Die seemeeu kom sit: E Kotze voltrek die skrywersirkel met Hulle noem haar Carminda

  • 3

https://www.nb.co.za/en/view-book/?id=9780795710506

Hulle noem haar Carminda
E Kotze
Kwela
ISBN: 9780795710506 

Koop die boek by Graffiti

Aangesien die skrywer E Kotze (gebore Elizabeth Walters, 17 Oktober 1933 naby Hopefield) self meen dat Hulle noem haar Carminda (Kwela, 2023) haar laaste boek sal wees, sal ’n resensie beslis onvolledig en los van konteks voorkom indien daar nie ten minste ’n voëlvlug oor haar skrywersloopbaan en belangrikste invloede gemaak word nie. Dit is dan die doelwit hier.

Terloops, ek noem my bydrae hier eerder ’n lesersverslag;  ’n wyer inslag as die soort mening wat in ’n koerant of tydskrif sou verskyn, waar elke woord waardevolle spasie inneem (die internet het sy voordele) en geskryf deur iemand wat haar pennevrug vir dekades al oorspannend beskou. 

Kotze (oftewel Sussie) begin sowat ’n halfeeu gelede skryf oor die Weskus en sy mense en die bedrywighede daar – kortverhale en vervolgverhale. Van haar vervolgverhale, Die prys vir Vogelsang (1972), Oggendblom en Bitterkalbas (1973), Kielwater (1975) en Die vuurgety (1978), word deur Human & Rousseau in boekvorm gepubliseer.

Dit is wel as kortverhaalskrywer dat Sussie in 1982 op die voorgrond tree met die verskyning van Halfkrone vir die nagmaal. Die meeste van hierdie verhale het oor ’n tydperk van 18 jaar in verskeie tydskrifte verskyn voordat dit in boekvorm uitgegee is. Die bundel word in 1983 met die Eugène Marais-prys bekroon. Dat daar nie meer pryse was nie, is met die oorsig van haar oeuvre opvallend. Dit herinner my aan die feit dat ons gevierde kortverhaalskrywer Abraham de Vries óók nooit me die Hetzogprys bekroon is nie. Ook ’n liederlike miskenning van ons ouer skrywers.

..........
Vir André Brink (Rapport, 14 Desember 1986) is die trefpunt van Kotze se werk die taal: "En hoe lees mens nie agter die taal aan nie.” Inderdaad.
............

Vir André Brink (Rapport, 14 Desember 1986) is die trefpunt van Kotze se werk die taal: "En hoe lees mens nie agter die taal aan nie.” Inderdaad. In al Kotze se boeke lees ’n mens om nie net die verhaallyn en karakters se ervarings te volg nie, maar ook om haar unieke vertellerstem te hoor en daardie lieflike en (vir die gemiddelde leser) rare, welluidende woorde te geniet, woorde wat meestal soos veldkosse met die grond nog daaraan geklont voorkom, so aards en werklik en byna voelbaar is hulle. Iets anders vir ons, deur Kotze uitgehaal en aangebied.

Ria Smuts meen Kotze is soos ware volkvertellers: Sy “kyk goed, luister fyn en het soveel fantasie dat hul vertelsels egter as die werklikheid is” (Skrywers en boeke, 15 April 1993).   

Dog sy is nie bloot ’n streekskrywer of oordraer van haar man en ander se verhale nie; sy omvorm haar aanvanklike inspirasie in outentieke kunswerke wat voldoen aan die kriteria van ware letterkunde. Die menslike kondisie bly altyd die goue draad wat deur elke kortverhaal en roman uit haar pen loop. Miskien is haar skrywerstem kenmerkend juis omdat sy nie die stemme van literators en skryfskoolmentors hoor nie – sy is immers (soos sy as Carminda-die-skrywer in hierdie roman verklap) ‘n selfgeleerde skrywer; ’n outodidak in ’n sekere sin. En goddank daarvoor. In die woorde van nóg ’n groot Afrikaanse skrywer: “’n Wonderlike en geseënde skryfster soos E Kotze mag nooit voel dat sy Literatuur moet maak nie. Wat sy skryf, is dit meesal – en oënskynlik spontaan" (Hennie Aucamp, Die Vaderland, 1983). 

