Die seun wat vir Hector gedra het
(45ste herdenking, Soweto-opstande,
16 Junie 1976 – 2021)

Foto: Canva
Mbuyisa Makhubu
My kind, die hoop beskaam.
Omtrent niemand onthou jou naam.
Elke Junie dra jy van voor af weer,
die seun te jonk van sy ma weggebeur,
jou gesig wrang waaie tussen
verflenterde vis en tjips blaaie,
oë toegeskroei, skalpel wat
in longe bloei.
In die stad van sweet en las
waar net wit mense pas, was
jy minder as ’n mens. Wie help
jou oor die grens? Vlug moes jy
uit genadelose grepe, diep in die
nag se buigende repe.
Vreemde stof merk jou voete,
vals moed klee jou roete, in jou
wonde woon planete, binne hyg
dit verbete. Niemand weet waar
jy jou nou bevind, vandag slegs
papiervoue van jou en die kind.
Mbuyisa Makhubu
My kind, die hoop beskaam.
Omtrent niemand onthou jou naam.
Hoor jy nog jou ma se stem soos
’n lallebaai, soek haar waar die
horison roekeloos bly draai?
Mbuyisa Makhubu
Waar is jy nou?
In die blink of in die grou?


Kommentaar
Van die persone wat in Soweto gesterf het op 16 Junie 1976, was wittes: 'n wit munisipale beampte en Melville Edelstein, die hoofwelsynsbeampte. Onder die mense van Soweto was hy baie geliefd, omdat hy alles gedoen het om hulle lewenskwaliteit te verbeter. Tog kry hy geen erkenning nie. Waarom is hy vermoor?
Dankie dat jy dit onder my aandag gebring het, Marthinus. Ek was nie bewus hiervan nie. Daar is so baie wat gedurende daardie tyd nie bekend gemaak is nie. Ek gaan beslis verdere navorsing oor Melville Edelstein doen. Nogmaals dankie.