Die SA Akademie en VAW: Wiskunde-Aksie ’n sukses

  • 0

’n Graad 7-leerder van Randburg het stof in die oë geskop van nagenoeg 670 deelnemers aan die Wiskunde-Aksie vir graad 6 en graad 7 wat deur die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, in samewerking met die Vereniging vir Afrikaanse Wiskunde-onderwysers (VAW), georganiseer is. 

Die doel van hierdie gesamentlike aksie van die SA Akademie en die VAW is om die nasionale poging te steun om die vlak van wiskunde-geletterdheid in die land te verhoog. Wiskunde is die ruggraat vir die opleiding van beroepslui soos ingenieurs, argitekte, dokters, ens. Die Aksie word beskou as ’n belegging vir Suid-Afrika se toekoms, het die hoof uitvoerende beampte van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, Dion? Prinsloo, gesê.

Laerskole in Pretoria en omgewing is genooi om hulle graad 6- en 7-leerders op ’n vrywillige basis gratis in te skryf vir dié Aksie, wat behels het dat hulle onvoorbereid ’n gevorderde wiskundevraestel, wel gebaseer op die kurrikulum, moes skryf. Die vraestel is in Afrikaans.

Boek-koopbewyse en sertifikate is Woensdag 14 November om 17:30 in die Kremetartsaal, Solidariteit (hv DF Malan- en Eendrachtstraat, Kloofsig) aan die wen-leerders oorhandig. Die beste presteerders in die graad 6-groep is uitgenooi om volgende jaar deel te neem aan ’n wiskundeverrykingskursus (’n kamp vir jong Einsteins) wat oor drie dae strek.

Die wenner was Thomas Prins, ’n leerder in graad 7 van die Laerskool Fontainebleau. Kort op sy hakke was Armand Vlok (ook van Laerskool Fontainebleau), Conrad Vos (Laerskool Magalieskruin), Jurgen Slabber (Laerskool Menlopark), Angelique van Rooyen (Laerskool Magalieskruin), Tiaan le Roux (Laerskool Rooihuiskraal), Karen Venter (Laerskool Anton van Wouw), Dricus Oerlemans (Laerskool Die Poort), Kiana Venter (Laerskool Magalieskruin), Louis Fourie (Laerskool Fontainebleau), Chris-Jasper Jooste (Laerskool Lynnwood), Armin Steenkamp (Laerskool Menlopark), Ruben van der Linde (Laerskool Du Preez van Wyk), Inge-Marie Alberts (Laerskool Lynnwood), Hans-Peter Fechter (Laerskool Lynnwood) en Armand van der Walt (Laerskool Magalieskruin). Dricus Oerlemans en Armin Steenkamp is die enigste graad 6-leerders wat onder die eerste dertien presteerders geëindig het.

Die SA Akademie, in samewerking met die VAW, beoog om die Wiskunde-Aksie in die toekoms veel wyer uit te brei.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top