Die rolbalspeler: ’n Held op die rolbalbaan

  • 0

Die rolbalspeler
Zain Eckleton
Uitgewer: Kwela Books
ISBN: 9780795703225
Prys: R157.95
 

 

Ek kan hierdie resensie begin met pragtige vergelykings tussen die tonnelvisie of “amper” blindheid van die hoofkarakter, Hans Meintjies, en hoe die verhaal hom afspeel, maar dit sal afbreuk doen aan die eenvoudige genot wat hierdie debuutroman van Zain Eckelton die leser verskaf. Die boek is pure plesier en een van die mooiste liefdesverhale, maar ook Bildungsroman, wat ek in ’n lang tyd gelees het. Mens wil byna net hier ophou skryf en aan almal skree gaan lees net die boek, dis stunning!

Maar laat ek julle tog effens meer vertel. Die boek handel oor ons held, Hans Meintjies, en sy kruistog wat ons saam met hom meemaak. Hy woon in Bishop Lavis saam met sy ma, Maria, en sy rakker-broer, Willem. Hans ly aan Retinitis Pigmentosa en vleg mandjies by die vereniging vir blindes in Soutrivier, Kaapstad.

Hans se pa het al op ’n jong ouderdom die gesin verlaat en Hans gelos met die verantwoordelikheid om vir die gesin te sorg. Sy ma sukkel met suiker en bloeddruk en Willem wil ook nie werk nie. Hans neem sy taak as hoof van die gesin baie ernstig op. Hy verlaat die skool in standerd 8 om te gaan werk en gee sy hele, karige loon net so aan sy ma. Hulle woon in ’n eenvoudige sinkhuisie sonder elektrisiteit of lopende water in iemand anders se jaart en saans sukkel Hans hom dood om iets gelees te kry in die swak lig terwyl Willem saam met sy tjomme in die straat skoorsoek en jol.

So wentel Hans se lewe om sy ma, sy broer en sy werk, totdat hy een oggend vir Erika in Voortrekkerweg raakloop. Die groot, blonde Erika is ’n maatskaplike werker en sien Hans langs die pad staan. Dis haar doel in die lewe om te help en sy gryp Hans sonder seremonie en help hom oor die straat. Die enigste probleem is, Hans wou nie die straat kruis nie! Hy lig haar op ’n gawe maar ferm manier hiervan in en daar begin die vriendskap tussen die twee.

Erika is onder andere ook ’n rolbal-afrigter vir gesiggestremdes en oorreed Hans om te kom saamspeel. Hierdie toevallige ontmoeting dien as wegspringplek vir Hans se lewe en deur middel van rolbal neem sy lewe ’n hele nuwe wending. Hy ontmoet ander mense en kom uit sy benouende bestaan, en uiteindelik oortuig Erika Hans dat hy sy matriek moet klaarmaak.

Alhoewel sy ma ’n sterk emosionele betoog lewer teen Hans se studies en eksodus uit die huis en Bishop Lavis uit, trek hy na die Cape Town Institute for the Blind. Hier gaan daar ’n nuwe wêreld vir hom oop met die aktiwiteitskamer en die wonderlike hulpmiddels vir blindes, die gesofistikeerde rekenaartoerusting, skerp buisligte waaronder hy veel meer kan sien as by die huis, toilette, wasbakke, baddens en storte met warm lopende water.

Hans is die held. Hy is op sy eie kruistog en moenie slegs die fisiese struikelblokke in sy pad oorkom nie, maar ook die struikelblokke binne homself. In die tradisie van helde soos Herakles en Prometheus, volg die boek letterlik die mitestruktuur van die held. Eerstens, die nederige geboorte en kinderjare van die held met die verwerping van die sterflike vader. Dan word hy geroep tot ’n wêreld van avontuur en vreemde gebeure en moet hy afstand doen van sy bekende omgewing.

Eers weier die held om op hierdie tog te gaan. Daarna ontmoet hy ’n mentor wat hom op die tog leiding bied en moet hy verskeie struikelblokke oorkom, party alleen en party met die hulp van ander. Die held moet ernstige uitdagings oorkom en as hy hierdie tog oorleef, keer hy terug met ’n seën of geskenk wat hy moet gebruik om die wêreld ’n beter plek te maak.

Voor sy finale terugkeer en oorwinning oor die donker magte (óf binne homself, óf in die wêreld daar buite) kom hy ook te staan voor ’n versoeking en sy eie hubris wat hy moet oorkom. Die held word deur sy eie swakheid gekonfronteer.

Soos ’n tipiese held moet Hans op sy tog gaan, die struikelblokke wat sy omstandighede sowel as sy blindheid bied, oorkom en uiteindelik die seën van sy ervaring en nuwe geleerdheid gebruik om ander te help.

Die boek vermy tipiese clichés en vertel ’n eenvoudige en gestroopte verhaal. Die verhaal word byna oorgedra op die manier waarop Hans sien – partymaal helderder as ander kere en soms, as gevolg van sy tonnelvisie, met sy fokus op net een ding op ’n slag. So ook met sekere gegewens in die verhaal. Erika, sy rolbalafrigter, mentor en geliefde, se lewe is self redelik kompleks. Sy het ’n moeilike verhouding met haar ouers en op ’n dag skiet haar pa haar ma en dan homself. Haar ma oorleef en hierdie teenspoed gee ma en dogter kans om hul verhouding met mekaar te herstel.

Die familiegeweld word nie op gefokus, gedramatiseer of uitgebrei nie. Dis bloot feitelik. Hans besef dat hy eintlik ’n goeie verhouding met sy ma het en ag homself gelukkig dat sy pa weg is toe hy weg is met slegs kortstondige blootstelling aan sy pa se humeur en frustrasie. Die rolbalgegewe waarmee die boek wegspring, raak minder sentraal en Hans se vordering en groei word al hoe meer die fokus.

Die boek is uitgegee deur Kwela Boeke, ’n druknaam van NB-uitgewers. Die voorbladbeeld gee die leser ’n goeie inleiding tot Hans se gekantelde wêreld van struikel en vasloop in deure, stoele en pale. Die rooi-en-wit langkierie bied ’n interessante kontras tot die titel, Die Rolbalspeler, en lok die leser uit om die boek op te tel en uit te vind wat die verband tussen die twee is.

Uiteindelik sal die held ook nie ’n held wees sonder ’n heldin in die prentjie nie en julle sal moet lees of Hans uiteindelik sy prinses kry. Die Rolbalspeler is ’n pragtige, hartroerende boek wat die leser nie sal wil neersit nie!

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top