Die rooikop en die redakteur en ander stories 1955–1959 deur André P Brink: ’n resensie

  • 2

Die rooikop en die redakteur en ander stories 1955–1959
André P Brink, saamgestel deur Cecilia van Zyl
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798177023

’n Mens vergeet soms dat André Brink eens jonk en nogal preuts was. Hy sê dit self in sy outobiografie, ’n Vurk in die pad. Voorts sou enigeen wat die briewe tussen hom en Ingrid Jonker gelees het, soos gebundel in Vlam in die sneeu, kon sién hoe Ingrid dartelend om die onskuldige André gehardloop het, veral aan die begin; daarom dat sy hom so bekoor het.

Dit sou verkeerd wees om te dink dat Ingrid ten volle verantwoordelik was vir André se vernuwende denke, want sy roman Lobola vir die lewe verskyn reeds in 1962, die jaar voor Ingrid hom op sleeptou geneem het. Vandag sou Lobola vir die lewe nie juis aandag trek weens uitdagende sensualiteit nie, maar ten tye van publikasie was dit ’n opspraakwekkende teks en baie anders as Brink se eerste drie romans. Selfs Die ambassadeur was al aan die gang toe Ingrid in sy “netjies geordende lewe ingestap en alles onderstebo gekeer het” (André eie woorde op bl 103 van ’n Vurk in die pad). Die vroulike karakter het toe natuurlik al hoe meer Ingrid se beeltenis begin kaats.

Wat het dit met Die rooikop en die redakteur te doen? En ook: waarom is hierdie bundel vroeë, romantiese verhale juis nou belangrik, soveel jare ná Brink se dood?

Dit was nog altyd bekend dat Brink om den brode liefdesverhale geskryf het – lees gewoon maar Erika Terblanche se ATKV-skrywersalbum in hierdie verband (https://www.litnet.co.za/andr-p-brink-1935). Tot onlangs was hierdie verhale egter nie toeganklik vir die algemene sterfling nie.

Cecilia van Zyl, ’n voormalige verhaalredakteur van die Huisgenoot, het dit nou reggestel. Sy het die navorsing gedoen, en 12 van die jong André Brink-verhale is nou weer te lees in Die rooikop en die redakteur en ander stories 1955–1959.

Brink moes maar 20 gewees het toe hy die eerste van hierdie verhale geskryf het, want op 13 Januarie 1956 verskyn “Stryd in die storm” in Die Brandwag. Hierdie verhaal beeld interessant genoeg reeds ’n liefdesdriehoek uit met twee mans wat meeding om die hand van ’n vrou. Dit speel in Frankryk af. Flitse van dit wat later algemeen sou word in die Brink-oeuvre is dus reeds te sien.

Tog val die preutse onskuld op. Die laaste verhaal, “Drempel van die ewige”, wat op 29 Mei 1969 in Die Huisgenoot verskyn het, toon reeds ’n gestalte van die hardkoppige, dartelende vrouekarakter; daar is vrae oor die samelewing en die kerk, asook die blote eksistensialisme van menswees. Tog, die twee karakters kuier saam, maar geen klere waai nie. Om die waarheid te sê, die vrou se eer word deeglik beskerm.

Praat van klere: dit is interessant om die modes en die denkwyses van die laat vyftigs hier raak te lees. Die rooikop en die redakteur is op talle maniere ’n tydkapsule wat ons nou weer mag oopmaak. Dit gaan egter oor meer as kleredrag: die kantooropset van destyds, die gebruik van tikmasjiene, briewe, die poskantoor en telegramme – dit is alles so anders as dit wat vandag in boeke verskyn.

Wat het egter nié verander nie? Die liefde.

’n Jong André P Brink | Foto: NALN

Brink het duidelik die genre van die tydskrifverhaal deeglik bestudeer en die titel van die bundel is dan ook afkomstig van ’n oulike verhaal oor ’n verhaalredakteur wat sy moses teenkom in ’n rooikopvrou wat nié die genre verstaan nie. Lees maar self.

André P Brink het duidelik baie verhale gelees en hy kón dus die verhaalredakteurs van daardie tyd oortuig om sy verhale te plaas. Die bundel bevat goeie verhale binne die genre.

Vandag is romanse steeds een van die grootste genres in Afrikaans. Talle uitgewers dra ernstiger werke op die rug van hulle romanses wat die geld inbring.

Die jonge, taamlik onskuldige André Brink het wel hierdie verhale om den brode geskryf, maar as jy sy oeuvre ken, sien jy alreeds vingeroefeninge van die persoon wat later ’n meesterskrywer sou word. Picasso se eerste kuns was lewensgetroue potloodwerk. Hy het daardie grondwerk en kennis deeglik gebruik om sy kubisme op te baseer. Ditto met André P Brink. Hy het duidelik eers die reëls van die romantiese lekkerleesverhaal deeglik leer ken voor hy dit gewaag het om later alle reëls te oortree.

Wie moet hierdie boek lees?

As jy van liefdesverhale hou, is hierdie boek vir jou. Koop dit en geniet dit soos jy enige ander romanse sou waardeer.

As jy jouself as ’n kenner van André Brink se letterkunde sien, is hierdie een ook vir jou. Wees op die loer vir vonkies wat later weer en weer in sy ernstige werk sou voorkom. Dit is pret. Van die verhale, soos die eerste en die laaste, het ’n tikkie hartseer in. Ander, soos die titelverhaal en die derde, “Lank en lig”, is effens stuitig. Een ding loop egter soos ’n draad deur hierdie verhale: André P Brink het die reëls van die lekkerleesverhaal deeglik aangeleer en kon dit toepas. Later sou hy hulle meesterlik leer verontagsaam.

As daar mense is wat droom om te skryf, koop hierdie bundel, lees dit, en lees dan die moderne romanses. Leer by die meester. As jy eers ’n lekkerleesverhaal suksesvol kan skryf, mag jy aanbeweeg as jy wil.

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top