jaar gelede by ’n Gentse kongres: “Goddank vir organisasies soos AfriForum” – dit na aanleiding van AfriForum se rol by taalregtelitigasie rondom Suid-Afrikaanse universiteite. In polities korrekte geselskap word die woord taalaktivis goedkeurend gebruik meestal net wanneer daar byvoorbeeld na 15 oorblywende sprekers van ’n bepaalde Boesman-dialek se pogings tot taalherlewing of na 10 oorlewende sprekers van ’n Eskimo-dialek se stryd om taalerkenning verwys word. Daarteenoor het my oorlede Wes-Vlaamse mentor Kas Deprez altyd daarop aangedring dat die voorkoms van taalaktiviste dui op ’n lewende en dinamiese taalgemeenskap. Gelukkig het ons darem nog sulkes in Suid-Afrika.

Ook net kortliks iets oor taalregte.

Dit is belangrik om te onderskei tussen taalreg, verwysende na ’n gesanksioneerde burgerreg direk gekoppel aan ’n spesifieke staat en dus ’n reg waaroor die staat jurisdiksie uitoefen, teenoor die term linguistiese mensereg, ’n reg wat nie noodwendig sy oorsprong in die staat het nie, omdat dit meer universeel van aard is. Suid-Afrikaanse grondwette voor 1993 het taalreg direk gekoppel aan linguistiese burgerskap in die vorm van verpligte tweetaligheid, beide ’n afdwingbare en ’n opeisbare reg. Grondwette na 1993 onthef die staat sover as moontlik van taalverpligtinge deur die klem op die soms meer amorfe linguistiese menseregte te laat val en het saam daarmee die koppeling met linguistiese burgerskap opgehef. Ek is van mening dat dit een van ons dilemmas in die onderwysdomein is – die bepaling dat leerders die reg het op ’n amptelike voertaal of voertale van keuse lyk eerder op ’n linguistiese mensereg as linguistiese burgerskapsreg. Trouens, dit wil voorkom asof ons howe die betrokke reg inderdaad so vertolk. In die polities-korrekte literatuur word geredeneer dat ’n taalkeusereg net soveel van ’n linguistiese mensereg is as die moedertaalreg, omdat die reg op onderwys die swaarste weeg en daar soveel ontheemde mense op die aardbol voorkom (vgl Skutnabb-Kangas 2000).

Iets omtrent taalregtelitigasie as taalregte-aktivisme.

Martel (1999:53–4) benadruk die wetlike basis van taalregtelitigasie in die Kanadese geval. Dit berus op die veronderstelling dat daar vertroue in die reg bestaan. Interessant genoeg het wat Martel (1999:63) as ’n vloedgolf van litigasie beskryf, juis gevolg op die promulgering van die Canadian Charter of Rights and Freedoms in 1982 en spesifiek na aanleiding van ... wag ... artikel 23 van hierdie manifes, ’n artikel met die interessante opskrif “Minority Language Instructional Rights”. Tussen 1997 en 1999 is na aanleiding van litigasie altesaam 20 uitsprake aangeteken, net met betrekking tot hierdie enkele artikel! Die betrokke regspraak dui volgens Martel se ontleding daarop dat ’n poging aangewend is om drie kwessies te probeer versoen, te wete nasionale beskerming, provinsiale verpligtinge (binne die konteks van die Kanadese dualiteitsideologie, maar ook omtrent provinsiale outonomie) en die ontwikkeling van die Franssprekende gemeenskap (Martel 1999:64).

Na aanleiding van die Kanadese ervaring stel Martel (1999:77) uiteindelik ’n aantal strategieë omtrent taalregtelitigasie voor wat “ander rebelle en helde” vorentoe kan help. Dit sluit in dat litigerende gemeenskappe realistiese verwagtings omtrent taalregte en litigasie moet koester, die rol van heersende ideologieë en diskoerse moet begryp, die belange van ander groepe in oorweging moet neem, litigasie sistematies moet aanpak, en bo alles dat die uiteindelike kultivering van ’n harmonieuse en regverdige sosiale ruimte in gedagte gehou word en dat die skep van ’n teenstrydige klimaat sover as moontlik vermy moet word – laasgenoemde duidelik met betrekking tot die lewe na litigasie. Sy vind nietemin dat taalregte-aktivisme en die litigasieproses ook as opvoedkundige geleenthede aangegryp kan word om besluitnemers sinvol te na ’n beter weg kan begelei.

Hierdie advies sluit sekerlik aan by wat oor die algemeen as suksesfaktore by litigasie geïdentifiseer kan word. ’n Vergelykende voorbeeld is die werk van Marcus en Budlender (2008:6) oor openbarebelange-litigasie in Suid-Afrika. Na aanleiding van ’n aantal gevallestudies identifiseer hulle sewe kritieke suksesfaktore by openbarebelange-litigasie wat nogal ooreenkomste toon met dié van Martel. Hulle praat van die behoorlike organisering van kliënte (organisasies met ’n direkte belang versterk die saak en moet ’n aktiewe rol in die litigasie speel en nie alles aan die regspan oorlaat nie); ’n oorkoepelende langtermynstrategie met litigasie (’n verskeidenheid verbandhoudende sake is noodsaaklik en daar moet nie op een enkele saak gesteun word nie); die koördinering en verspreiding van inligting (dis belangrik dat belange-organisasies “ter wille van die saak” saamwerk); tydsberekening (die klimaat moet reg gelees word, anders kan die saak skipbreuk ly, en ook belangrik dat litigasie die absolute laaste uitweg is); navorsing (litigasie moet steun op deeglike navorsing en ook internasionale reg betrek); karakterisering (met betrekking tot die karakteriseringsdebat in die hof, wat insluit dat die absoluut korrekte invalshoek gebruik word en dat die kritieke belang van regstelling benadruk word); en opvolging (die mees kritieke faktor is om te verseker dat die oorwinning omgesit word in konkrete voordele).

