Die Seepunt-insident deur Gerhard Greyvensteyn, ’n resensie

  • 0

Titel: Die Seepunt-insident
Skrywer: Gerhard Greyvensteyn
ISBN:  9781485904205
Uitgewer: Penguin

Die lees van die roman wou my later in Cluedo-styl laat uitroep: “Professor Plum! (In the library. With a candle stick.)”

Vrydagaand, 31 Desember. Kaapstad. Imelda Grys, skatryk sakevrou en kunskenner, is die gasvrou vir ’n eksklusiewe Nuwejaarsete by haar woning in ’n rykmansbuurt. Die gaste is met sorg gekies: haar seun Dennis en sy vrou, Fikile; haar dogter, Sandra, en haar vennoot en minnaar, James; ’n Sjanghaise sakevrou, Jane; ’n radiojoernalis, Jakkie; en ’n gewese polisiebeampte, maar nou ’n blommeverkoper, Bradley. Haar laatlamseun, Thomas, is afwesig.

Sy versoek almal om voor middernag te vertrek en sterf oomblikke nadat die laaste gaste weg is toe haar stoelhysbak, wat haar 24 meter teen ’n helling van 33 grade tot by haar voordeur moes besorg, geheimsinnig onklaar raak en na benede stort. Misdaad word vermoed en die hulp van ’n privaatspeurder, Vos Vos, word ingeroep. Sy is ’n interessante karakter.

Ook haar speurdervennoot en tweelingbroer se van en voornaam is dieselfde – Deventer Deventer. Albei is voormalige lede van die SAPD, maar het die diens ná ’n traumatiese insident verlaat. Vos is nou ’n whiskeydrinkende privaatspeurder en Deventer is die eienaar van ’n wassery, asook ’n mediterende vegetariër. Hy bly egter steeds Vos se klankbord. Die aanwending van ’n tweeling as onortodokse ondersoekers in ’n raaiselroman is ’n ongewone tegniek, en dit slaag beslis in die sin dat die interaksie tussen hulle die leser se brein saam met hulle s’n uitdaag. Ongelukkig het hulle my nie werklik as ernstige ondersoekers oortuig nie; veral Deventer het deurentyd grootliks onderontwikkeld en eensydig as karakter gebly.

In ’n ware Agatha Christie-trant word dit gou duidelik dat elkeen van die gaste motiewe gehad het om Imelda te vermoor, maar wie was dit? Sommige van hulle het bande met die Chinese en Koreaanse mafias; sommige was in ‘n finansiële krisis; sommige het persoonlike redes gehad om haar dood te wou hê ... Die leser is hier die tradisionele leunstoelspeurder; van die moord tot die uiteindelike ontknoping verloop daar slegs ’n week, maar terugflitse na die verlede krap die leidrade telkens deurmekaar. (Nee, ek kon glad nie raai wie die skuldige was óf wat die ware motief vir die moord was nie.)

Die subtitel van die roman (“Moord is ’n kuns”) vind vermaaklik weerklank in die teks: Kuns speel inderdaad ’n kardinale rol – kulinêre kuns in die besonder. Aansluitend daarby begin én eindig die roman met eksklusiewe aansitetes. Die feit dat die moordenaar een van die gaste moet wees, herinner sterk aan desjare se sogenaamde “closed room mysteries”; die lees van die roman wou my later in Cluedo-styl laat uitroep: “Professor Plum! (In the library. With a candle stick.)”

Punte van kritiek: Die selektiewe en soms doelbewus misleidende leidrade wat aan die leser verskaf word, sal die tipe leser wat notas maak in ’n poging om die moordenaar te identifiseer, frustreer. ’n Vriendin het opgemerk dat die roman haar – juis daaroor – dom laat voel het. Dis ’n geldige punt – die ontknoping is bykans onmoontlik om vooraf korrek te voorspel, omdat belangrike inligting van die leser weerhou word.

Twee tegniese foute het ’n bietjie gekrap: Op bl 37 word foutiewelik na Dennis as Bradley verwys en die prosedures wat op ’n onnatuurlike sterfte volg, word op bl 158 regstegnies onakkuraat beskryf – om te beweer dat die saak gesluit is én iemand aangekla word, is teenstrydig en die begrippe is wedersyds uitsluitend. ’n Kriminele klagte kan ook nie buite die hof geskik word soos dit hier beskryf word nie.

Dis nietemin ’n ontspannende en boeiende debuut wat geniet sal word deur lesers wat nie noodwendig ten alle koste self raaisels wil oplos nie en die roman bloot vir die genot van die ervaring wil lees.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top