Die proefleser

  • 2

Foto: Canva.com

Dis Maandagaand. Ek sit in my studeerkamer, my aandag by ’n manuskrip van ’n onbekende skrywer uit Kimberley se wêreld. Ek het nog nooit van hom gehoor nie, maar ek voorspel dat sy naam een van die dae op almal se lippe gaan wees. Daar bestaan by my geen twyfel dat die man oor uitsonderlike skryftalent beskik nie.

Hy verstaan die tegniek om spanning te skep, sy karakters in te kleur en om die leser gedurig aan die raai te hou. Wanneer laas het ’n storie my sommer uit die staanspoor geboei? En die struikelblokke wat hy oor sy hoofkarakter se pad laat kom, maak dit moeilik om te glo hy het nog nie voorheen iets gepubliseer nie.

Te oordeel aan dít wat ek tot nou gelees het, gaan hierdie debuutroman ’n wegholsukses wees. Met die regte bemarking behoort hy in die eerste maand van publikasie die topverkoperlys te haal. Uitgewers gaan toustaan om sy werk te vertaal. Daarvan is ek oortuig. Ek sal graag die skrywer persoonlik wil ontmoet; van my jare lange kennis met hom wil deel. Ek dink nie hy besef hoe talentvol hy werklik is nie.

Hy’t my ’n tyd terug gekontak om te hoor of ek kans sien om sy manuskrip te proeflees. “Teen vergoeding, natuurlik,” het hy bygevoeg. “En meneer Steenkamp hoef regtig nie doekies om te draai nie. As my poging nie na wense is nie, wil ek dit weet.”

Aangesien ek nie meer naastenby so baie manuskripte soos voorheen ontvang nie, het ek onmiddellik ingestem. Wat het ek in elk geval om te verloor? Voornemende skrywers het hul rug op my gekeer. Hulle maak nie meer so gereeld van my dienste gebruik nie. Waarom nie, weet nugter alleen. Ek is nie ’n onredelike mens nie. Ek was nog altyd eerlik in my kommentaar. Hulle verwag tog nie ek moet jok en hul middelmatige pogings goedpraat en maak asof dit nie wemel van die foute nie. ’n Skrywer van Pretoria het my ’n tyd terug daarvan beskuldig dat ek onprofessioneel is. Toe ek vra hoekom hy so sê, antwoord hy dat ek my huis in orde moet kry. “Jy het te veel hooi op jou vurk. Die verslag wat jy vir my gestuur het, maak nie sin nie. Nie een van die karakters in jou kommentaar verskyn in my verhaal nie. Ek dink jy het my manuskrip met iemand anders s’n verwar. Ek het lus en eis my geld terug.”

Hoe durf hy? Ken hy my agtergrond? Ek was vir baie jare ’n taalonderwyser. Dis op aandrang van ’n goeie vriend in die uitgewersbedryf dat ek my op proeflees begin toespits het. Sommige mense is nou maar eenmaal net ondankbaar en klaar. Hy is natuurlik ontevrede oor ek sy werk so skerp gekritiseer het. As hy nie man genoeg is om kritiek te aanvaar nie, moet hy liewer vergeet daarvan om ’n lewe uit skryf te maak. In hierdie pragtige land van ons moet jy hare op jou tande hê as jy sukses wil behaal as skrywer. Hoe gouer hy dit aanvaar, hoe beter.

Tot dusver is ek beïndruk met die manuskrip op my rekenaarskerm. Die eerste paar hoofstukke toon potensiaal en dit sal interessant wees om te sien wat volgende gebeur. Soms daag hier tekste op waar ek sommer in die eerste paragraaf al agterkom die persoon kan nie skryf nie. Hoekom sulke mense hul geld en tyd op proeflesers mors, sal seker net hulle weet.

Die voordeurklokkie lui. Ek haal my leesbril af en sit dit versigtig op die lessenaar neer. Ek sluit my oë vir ’n rukkie en haal diep asem. Miskien is dit tyd vir ’n blaaskans. Dis seker weer my buurman wat ’n hamer of ’n skroewedraaier kom leen. Wanneer gaan hy leer om sy eie gereedskap aan te skaf? My huis is nie ’n ysterwarewinkel nie.

Ek maak die deur oop en dit voel of my brein vries toe ek sien wie voor my staan. Kan dit hy wees? Is my oë nie besig om my te bedrieg nie? Die inwoners hier rond sê reeds ek het nie al my varkies op hok nie. Hulle hou vol my kop haak soms uit en dat ek my gereeld dinge verbeel. Soos vanoggend in die supermark.

“Was Meneer siek?” wou een van die kassiere weet. “Nee,” het ek verbaas geantwoord. “Hoekom vra jy?”

“Omdat ek Meneer so lanklaas gesien het.” Ek het byna my humeur verloor. Wat gaan aan met die vrou? Dis nie my skuld as sy afwesig is wanneer ek kom inkopies doen nie. Ek was dan ’n week gelede daar.