Oor een ding is Martel egter baie reguit en dit is dat taalregtelitigasie nie die enigste instrument is wat verandering kan teweegbring nie. Een van die belangrikste strategieë wat sy as advies voorhou, is dat taalregtelitigasie met ’n reeks komplementerende aktiwiteite gekonsolideer moet word ten einde sukses te verseker. Sy identifiseer onder meer steunwerwingswerk, navorsing, gemeenskapsmobilisering, mediadekking, en selfs geweld, as sodanige bykomende instrumente (Martel 1999:46). Haar studie wys hoe die Franssprekende minderheid (wat terloops die begrip minderheid verwerp het en hulleself nou die Canadian Francophone and Acadian Communities noem) deur middel van so ’n kombinasie van taalregte-aktivistiese instrumente met sukses opgestaan het teen die soms blatante homogeniseringsaksies van Federale Kanada en sodoende ’n mate van outonomie en selfbeskikking teruggewin het (Martel 1999:67). Aktiwiteite wat die Franssprekende Kanadese in haar studie suksesvol komplementêr aangewend het, sluit in meningsopnames onder die gemeenskap, die ontleding van tersaaklike data en verslae, eie navorsing oor kontensieuse kwessies, aktiewe deelname aan mediaforums, politieke steunwerwingswerk ens. Kortom, wat sy uit die onderhawige veldtogvoering leer, vat sy saam in een kort sinnetjie: Moet nie “nee” vir ’n antwoord aanvaar nie! Daarom kan ’n mens nie slegs op litigasie steun nie, en buitendien het dit sy beperkinge, hoofsaaklik as gevolg van die soms uitspattige koste daaraan verbonde.

Dit is opvallend dat die instrumente wat Martel identifiseer, prinsipieel varieer ten opsigte van grade van konfronterende aksies. Op basis hiervan het ons by die Eenheid vir Taalfasilitering en -bemagtiging (ETFB) gaandeweg ’n tipologie van taalregte-aktivisme ontwikkel wat op ’n konfronteringskaal wissel tussen aan die een kant betreklik meer gematigde instrumente van taalregte-aktivisme teenoor aan die ander kant betreklik meer konfronterende instrumente (sien figuur 1).

Taalregte-aktivisme-instrumente

Gematig

Navorsing

Mediadekking

Steunwerwingswerk

Taalklagtes

Mobilisering

Litigasiedreiging

Konfronterend

Petisionering

Massa-aanhitsing

Demonstrasies

Boikot

Litigasie

Geweld

 

Figuur 1. Tipologie van taalregte-aktivisme na aanleiding van Martel (1999)

Taalaktivistiese navorsing kan as die mees gematigde vorm van taalaktivisme beskou word, teenoor geweld as die mees konfronterende vorm. Die protesaksie wat ons onlangs by die Hoërskool Overvaal sien afspeel het, en waar vir Engelse onderrig geagiteer is, het geweldselemente bevat. Mobilisering speel ’n sentrale rol by taalaktivisme en behels ’n verskeidenheid aksies, waaronder petisies, betogings en protesaksies, soos wat ons gereeld by ander vorme van aktivisme in Suid-Afrika waarneem. Ons kan dit as een van die effektiefste instrumente van aktivisme oor die algemeen in Suid-Afrika beskou. Navorsing wat ons vir ons SA Taalregtemonitor onderneem, toon dat Afrikaanssprekendes meestal betreklik minder konfronterende vorme van taalaktivisme verkies, soos drukgroepvorming (agter die skerms), mediadekking en taalklagtes (opvallend minder). Nietemin teken ons ook gevalle van ietwat meer konfronterende vorme van taalaktivisme aan, tipies gekoppel aan sosialemobiliseringsaksies. Die Pretoria-straatnaam-debakel lewer heelwat voorbeelde hiervan op. Natuurlik kom toenemend meer gevalle van taalregtelitigasie voor – Afrikaanssprekendes wend sedert 1994 meermale hierdie instrument van taalaktivisme aan om sosiopolitieke praktyke of strukture te probeer verander (of eerder: terug te probeer verander), weliswaar met ’n wisselende mate van sukses.

 

3. Taalregtelitigasie in Suid-Afrika

Om nou nie onnodig tyd op te neem met die behandeling van al die post-1994 gedinge rondom taalregte nie, maak ek staat op bestaande oorsigte hieromtrent.

Johan Lubbe, een van die ETFB se navorsingsgenote, se oorsig behandel ’n verskeidenheid litigasiegevalle rondom taalkwessies tussen 1994 en 2004. Hy benader dit vanuit ’n taalregte-aktivisme-perspektief, maar ook deur vergelyking met die Kanadese situasie. Sy oorsig sluit in litigasie rondom hoftaal,1 administrasietaal en onderwystaal. Hy oorweeg ook Pansat se rol by litigasie, ’n bevoegdheid wat wetlik aan hierdie “tandelose” en nou ontbinde taalwaghond (October 2012) opgedra is. Lubbe (2004:140) kom tot die slotsom dat taalregtelitigasie inderdaad ’n effektiewe vorm van aktivisme is ter realisering van taalregte. Hy staaf hierdie gevolgtrekking grootliks met die suksesse wat in die Kanadese konteks behaal is. Die Suid-Afrikaanse gevalle wat hy behandel, dui op die teendeel. Desnieteenstaande beveel hy aan dat dit miskien tog beter is om litigasie eerder te probeer vermy, hoofsaaklik vanweë die koste daaraan verbonde. Volgens Lubbe rus daar hieromtrent ’n verantwoordelikheid by regerings om minderheidstaalsprekers nie te vervreem deur hulle taalregte te misken nie. Hy redeneer (redelik hoopvol) dat ’n regering eintlik baat kan vind by die koestering van alle burgers se grondwetlike taalregte. Dit kan volgens hom beslis help om taalkonflik te vermy, ook wanneer regerings die oplossing van taalprobleme probeer nastreef, en liefs voordat hulle eskaleer. ’n Mens sal moet toegee dat Lubbe ietwat ooroptimisties is in die lig van die huidige tydsgees rondom taalkwessies.

