
CJ Langenhoven het in 1923 Loeloeraai geskryf. Die eerste wetenskapfiksieroman in Afrikaans het dus ’n eeu gelede verskyn. Op 12 Augustus 2023 is die 150ste herdenking van CJ Langenhoven se geboortedag gevier. Om hierdie dubbele herdenking te vier, daag LitNet en die Langenhoven Gedenkfonds alle skrywers uit om ’n wetenskapfiksiekortverhaal voor te lê vir publikasie. Hier is meer inligting.
***
Professor Dumbeldoor is al van vroegdag af besig in sy laboratorium. Vandat die virus uitgebreek het, het hy skaars tyd vir eet of slaap. Hy moet eenvoudig ’n teenmiddel optower. Die wêreld om hom is besig om in ’n zombie-apokalips te ontaard.
***
Dawie strek hom lui uit, hy kyk om hom rond. Dit is asof die huis net te stil is vanoggend. En sy hond Zulu het hom nie kom wakker maak soos elke ander oggend nie. Hy wonder ook oor sy ouers, dit is snaaks dat hul nog nie op is nie.
Hy weet nie hoekom hy dit doen nie, maar hy gooi sy selfoon in sy slaaphemp se sak. Dan trek hy sy pantoffels aan en skarrel met die trap af kombuis toe.
Wat hy in die kombuis aantref, laat die bloed in sy are stol. Koue rillings gly teen sy ruggraat af. Sy ma, sy pa en Zulu is besig om iets te eet. Hulle is vol van die bloed! En dit is ook nie al nie! Hulle lyk dan nes die zombies in die flieks wat hy en sy vriende so graag kyk...! “Ma...? Pa...? Wat... gaan aan...?”
Hul al drie se oë draai na hom. Hulle stap stadig in sy rigting en die gemompel klink vir hom na “Kos... vars kos...”
Skielik is daar ’n onaardse gil van sy ma, vir hom klink dit asof sy skree dat hy moet hardloop. Dawie laat hom nie twee keer nooi nie, hy hardloop so vinnig as wat sy bene hom kan dra na sy vriend Ben se huis.
“Help! H-e-e-e-e-l-p-p-p!!!”
Hy skrik hom boeglam toe iemand hom skielik van agter ’n bos uit gryp. Hy spartel en spook en skop en probeer om te skree. Maar sy mond word toegedruk en die man is te sterk vir hom. “Luister nou mooi! Ek gaan jou laat gaan, moet asseblief geen geluid maak nie. Moet ook nie hardloop nie, dit sal hulle baie vinnig op jou spoor sit...!” En dan skielik is hy vry, bang draai hy na die man.
“Wie is jy! Wat op aarde is aan die gang! My ouers... my ouers en my hond... my vriende... wat gaan aan!?”
“Sjuut! Sagter, hul sal ons hoor! Wat aangaan, liewe vriend, is dat alles wat ek en jy geken het, besig is om te verander. Zombies is besig om die wêreld oor te neem... die virus...” “Maar dit kan tog nie wees nie, daar bestaan tog nie werklik so iets soos zombies nie...” “O, ja, hul bestaan, Dawie. En tot daar ’n teenmiddel is... Wel, jy sal moet veg saam met ons. Andersins gaan jy óf geëet word óf een van hulle word...”
“Maar... my ouers! Ek kan hul nie net so los nie, ek... ek moet probeer om hul te help. Hoe ken jy my naam, wie is jy?”
“Dit is nie nou ter sprake nie, Dawie, ons moet maak dat ons hier wegkom. En wat jou ouers aanbetref... jy kan daardie monsters nie meer as jou ouers klassifiseer nie. Kom!”
“Maar wat van die teenmiddel? Jy kan hul mos help, gee dit vir hulle, help my ouers!”
Dawie is amper histeries, hy weier om sonder sy ouers te gaan. Die man gryp hom en gooi hom oor sy skouers. Suutjies beweeg hul al agter die bosse, die man probeer om so min moontlik geraas te maak. Uiteindelik kom hul by ’n groot viertrek-motor uit, versteek agter nog bosse. Die man maak seker dat Dawie vasgegordel en die deure en vensters gegrendel is. Dan draai hy na hom.
“Kyk, Dawie, ek is baie jammer oor jou ouers. Daar is ongelukkig op hierdie oomblik niks wat enigeen vir hulle kan doen nie...”
“Maar wat van die teenmiddel, jy het gesê...” Dawie se lip bewe.
“Nee, Dawie, ek het gesê tot daar ’n teenmiddel is. Daar is mense wat besig is om daaraan te werk. Ons kan maar net hoop dat hul spoedig ’n kuur, oftewel teenmiddel ontdek. Dalk sal jou ouers nog gered kan word.”
