Die reis

  • 0

Foto: Canva

Die reis

Dit was ’n lang reis
van eerste onthou tot nou
met ’n môre wat voorlê
wat nog kleintjies kry
wel tot anderdag
as daardie houtpak aangetrek word
as al die sand leeggeloop het

nou is dinge stadiger
tog is gedagtes vinniger
so asof tyd jou aanjaag
dat jy kan klaar kry
hier waar min dinge deesdae lekker is

ek wil nog by die see gaan bly
as die Here net sal instem
dalk ’n deur of twee oopmaak
sodat ek darem saans
as die son sak
my gedokterde galjoentjie kan braai
so vel en al
lekker winddroog
soos ek

om so met die lied van die see
agteroor te sit
te dink en te dink
aan die lewe en die dood

so loop die uurglas stadig leeg
sal ek dan gaan slaap
met die see in my ore
maar nou
nou is alles net genade

wat gekry is
is net geleen
alles verder
net ’n seën
tot daardie houtpak sak
die paar mense huil
die wat nie wil huil nie
skuil

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top