In 1989 is haar “Skipper”, Willie Kotze, oorlede, en vir Sussie was dit ’n diep seer, aangesien dit saamval met haar ma se afsterwe na Alzheimer-siekte en haar suster se breinkanker. Karel Schoeman het beweer ’n ware skrywer moet werklik ly voordat hy/sy kan skryf. Kotze het egter reeds voor genoemde verliese kenners gaande en lesers lojaal gemaak.

Dat haar eie leed haar mensekennis en empatie verdiep het, is sekerlik wel die geval. Anders as Schoeman was Kotze egter nie ’n kompulsiewe produsent van dosyne werke of ’n asketiese eilandbewoner tussen die massas nie. Albei kenmerkend teruggetrokke mense, Kotze en Schoeman, maar heelalle van mekaar verwyderd – en tog, tog steeds die skeppers en bewaarders van (vervloë) wêrelde. Is die verlede ’n ander land, soos Schoeman ook gesê het? Of is ons as mensdom maar net besig om gedurig aan te pas, variasies op veranderlikes, kronkelend aanstromend soos die Griekse filosofie sê, panta rei, “alles vloei”? Ons skrywers was nog altyd daar om hiervan dagboek te hou, geannoteerd of verryk met lewenswysheid, al dan nie.

’n Paar jaar ná haar Skipper se dood skryf sy weer: Die slag van die breekbrander (Tafelberg, 2000), en op LitNet skryf Linda Rode: "Die slag van die breekbrander is nie net ’n uitsonderlike elegie vir ’n afgestorwe geliefde nie, maar ’n ode aan die lewe self, veral die lewe sáám; en dis ’n besondere milieubeeld van die son- en soutgebreide wêreld wat die basis van E Kotze se verhaalkuns uitmaak. Dis selde dat lesers so ’n eerlike blik in die lewe van ’n geliefde skrywer gegun word." 

In 2007 word haar volgende bundel, Die wind staan oos (Tafelberg) uitgegee. En 20 jaar later verskyn Toring se baai (Kwela, 2009), ’n storie oor ’n plek aan die Weskus. Wat hierdie lang tussenintydperke onderstreep, is nie net Kotze se besonder lang skryfloopbaan nie, maar ook die langdurigheid van haar aanhang – min skrywers kan vir sulke lag periodes van die toneel wegbly en steeds ’n standhoudende lesersgevolg terugwink. 

Toring se baai (‘n verwysing na Doringbaai) verskyn in 2009 en in 2011 kom Hoogty (albei Kwela), wat vir haar besonder vinnig tot stand gekom het. Die saadjie van die boek is egter al geplant toe sy in die jare sewentig, tagtig en negentig bekendheid verwerf het met haar kortverhaalbundels, vertel sy aan Johan van Zyl in Die Burger, 2011.

Hierdie stelling herinner weer eens aan hoe lank sy skrywer was. "Sy gebruik selfs nie tradisionele tegnieke soos naelbytslotparagrawe vir hoofstukke om die spanningslyn te versterk nie. Sy boei eerder voortdurend met fyn beskrywings, detail van tientalle situasies, karakters en voorwerpe. As ervare skrywer borduur sy rustig voort, bladsy ná bladsy wat skryfkunskenners én ‘gewone’ boekwurms deur begrip van die skryfkuns, óf akademies-geïnspireerd óf deur blote ervaring [met] honderde boeke agter die blad, of beide, wéét. In Kotze se kortverhale, vervolgverhale en romans is dit telkemale ooglopend die geval.” Só beweer Stoffel Cilliers (Volksblad, 2011). 

...........
Soos dit ’n skrywer betaam, al het sy nooit dié titel nagejaag nie, het sy dus geslaag waarin betreklik min ander storievertellers én woordkunstenaars al kon slaag: Sy het eenvoudig geskryf, en van dié eenvoud dan lewendige, gelaagde en geslaagde metafore van Die Lewe geskep.
.............

Soos dit ’n skrywer betaam, al het sy nooit dié titel nagejaag nie, het sy dus geslaag waarin betreklik min ander storievertellers én woordkunstenaars al kon slaag: Sy het eenvoudig geskryf, en van dié eenvoud dan lewendige, gelaagde en geslaagde metafore van Die Lewe geskep. Self sê sy: “Dis nie moeilik om eerlik te wees nie; eerder om eerlikheid te onderdruk” (Rapport, 24 Junie 2001).