Woolman en Fleisch (2009) behandel spesifiek regspraak oor taal in die onderwys tussen 1994 en 2008 wat voortspruit uit litigasiegevalle (dus tot voor die Konstitusionele Hof se 2009-uitspraak in die Ermelo-saak). Hulle bied weliswaar ’n grondwetlikeregsperspektief en daarom nie primêr ’n oorweging van litigasie as taalregte-aktivistiese verskynsel nie. Nietemin lewer hulle studie indirek insigte op oor die waarde van taalregtelitigasie in die onderwys in Suid-Afrika. Die skrywers kom tot die gevolgtrekking dat onafhanklike en privaat skole grondwetlike beskerming geniet om (binne perke) op grond van taal te diskrimineer, maar dat die staat nie verdraagsaam is teenoor openbare skole wat dieselfde wil doen nie, buiten binne ’n konteks waar voldoende voorsiening bestaan sodat almal se reg op taalkeuse gerealiseer kan word. Ons geleerde vriende bevind dat die reg op basiese onderwys in ’n voorkeur-onderrigmedium by openbare skole die reg op sektariese aansprake op openbare hulpbronne troef. Ofskoon die Grondwet nie die bestaan van enkelmediumskole waarborg nie, verbied dit nogtans nie sulke skole nie, solank hulle nie sogenaamde apartheidspraktyke voortsit nie. By implikasie redeneer die skrywers dus dat ’n enkelmediumskool die onderwysowerhede in die onbenydenswaardige posisie stel om die kondonering van wat as ’n apartheidspraktyk beskou sou kon word, voortdurend teenoor ’n vraende gemeenskap te moet regverdig (Woolman en Fleisch 2009:79–81). Al hoef ’n mens nie noodwendig met Woolman en Fleisch se vertolking van regspraak na aanleiding van taalregtelitigasie saam te stem nie, kry ’n mens nietemin die indruk dat die litigasie rondom medium van onderrig nie noodwendig gewenste resultate oplewer nie. Trouens, tot hiertoe lewer dit regspraak op wat oop is vir die soort vertolking wat die twee here bied. ’n Mens moet jou daarom afvra of hierdie soort regspraak taalminderhede2 se posisie verbeter of benadeel.

Fredericks (2011:253) bevestig dat ander regslui op basis van die betrokke regspraak tot dieselfde gevolgtrekking kan kom, naamlik dat buiten uitsonderlike gevalle in metropolitaanse gebiede, taalgemeenskappe wat Afrikaans-enkelmediumskole begeer, slegs nog een opsie oor het, en dit is om onafhanklike skole op te rig. Hy waarsku egter na aanleiding van uitsprake deur die Menseregtekommissie dat selfs daardie reg ingeperk kan word.

Die ETFB se jaarlikse uitgawes van die South African Language Rights Monitor bied ook ’n saaklike oorsig oor taalregtelitigasie (in die jaar van rapportering). Naas die reeds behandelde gevalle wat uiteraard daarin voorkom, word ook gevalle rondom onder meer straat- en pleknaamverandering behandel. Ofskoon ’n mens die vraag behoort te stel of litigasie hieromtrent op ’n taalreg betrekking het, kan ons wel uit die litigasie-uitkomste iets leer. Kriel (2010) bied ’n oorsig van aktivistiese optrede rondom pleknaamveranderinge in die gevalle Potchefstroom > Tlokwe, Pretoria > Tshwane en Louis Trichardt > Makhado, asook van die hele straatnaamveranderingsage in Durban. Sy stel ten besluite ’n belangrike vraag met betrekking tot die fokuspunt van die betrokke pleknaamaktivisme en dus ook met betrekking tot litigasie. Haar vraag is waarom die pleknaamaktiviste hulle argumente nie op die kulturele en historiese belang van sogenaamde Afrikanerplekname gebaseer het nie, maar eerder op proseskwessies gekonsentreer het (Kriel 2010:82). Die gevolg hiervan is dat die litigasie-uitkomste ’n administratiewe prosedure kondoneer en nie ’n kulturele of selfs taalreg vestig nie. Ek bou in Du Plessis (2014) voort op haar studie met ’n meer volledige oorsig van die wyse waarop die pleknaamaktiviste verskeie instrumente van taalregte-aktivisme aangewend het as deel van hulle aksie teen ongewenste pleknaamverandering in die onderhawige gevalle. Mobiliseringsaksies staan byvoorbeeld heel bo-aan die lys, gevolg deur litigasie. Ofskoon die gepoogde pleknaamveranderings danksy suksesvolle aktivistiese optrede (voorlopig) afgeweer is en litigasie hierin ’n sentrale rol gespeel het (spesifiek in die Pretoria- en Louis Trichardt-gevalle), ontstaan die vraag of die voortspruitende regspraak enige bydrae tot die kondonering of vestiging van ’n taalreg opgelewer het. Ek voel (Du Plessis 2014:67) dat die betrokke litigasie nie werklik bydra tot die groter nasionale debat oor erfenis en sosiale kohesie nie. By implikasie is moontlik ’n kans verspeel om ’n taalreg rondom plekname met ’n sterk taal- en kultuurerfenis-assosiasie te vestig, ’n reg wat na my wete nie binne die Suid-Afrikaanse konteks bestaan nie.

Hierdie saaklike oorsig oor die stand van taalregtelitigasie in Suid-Afrika bied ongelukkig nie ’n oortuigende perspektief op die waarde van hierdie betrokke instrument van taalregte-aktivisme om verandering ten gunste van die litigerende gemeenskap te bewerkstellig nie. Inteendeel, na my mening werk die voortspruitende regspraak eerder teen die Afrikaanssprekende minderheid se strewe na die behoud of herstel van kulturele outonomie, om nie eens van sosiopolitieke outonomie te praat nie. ’n Mens sou dit selfs kon waag om te beweer dat die betrokke regspraak tot ’n mate die Afrikaanssprekende gemeenskap se regsposisie omtrent selfbeskikking ondermyn.

Uiteraard ontstaan daar nou etlike vrae rondom hierdie ontleding, veral na aanleiding van die teenvoorbeeld waarvan ons in Martel se verhaal kennis neem. Ek sou dit wou waag om te beweer dat die kernvraag hieromtrent is waarom die Afrikaanssprekende minderheid in hierdie stadium nog nie daarin kon slaag om groter suksesse met litigasie te behaal nie. Een manier om hierdie vraag te probeer beantwoord is om te kyk na wat in ander domeine met litigasie bereik word en of ons daaruit iets wys kan word.