Hulle hou voor ’n groot, hoë gebou stil. Dawie merk dadelik die mense wat op die dakke en balkonne staan. Elkeen dra ’n geweer oor sy skouer.
“Welkom by ons hoofkantoor, Dawie, en ook ’n plek van veiligheid vir oorlewendes. Maak jouself tuis!”
Dawie spring uit die viertrek, kyk om hom rond. Hy besef verleë dat hy nog in sy slaapklere is. Skaam kyk hy af na sy pantoffels.
“Dawie, mevrou Roodt is daarbinne die huis, ek is seker sy sal jou van klere kan voorsien. My naam is Jack, Dawie, Jack Smit. En asseblief tog moet nie vir my oom sê nie. Maar kom stap saam, dan gaan hoor ons wat mevrou Roodt vir jou het.”
Dawie knik net en dan stap hul die huis in.
Nadat Dawie homself skaflik gemaak het in die klere wat mevrou Roodt voorsien het, stap hy na die groot saal. Jack het gesê dat hul daar sal ontmoet vir ontbyt.
“Dawie...!” hoor hy iemand uitroep. En hy kan amper huil van die verligting toe hy omdraai en sien wie dit is.
“Ben! Maggies, is ek bly om jou te sien! Ek het gedink... ek was amper seker...” “Dat ek ook ’n zombie is! Dink net hoe koel sou dit wees as ek en jy zombies kon wees!” lag Ben, maar hy besef dadelik dat sy grappie onvanpas was onder die omstandighede.
“Jammer, ou Dawie, dit was ’n simpel grappie...”
“Dis koel, Ben, sê my, wie van julle is almal hier? Ek bedoel, jou ouers en so aan...?”
“O, dis net ek en my suster Lisa, en dan my pa. My ma en Johan het dit ongelukkig nie gemaak nie!”
“Wat bedoel jy dat hul dit nie gemaak het nie? Is hulle... is hulle dan dood...?”
“Nee, hulle het in hierdie monster-zombies verander. Ek reken jy kan seker maar sê hul is dood, Dawie. Om ’n zombie te wees, is maar net so goed as om dood te wees.”
“Ben! Ek wil jou nie weer so hoor praat nie! Jack het my vertel dat hulle werk aan ’n teenmiddel, ’n kuur, almal sal gered word, jy sal sien!” Dawie het vir Ben aan die skouers beet en hy skud hom omtrent dat sy tande klap. Toe hy besef wat hy besig is om te doen, laat hy sy vriend vinnig los.
“Ek is jammer, ek het nie bedoel... dis net, my ouers, Zulu. Wat as ek hulle nooit weer gaan sien nie!”
Skielik is Jack Smit daar, hy hou die snikkende Dawie teen sy bors vas. Hy besef dat die skok van wat werklik aan die gang is, nou eers die seun tref, dus laat hy hom begaan.
“Toe nou maar, Dawie, daar’s hy, laat alles uit. En netnou maar voel jy sommer stukke beter. Ek belowe jou, al is dit die laaste ding wat ek doen, ek sal jou en Ben se families red, ek sal elke een hier se geliefdes probeer red. Daar’s hy, ons moet net nog so klein rukkie vasbyt.” Uiteindelik is Dawie kalmer en kan hul aansit vir ’n heerlike ontbyt van spek en eiers, roosterbrood en kaas. Jack belowe om Dawie netnou op ’n toer te vat en hy mag ook by professor Dumbeldoor se laboratorium gaan inloer.
Dawie wil amper lag toe hul uiteindelik in die laboratorium is. Die professor lyk kompleet soos die verstrooide een in die kinderboeke wat sy ma altyd vir hom gelees het. Professor Dumbeldoor se bril hang laag op die punt van sy neus, sy spierwit hare staan penorent aan alle kante.
Op sy kop is daar ’n ding wat Dawie nie dadelik kan uitmaak nie en hy dra ’n wit oorjas. Jack stap nader en fluister iets aan die professor. En dan laat staan die man die flessies en buisies waarmee hy besig was en stap na Dawie met ’n groot glimlag op sy koddige gesig.
“Dawie! Welkom by ons. Ek is professor Dumbeldoor, maar kom ek wys julle waarmee ek besig is!”
Dan wys hy vir hulle ’n klomp mengsels wat hy besig is om op te kook, ook kry hul kans om na zombiebloedselle deur ’n groot mikroskoop te kyk. Dawie vind dit alles baie interessant, maar hy moet weet.