Hierdie ingesteldheid resoneer met John Steinbeck s’n toe hy in 1938 sy dagboek skryf: “I am assailed with my own ignorance and inability. I’ll just have to work from a background of these. Honesty. If I can keep an honesty it is all I can expect of my poor brain.” Dit het hy geskryf kort nadat hy met sy klassieke The grapes of wrath begin het, waarvan tans al ongeveer 14 000 000 eksemplare in etlike tale verkoop is.

Plaaslik is dit veral die skrywer Dana Snyman wat benadruk dat eerlikheid die beste benadering vir ’n skrywer is. Eenvoud, eerlikheid en fyn waarneming. Met “eenvoud” word natuurlik bedoel dat onnodighede, die little darlings wat tot mooiskrywery lei, genadeloos uitgeroei moet word, maar nie dat daar tussen hierdie minimalistiese landskappe nie ook ’n kleurvolle vygie of majestueuse koningsprotea mag blom nie. Hou hulle dun gesaai, laat hulle verras en waardeer word.

In 2014 stel Suzette Kotzé-Myburgh ’n keur uit Sussie Kotze se kortverhale saam (Diepsee, Tafelberg). Die verhale is gekies uit Halfkrone vir die nagmaal (1982), Silt van die aarde (1986), Halwe hemel (1992), Waterwyfie en ander verhale (1997) en Die wind staan oos (2007). Kotzé-Myburgh het in die bundel gepoog, en daarin geslaag, om die skrywer se beste kortverhale byeen te bring. Ek self het so daaroor vir LitNet gerapporteer: "Skitterstories wat so fyn bedraad is, waarvan die humor en tragiek (en die deernis wat die twee oorbrug) wel duidelik uitstaan, maar die boodskappe soos ’n vernuftige, byna onsigbare naat gevolg moet word om die geheime binnesak te vind.  

"Kotze volg altyd MER se raad en sê net wanneer sy iets het om te sê, en doen dit soos die ware kunstenaar kan: Sy ken die kuns om komplekse gevoelens duidelik te stel. Daarom bly hierdie stories so vars soos die dag toe hulle aan wal gebring is. Kotze is dus geen blote kontreiverteller nie. Sy skets met ’n kennersoog die tonele wat sy intiem ken, bevolk die landskappe met lewendige karakters wat deur son en wind en sand en swaarkry verweer is tot hulle so taai soos bokkoms is, en net so heilsaam.” Destyds het ek so gevoel en vandag is ek geheel en al daarvan oortuig.

Daarom herinner haar werk aan die stelling: “Om ’n werklik goeie kunstenaar te wees, moet jy jou kuns aan jou lewe koppel” (Reality hunger, David Shields, 2010) – en met Carminda doen Kotze dit weer, om waarskynlik die sirkel van haar skrywersbestaan te voltooi.

Dit alles in ag genome, bly pla die vraag my: Voldoen Carminda aan Kotze se eie hoë standaarde? Ons kom aanstons daarby, en by wyse van afleiding kan die leser self ook oordeel ...

In 2016 verskyn Sussie Kotze se volgende roman onder die titel Soetloop by Kwela. Die roman word aangeprys, maar vir die volgende paar jaar is dit stil uit die studeerkamer in die aftree-oord in Panorama, waar ek en my vrou, Ilse, haar in 2019 gaan besoek het om ’n onderhoud vir Kaapse Bibliotekaris te doen. Sy sê sy gaan nie weer publiseer nie, “net iets vir haar kinders skryf”.

Later gaan kuier Ilse en Jolene van der Walt, ook ’n boorling van Kotze se omtes, weer daar, maar steeds was daar geen sprake van ’n nuwe publikasie nie. Daarom was dit vir ons ’n aangename verassing toe Kwela haar kon oorhaal om ’n nuwe roman vir die algemene publiek aan te bied.

