Die prys wat jy moet betaal

  • 0

Ter wille van billikheid teenoor my boek – Dienaar van die waarheid (Turksvy Publikasies) wat einde verlede jaar gedruk is en begin vanjaar vrygestel is – moet ek bekend maak dat ek pas ontdek het dat die boek nie voorgelê is vir die Rapport- of UJ-boekpryse nie.

Sover dit hierdie pryse aangaan, sou ek vermoed wie ook al pryse toeken, sorg self dat die betrokke boeke nader gehark word. Dit blyk nou dat dié taak aan uitgewers oorgelaat word, wat om ooglopende redes hoofstroomuitgewers met voldoende begrotings bevoordeel. Klein uitgewerye en die groeiende getal selfpublikasies tel oënskynlik nie.

Natuurlik is dit geensins ’n gegewe dat die boek ’n kortlys sou haal nie. Maar enige titel wat in aanmerking wil kom, moet eerstens tog deel van die poel wees. Jy kan nie die Lotto wen sonder ’n Lotto-kaartjie nie. Dû.

Terwyl ek nou so aan die wroeg is, kan ek net so goed ’n bietjie skindernuus met julle pennestoters van die wit ink deel.

In 2017, na voltooiing van die eerste weergawe van die boek, toe getitel ’n Regverdige man, het ek die manuskrip aan Penguin voorgelê. In beginsel aanvaar hulle die boek vir publikasie en bied my selfs ’n voorskot aan. So werk sake nou, dink ek wat dekades gelede laas ’n boek probeer publiseer kry het. Tog is ek ook só uit die veld geslaan, dat ek die aanbod van die hand wys.

’n Groot fout.

Maande later laat weet Penguin hulle het nou téén publikasie besluit, hoofsaaklik omdat ’n werk van dié omvang hopeloos te duur sal wees om uit te gee. Die inhoud van die teks is irrelevant.

Volgende in die tou: Lapa. Na ses of sewe maande seg hulle nee.

Intussen sny en plak ek aan die manuskrip en besluit om die genealogie-afdeling en die biografie in twee bande self te laat druk en hoofsaaklik aan familielede te versprei. Oplaag: 25.

Nou het ek darem ’n gedrukte teks, met baie foto’s op die koop toe daarin.

Die jare kom en gaan.

Eindelik sit ek met net ’n paar eksemplare oor, en dié begin ek uitleen aan dese en gene.

Ook begin ek deur die kanale uitvis oor moontlike uitgewers.

Flyleaf, stel iemand voor. Nee, kom die antwoord van daar, hul publikasieprogram vir die volgende jaar is reeds vol.

Wat van Imprimatur? Via Google vind ek uit Joan Hambidge is daarby betrokke en vra haar of sy bereid sal wees om die boek te lees. Ongelukkig nie; sy’s besig om ’n roman klaar te skryf, maar sy raai my aan om met die kantoor in Pretoria in verbinding te tree.

Ná meer as ’n jaar se eindelose e-posse en telefoonoproepe kom ek agter dat die persoon wat glo die boek sou keur, verskriklik besig is met ander dinge en nog nie so ver kon kom om aandag aan my teks te gee nie.

OK, @!^# *&f!

Intussen het ek die boek verder verfyn – nou is die titel Gee my vlerke, die titel van ’n gedig wat my pa geskryf het en wat in die boek opgeneem is. Daarna gee ek dié weergawe aan Colleen Naudé – wat, soos ek, by Media24 gewerk het en ook op Hermanus (my standplaas) bly – om dit met ’n fyn kam deur te gaan.

Dienaar van die waarheid is háár titel.

Eendag kry ek ’n blink gedagte en gaan gee een van die laaste gedrukte weergawes as ’n soort verwelkomingsgeskenk aan Ton Vosloo wat saam met sy vrou Anet toe redelik onlangs hul nuwe woonplek op Hermanus finaal voltooi het.

Binne ’n week of twee laat weet hy so al lesend via e-posse dat die boek hom “uitboul” en dit na sy mening ’n wyer gehoor regverdig. Naledi is mos hier naby, stel Ton later voor. Daar oorkant, rigting Gansbaai, sien mens mooi dwarsoor Walkerbaai vanaf die sitkamer, so tussen die springende walvisse deur.

Maar dáár wil die boek nie soos die walvisse kalf nie.

Ek besluit om ook eie inisiatief aan die dag te lê en met Ton se goedkeuring haal ek uit sy vleiende e-posse aan en stuur dié in ’n dekbrief met die laaste gedrukte eksemplaar aan NB-Uitgewers.

Weldra vind ek uit NB, met sy sewe hoofdrukname, stel in beginsel nie belang nie. Hulle is eerstens daarop uit om wins te maak, en só ’n dik boek is ’n gewaarborgde finansiële mislukking.

Algaande – so met die deurlees van nuus oor boeke in koerante en elders – dring dit tot my deur daar’s ’n nuwe uitgewery met die naam Turksvy Publikasies.

Google toe. Tot my stomme verbasing sien ek die vrou agter die turksvybos is Marlene Malan, ’n oudkollega wat ek van die beginjare van die Sanlam Plaaslike Pers-byeenkomste in die vorige eeu leer ken het, lank voordat sy eindelik Rapport toe is. En nou haar eie uitgewery begin het.

En daar sien sy sowaar kans vir die enorme taak om die twee bande as één boek uit te gee. Darem met die finansiële bystand van die LW Hiemstra Trust.

Soos dit in Slaughterhouse-Five opgeteken staan: “And so it goes.”

Lees ook:

Persverklaring: 2025 se katalogus

Pasverskyn: Dienaar van die waarheid deur MC Botha

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top