 

4. Ervaring met betrekking tot litigasie in ander lande en domeine

As vertrekpunt moet ons Martel se waarskuwing in gedagte hou dat ’n mens nie op litigasie alleen kan staatmaak nie en dat ’n breë beweging wat soveel as moontlik instrumente van taalregte-aktivisme benut, ’n groter kans het om te slaag. Verskeie outeurs is dit hiermee eens. Ek verwys na enkele voorbeelde:

  1. Johnson (1995:43 ev) beklemtoon na aanleiding van sy studie oor die lot van die Latyns-Amerikaanse gemeenskap van die VSA dat ’n strategie waarin litigasie oorbeklemtoon word, nie eintlik sukses gaan behaal om broodnodige sosiale verandering teweeg te bring nie. Volgens hom móét litigasie aan ’n breër sosiale en politieke beweging gekoppel word en is dit in werklikheid misleidend om oormatig op litigasie staat te maak. Daarom is dit volgens Johnson noodsaaklik dat betrokkenes die koste, voordele, risiko’s en langtermynimpak van litigasie versigtig moet oorweeg aleer hulle dié perd opsaal (1995:55). Skynbaar is die kanse op sukses veel groter wanneer holistiese strategieë bedink word wat gemik word op die dag nadat die regslui onttrek (1995:50). Alternatiewe strategieë is dus van absolute belang. Dit sluit in die benutting van geskilbeslegting as instrument van verandering, die oprigting van ’n breë burgerregtekoalisie, ens (1995:89).
  2. In haar studie oor litigasie met betrekking tot sosiale regte in Suid-Afrika kom Gloppen (2005:17) ook tot die gevolgtrekking dat litigasie alleen nie slaag nie. Nietemin gee sy toe dat litigasie wel kan help om bepaalde struikelblokke te oorkom en om die algemene toestand omtrent sosiale regte te verbeter. Sy noem ter illustrasie die Grootboom-saak (The Government of the Republic of South Africa and Others v. Grootboom and others 2000), waar ’n arm, kwesbare gemeenskap wat gewelddadig van hulle woonplek verwyder is, deur middel van litigasie verligting by die hof bekom het. Tog gaan sy so ver as om te beweer dat om energie en hulpbronne meestal slegs aan litigasie toe te wy eerder as aan politieke mobilisering, eintlik op ’n verkwisting neerkom, en selfs teenproduktief raak. Vir haar legitimiseer dit sonder goeie rede die wet in die oë van die benadeelde en belemmer dit in werklikheid sosiale transformasie (2005:2).
  3. Marcus en Budlender (2008) bied ’n indringende oorsig oor openbarebelange-litigasie (“public interest litigation”) in Suid-Afrika as een van die mees effektiewe strategieë om sosiale verandering aan te voor. Desnieteenstaande beskou ook hulle litigasie nie as ’n alleenstaande strategie om sukses te behaal nie. Na aanleiding van ’n aantal gevallestudies stel hulle naamlik vas dat litigasie meer suksesvol in kombinasie met ’n aantal ander instrumente aangewend behoort te word sodat daar op ’n gemobiliseerde gemeenskap gesteun kan word. So ’n strategie is in ieder geval noodsaaklik om te verseker dat die winste van litigasie uiteindelik realiseer juis omdat suksesse in die hof nie altyd omgesit word in implementering op grondvlak nie. Hulle beklemtoon litigasie in kombinasie met drie ander strategieë, te wete ’n openbare inligtingsveldtog (wat mense inlig oor hulle regte en hulle dientengevolge aktiveer om betrokke te raak en te bly), advies en steun (deur middel van gepaste instellings) en sosiale mobilisering en voorspraak rondom relevante kwessies. ’n Verskeidenheid belange-organisasies speel hierin ’n sentrale rol. Volgens hulle word regte ten nouste gekoppel aan aktiewe sosiale bewegings. Die kanse op suksesvolle litigasie word volgens hulle net eenvoudig groter wanneer al die gemelde aspekte teenwoordig is.

Hierdie klompie skrywers agiteer met ander woorde teen ’n alles-of-niks-benadering tot litigasie, sonder om noodwendig die belang van litigasie te negeer; weliswaar binne die konteks van ’n breër sosiopolitieke beweging.

Hierdie koppeling word treffend bevestig as strategiese gegewe in die rol wat litigasie gespeel het by die ontwikkeling van taalwetgewing in Indië. In sy oorsig oor die evolusie van taalwetgewing in Indië beklemtoon Mallikarjun (2012:45) die belang van taalregtelitigasie as deel van die “natuurlike” prosesse van taalbeleidformulering en -implementering. Hy gee veral aandag aan hoe Indië se taal-in-die-onderwys-beleid na die aanvaarding van die Indiese grondwet in 1956 deur middel van indringende litigasie herhaaldelik aangepas moes word ten einde onvergenoegde gemeenskappe en veral minderhede ter wille te wees. Die litigasie het grootliks gekonsentreer op taal as onderrigmedium en taal as vak. Hieruit volg onder meer die hoogste hof se beslissings dat onderwysreg die reg op onderrigmediumkeuse insluit en dat staatskole kan besluit oor ’n onderrigmedium wat nie noodwendig die moedertaal is nie (2012:65). Selfs die term minderheidstaal is nou deur regspraak vasgestel, en terloops nogal ter sake vir die Suid-Afrikaanse situasie:

Minority as understood from constitutional scheme signifies an identifiable group of people or community who were seen as deserving protection from likely deprivation of their religious, cultural and educational rights by other communities who happen to be in majority and likely to gain political power in democratic form of Government based on election. (Mallikarjun 2012:82)

Dit is egter opvallend dat verskeie “taalbewegings” ’n sentrale rol speel by die sukses wat met taalregtelitigasie in Indië behaal is. Die strategiese rol van hierdie bewegings, geïnisieer deur verskeie rolspelers, onder meer politieke partye, onderwysers, studente en professore (Mallikarjun 2012:54), bevestig die kritiese samehang tussen suksesvolle taalregtelitigasie en sosiopolitieke mobilisering.

 

5. Bespreking

Ons vertrekpunt by die Kanadese ervaring met betrekking tot taalregtelitigasie deur die oë van Angéline Martel en andere lewer veel stof tot nadenke op. Ek wil by enkele lesse stilstaan.