“Professor Dumbeldoor, hoe lank nog voor die teenmiddel reg sal wees?”
“Jong man, ek sal nie met sekerheid kan sê nie, kom, stap gou saam, ek wil jou iets wys.”
Dawie stap nuuskierig nader. Die professor gaan voor ’n groot glaskas staan. Binne-in is daar rotte, maar hierdie rotte is omtrent twee keer groter as die gewone rot. Plus dit lyk amper asof hul tande te groot vir hulle bekke is.
Hy skrik toe een van die rotte skielik ’n onaardse geluid maak. Die rot gryp vinnig na ’n kleiner een in die hok. En voordat jy kan sê mes, het die groter een die kleine opgevreet. Die professor wat skielik hier agter hom praat, laat hom nog groter skrik.
“Zombierotte, Dawie. Jy sien dat die sterkeres die swakkeres begin opeet. So gaan dit dan ook gebeur met die mense-zombies daarbuite. As daar niks meer oor is om te eet nie, wel, dan gaan die swakker zombies kos word vir die sterkes...”
“Maar... maar is jul dan nie besig om ’n teenmiddel te ontwerp nie? Ek bedoel...?”
“Ek weet wat jy bedoel, Dawie. En ja, ons probeer, kom, kom stap saam met my.”
In die volgende hok is daar net een groot rot. Ook hy lyk nes die ander zombierotte, behalwe dat hy meer hare het en sy tande is kleiner.
“Sien, Dawie, hierdie een is half-rot, half-zombie. Die formule het hom amper terug na normaal verander, daar kort net hierdie iets om hom weer heeltemal normaal te kry. As ons dit regkry, dan kan ons begin voorberei.”
“Voorberei?”
“Ja, Dawie, as ons slaag, dan kan ons begin om die mense daarbuite van die virus te genees.” “Maar wat is dan die probleem? Hoekom verander die rot nie? Kan jul nie net vir hom meer gee nie?”
“Dit sal nie werk nie, Dawie, daar kort ’n bestanddeel, ek moet net uitvind wat. Ek doen my bes hier!”
“Natuurlik, Professor. Ek hoop dat jul vinnig ’n kuur sal kry. En ook hoop ek dat dit nie te laat sal wees vir my ouers nie. Totsiens, Professor.”
Vir die res van die dag dwaal Dawie maar saam met Ben rond. Hy groet almal wat hy ken, verken die tuin, speel met die diere wat ook gered is. Tog kan hy nie help om te wonder oor sy ma en sy pa en Zulu nie. Sou hul nog veilig wees? Wat as hul hier sou kon inkom? Sou hulle hom ook wou eet, ten spyte van die feit dat hy hul seun is? Hy weet dat die antwoord daarop heel waarskynlik ja sou wees. Tog, vanoggend in die kombuis, dit was asof sy ma hom probeer waarsku het! Dus, sy moet tog nog bewus wees van wat om haar aan die gang is?
“Pennie vir jou gedagtes?”
Dit is Jack, hy het sommer ook in die tuin kom rondstap. Soos hy dit noem, hy het bietjie kom kop skoonmaak.
“Ek wonder sommer oor my ouers. Meer spesifiek, my ma, dit was vanoggend asof sy my probeer waarsku het om weg te kom. Ek weet nie, dit was asof iets haar tog nog laat besef het dat ek haar seun is...”
“Dit mag dalk wees, Dawie, dit mag dalk wees!”
“Daar is nog iets wat my pla.”
“Ja...?”
“Jy het nog nie vir my gesê nie, hoe weet jy wie ek is? En ook die professor het my naam geken. Sonder dat ons voorgestel is aan mekaar?”
“Dawie... ek mag hierdie nie eintlik vir jou sê nie, maar onder die omstandighede verdien jy om te weet wat aan die gang is. Kyk, die saak staan so. Ek en jou pa het saamgewerk. Natuurlik was dit onder groot geheimhouding. Dawie, die virus wat uitgebreek het, dit was veronderstel om ’n dodelike wapen teen ons vyande te wees. Ongelukkig het dinge skeefgeloop...”
“Nee! Dit kan nie wees nie! Dit is onmoontlik, my pa verkoop motors, ek was al by sy werk, baie kere!”
“Luister, Dawie! Dit was alles net ’n front, jou pa, nes ek, is ’n geheime-agent. Ons is geheime-agente wat verantwoordelik is vir die vervaardiging van biologiese wapens. Dodelike wapens. En soos ek sê, ongelukkig gaan dinge soms verkeerd. Hierdie virus het ongelukkig in die verkeerde hande beland. Dit was nog nie voltooi nie...”
