Die ses weke van Thomas en Ella deur Zelda Bezuidenhout: ’n jong leser se indrukke

  • 2

Die ses weke van Thomas en Ella
Zelda Bezuidenhout
LAPA
ISBN: 9780799395846

Ek is elf jaar oud en al van kleins af mal oor lees, maar deesdae is dit so moeilik om Afrikaanse boeke te vind om te lees, so meeste van die tyd lees ek Engelse boeke soos Harry Potter, Percy Jackson en Diary of a Wimpy Kid

Want watter Afrikaanse boeke lees jy as jy alreeds al die Saartjie-boeke, al die Maasdorpe en al die Stalmaats gelees het? Hier is jou antwoord: Die ses weke van Thomas en Ella.

Hierdie boek handel oor 'n meisie genaamd Ella wat 'n baie ryk pa het, en al van kleins af sonder 'n ma, maar met baie geld en 'n besondere “gawe” grootgeword het. Die ander hoofkarakter, Thomas, het grootgeword met 'n doodgewone lewe, maar ook sonder 'n ma.  Sy lewe was doodrustig tot hy as Ella se chauffeur aangestel is, aangesien Ella se pa net ’n paar uur gehad het om ’n nuwe een aan te stel nadat die vorige een in die hospitaal beland het.

Daar gebeur dan iets wat veroorsaak dat Ella se pa haar en Thomas verbied om mekaar te sien, wat vir albei van hulle ’n ware marteling is.  Dit veroorsaak dan dat Ella alleen moet oorsese familie gaan besoek vir tien dae, wat dit natuurlik tien keer erger maak. Aan die einde van die boek kan ’n mens sien dit is ’n ware, maar moderne liefdesverhaal.

Hulle moet egter albei ernstige misverstande en hartseer hanteer om op daardie stadium van ware liefde uit te kom.

Hierdie is 'n prettige, maar hartseer boek, en meeste van dit kon definitief in die gewone lewe gebeur (Ella se spesiale talent uitgesluit).

Hierdie is 'n uitstekende boek wat ek vir kinders van ouderdomme 13-18 jaar aanbeveel, al is ek nou maar elf. Ek dink dit is meer gepas vir ouer kinders, want daar is 'n hele paar stukke in wat definitief nie geskik is vir kinders van 8 nie, maar oor die algemeen is die boek redelik onskuldig.

Ek dink dat meisies en seuns hierdie boek ewe veel sal geniet, want die boek is beide uit Thomas en Ella se perspektief geskryf. Hierdie is een van die min boeke wat ’n mens deesdae kry met 'n baie positiewe boodskap.  Dit verduidelik basies vir jou dat dit nie saak maak of jy ryk of arm, 'n Katoliek of 'n Christen, 25 of 40 is nie: liefde is liefde en alle mense moet dit respekteer.

Ek het dit in minder as 'n dag klaargemaak! Hierdie is ook een van die min kinder- en tienerboeke wat grootmense definitief ook sal kan geniet.

  • Karla Sandrock is in 2020 in graad ses.
  • 2

Kommentaar

  • Avatar
    Zelda Bezuidenhout

    Liewe Sandra, dit maak nie saak hoeveel mooi dinge grootmense oor my jeugboeke sê nie, dit tel nóóit so baie soos wanneer ‘n jongmens hou van wat ek skryf nie. Ek waardeer jou pragtige, eerlike lesersindruk oor "Die 6 weke van Thomas en Ella" flippen baie. Dankie dat jy my boeke lees ... daar’s binnekort nog een op pad.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top