Ons wel ook het gewonder hoe gretig hierdie boek deur die monetêr geteisterde en kwynende leserspubliek ontvang sou word. Daar is geen doekies om te draai nie. Uitgewers sukkel moedig teen die “perfekte storm” van elektroniese mededinging, ekonomiese afplatting en demografiese daling, wat alles een ding uitspel: Ons huidige (konstante) lesers is ons laaste groot lesersgenerasie. Daar was altyd relatief min lesers, maar dié Gideonsbende het baie gelees. Kan daar nuwe lesersmarkte onder groepe sonder tradisionele leserskulture gekweek word? ’n Debat vir ’n ander forum ... al wat ek kan sê, is dat die ooglopende verdwyning van boekwinkels, resensieblaaie in die media, ens, nie meer geïgnoreer kan word nie. Elke nuwe boek, soos hierdie een, is ’n vinger in die dyk wat barstens is met rekenaargedrewe visuele aanbiedinge, selfs robotskrywers, om nie te praat van ’n kraterkopregering wat kopiereg wil afskaf nie.

Op 7 Maart 2023 ontvang ek ’n eksemplaar van Caminda per koerier, soos met LitNet gereël, en begin dadelik te lees. Die plan was om daarmee klaar te wees wanneer die bekendstelling die volgende dag by Exclusive, Tygervallei, plaasvind. ’n Jigaanval pootjie egter my plan, en ek loop die geleentheid mis. Ilse en Jolene was wel daar.

Nietemin, ek lees vinnig dog lekker aan Carminda en Ilse steel die boek tussendeur om ook blitsig daardeur te lees – duidelik is daar dus min tekens van leesversperrings en nêrens dwing vaal kolle jou tot uitstel om “later” voort te gaan nie. Ek het niks vervelig gevind nie, al is liefdesverhale nie my voorkeurleesstof nie. En hoewel ’n resensent al opgemerk het dat Kotze nie van populêre tegnieke soos cliffhangers gebruik maak nie, behou sy jou aandag, sekerlik deels weens haar goeie ritme en bekende vertellerstem, die stem wat reeds nou al soos dié van ’n vriend klink, terwyl jy ook met die hoofkarakters empatiseer en tot ’n mate identifiseer, al mag hulle karaktertrekke en lewenswyse nie met joune ooreenstem nie.

Van karakters gepraat, daar kan dalk gevoel word dat Emmeline te min van ’n speekbeurt kry om as volwaardige antagonis beskou te word. Sy is eerder ’n stem wat pla, maar in die agtergrond. Maar dis ook nie noodwendig ’n swak plek in die verhaalkonstruksie nie, want beide Carminda en Mias vermy ’n grootskaalse of finale konfrontasie met Emmeline en haar ma. Ook Okkie Bierman, die fatale vlieg in Mias se salf, word eintlik sagkens behandel, al wou Mias hom aanvanklik byloop. Kotze slaag daarin om Okkie meer as ’n slagoffer (en sagter tipe persoon met ’n troetelbrakkie) uit te beeld. Nadat hy klaarblyklik vir Emmeline afgevry het, word hy, eerder as Mias, toe Emmeline se karperd – sy bly by hom al versuip hy sy ongelukkigheid en gebrek aan ruggraat, tot sy dood.

Mias is ’n buitengewoon sterk, of taai, karakter – en Carminda ook, hoewel op ’n vroulike manier – terwyl hy juis so groter as lewensgroot geskets word. Sy bewonder hom, al kwets hy haar telkens met sy oënskynlike afstandelikheid. Hulle is twee kante van dieselfde munt, gehard teen die aanslae van die lewe, en nie juis kommunikatief nie – en soos in die lewe maar gebeur, lei dit tot misverstande. Om met ’n alfahond soos Mias (of Willie) getroud te wees, kon ook geen sagte rosebedding wees nie. Jy moet oor ’n sterk wil en keiharde plig- en lojaliteitbesef beskik. Soos pioniers van die Weskus moes hê om te oorleef. Hier verklap Kotze iets van haar eie deursettingsvermoë wat haar deur ’n lewensloop in meestal ongenaakbare omstandighede en dikwels op haarself aangewese moes dra, en ook noodsaaklik was om etlike boeke te voltooi. Skryf is harde en eensame werk, nie ’n naelloop nie, maar ’n maraton. En op byna 90 kan sy haar lourierkrans nou maar met onderskeiding en genoegdoening dra. Die wedloop is gewonne.