“Wil jy vir my sê dat my pa verantwoordelik is vir hierdie gemors, my pa en jy?!”
“Dawie, asseblief, bedaar!” Jack staan ook nou op sy voete, hy probeer na Dawie gryp. Maar Dawie hardloop reeds net sommer ’n rigting in.
Hy kan nie glo dat sy pa hiervoor verantwoordelik is nie. En nou, wat nou? Nou is sy pa een van hulle, ’n zombie! En dit is ook nie al nie. Sy pa het sy ma en sy hond ook in zombies verander. Hy hardloop al vinniger. Hoe kon sy pa! Hoe kon hy al hierdie jare vir hom jok en het sy ma ooit geweet hiervan?
“Jy het hom die waarheid vertel, nie waar nie?” die professor sit sy hand op Jack se skouer. “Ek moes Dumbeldoor, ek moes! Hy verdien om die waarheid te weet. Maar hoe vorder jy? Enige verandering?”
“Dit wil so voorkom, Jack, dit wil so voorkom! Die rot is besig om te verander na normaal. Daarna gaan ek eers nog een met die teenmiddel spuit. En as dit geslaagd is, wel, jy weet wat dan gaan kom!”
“Ja, natuurlik! Maar kom ons los vir Dawie om homself uit te woed. Hy het kans nodig om hierdie ding op sy eie te verwerk. Laat ek gaan kyk hoe meneer X se transformasie geskied.” Die twee mans stap in die rigting van die laboratorium. Jack is so verlig dat daar uiteindelik dalk ’n lig aan die einde van die tonnel is.
Die rot lê en krul en skop in die glaskas. Jack en die professor se oë is vasgenael op meneer X. Dit behoort nou nie meer te lank te wees nie, dan sal hul kan sien of hierdie kuur uiteindelik die wondermiddel is waarna hul op soek was. Uiteindelik hou meneer X op met sy gespartel. Hy lê vir ’n paar tellings roerloos in die kas. Dan skarrel meneer X orent en is hy weer terug na sy vorm van normale rot. Albei die mans slaak ’n sug van verligting. Nie een van hulle sien die seun wat deur die ruit na hulle staar nie.
Dawie hoor vaagweg hoe die professor sê dat hul dadelik moet wegspring om die kuur nog ’n maal te toets. Hy sien hoedat die professor ’n groterige houer uit ’n koelkas haal. Met ’n groot tang word nog ’n zombierot in ’n ander glaskas gesit. Ook hy word met die kuur ingespuit. Nou moet daar gewag word. Jack en professor Dumbeldoor gesels en hou hul besig met lesings op ’n monitor. Na wat soos ’n ewigheid voel, kan Dawie ook sien hoe die tweede rot skop en spartel.
Skielik gaan lê rot nommer twee doodstil en die monitors begin te biep. Jack gryp sy kop vas, die professor se hele gesig is een groot vraagteken. En dan, net so skielik, spring rot nommer twee weer op. Dit is asof hy verwoed teen die glas vashardloop. Dan gaan lê hy weer, skop, spartel en net so skielik is ook hy terug na sy normale grootte, is hy weer ’n gewone rot. Professor Dumbeldoor en Jack omhels mekaar. Dawie aan die ander kant sorg dat hy baie mooi kyk uit watter koelkas die teenmiddel kom en waar die professor dit weer bêre. Ook hy glimlag van oor tot oor. Uiteindelik! Nou kan sy ma en pa en Zulu gered word!
Daardie aand aan die etenstafel maak Dawie verskoning vir sy gedrag van vroeër die middag. Jack verseker hom dat alles in die haak is, daar is geen kwaai gevoelens nie. Na ete maak Dawie verskoning, hy sê dat hy ’n bietjie olik voel en sommer vroeg wil gaan inkruip.
Eintlik het Dawie heeltemal ander planne! Vannag gaan hy sy ouers en ook vir Zulu red!
Die wysers op sy horlosie wys dit is net ’n bietjie na middernag. Toe hy seker is dat almal slaap, sluip hy saggies uit die kamer. Sy selfoon sorg vir ’n klein ligstraaltjie. Dit voel soos ’n ewigheid toe hy uiteindelik die laboratorium bereik. Binne maak hy seker dat hy alles inpak wat hy nodig sal hê. En stilletjies soos ’n muis sluip hy weer na buite. Gelukkig het sy selfoon ook ’n GPS, hy kan net hul adres intik. En so maak hy seker in watter rigting hy moet beweeg.