’n Eens outonome taalgemeenskap wat as gevolg van staatshervorming die risiko loop om seggenskap oor eie sake (oeps!) te begin verloor, het geen ander keuse nie as om op te staan en maatreëls ter behoud van verworwe regte in werking te stel. Dit is van kardinale belang waar taalregte as een van die boustene van selfbeskikking ernstig aangetas word. Hiervoor het ’n mens taalregte-aktiviste nodig wat aksies van stapel kan stuur om nadelige sosiopolitieke praktyke en strukture in die samelewing te probeer verander. Dit sluit in om ongunstige taalbeleid gewysig te kry en gunstige taalbeleid gevestig te kry.  Combs en Penfield (2012) beklemtoon daarom die strategiese verband tussen “taalaktivisme” (“energetic action focused on language use”) en taalbeleidsverandering; of soos hulle dit ten besluite mooi stel: “The road from language rights to language policy is paved with language activism” (2012:474).

Ons kort dus woelige taalregte-aktivisties-georiënteerde mense, groepe, organisasies, instansies – Martel se rebelle en helde – wat ’n stok in die transformasiewiel kan steek, seer sekerlik in die Suid-Afrikaanse konteks waar Afrikaans nou selfs in wetenskaplike publikasies opnuut as “verdrukkerstaal” gestigmatiseer en ironies genoeg ook as “koloniale” taal gebrandmerk word. Ek verwys hier onder meer na ’n uiters bedenklike betoog oor die dekolonialisering van die Suid-Afrikaanse taalbeleid in ’n onlangse uitgawe van Southern African Linguistics and Applied Language Studies (Cakata en Segalo 2017:326, 328). Die skrywers het skynbaar nog nie kennis geneem van Mahmood Mamdami se stelling verlede jaar dat Afrikaans waarskynlik die Afrika-vasteland se suksesvolste dekolonialiseringsinisiatief is nie (in (Makoni 2017).

’n Mens kan selfs begin praat van die noodsaak aan ’n breë “taalbeweging”. In die geval van gegriefde Afrikaanssprekendes sou die oogmerk van so ’n beweging kon wees om die homogeniseringsaksies van die regeerder met die afdwing van Engels hok te probeer slaan ten einde ’n mate van outonomie te probeer behou of te herwin. Ons sou ietwat meer filosofies kon sê dat dit gaan oor verandering wat uitloop op ’n (ideale) bestel waar taalgeregtigheid normgewend is. Volgens Strauss (1997) kom taalgeregtigheid tot stand wanneer ’n harmonie bewerkstellig word tussen die belange (ja, inderdaad belange) van die staat en dié van taalgemeenskappe. Sodanige harmonie sal inhou dat taalminderhede teen die tirannie van die meerderheid beskerm word of dat ’n balans verkry word tussen oorheersing en outonomie. Kortom, ek sou my wou verstout deur te suggereer dat die verandering wat Afrikaanssprekendes nastreef, een is waarbinne hulle hul kollektiewe versugtinge kan realiseer sonder vrees van inmenging, intimidasie, viktimisering en kriminalisering; inderdaad ook binne die konteks van ’n openbare skool.

Maar ons het ook gesien dat vir ’n taalregte-aktivistiese beweging om suksesvol te kan wees, daar ’n behoorlike wetlike wegspringplek moet bestaan. Dit is nie vir my duidelik of ons oor ’n voldoende regsbasis beskik om taalregte op te eis wat aan openbare instellings gekoppel kan word nie. Ek het in my oorsig probeer aantoon dat taalregtelitigasie in Suid-Afrika tot hiertoe nie vir ons noemenswaardige winste opgelewer het nie; dit is met betrekking tot ’n taalregtebedeling waarbinne onbetwisbare taalwaarborge bestaan. Dit is daaraan te wyte dat litigasie tot hiertoe nie ons howe kon oortuig van die noodsaak van die beskerming van taalminderhede teen die staat se transformasievergrype nie. Om hierdie reuse-uitdaging die hoof te bied, sal ons onder meer moet aanleun by die toepaslike internasionale regspraak. Maar ons sal ons storie moet ken om te vermy wat in die Gelyke Kanse-saak gebeur het, waar die litigante swaar op ’n internasionale regsopinie gesteun het (Gelyke Kanse and Others v The Chairman of the Senate of the Stellenbosch University and Others. Applicants' Heads of Argument 2017a) wat grootliks deur die betrokke hof van die tafel gevee is (Gelyke Kanse and Others v. The Chairman of Senate of the Stellenbosch University. Judgment 2017b), en selektiewe internasionale regspraak betrek is.

Die kernboodskap wat ons uit die voorgaande oorsig kry, is nietemin duidelik: taalregtelitigasie kan, net soos ander vorme van litigasie, beslis resultate oplewer. Cerneels Lourens se sukses in die Pretoriase Hooggeregshof dien as bewys hiervan (CJA Lourens vs Die President van die Republiek van Suid-Afrika ea. Uitspraak 2010). Verder het ons gesien dat ons selfs by ander lande en ervare litigante kan leer oor hoe om taalregtelitigasie nog meer suksesvol aan te pak.

Dit blyk egter ook dat dit desnieteenstaande verkieslik is dat die oorhoofse strategie om verandering te bewerkstellig nie uitsluitlik op litigasie staatmaak nie, maar dat ’n verskeidenheid taalregte-aktivistiese instrumente in kombinasie met litigasie ingespan word. Die hoofrede hiervoor is dat so ’n gesamentlike aanpak veel beter daarin slaag om die gemeenskap te mobiliseer as wat deur litigasie reggekry word, maar ook dat dit langdurige resultate oplewer. Verskeie skrywers wys op die waarde van gemeenskapsmobilisering, juis met die oog op standhoudendheid. Trouens, Bender (1997:173) voer dit na aanleiding van Johnson se werk onder Latyns-Amerikaners selfs ’n stap verder. Hy voel dat sosiale mobilisering gekoppel moet word aan politieke organisering en dat dit die enigste basis skep vir sulke volhoubare oplossings. Dit bied ’n waarborg vir die dag wanneer die regsmense nie meer daar is nie. Maar dalk is Afrikaanssprekendes nog nie vir politieke mobilisering gereed nie.