Eers het Mias as hoofkarakter gedien, of ingestaan, totdat die meisie wat hy toevallig optel, uiteindelik op die voorgrond tree, en later besef die leser (hopelik) dat die verhaal eintlik deur Carminda vertel word, en ook aangesien sy, wat Suster genoem is en Kotze wat algemeen as Sussie bekend is, dieselfde verteller is.

Identifikasie met die fokaliseerder is soms wel onduidelik. Op bladsy 96 staan: “Ek het darem ’n naam.” En dan: “Carminda, dan sal dit Carminda wees. Dit is wat hulle almal haar noem. Maar die naam lê onwennig op sy tong. Vrou, noem hy haar, en hy is vir haar Skipper.” Op bladsy 234 staan: “Bly om te hoor, sê Lena.” [Aanhalingstekens, of gebrek daaraan, net so gekopieer.] “Die dorpsmense het nogal heelwat te sê gehad toe Mias siek word. Wat nou van julle gaan word, en die kinders.” En dan: Sy praat die dorpsmense na. [Wie fokaliseer hier?] ’n Mens neem aan dis Carminda, namens die skrywer, maar Carminda ís ook die skrywer. Maar Kotze gebruik die derdepersoonperspektief, nie ’n ek-verteller nie, en kan sodoende “sien” en rapporteer wat karakters in ander ruimtes doen – ’n slim opsie.

Later, wanneer Carminda skrywer word, word dit duidelik hoe en waar Kotze self begin skryf het. Ook hoe sy te werk gaan en wat haar aspirasies is of was. Sy skryf op bladsy 236: “Kraam! As sy iets moes versin, sou sy die storie anders laat uitwerk. [...] Met stories kan ’n mens klarigheid hê. In die werklike lewe is dit nie so maklik nie, [...].” Sy verklap ook haar insig in die skepping en aard van kortverhale op die volgende bladsy.

Na my mening is die kortverhaal haar beste genre, al beweer JB Roux dat die laaste drie nie die peil van haar vorige werke gehandhaaf het nie (Die Burger, 2014). Miskien is dit ’n backhanded compliment. Tog het sy vier suksesvolle romans gepubliseer, en voel al haar resensente dat mense van woordeboekmakers tot vermaaksoekers gerus haar werk kan lees. Sy besit immers die gawe om jou te interesseer al is daar nie die wêreld se ingewikkeldste plot of elegantste struktuur aan bod nie.

Gedurende die genoemde bekendstelling het sy benadruk dat sy basies haar en “haar Skipper”, soos Mias/Willie bekend staan, se lewensloop uitstippel, maar ingekleur deur verbeelding en verdoeseling.

Dus is Carminda ’n gefiksionaliseerde outobiografie, nie faction nie (die aanbied van verifieerbare feite, hoewel in romanvorm om lees te vergemaklik). As ek mag: My eie Omega, oor en uit (Tafelberg, 2006) is ’n voorbeeld van laasgenoemde, asook Ilse se ’n Vrou staan op (LAPA, 2002); beide kom deesdae wêreldwyd al meer voor. Die grense tussen feite en fiksie word dus vaer en die behoefte om werklike gebeure en mense te vermom of te verwring raak minder. Dalk ook omdat die moderne leser ’n groter aptyt vir “werklikheid” het, soos die voorkoms van “realiteitsprogramme” ook aandui. Ons soek die lewe soos dit is, maar teen selfs ’n vinniger spoed as ons eie snelle lewenstempo, soos ons alles verlang: bederf deur kits-alles, van kos tot krieket.

Wat tempo betref, stel Kotze ook nie teleur nie. Wanneer gebeure die leser se hartklop moet versnel, verkort sy haar sinne, kap hulle selfs af (bladsy 124: “Lam van skrik en woedend vloek sy hom, gebruik al die woorde wat sy ken, bal haar vuiste en slaan. En skop. Sy baklei hom van haar af en van die kooi af, tot hy oorgee.”), en dit skyn een van die redes te wees waarom Kotze vandag steeds gretig gelees word. Baie ouer skrywers handhaaf ’n tempo wat nie by die moderne leser byhou nie. Daarom is die classics deesdae meestal ’n teleurstelling. Begin gerus met The grapes of wrath of To kill a mockingbird en kyk hoe dwaal jou gedagtes.