Sonder veel moeite bereik hy hul huis. Maar wat hy sien, laat hom doodstil staan. Dit is dan die viertrek waarmee Jack altyd rondry! Van binne die huis kom vreeslik onaardse geluide. Hy skraap moed bymekaar en sluip stilletjies nader, tot by die ruit. Die ligte is aan en hy loer deur die venster.
Wat op aarde!
Zulu is nie meer ’n zombiehond nie! Sy pa lê op ’n bank, hy is vasgemaak. Jack is besig om sy ma met ’n soort net te probeer vang. Hoekom? Wat wil Jack met sy ma maak, hoekom is sy pa vasgemaak op die bank? Soos blits hardloop Dawie die huis binne.
“Jack! Stop dit! Stop!” hy spring op Jack en takel hom met sy vuiste. Net vir ’n oomblik is Jack effens uit die veld geslaan.
“Dawie... wat de...!”
En dan gebeur alles skielik so vinnig. Sy ma kom los en gryp na hom. Sy kry hom in haar greep. Dawie voel hoe haar tande in sy arm wegsink. Alles word swart voor hom.
Dawie maak sy oë oop, amper onmiddellik maak hy hul weer toe, die lig is verblindend. Hy probeer om op te kom, dan kom hy agter dat daar naalde en pype aan sy arms is. Stadig maak hy weer sy oë op skrefies oop. Hy is deurmekaar, hy weet nie waar hy is nie. Dan sien hy dat Ben vir hom staan en kyk deur ’n glaspaneel.
“Ben! Ben, waar is ek, wat is aan die gang! Asseblief, Ben, help my...!” skree Dawie benoud. Dan skielik is Jack daar.
“Dawie, jy moet kalmeer, asseblief. Onthou jy dat jy by jul huis was gisteraand, ek was daar, jou ma, jou pa, jou hond...?”
Skielik kom alles terug na Dawie. En hy besef dat hy gebyt is deur ’n zombie, deur sy ma. Trane dam op in sy oë. Wat nou? Wat het hom tog besiel? Wat gaan nou van hom word? Hy weet beslis dat dit nou nie meer lank sal wees voordat hy in ’n zombie verander nie. Dan onthou hy van Zulu.
“Jack, hoe is dit moontlik, Zulu is nie meer ’n zombiehond nie? Het jy vir hom van die teenmiddel gegee?”
“Dawie, dit is wat ons probeer vasstel. Nee, Zulu het nie van die teenmiddel gekry nie, dus moes hy iets geëet het, dalk in die veld, wat hom weer normaal gemaak het.”
“Wat gaan nou met my gebeur, Jack? En my ma, waar is sy en hoekom het jy haar gevang?” Dawie se stem is amper net ’n fluistering.
Jack kyk weg.
“Ons sal jou gesond kry, Dawie, jy moet net vasbyt. Ek is ’n zombievanger, ek moes een vir professor Dumbeldoor gaan vang. Die teenmiddel het gewerk op die rot, Dawie! Die uiteinde daarvan het beteken dat ons nou ’n zombie moes kry om dit op te toets. Professor Dumbeldoor het besluit dat die zombie ’n vroulike een moes wees. Jou ma was my beste opsie, ’n sagte teiken.”
“En as dit nie werk nie, Jack?”
“Dawie, kan ons eerder nie nou hieroor praat nie, jy moet rus.”
“Nee, Jack, ek moét weet, asseblief!”
“Nou goed, ek dink nie jy gaan daarvan hou nie. Die waarheid is dat as dit nie werk nie, dan sal jou ma, oftewel die zombie nes al die voriges doodgaan. Ons hou hul aan die lewe met die breins van dooie zombies, gee dit vir hul deur ’n buis, net soos aarvoeding...”
Dawie kyk af na die pype in sy arms.
“Dit is die teenmiddel, Dawie. Die professor het gereken dat ons dit moet toets op jou, terwyl jy nog normaal is. Jou wond is onmiddellik ontsmet, professor Dumbeldoor het ook probeer om die virus dood te brand. Dit word met ’n sekere soort ys gedoen. As ’n persoon deur ’n zombie gebyt word, vat dit omtrent so drie dae om te verander. Daarom is jy vir eers onder kwarantyn.”
“Jy het gesê jy is ’n zombievanger? Hoeveel zombies is dan al reeds getoets met die teenmiddel? Julle kan nie dat my ma doodgaan nie! En Zulu, hoe is dit moontlik?”
“Ja, Dawie, ek is, daar is ’n hele klompie van ons. Ons moes en moet dit ongelukkig doen, Dawie. Wat Zulu aanbetref, die ou professor is besig om sy maagsappe te analiseer, net dalk kom hy op iets af.”