’n Mens moet nogtans die vraag stel of ’n mobiliseringselement aanwesig is by die deurvoering van die hof se 2010-opdrag omtrent taalwetgewing in Suid-Afrika en of die gewenste resultaat inderdaad opgelewer word. Uit die bestaande korpus Staatskoerant-gepubliseerde taalbeleide blyk dat staatsdepartemente hulle bes doen om Afrikaans uit te sluit.3 Sou hierdie resultaat anders gelyk het indien ’n meer gemobiliseerde gemeenskap hulle oog op die bal gehou het? En moet ons dink aan polities- georganiseerde mobilisering soos wat ons onlangs by die protes teen die Hoërskool Overvaal gemanifesteer aanskou het? Ek is seker daarvan ons kan veel leer by die betrokkenes oor hoe om verskillende aktivistiese elemente in te span, selfs geweld.

In ieder geval wys hierdie oorsig hoe deurslaggewend ’n georganiseerde en goedgekoördineerde aanpak is en wat die strategiese belang is van ’n breë beweging eerder as ’n organisasiespesifieke inisiatief. Veral die Indiese voorbeeld het hierdie punt mooi geïllustreer; ook Amerikaanse gevalle. In Lulac et al vs State Board of Education et al, een van Amerika se suksesvolle taalregtelitigasies, het altesaam agt gegriefde organisasies saamgestaan om ’n ooreenkoms ten gunste van die Latyns-Amerikaanse minderheid in Florida af te dwing. (Lulac is ’n akroniem vir League of United Latin American Citizens.) Die uitkoms van hierdie saak behels dat studente met ’n beperkte vaardigheid in Engels gelyke toegang tot onderwys kry ooreenkomstig ’n leerder se vlak van Engelsvaardigheid, akademiese prestasie en spesiale behoeftes (MacDonald 2004, 5.1). Volgens Pereze-Bustillo (2012:73) is taaldiskriminasie hiermee verwyder en ’n slag geslaan vir taalminderhede in Amerika. Bender (1997:170) beklemtoon ook die rol van litigasie in hierdie geval om begrip rondom minderheidstaalregte te vestig, iets wat dalk in Suid-Afrika om heeltemal ander redes betrekking mag hê:

Litigation may engender public understanding (or at least debate) that singling out someone's native language for disparate treatment is no different than singling out the color of someone's skin to send her to the back of the bus. Moreover, a litigation model against language discrimination can help educate the language minority community as to their protected rights.

Bender verwys terloops hier ook na die opvoedkundige uitwerking van taalregtelitigasie binne ’n bepaalde konteks. Die betrokke litigasie word getipeer as institusionele-hervorming-litigasie (Bender 1997), ’n vorm van litigasie wat na 1955 in Amerika tot stand gekom het ten einde op federale vlak pogings tot die desegregering van instellings die hoof te bied (Schlanger 1999:1994-5). Ons moet hiervan kennis neem, aangesien daar geredeneer sou kon word dat die opkomende litigasie teen die Overvaal-uitspraak (Otto 2018) inderdaad gaan oor wat as segregasie beskou word.

Vir ingeval daar mense is wat nietemin wil wegskram van litigasie, kan ook gevra word of ’n alternatiewe en minder konfronterende regsbenadering, soos bemiddeling, selfs geskilbeslegting, genoegsaam benut word om die gewenste verandering teweeg te bring en of dit resultate kan oplewer. Christa Roodt, voormalige regsadviseur van Pansat, stel in ’n stadium inderdaad bemiddeling as alternatief vir litigasie voor. Haar redenasie is dat “whereas a litigative approach embodies ‘value claiming’ and ’norm imposing’, and is ‘coercive and binding’ with a focus on the past, a mediative approach embodies ‘value and norm creating’, is ‘voluntary and consensual’ and focuses on the future”. Met hierdie benadering het Pansat gepoog om die duur proses van litigasie en die strydlustige atmosfeer daaromheen te probeer vermy. Roodt gee egter toe dat die benadering misluk het (Perry 2004:152–3) juis omdat dit minder gesaghebbend is.

Hoe ook al, dit kan dalk ook nuttig wees om anders oor taalregtelitigasie te begin dink. Daar is skrywers wat voorstel dat ons ons nie moet blindstaar teen litigasie-uitkomste nie, maar eerder moet probeer om die indirekte voordele uit taalregtelitigasie raak te sien en daarop voort te bou. Laakso ea (2016:103) huldig hierdie standpunt. Hulle redeneer dat ofskoon soms sukses met taalregtelitigasie behaal word, die teendeel natuurlik ook waar is. Dit is in ieder geval hulle ervaring met litigasie rondom minderheidstaalregte binne die Europese konteks. Hulle beskou litigasie oor taalsake dus nie eintlik as vrugbare oord van verandering nie, hoofsaaklik as gevolg van hulpbronbeperkinge, maar ook vanweë negatiewe uitkomste. Van daar hulle betoog dat taalregtelitigasie desnieteenstaande die soort litigasie is wat gewoonlik baie aandag trek en daardeur meestal tot ’n lewendige debat aanleiding gee. Hulle meen dat dit wel uiteindelik mense se aandag op probleemgebiede vestig, wat impliseer dat litigasie nie nutteloos is nie. Kanada se Kommissaris van Amptelike Tale stem grootliks saam. Bloot ’n deelname aan regsaksie kan gebruik word om ’n dialoog omtrent taalregte gevestig te kry. Sodoende word meer helderheid oor regsposisies verkry en word taalregte uiteindelik oor die algemeen bevorder (OCOL [Office of the Commissioner of Official Language] 2016:21). So kan litigasie ook help om besluitnemers ’n bietjie oor taalregte op te voed. Seite (2010:1384) stem ook saam dat litigasie ’n effektiewe manier is om media-aandag te trek sonder om noodwendig spesifieke regspraak as konkrete resultaat te verwag. Die Israelse ministers behaal skynbaar veel sukses met hierdie strategie.

