
Die staat se welsynstoelaes aan nagenoeg 18 miljoen arm Suid-Afrikaners is volhoubaar en gaan nog goedkoper word in die toekoms.
Hoor, hoor. Ja, julle het reg gelees.
Dit word goedkoper vir die staat om miljoene arm Suid-Afrikaners se broodnodige welsynstoelaes elke maand te betaal.
Dié siening van die progressiewe ekonoom en politieke ontleder JP Landman vlieg in die gesig van die konvensionele siening van die meeste ekonome dat die staat se welsynrekening te groot en onbekostigbaar gaan word in die toekoms.
Dit sou heel veilig wees om die huidige Suid-Afrika na 1994 as ’n sosiale demokrasie met tipiese kenmerke van ’n welsynstaat te beskryf. Let wel, nie ’n volle welsynstaat nie, maar bewese kenmerke van ’n welsynstaat, omdat nagenoeg 60% van die nasionale begroting jaarliks aan welsynstoelaes bestee word.
Die aanvanklike beweegrede vir die dramatiese uitbreiding van maatskaplike toelaes – soos kinderonderhoudstoelae en die verlaging van die kwalifiserende ouderdom vir mans vir die ouderdomstoelae van 65 jaar tot 60 jaar – was in die eerste plek polities van aard.
Dié politieke beweegrede is moontlik omdat Suid-Afrikaners in die algemeen welsynstoelaes aanvaar as ’n uitdrukking van maatskaplike solidariteit met die armes. Tweedens is die beweegrede ook ekonomies van aard omdat ekonomie eerstens oor mense gaan.
Omdat die oorgrote meerderheid Suid-Afrikaners vir meer as 350 jaar uit die hoofstroom van die ekonomie gehou is, kon die staat nie net sit en wag vir die privaatsektor om werk te skep nie.
Die staat het beide ’n politieke en ekonomiese verantwoordelikheid om toe te sien dat armes, hoe gering ook al, deel het aan die ekonomie. Reeds daarom stem ek nie saam met die konvensionele siening van ekonome dat die staat net bloot ’n gunstige klimaat vir ekonomiese groei en werkskepping moet voortbring nie.
Die voorsiening van welsynstoelaes deur die staat aan armes is dus een van baie belangrike instrumente om die ongelykhede van die verlede reg te stel. Dit moet toesien dat armes ook aan die ekonomie deelneem. Met ander woorde om geld in mense se hande te sit wat ongeskik is om self geld te genereer sodat hulle kan deelneem aan die ekonomie om die ekonomiese omset te verhoog.
Dit bring my by my argument dat die ekonomie eerstens oor mense gaan wat eerstens ’n besteebare inkomste moet verdien om aan die ekonomiese kringloop deel te neem. Hoe meer mense geld het om te bestee, hoe beter is dit vir ekonomiese groei en werkskepping. Die staat, en so ook die middelklas, het hierin ’n kardinale rol te speel en kan nie arm mense aan hul eie lot oorlaat nie.
Wat ek graag sou wou sien, is dat die keuringsproses vir enige tipe welsynstoelae deurlopend hersien moet word om te verseker dat net die diegene wat daarvoor kwalifiseer, dit ontvang.
Volgens Landman was daar in die 2006/7-boekjaar 11 983 miljoen Suid-Afrikaners wat welsynstoelaes gekry het, en die koste daarvan was 3,3% van die bruto binnelandse produk (BBP), of eenvoudig gestel: 3,3c uit elke R1 in die ekonomie. In die komende boekjaar gaan daar 17,172 miljoen mense wees wat welsynstoelaes gaan kry, en die kostes daarvan gaan 3,1% van die BBP bedra, dus 3,1c uit elke R1 in die ekonomie.
Dus, hoe meer mense, hoe goedkoper word dit.
Landman sê mense is oningelig en naïef as hulle kla dat welsynstoelaes nie bekostigbaar is nie. Hou dus op om stories te versprei dat welsynstoelaes onbekostigbaar is en dat arm mense dit nie verdien nie.


Kommentaar
Jason Lloyd maak 'n goeie saak uit vir welsynstoelaes. Hy raak ook 'n ander belangrike saak aan, naamlik die manier waarop die toelaes toegeken en betaal word. Daar is myns insiens baie meer hieroor te sê, nie net oor die betrokke departement nie, maar oor die hele staatsdiens. Ons kan nie welsynstoelaes en 'n ondoeltreffende, opgeblase, korrupte staatsdiens bekostig nie. Ek sou stem vir meer toelaes en minder amptenare (of moet ons die hele staatsdiens beskou as 'n tweede welsynsisteem vir ANC-kaders?).