Die volgende drie dae voel vir Dawie soos drie jaar. Ben en Jack en professor Dumbeldoor kom maak darem gereeld ’n draai by hom. Hy het darem nog nie begin verander nie, dit is darem een ligpunt. Professor Dumbeldoor kom met ’n breë glimlag in sy rigting gestap.
“Wonderlike nuus, Dawie! Dit blyk asof jy immuun is teen die zombievirus! Jou bloed toon geen teken daarvan nie. Dit is ’n absolute wonderwerk! Ek verstaan dit nie, ek verstaan dit nie...”
Dawie wil onmiddellik sy ma sien.
Hy staar na haar deur die groot glaspaneel. Sy ma lyk vir hom so weerloos daar waar sy lê. Daar is naalde en pype omtrent oral aan haar lyf.
“Vasbyt, Ma,” fluister hy. “Dit is nou nie meer lank nie...”
Hy skrik groot toe sy ma begin ruk. Onaardse geluide skeur uit haar bors.
“Jack! Professor! Kom gou, kom help! My ma, asseblief, help haar!” skree hy terwyl hy in die gang af hardloop.
Jack en die professor is amper dadelik by hom. Monitors skree, sy ma skree, alles is net een groot deurmekaarspul. Professor Dumbeldoor is soos blits by die vertrek in. Hy roep iets uit vir Jack wat dadelik verdwyn en omtrent net so vinnig weer verskyn met ’n blink emmer. Dawie staan net daar, asof hy versteen het. Net so vinnig as wat hierdie gekkespul gebeur het, kom dit tot ’n end. Die monitor klop en biep weer egalig, sy ma is nou weer rustig.
“Wat het gebeur?” wil Dawie dadelik van professor Dumbeldoor weet.
“Ek is jammer, Dawie, maar jou ma reageer nie op die teenmiddel soos wat ons gehoop het nie...”
“Nee! Nee, ek wil dit nie hoor nie! Daar moet iéts wees wat julle kan doen, Professor. Julle mag nie dat my ma doodgaan nie! Wat was in daardie blink emmer? Asseblief, Professor, asseblief doen iets om my ma te red!”
Professor Dumbeldoor lyk sommer moedeloos en hartseer toe hy na Dawie kyk.
“Dit was die breins wat ons deur die aarvoedingbuise gee. Ek is jammer, Dawie, daar is nie veel meer wat ons kan doen nie. As ons nie binne die volgende twee dae slaag nie dan... Vervlaks! Ek was so seker die keer! Verdomde rotte! Verdomp! Ons kan maar net sowel oorgee, die virus het gewen...”
“Nee... nee... dit mag nie, Professor, dit mag nie wen nie. Wat van my, ek is tog immuun? Vat my bloed, gee dit alles vir my ma, ek sal doodgaan, solank sy net gesond kan word!”
Die professor gryp skielik vir Dawie aan die skouers.
“Dawie! Jy is geniaal! Kom, ons moet dadelik aan die werk spring, kom!”
Dawie se voete vat skaars grond soos die professor hom agterna sleep. Laboratorium toe. Hulle trek bloed van Dawie. Sy bloed word onder ’n mikroskoop ontleed, daar word sommer ook bloed van Zulu getrek en ontleed. Professor Dumbeldoor raak verdiep in die bottels en buisies wat hy besig is om te meng en kook. Dan word daar inderhaas teruggekeer na sy ma agter die glaspaneel. Sy word ingespuit en al wat hul nou kan doen, is om te wag en te hoop. Teen die volgende middag is daar nog geen verandering by sy ma nie. Sy is nog steeds ’n zombie.
Dawie se moed sak in sy skoene. Professor Dumbeldoor is moedeloos. Jack praat hul net moed in, hul mag nie nou opgee nie.
“Ons kan nie moed opgee nie, julle. Iewers móét daar iets wees, kyk net, Zulu het terug verander na normaal, die rotte het terug verander na normaal. Dawie, jy is immuun teen die virus...”
Professor Dumbeldoor slaan met sy vuis op die tafel.
“Vervlakste goed werk net op diere! Wat help dit tog, Jack? Ons kan net sowel oorgee, ons lot aanvaar, ons gaan hierdie een nie wen nie... Ons is gedoem! Ons kan net sowel die deure oopgooi en die zombies binne nooi...”
Dawie stap na buite, hy wil net ’n rukkie alleen wees. Hy is tog immuun teen die virus. Maar waar los dit hom, is daar nog ander soos hy? Gaan hy dan die enigste oorlewende wees as die wêreld tot ’n end kom met die zombie-apokalips? Zulu kom aangedraf na hom, al stertswaaiend. Hy vryf die hond en krap sy kop. En hy kan nie help om te wonder hoe Zulu dan so skielik weer na normaal verander het nie. Miskien is die professor tog reg, miskien werk dit net op diere, die teenmiddel.