Sou ons die voorgestelde benadering volg, impliseer dit dat ons selfs in die onlangse Overvaal-geval ons nie blind moet staar teen die positiewe uitspraak nie, maar eerder moet konsentreer op die aanvanklike gronde vir die opponent se ongewenste besluit en daaromheen beplanning te doen. Teen hierdie tyd weet ons dat die rassisme-argument nie sal gaan lê nie. Dit is die kwessie wat beslis in die appèl ter sprake gaan kom en waarop argumentasie voorberei sal moet word (Otto 2018). Die hof se uitspraak ten gunste van Hoërskool Overvaal (Governing Body Hoërskool Overvaal v Head of Department of Education 2018) verstewig nie Afrikaanssprekendes se taalminderheidsposisie nie, omdat dit weer eens wesenlik oor administratiewe prosedures handel.

Die Overvaal-saak behoort ons ook te inspireer om proaktief te werk te gaan en betrokke te raak by soortgelyke skole wat sekerlik op dieselfde gronde geteiken kan word. Dit gaan naamlik om ’n vraag oor die grondwetlikheid van ’n Afrikaanse skool wat uit sinkronie skyn te wees met sy onmiddellike voedergebied, soos wat gegriefdes uit die omgewing inderdaad betoog. By implikasie kom die vraag oor sogenaamde “bussing” ter sprake en of ’n taalminderheid binne ’n multikulturele omgewing die reg op taalverdigting het ten einde sy taalkarakter te kan behou. Twee Kanadese sake wat handel oor die balans tussen die reg op toegang en die reg op onderrigtaal van keuse het hier betrekking, te wete Gosselin (Tutor of) v. Québec (Attorney General) 2005 en Solski (Tutor of) v. Quebec (Attorney General) 2005 – eersgenoemde het in die Gelyke Kanse-sake ter sprake gekom, maar nie op die hof ’n indruk gemaak nie. Emond Harnden (2005), ’n Kanadese regsfirma, is egter van mening dat die twee uitsprake saam gelees behoort te word. Verdere litigasie behoort daarom vir Afrikaanssprekendes waarborge te begin oplewer ten einde hierdie gemeenskap op langer termyn effektiewer teen ’n toenemend kolonialiserende staat te kan beskerm.

’n Mens wonder ook tot welke mate die geteikende skole in samewerking met omliggende laerskole swart Afrikaanse leerders “kweek” (let wel, ek sê nie “teel” nie). Die rassisme-aanklag kan sekerlik die hoof gebied word wanneer so ’n geteikende skool voldoende swart Afrikaanssprekende leerders inneem, die Refentse’s van ons tyd. So ’n strategie kan selfs op lang termyn die aandrang onder swart leerders op Engelse onderrig omdraai en uiteindelik Afrikaanse skole help red.

Maar ons sal ook die net wyer moet begin gooi en betrokke raak by verwante strydpunte soos by Noordgesig Primêre Skool in Soweto (Kruger 2017) en Klipspruit-Wes Sekondêre Skool in Eldoradopark (Nyoka 2018), waar dit gaan oor ouers se protes teen die aanstelling van ’n swart hoof. (’n Ander vorm van “bussing”.) Onse meneer Lesufi het terloops die betrokkenes ook van rassisme beskuldig terwyl die vermoede egter bestaan dat daar ’n onderliggende taalkwessie ter sprake is. ’n Meer spesifieke taalkwessie wat ook aandag vereis, het nou opgeduik by ’n Oos-Kaapse skool waar die provinsiale onderwysdepartement ’n Xhosasprekende as Afrikaans-onderwyser aangestel het. Ouers van die betrokke skool, Sandisulwazi Secondary School in Paterson, is in opstand oor hierdie stap (Dorfling 2018) en sal beslis baat kan vind by ’n breër Afrikaanssprekende beweging wat steun en advies verleen. Skynbaar het die hele graad 10-klas in 2017 gedruip as gevolg van die afwesigheid van ’n Afrikaans-onderwyser. Ook hier is die beskuldiging – raai – “rassisme”.

Soos die Vlaminge sou sê: “Er is werk aan de winkel”; “er valt nog wat te doen.”

 

6. Slotsom

Dus: Is taalregtelitigasie sinvol? Gegewe my aangebode oorsig is die kort antwoord op hierdie vraag: “Ja, mits ...” ’n Mens wil graag vir die toekoms sien dat taalregtelitigasie deel sal vorm van ’n groter taalregte-aktivistiese inisiatief; noem dit maar ’n beweging as dit moet. Hierdie beweging behoort soveel as moontlik Afrikaanse belanghebbers te betrek en moet organisatories gesproke die volle arsenaal van taalregte-aktivistiese instrumente inspan om die Afrikaanse taalminderheid in staat te kan stel om die mate van outonomie waaroor dié beskik, te behou. Dit impliseer dat litigasie en verwante vorme van aktivisme die breër Afrikaanssprekende gemeenskap moet dien en nie enkele organisasies ter wille moet wees nie. Maar dit vereis wel dat daar anders gedink word oor die waarde van taalregtelitigasie en wat daarmee wil bereik wil word – ek dink ons kan saamstem: Afrikaanssprekendes soek oorwinnings wat langtermynoplossings en veral beter wetlike waarborge bied aan ’n gemeenskap wat ten diepste na selfbeskikking streef.

 

Bibliografie

Bender, SW. 1997. Direct democracy and distrust: the relationship between language law rhetoric and the language vigilantism experience. Harvard Latino Law Review, 2:145–74.

CJA Lourens vs. Die President van die Republiek van Suid-Afrika ea. Uitspraak. 49807/09 (Noord-Gautengse Hooggeregshof, 16 Maart 2010).

Cakata, Z en P Segalo. 2017. Obstacles to post-apartheid language policy implementation: insights from language policy experts. Southern African Linguistics and Applied Language Studies, 35(4):321–9.

Combs, MC en SD Penfield. 2012. Language activism and language policy. In The Cambridge handbook of language policy, B Spolsky, 461–74. Cambridge: Cambridge University Press.

Dorfling, C-L. 2018. Ouers dreig om skool te beset. “Gee ons ’n Afrikaanse onderwyser”. Volksblad, 14 Februarie, bl 9.

Du Plessis, T. 2014. Language discontent and geographical name changes in South Africa as reported in the South African Language Rights Monitor, 2002–2008. Nomina Africana, 28:51–79.