’n Klomp skinderbekke. Die hele lot van hulle. Steek hulle neuse in waar dit nie hoort nie. Natuurlik jaloers omdat ek nie juis met hulle meng nie. Ek makeer niks. Net omdat ek in my laat vyftigs is beteken nie ek is van lotjie getik nie. Ek weet wat om my aangaan.

“Naand, Oupa,” hoor ek Dewald groet. Hoekom voel ek so lighoofdig? Hy maak nie oogkontak nie. Die wind sny deur murg en been, maar die kind is sowaar kaalvoet. Hy het net ’n kortbroek en ’n T-hemp aan. Kry hy dan nie koud nie?

“Naand, kind. Het jou ma jou gestuur?”

“Nee, Oupa. Ek het sommer kom kyk hoe dit met Oupa gaan?”

“Nou kom binne. Lyk my vandag se kinders voel nie die koue nie.”

Hy kom in en maak hom kop onderstebo op die naaste bank tuis. Ek wonder wat dit is wat aan hom krap. Hy is nooit so stil nie. Het sy ma hom dalk kwaad gemaak? Ek weet ook dit gaan my niks baat om te probeer uitvis nie. Dewald is ’n ander tipe kind. As hy nie reg is om te praat nie, kry jy niks uit hom uit nie.

“Ek het boontjiesop gemaak. Wil jy hê?”

Hy skud sy kop. “Ek is nie honger nie.”

“Jy weet nie wat jy mis nie. Hoe gaan dit by die skool?”

“Skool is vervelig.”

“Hoe so?”

“Sommer net.”

“Skool is belangrik, Dewald. As jy mooi leer, kan jy eendag universiteit toe gaan en iets van jou lewe maak. Hoekom kom kuier jou ma nie meer vir my nie?”

Hy trek sy skouers op.

“Kan ek vir jou ’n storie lees?”

“As Oupa wil.”

Ek weet hy hou van stories. Hopelik word hy ook eendag ’n skrywer. “Nou maar goed, wag net hier. Ek gaan kry gou ’n boek.”

Ek sal sy ma moet bel, moet hoor waarom die kind so omgekrap is. En waarom hy so laataand alleen hier aangewals kom. Al is dit rustig hier by ons op die platteland, beteken dit nie hy kan maak soos hy wil nie. Dis ’n hele ent terug huis toe. Hy moet liewer vanaand hier slaap. Ek gaan nie toelaat dat hy in dié weer alleen huis toe loop nie. Wat het hom in die eerste plek besiel om hierheen te kom? Hy kon mos tot die naweek gewag het.

In my boekrak kry ek ’n kinderboek. Ek haal dit uit en loop haastig terug sitkamer toe. Ek steek vas, kyk onseker in die vertrek rond. Daar is geen teken van Dewald nie. Wat het van hom geword? Het hy sowaar die pad terug huis toe alleen aangedurf? Ai, ek wens ek het geweet hoe my kleinseun se kop werk.

Ek gaan kyk in die badkamer, maar hy is ook nie daar nie. Ek drafstap tot by die voordeur, pluk dit oop en roep hom op sy naam. Geen antwoord. Waarheen het hy so skielik verdwyn?

Terug in die huis skakel ek met bewende vingers sy ma se nommer. “Ans, hier het nou ’n snaakse ding gebeur. Dewald was hier, maar toe ek weer kyk, is hy weg. Sommer net so, sonder om te groet. Daai kind moet vasgevat word. Hy is heeltemal te groot vir sy skoene. Laat weet asseblief sodra hy daar aankom, anders bekommer ek my morsdood.”

’n Lang stilte hang in die lug. “Ans, is jy daar? Het jy gehoor wat ek sê?”

“Pa moet by ’n dokter kom,” sê sy sag.

“Nie jy ook nie, Ans. Ek makeer niks.”

“Pa is nie gesond nie. Ek het altyd gedink die mense oordryf, maar nou vind ek self uit daar is iets fout met Pa se brein.”

“My brein makeer niks. Watse snert praat jy?”

“Ek praat van Dewald, Pa.”

“Wat van Dewald?”

“Dewald was nie naby Pa se huis vanaand nie. Dis alles in Pa se kop.”

“My magtig, Ans. Hoe durf jy van my ’n leuenaar maak? Natuurlik was Dewald hier. Hy’s nou-nou hier weg.”

“Dis sewe jaar vandag, Pa. Sewe jaar vandat Dewald nie meer met ons is nie.”

Ek trek my asem in. “Maar Ans, so iets is tog nie moontlik nie.”

“Gaan sien ’n dokter, Pa. So gou as wat Pa ’n kans kry. Iewers is groot fout. Dewald en ’n paar van sy klasmaats het in ’n busongeluk op pad na ’n atletiekbyeenkoms omgekom. Hy sou dié jaar sewentien geword het. Onthou Pa dan nie?”

  • 2

Kommentaar

  • Pierre Theart

    Heerlik lees ek nou die storie. Ek lees nie graag Afrikaanse verhale nie, maar die een was 'n uitsondering. Dankie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top