“Wat het jy gedoen om gesond te word, my honne?” gesels hy met Zulu wat hom al stertswaaiend sopnat lek.
Daardie aand het Dawie die vreemdste droom. Sy pa staan voor hom met ’n spuitnaald in sy hand. Sy pa dra ’n wit oorjas en ’n masker oor sy gesig. Dan sê sy pa skielik: “Agter die huis, Dawie, in die veld, agter die huis...”
Sy pa pluk die masker af en skielik is hy weer ’n zombie, sy gesig is vol van die bloed. Dawie skrik wakker net toe sy pa in sy droom na hom gryp.
En skielik onthou Dawie. Sy pa het hom regtig ingespuit, ook het sy pa vir hom ’n dagboek gegee, sy pa het vir hom gesê: “Seun, ek wil hê dat jy hierdie veilig sal bêre. Belowe my dat jy, as enigiets sou gebeur, hierdie dagboek by my goeie vriend professor Dumbeldoor sal kry, so gou moontlik. Alles is hierbinne, sy adres, alles. Belowe my dat jy dit sal doen, dat jy dapper sal wees, my seun.”
Dawie spring op uit die bed, hy hardloop na die laboratorium, hy weet dat professor
Dumbeldoor nou nog daar sal wees.
“Professor! Ek het onthou! Ek het onthou! Daar is ’n dagboek, die kuur se formule is daarbinne! My pa het my ingespuit, hy het my maak belowe dat ek die dagboek vir jou sou bring!”
Professor Dumbeldoor is sommer spierwit van die skrik. Sy hare staan nog meer penorent en sy bril val omtrent van sy neus af.
“Stadig, Dawie! Haal asem, begin by die begin. Wat is dit van ’n inspuiting en ’n dagboek, ’n formule? Waarvan praat jy tog, kind, waarmee het jou pa jou ingespuit?”
“Die kuur, die teenmiddel! Ek weet waar dit is! In ’n veld agter die huis, dit is daar! Dit is waar Zulu dit gekry het!”
Jack wat die geraas gehoor het, het ook intussen laboratorium toe gekom. Ook hy probeer sin maak van wat Dawie nou alles kwytraak.
“Dawie, is jy seker jy het nie net gedroom nie? Waarvan praat jy tog? Waar is hierdie dagboek dan?”
Uiteindelik kom Dawie tot bedaring. Hy vertel hulle van die dag dat sy pa hom ingespuit het. Ook van die dagboek en dat sy pa hom maak beloof het dat hy sou sorg dat sy goeie vriend, die professor, die dagboek sou kry. Die dagboek is in sy laai by die huis in sy kamer toegesluit. Nou sal hul vinnig moet spring om daardie dagboek in die hande te kry. Jack en die professor is druk besig om planne te beraam.
Dawie besluit met alle mag dat hy saam met hulle sal gaan.
Skielik is daar ’n verskriklike geraas buitekant.
Die mees onaardse geluide klief deur die nagstilte.
Jack, professor Dumbeldoor en Dawie haas hulle na waar die geraas vandaan kom. “Jack! Dit is my pa! Moenie skiet nie, moenie dat hulle hom skiet nie!”
Jack skree vir almal om hulle wapens neer te sit. Dan stadig, voetjie vir voetjie, bekruip Dawie saam met Jack en die professor die zombie van agter.
Met ’n groot knuppel moker Jack die zombie teen sy kop. En hy sukkel daarna om die zombie in die net vas te draai. Dawie kom hom dadelik help.
Die zombie roer en maak ’n vreeslike gromgeluid. Hulle sal nou moet vinnig speel om hom in een van die laboratorium se kamers op te sluit.
Nes hulle hom uiteindelik by die kamer ingesukkel het, gryp die professor na sy kop. “En nou...?” wil Jack weet.
“Magtig, Jack! Ons het vergeet om hom onder verdowing te sit! Wat maak ons nou?” Die zombie is nou weer helder wakker. Hy grom en brul en skree.
Hy gryp alles wat in die kamer rondstaan en slinger dit teen die glaspaneel vas. Gelukkig kan dit nie breek nie en kan hy ook nie uitkom nie.
“Pa! Pa! Asseblief, Pa...”
Die zombie storm teen die ruit vas, grom vir die seun voor hom. En skielik gaan staan hy doodstil, staar na die seun, sy hande druk teen die glaspaneel vas.