Emond Harnden. 2005. Supreme Court eases access to English language schooling in Quebec – but not for Francophones. Emond Harnden Labour & Employment Law.  http://www.ehlaw.ca/supreme-court-eases-access-to-english-language-schooling-in-quebec-but-not-for-francophones (14 Februarie 2018 onttrek).

Fredericks, INA. 2011. The protection of languages and of language rights in the South African constitution. Ongepubliseerde doktorale proefskrif. Universiteit van die Wes-Kaap.

Gelyke Kanse and Others v. The Chairman of Senate of the Stellenbosch University. Judgment. 17501 /2016 (High Court of South Africa (Western Cape Division, Cape Town), 25 Oktober 2017b).

Gelyke Kanse and Others v. The Chairman of the Senate of the Stellenbosch University and Others. Applicants' Heads of Argument. 17501/2016 (High Court of South Africa (Western Cape Division, Cape Town), 12 Julie 2017a).

Gloppen, S. 2005. Social rights litigation as transformation: South African perspectives. CMI Working Papers 2005, 3:1–17.

Gosselin (Tutor of) v. Québec (Attorney General). 29298 (Supreme Court of Canada, 31 Maart 2005).

Governing Body Hoërskool Overvaal v Head of Department of Education. 86367/2017 (High Court of South Africa, Gauteng Division, 15 Januarie 2018).

Governing Body Hoërskool Overvaal v. Head of Department of Education. Judgment. 86367/2017 (High Court of South Africa (Gauteng Division, Pretoria), 15 January 2018).

Johnson, KR. 1995. Civil rights and immigration: challenges for the Latino community in the twenty-first century. La Raza Law Journal 8(1):42–89.

Kriel, M. 2010. South African Language Rights Monitor 2007. Sixth report on the South African Language Rights Monitor Project 1 January 2007 – 31 December 2007. Stellenbosch: SUN PRESS.

Kruger, H. 2017. Ouers sluit Sowetoskool uit protes oor “Bantu African's hoof”. Beeld, 5 Desember.

Laakso, J, A Sarhimaa, SS Åkermark en R Toivanen. 2016. Towards openly multilingual policies and practices: assessing minority language maintenance across Europe. Bristol, Buffalo, Toronto: Multilingual Matters.

Legal Brief. 2018. Constitutional: Overvaal ruling closes doors to diversity – department. Legal News Watch, 7 Februarie.

Lubbe, HJ. 2004. Linguistic rights litigation. Alternation, 11(2):118–43.

—. 2008. Taalregte en die regspraak. Stellenbosch Papers in Linguistics PLUS, 36:67–87.

—. 2018. The right to language in court: A language right or a communication right? dialnet. 2009. https://dialnet.unirioja.es/descarga/articulo/3199505.pdf.

MacDonald, V-M. 2004. The Status of English Language Learners in Florida: Trends and Prospects. Policy Brief EPSL-0401-113-EPRU , Tempe: Education Policy Studies Laboratory, Education Policy Research Unit (EPRU), Arizona State University.

Makoni, M. 2017. An opportunity for the university to change direction. University World News, 26 August.

Mallikarjun, B. 2012. The evolution of language laws in post-independence India. A monograph. Language in India, 12(9):1–90.

Marcus, G en S Budlender. 2008. A strategic evaluation of public interest litigation in South Africa. Johannesburg: The Atlantic Philanthropies.

Martel, A. 1999. Heroes, rebels, communities and states in language rights activism and litigation. In Language: a right and a resource. Approaching linguistic human rights, M Kontra, R Phillipson, T Skutnabb-Kangas en T Varady (1999:47-80). Budapest: Central European University Press.

Nyoka, N. 2018. Skool se liggaam ontbind. Beeld, 28 Julie.

OCOL (Office of the Commissioner of Official Language). 2016. Protecting language rights: overview of the Commissioner's interventions in the courts 2006–2016. Ottowa: Minister of Public Works and Government Services Canada.

October, A. 2012. Taalwaghond se raad gou ontbind. Die Burger, 7 Junie.

Otto, H. 2018. Overvaal-appèl. “55 se belange nie 1ste gestel”. Volksblad, 7 Februarie.

Pereze-Bustillo, C. 2012. Rocking the cradle: a case study of linguistic minority educational rights in Florida. In Education reform and social change: multicultural voices, struggles, and visions, CE Walsh (2012:71–82). New York, Londen: Routledge.

Perry, T. 2004. Language rights, ethnic politics: A critique of the Pan South African Language Board. Rondebosch: PRAESA.

Schlanger, M. 1999. Beyond the Hero Judge: Institutional reform litigation as litigation.” Michigan Law Review, 97(6):1994–2036.

Seite, EL. 2010. Language legislation in Iowa: lessons learned from the enactment and application of the Iowa English Language Reaffirmation Act. Iowa Law Review, 95:1369–99.

Skutnabb-Kangas, T. 2000. Linguistic genocide in education – or worldwide diversity and human rights?. Mahwah, New Jersey, Londen: Lawrence Erlbaum Associates.

Solski (Tutor of) v. Quebec (Attorney General). 29297 (Supreme Court of Canada, 31 Maart 2005).

Strauss, G. 1997. Does the rainbow cost too much? Polemical essays on the economics of language. Acta Varia, 5:1–92.

The Government of the Republic of South Africa and Others v. Grootboom and others. CCT11/00 (Constitutional Court of South Africa, 2000).

Woolman, S en B Fleisch. 2009. On the constitutionality of single medium public schools. In The Constitution in the classroom: Law and education in South Africa 1994–2008, S Woolman en B Fleisch (2009:45–81). Pretoria: Pretoria University Law Press.

 

Eindnotas

1 Sy verdere werk oor regspraak omtrent taalregte in die howe bied ’n indringende ontleding van die kwessies ter sprake. Sien Lubbe (2008 en 2009).

2 Ek gebruik doelbewus die in Suid-Afrikaanse konteks ongemaklike terme minderheid en taalminderheid ooreenkomstig die gangbare praktyk buite die eng (polities-korrekte-gedrewe) Suid-Afrikaanse wêreld.

3 Raadpleeg die ETFB se databasis hieroor by https://www.ufs.ac.za/ulfe/unit-for-language-facilitation-and-empowerment-home/useful-links/database-language-policies.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top