Maar pragtige en liriese passasies is daar heelwat van. Soos op bladsy 218: “Hy is lief daarvoor om saans, wanneer die aandvaalte afsak teen die hang, saam met sy vrou teen die koppe uit te stap waar die puntige blomwyses van repens soos ligpienk kerse teen die lug staan. Die nuwe groei van die waboom bloei helderrooi teen die stofgroen loof. Om elke koekemakrankapol is ’n klipkraaltjie gepak.” Mooie beskrywing word nie hier blote mooiskrywery nie.

Die aardse aard van die Weskussers kom ook na vore waar sy van die meisies se mikkies en van Okkie se uithangbal praat, asook vloekwoorde hier en daar. Eerlike skryfwerk, nie soseer kru nie, meen ek. Die Weskussers draai, soos die Namakwalanders, nie doekies om nie. My ma se mense is van daar, so ek weet. Hulle is so reguit as wat hulle verbeeldingryk met hulle beskrywings kan wees. Sodoende bring Kotze nog iets van daardie mense na vore en verewig sy dit op papier. Soos sy ook in Terblanche se LitNet-stuk oor haar in die ATKV-Skrywersalbum noem: Sy hoop die mense, hulle kultuur en hulle geweste word deur haar werk onthou.

........
Maar soos ek in my resensie van Diepsee genoem het, die meeste verhale speel aan die Weskus af, dog Sussie Kotze sou ongetwyfeld net so goed in die Bosveld of Hillbrow of Bloemfontein kon skryf. Net so is dit met Carminda.
...........

Maar soos ek in my resensie van Diepsee genoem het, die meeste verhale speel aan die Weskus af, dog Sussie Kotze sou ongetwyfeld net so goed in die Bosveld of Hillbrow of Bloemfontein kon skryf. Net so is dit met Carminda.

Tydens vraetyd by die boekwinkelbekendstelling antwoord sy op ’n vraag oor die betekenis van onbekende woorde in die teks: “Dis in enige verklarende woordeboek te kry.” Kortaf. Neem dit soos jy wil. En daar is oudergewoonte heelwat sulke woorde in die teks. So. Siende dat tant Sussie die aanwending van woordeboeke aanbeveel, laat ek dit aan die leser oor om self te kyk. Argaïsmes, anglisismes en streektaal soos “bonkse” (bl 48), “gedresseer” (56), “obsent” (232) en “smoetsee”, “tiek-tak”, “neënoog” (almal bl 82), asook “strawasie” (182) en “tes” (226) is dus op die leser se rekening.

Sou ’n glossarium nodig wees? Om te lees is om te leer. Om te leer is om te lewe. Daarom is dit vir my hartseer dat die wonderlike gewoonte om boeke te lees skynbaar besig is om verdring te word deur kitsvermaak. Ons versmoor eenvoudig ons eie kreatiwiteit met tegnologie. Nogtans sou ’n verklarende lys tog vir toekomstige lesers nuttig wees, met die bewaring van ons kulturele kleinode in ag genome. Met Kotze, soos met Langenhoven van ouds, se permissie natuurlik.

Hierdie historiese roman wat iewers in die vyftigs van die vorige eeu begin, is volgens die skrywer ’n relaas oor die liefde tussen man en vrou, met die lewenswaarheid dat so ’n liefde op vertroue en geloof in mekaar gebaseer moet wees. Dit is die tema van Hulle noem haar Carminda. Of Mias en Carminda altyd volkome op mekaar se trou en liefde geglo het, laat ek ook aan die leser oor om te besluit.

Om af te sluit: Beveel ek die boek aan? Natuurlik, anders sou my verslag aansienlik korter gewees het.

Lees ook:

Biebouw-resensie: Diepsee, bolwerk teen die aanslag van vergetelheid

  • 3

Kommentaar

  • Kobie van Dyk

    Kommentaar uitstekend. Wonderlike boek vir my as Weskusser. Wil graag weet watter plek is Eiland en Wesklip?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top