Dawie druk ook sy eie hande teen die glaspaneel, vir ’n paar oomblikke staar die zombie en seun net na mekaar. Die zombie draai dan skielik om, stap na die muur en gaan in die verste hoek sit. Dawie se hart is baie seer. Sy ma en sy pa is nou altwee gevangenes, zombies gevang deur die zombievangers. Proefkonyne vir professor Dumbeldoor.
Vasbeslote draai hy om, kyk reguit na Jack en die professor.
“Ons moet vanaand nog daardie dagboek gaan kry. Professor, daar is nou net een manier om my pa onder verdowing te kry. Ons sal die verdowingsmiddel vir hom moet ingee saam met die zombiebreins wat vir die zombies gegee word.”
Die professor en Jack spring dadelik aan die werk.
Die minute wat verby tik, voel soos ure. Al drie van hulle slaak ’n hoorbare sug van verligting toe die zombie uiteindelik gulsig aan die zombiebreins begin eet.
Nog tyd sleep stadig verby. Uiteindelik skop die verdowing in. Dawie kyk hoe sy pa aan ’n bed gegespe word. Naalde en pypies word oral in sy lyf gedruk en gespuit.
Hulle sit egter nou met ’n groter probleem. Buite wemel dit van die zombies.
Skote klap, zombies storm. Daarbuite is ’n volskaalse geveg om oorlewing aan die gang. Professor Dumbeldoor en Jack gryp paniekerig na hul gewere. Hierdie dag is die een dag wat albei van hulle gevrees het. Dat die zombies hul veilige hawe sal binnedring.
“Wag!” skree Dawie, “ek sal uitgaan en hul aandag aftrek...”
Jack en die professor kyk hom aan asof hy al sy varkies verloor het.
“Dit is te gevaarlik, Dawie...” begin die professor sê.
Maar Dawie is reeds uit by die deur, Zulu is kort op sy hakke.
Buite is dit chaos, zombies hou aan met storm, die wagte hou aan met skiet. Sommige van die wagte word deur die zombies gevang en weggesleep.
“Haai! Hierso! Kom, kom vang my!” skree Dawie en hy hardloop so vinnig as wat hy kan. Die zombies staak dadelik waarmee hul besig was, almal se oë draai na Dawie en Zulu. Die zombies storm, Zulu storm, Dawie hardloop.
En skielik het ’n magdom zombies hom beet. Die laaste wat hy kan onthou, is ’n onaardse geroggel en geskree, hy voel hoe hy rondgepluk word, hoe stomp tande in die sagte vleis van sy lyf wegsink. Genadiglik word alles swart voor hom, hy voel asof hy sweef. Niks maak meer saak nie, net solank sy ma en pa gered kan word.
***
“Dawie! Dawie, word wakker!”
Dawie se oë gaan stadig oop. Ben staan by sy bed.
“Water... waar is ek... ons?” kry Dawie uiteindelik die woorde moeisaam uit sy droë keel gewurg. Ben draf vinnig na die ander kant van die bed, hy kry die kraffie water en help Dawie om daarvan te drink deur ’n strooitjie.
“Ons is in professor Dumbeldoor se laboratorium, Dawie. Sjoe, maar jy het ons groot laat skrik! En boonop is jy ’n held, as dit nie vir jou was nie, dan was ons almal seker nou óf kapoet óf zombies!”
“Dawie! Jy is wakker! Welkom terug in die land van die lewendes!” sê iemand by die deur. Dawie draai sy oë na die deur, dit is Jack.
“Dit was nie net ’n droom nie...?” fluister Dawie verward.
“Ongelukkig nie, Dawie. Jy is ons eie dapper held, Dawie. As dit nie was vir jou moedige daad om die zombies se aandag af te lei nie. Ons sou die oorlog verloor. Ons is almal baie dank aan jou verskuldig en baie trots op jou, jong man!” glimlag Jack.
Nog iemand verskyn in die deur.
“Mamma! Pappa!” roep Dawie uit en probeer orent kom, maar dan sak hy net so vinnig weer terug teen die kussings, gee ’n sagte uitroep van pyn.
Sy ma is dadelik by hom, sy jaag summier almal uit die kamer, Dawie moet rus.
Dawie maak sy oë toe, leun ver terug teen die kussings. Op sy gesig is ’n tevrede glimlag, hy het sy ouers gered, sy ouers en veel meer as net hulle.
Stadig maar seker dryf hy weg na droomland.
En toe hy weer sy oë oopmaak, grynslag ’n lelike zombievrou vir hom...
Lees die ander inskrywings hier:
LitNet en die Langenhoven Gedenkfonds soek jou wetenskapfiksieverhaal!

