Die Silwerskerm Filmfees, in samewerking met kykNET & NuMetro

  • 0

kykNET en NuMetro span kragte saam om weer soos verlede jaar die baie suksesvolle Silwerskerm Filmfees aan te bied. Die jaar sal die Silwerskerm Filmfees plaasvind by The Table Bay Hotel in Kampsbaai vanaf 3 tot 5 September.

Die filmfees spog vanjaar met vier wêreld premiêr titels wat onder andere Katinka Heyns se nuutste skepping Die Wonderwerker, asook ander films soos Wolwedans, Lien se lankstaan skoene en Verraaiers insluit.

“Dit is vir kykNET ’n geweldige voorreg om weer die jaar die filmfees te kan aanbied. Die filmfees is gekweek om nuwe talent in ons bedryf te identifiseer en die voorbehoud van Afrikaanse rolprente en kortfilms te verseker,” verduidelik kykNET kanaalhoof, Karen Meiring. As deel van die filmfees het kykNET en NuMetro ’n kortfilmkompetisie geloods waar aspirante- en huidige rolprent vervaardigers uitgenooi is om hul kortfilm-idees in te dien om sodoende die kans te staan om hul teks en idees te verwesenlik.

“Uit die meer as vierhonderd kortfilm-inskrywings het ons ná baie kopkrap op tien kortfilm-idees besluit. Die gehalte van die tekste was merkwaardig en ons moes stoei om by tien tekste te bly,” verduidelik NuMetro se Ricky Human. Elk van die tien kortfilm-idees en hul vervaardigers ontvang R120 000 om hul kortfilm-idee te laat realiseer en die eindproduk sal dan by die Silwerskerm Filmfees asook op kykNET in Oktober vanjaar vertoon word. “Die ses beste kortfilms sal dan ook landswyd in uitgesoekte NuMetro teaters na aanvang van die filmfees, tussen 21 en 27 September vertoon word,” voeg Human by.

’n Verdere toevoeging tot die Silwerskerm Filmfees is die ope-afdeling wat aan enige ander “ongepubliseerde” bestaande films die geleentheid bied om vertoon te word by vanjaar se filmfees, hetsy die films in Afrikaans, Engels of enige ander taal verfilm is. Daar sal ook bekende rolprentvervaardigers en kenners in die rolprentbedryf, werkswinkels en toesprake aanbied om aspirante filmmakers te inspireer en op te lei in die multi-fassette van die filmbedryf.  

Kaartjies vir die Silwerskerm Filmfees, sal binnekort op die kykNET webblad (www.kyknet.co.za) beskikbaar wees; R300 vir die volle drie dae en R150 per dag.

Silwerskerm Filmfees Kortfilm finaliste:

Anderkant gister – Palama Productions
Buurtwag – De Plate Kompanjie
Die Koebaai Klub – Onafhanklik
Drukkersbloed – Onafhanklik
Like my Profile – Nouvanaand Films
Littekens - Onafhanklik
Nantes – Homebrew Films
Prins Piet en die Panelbeater – Onafhanklik
Stut - Onafhanklik
Uit die kaskenades – FAD Creations

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top